Uit die Beek 2012. Attie van Wijk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315663
Скачать книгу
vandag?” vra ons hier waar ons nou aan die einde van hierdie lang geskiedenis gekom het. Ons het gelees hoe die Here ’n slawe-volkie uit Egipte vrygemaak het, hoe Hy met hulle gewerk het en hoe Hy hulle tot op die grens van die beloofde land gebring het. Hier in die tweede laaste hoofstuk vat Moses die boodskap van die boek saam in vandag se teksvers. Die mense moet altyd onthou dat hulle verloste mense is, en daarvolgens lewe.

      Die doel van die wette in die boek is om ons te laat besef dat ons sondig is, en dat ons onsself nie kan red nie. Ons is nie goed genoeg nie. God se standaard is gans te hoog. Maar ons weet ook dat Christus juis gekom het om te soek en te red dié wat verlore is (Luk 19:10). Net ’n besef van ons verlorenheid gee ons ’n besef van die grootheid van sy liefde en genade.

      GEBED: “Dankie vir u onverdiende genade teenoor ons, Here. Help ons om as verloste mense u volk te wees wat u wil doen.”

      Lees vanaand in Deuteronomium 34:1–12 oor die einde van Moses se lewe, en eien die kragtige getuienis in vers 10 vir jouself toe.

      Welkom in Handelinge!

      Skrywer

      Die dokter Lukas, wat ook die evangelie volgens Lukas geskryf het

       (Kol 4:14; Luk 1:1–4).

      Datum

      Waarskynlik 59–61 n.C., terwyl Paulus in Rome was.

      Lesers

      Teofilus en die eerste gemeentes in die Midde-Ooste en Europa.

      Doel

      Om die belangrikste momente in die groei van die vroeë kerk vas te lê.

       Dit bevat ook ’n duidelike uiteensetting van die evangelie.

      Hooftrekke

      1 Die begin van die kerk (1:1–2:47)

      2 Die getuienis in Jerusalem (3:1–7:60)

      3 Die getuienis in Samaria en omgewing (8:1–12:24)

      4 Die getuienis oor die hele wêreld (12:25–21:26)

      5 Paulus se laaste getuienis (21:27–28:31)

      Let op na

      1 Gewone gelowiges speel ’n groot rol in die groei van die kerk.

      2 Vervolging laat die kerk juis uitbrei.

      3 Die opstanding van Jesus is die kern van feitlik elke toespraak.

      4 Die kerk groei oor alle grense, en sluit alle gelowiges in.

      Christus in Handelinge

       Christus het die Heilige Gees gestuur en werk dan deur die jong kerk.

       Christus openbaar Hom aan Paulus en roep hom (Hand 9).

       Christus is die middelpunt van die evangelie wat oor die hele wêreld verkondig is.

      Donderdag 23 Februarie

      Lees Handelinge 1:1–8.

      Getuies tot in die uithoeke

      “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).

      “Christenskap is nie vir sissies nie,” was die tema toe ons by ons gemeentelike Bybelskool die boek Handelinge behandel het. En as jy kyk watter groot opdrag die Here Jesus vir sy groepie eenvoudige dissipels gehad het, dan verstom jy jou daaraan. Sonder geld, sonder viertrekvoertuie, luidsprekerstelsels, radio- en TV-senders en stralers het hulle binne ’n paar jaar meer reggekry as die meeste gelowiges vandag. Wat is hulle geheim?

      Die geheim was sekerlik die krag van die Heilige Gees. Hy het hulle toegerus, nie net met die regte woorde nie, maar met ’n bonatuurlike krag wat hulle in staat gestel het om met groot vrymoedigheid die evangelie met ander te deel, al het dit dikwels hulle lewe gekos. Ons lees dat mense elke dag by die gemeente gevoeg is. Hoekom sien ons dan so min bekerings in ons gemeentes?

