In God se teenwoordigheid. Johan Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315687
Скачать книгу
’n prototipe wat in die loop van die geskiedenis by herhaling na vore tree: mense deur wie God sy genadewerking voortsit ten spyte van toenemende verval in die wêreld.

      Ons leef in ’n stukkende wêreld. Ek hoef dit nie eers te verduidelik nie, almal weet dit. Moord, verkragting, terminale siekte, ekologiese ondergang – al hierdie goed is aan die orde van die dag.

      Ons leef in die tydperk tussen “alles tevergeefs” en “alles is genade”. Die werklikheid van die tevergeefse vreet aan ons, dag vir dag. Ons lees dit in die koerante en sien dit op die televisie. Maar dan maak ons die Groot Boek oop en lees van genade. God is daar. En Hy maak nie net heel nie, maar gebruik sy kinders om heel te maak.

      Ek en jy is God se heelmakers. Ons moet die stukkende natuur en stukkende mense optel en help om weer ’n herstelprogram aan die gang te kry.

      Here, ek wil kom aanmeld as u medewerker in die heelmaakproses. Amen.

      30 Januarie

      Abram – geseën om te seën

      Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees.” Genesis 12:1–2

      Ons het reeds na Noag verwys as ’n instrument van God se genade. En voorwaar, geen volmaakte instrument nie! Nog steeds sondaarmens. En dan is daar ’n volgende voorbeeld van ’n man wat deur God geroep word om ’n verskil in die wêreld te maak: Abram.

      God het ’n plan met die stukkende wêreld. En God se plan begin telkens met één mens, iemand vir wie Hy tot aksie roep. So iemand was Noag. En so iemand was Abram. God maak ’n verskil in die wêreld deur middel van een gewillige en gehoorsame gelowige. Abraham word geroep om hom los te maak van die heel belangrikste sekerhede in sy lewe (land en familie) en ’n onbekende pad aan te durf met die uitsluitlike doel om namens God vir die wêreld tot seën te wees. En deur Abram sal die nasies van die aarde geseën word.

      In die Abraham-verhaal is daar verskeie momente waar dit duidelik word dat God met hom was, en meer nog: dat die wêreld dit raak gesien en erkenning daarvoor gegee het. Abraham was nie foutloos nie, maar hy het op die Here bly vertrou en telkens weer sy lojaliteit en trou bevestig. En Abraham het ’n verskil gemaak. Hy het die grondslag gelê vir die volk van God, die kerk van die Here, die koms van die Messias en die koms van God se ryk op aarde.

      Here, gebruik my om in u krag ’n verskil te maak in die wêreld. Amen.

      31 Januarie

      Moses, leier en middelaar

      Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het?” Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het ’n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.” Eksodus 32:11, 30

      Nog iemand wat in die galery van geloofshelde vir ons as voorbeeld dien, is Moses. Weer ’n keer ’n mens wat ten spyte van sy gebreke ’n buitengewone instrument in God se hand word. In Moses se verhaal leer ken ons God se almag wat deur die lewe en werke van ’n gehoorsame gelowige tot openbaring kom. Dit was nie Moses wat die krediet moes kry vir al die grootse dinge wat tydens sy bediening gebeur het nie. God het die wonders gedoen. Waarvoor Moses wel krediet kan kry, is vir sy gewilligheid, gehoorsaamheid en onwrikbare Godsvertroue. Telkens wanneer die volk oor hulle lot murmureer en selfs vir God vir hulle moeilike omstandighede verkwalik, het Moses as middelaar opgetree – simpatiek teenoor die volk, maar heelpad getrou aan God.

      En dit is vir sy middelaarskap wat ek graag vir Moses as geloofsheld wil uitsonder. Dit was nie ’n maklike taak nie. Om vir mense by God in te tree selfs as hulle by herhaling ongehoorsaam is, en om as God se woordvoerder na ’n weerspannige volk te draai, was vir seker nie maklik nie. Dit is deur middel van sulke leiers wat God se groot plan steeds op koers bly. Vandag nog.

      Here, rus u kinders toe om inderwaarheid priesters in u diens te wees – getroue middelaars wat u wil verkondig, u troos uitdeel en vir mense by

       U intree. Amen.

      Februarie

      Woord en antwoord

      God was hartseer en kwaad oor die mens se ongehoorsaamheid. Maar God is genadig, Hy bly steeds by hierdie gebroke skepping betrokke. Hy betoon Homself as die God van nog ’n kans. En vandaar die oproep tot bekering wat soos ’n goue draad deur die hele Bybel loop. Mense wat afdwaal, word nie aan hulle eie lot oorgelaat nie; God bly roep na verlore skepsels: Bekeer julle!

      Ons luister na God se oproep en hoe mense daarop reageer. God se Woord wat pleit, waarsku, red, leer, lei en troos kom hier aan die orde. Ons verlustig ons in die wonder van die Woord. En ons staan weer ’n keer in verwondering: nie hierdie keer oor die wonder van die skepping nie, maar oor die wonder van verlossing.

      1 Februarie

      Die woord: skeppend en verlossend

      Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. Psalm 33:6

      Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. Psalm 19:8

      Laas maand het ons gesels oor God se skeppende woord. Hierdie maand gaan ons aandag gee aan God se verlossende woord. God het nie net deur sy woord die hele skepping in aansyn geroep nie, maar toe die skepping deur die sondeval verwring en afgetakel is, het God met ’n reddende woord vorendag gekom. Hierdie woord is enersyds ’n oproep tot bekering, andersyds ’n woord wat die koers na nuwe lewe aandui. God se verlossende en herskeppende woord word die duidelikste in sy geskrewe Woord verwoord. Kom ons luister hoe God praat, en hoe ons na sy stem behoort te luister.

      In Psalm 19 word God as Skepper en Herskepper besing – deur sy Woord het die skepping tot stand gekom en die hemele getuig dag vir dag van sy skeppingsmag; en deur sy woorde is Hy ewe-eens dag vir dag besig om vir sy menseskepsels die regte koers aan te dui. Die Woord van die Here is volmaak. Daar hoef niks bygevoeg te word om dit geloofwaardig te maak nie. Daar mag ook niks van weggeneem word nie. Dit is die Woord wat lewe gee vir hulle wat daaraan getrou bly. God se Woord is nie net die bron van die lewe nie, maar ook die Woord wat mense met wysheid toerus om in hulle lewens die regte keuses uit te oefen.

      Laat die volmaakte Woord van die Here vir jou die rigsnoer wees in ’n ontwrigte en onseker wêreld.

      Dankie Here, dat ek die woord wat lewe gee tot my beskikking het.

      2 Februarie

      Die vreugde van Gods Woord

      Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Psalm 1:1–2

      Ons is ná verlede maand se Skrifgedeeltes al deeglik daarvan bewus dat ons in ’n stukkende, sondige wêreld leef. God het die wêreld deur sy skeppingswoord in aansyn geroep. En God se skepping was baie goed. Maar nou weet ons dat dit nie meer baie goed is nie. Daar is so baie slegte dinge wat dag vir dag rondom ons gebeur. En hoe dikwels moet ons nie erken dat daar ook in ons eie harte slegte dinge is nie. Daarom luister ons weer na God wat praat. Ons soek ons heil in sy woord.

      Om God se Woord ernstig te neem en dit as rigsnoer vir jou lewe te neem, moet jy egter ’n keuse uitoefen. Jy moet staanplek in die lewe kies. Met God se Woord in jou hand en in jou hart kan jy nie aan die kant van die goddelose mense laer trek nie. Jy moet teen ’n goddelose leefstyl kies; jy moet jou doelbewus van goddelose mense afsonder. Om by goddelose mense raad te vra, kan jou duur te staan kom. Hulle moraal is