      Is dit nie dalk dat ons te veel op ons tegnologie en kennis staat maak en te min op die Heilige Gees nie? As elke gelowige deur die Heilige Gees vervul is, sal die kerk weer eens ’n verskil kan maak. Maar dit gaan iets kos, soos vir die eerste gelowiges. Ons moet God se hartklop verstaan, en weet dat selfs die uithoeke ook deel van ons opdrag is. En om daar te kom, sal vra dat baie van ons heeltemal buite ons gemaksone sal moet beweeg. En ander sal gewillig moet wees om net soveel op te offer om die getuies te ondersteun. Elkeen van ons is ’n ganer of ’n stuurder. Of ’n ongehoorsame. Wat is jy?

      GEBED: “Here Jesus, U het u lewe gegee vir die hele wêreld. Ek is gewillig om deel van u span te wees. Wys my waar ek inpas.”

      Lees vanaand in Handelinge 1:9–11 waarom ons seker kan wees dat Jesus weer gaan kom. Ons moet gereed wees vir daardie dag.

      Vrydag 24 Februarie

      Lees Handelinge 1:12–14.

      Maria bid ook

      Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ’n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus (Hand 1:14).

      “Let op dat Maria een van die bidders is, nie die een wat aanbid word nie,” het wyle prof. Tobie aan ons in die Kweekskool geleer. Daar is baie mense wat tot Maria bid. Dit lyk asof hulle voel dat sy met meer liefde en verdraagsaamheid na hulle luister as die drie-enige God.

      Ek wens soms ek kon daardie eerste bidure bywoon. Vir tien dae lank het die gelowiges elke dag saam gebid. Ons weet nie of hulle dag en nag gebid het, of net vir ’n uur of twee per dag nie. Maar aan die einde van daardie dae was hulle harte voorberei vir die wonderlike seën van vervulling deur die Heilige Gees. Ons kan dus verwag dat daar tye van sondebelydenis en van oorgawe was. Hulle het nog nie mooi geweet wat om te verwag nie, maar hulle het geweet dat hulle onmoontlik Jesus se opdrag kon uitvoer sonder die krag wat Hy belowe het.

      Maria was ’n besondere vrou, wat reeds veel hartseer deurgemaak het. Van voor Jesus se geboorte af het sy skande, verwerping, hartseer en vreugde geken. Sy het dit regtig nie maklik gehad nie. Maar sy het ook na hierdie bidure gekom. Sy het ook die toerusting van die Heilige Gees nodig gehad. En as ons uiteindelik lees dat almal – elke man en vrou en kind – wat daar bymekaar was, deur die Gees vervul is, dan weet ons Maria was ook daar. En sy het ook met vrymoedigheid en krag die groot dade van God verkondig. Is jy ook gewillig om God se instrument te wees?

      GEBED: “Dankie vir iemand soos Maria wat ons wys hoe ons moet optree om u wil te leer ken, Here, en toegerus te word om u groot dade te verkondig.”

      Lees vanaand in Handelinge 1:15–26 hoe die leemte wat Judas Iskariot gelaat het, uiteindelik gevul is.

      Saterdag 25 Februarie

      Lees Handelinge 2:1–4.

      Toegerus vir getuienis

      Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen (Hand 2:4).

      “Ai, dit is darem jammer van daardie mense by Babel wat veroorsaak het dat ons vandag so baie verskillende tale op aarde praat. Dinge sou darem baie makliker gewees het as almal dieselfde taal gepraat het,” het ons vir mekaar gesê terwyl ons by die Taalskool met die ingewikkelde grammatika van Xhosa geworstel het. En hoekom gee die Here nie meer ander tale so maklik aan sy kinders soos op daardie eerste Pinksterdag nie?

      Ek glo ons sal eendag in die ewigheid nog baie hieroor gesels, en dalk ook die antwoorde op hierdie vrae kry. Maar een ding is seker: Ons het vandag nog steeds die vrymoedigheid nodig wat net die Heilige Gees kan gee. Daardie eerste gemeente het geen geleerdheid gehad nie. Hulle was eenvoudige mense. Maar God kon hulle gebruik, want hulle was ten volle aan die Heilige Gees oorgegee. Kan dit wees dat die Here ook vandag vir jou en my wag om onsself ten volle en onvoorwaardelik aan die beheer van die Heilige Gees oor te gee, sodat Hy ons kan