Uit die Beek 2012. Attie van Wijk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315663
Скачать книгу
ek daardeur kry?’ nie, maar: ‘Wat sal ek daardeur word?’” het ’n moeder haar kinders probeer voorberei vir die onafhanklike lewe. As jy in die minste oneerlik is, word jy daardeur ’n dief. As jy iemand haat, word jy daardeur ’n moordenaar (1 Joh 3:15). As jy iemand begeer, word jy ’n egbreker (Matt 5:28). As jy sê: “My god is ’n god van liefde, en sal niemand na die hel toe stuur nie,” word jy ’n afgodedienaar, want jy skep vir jouself ’n afgod wat nie bestaan nie. As jy die Here se naam as ’n stopwoord gebruik, word jy ’n lasteraar. En dan dink jy nog jy is basies ’n goeie mens en dat jy hemel toe sal gaan? Kan God heilig en regverdig wees en dit toelaat?

      In Moses se lied wil hy die volk help om vooruit te dink en te besef dat die verkeerde keuses tot hulle ondergang sal lei. Hulle moet besef dat hulle verkeerde keuses ook die ander volke om hulle raak. Hulle goddelose lewenstyl ontneem hulle bure van die geleentheid om die ware God te leer ken. Dit is God se eer wat op die spel is.

      Vandag is Saterdag, en ons kan self kies wat ons vandag wil doen. Onthou net dat God se eer ook vandag op die spel is. Ons moet dus só aan sport deelneem, of inkopies doen, of by ons vriende en familie kuier, dat ons optrede ’n getuienis sal wees van ’n God wat lewens verander.

      GEBED: “Dankie dat U ook vir ons ’n rol het om vandag te speel wat ander mense se lewe kan verander!”

      Lees vanaand in Deuteronomium 32:36–43 hoe die Here nog steeds in beheer bly, al lyk dit asof die bose die oorhand het.

      Sondag 19 Februarie

      Lees Psalm 37:23–31.

      Eerste Lydensweek

      Tyd om weer op te staan

      Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op (Ps 37:23–24).

      “Die wenner is die een wat, al word hy tien keer platgeslaan, elf keer opstaan,” verduidelik ’n bekende boksafrigter. En al sou ons nie mooi verstaan hoe hy tel nie, kan ons tog die beginsel verstaan en op ons eie lewe toepas. Die lewe is ’n stryd, en soms word ons in die proses platgeslaan. Ons moet nou nie moed verloor en bly lê nie; die Here wil ons help om weer op te staan. Dit is baie sleg vir jou selfbeeld as jy jou werk verloor, of as daar ’n nare teleurstelling in jou lewe is en jou lewensmaat jou verlaat. Dis sleg as jy ’n geliefde aan die dood moet afgee, of as die firma waar jy jou spaargeld belê het, bankrot gaan. Dis hartseer as jou ideale in skerwe spat of as die dokter jou vertel dat jy ’n terminale siekte het. Maar dit is nog nie die einde van die pad nie. Jy kan weer opstaan en moed skep. Jy is nie alleen op dié pad nie. Die Here is langs jou om jou op te help. Hy wil jou ondersteun.

      Vandag is een van daardie dae dat die Here jou wil ontmoet en versterk, of dit nou in die kerk of by die huis is. Maak vandag tyd om na Hom te luister en om Hom te vertel hoe jy regtig voel. Hy verstaan baie goed, want Hy het jou mos gemaak. Hy ken jou sterk punte en jou swakhede. En as jy vandag nog lewe, dan is Hy nog nie met jou klaar nie. Hy wil jou vorm en versterk tot ’n sieraad vir sy koninkryk. Staan op, dat die Here met jou kan begin werk!

      GEBED: “Dankie dat U nie met my moedeloos raak nie, al raak ek self moedeloos, Here. Tel my weer op, en gee my krag vir vandag.”

      Lees vanaand in Psalm 37:32–40 hoe die Here jou wil bemoedig in tye van swaarkry en bekommernis.

      Maandag 20 Februarie

      Lees Deuteronomium 32:44–52.

      Dit is die lewe

      Dit is nie ’n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle, en deur hierdie gebod te onderhou, sal julle julle verblyf verleng in die land wat julle in besit sal neem (Deut 32:47).

      “Komaan, julle kan dit doen. Dit is nog net vyf kilometer. Byt vas! Jy is al amper daar!” moedig die span by die laaste waterpunt die moeë atlete aan. En gee sommer weer nuwe lewe aan die moeë bene. Ons het almal sulke aanmoedigers nodig!

      Ons maak hierdie week klaar met Deuteronomium. Ons lees nou die laaste gedeelte van Moses se lewe. Hy was reeds 120 jaar oud, maar het nog kans gesien om vir oulaas alleen teen die berg uit te klim en uit te kyk oor die beloofde land voor hy sterf. Tot hier toe het die Here hom versterk en gedra. Hy moes baie krisisse oplos en in baie behoeftes voorsien. Elke keer het hy gesien dat die Here in staat is om te help. Hy het geleer om ’n vriend van God te word, en het die Here gereeld ontmoet. Al was hy onvolmaak, en al het hy die Here baie keer teleurgestel, het hy elke keer maar weer opgestaan en voortgegaan. En hy het aan ons die Pentateug nagelaat om ons te help op die pad na ons eie beloofde land. Jesus was baie lief vir die boeke van Moses, en het gereeld daaruit aangehaal. Dit is dus nie ’n geringe saak wat hierin opgeteken is nie. Ons het die Here al beter leer ken terwyl ons gekyk het hoe Hy met Israel werk.

      Dieselfde getroue God werk vandag nog met ons ook. Kom ons maak ons pad met vreugde klaar, en kom ons hou end-uit vol, al kom daar ook moeilike dae. En laat ons woorde en voorbeeld ’n bemoediging wees vir dié wat agterna kom.

      GEBED: “Here, dankie dat u Woord my wil toerus vir die lewe. Help my om voluit daarvolgens te lewe.”

      Lees vanaand in Deuteronomium 33:1–7 die eerste deel van Moses se laaste boodskap aan die Israeliete.

      Dinsdag 21 Februarie

      Lees Deuteronomium 33:8–11.

      Getroue werkers

      Die mense van Levi is gehoorsaam aan u bevele, hulle eerbiedig u verbond (Deut 33:9).

      “Dit is opmerklik dat die mense wat die diepste in sonde geval het en daarna tot bekering kom, dikwels die geesdriftigste sielewenners word,” sê iemand by ’n kleingroep. Luister maar na die getuienisse van bekeerde sataniste en bendeleiers. Jy kan self dadelik aan ’n paar voorbeelde dink. Hulle verstaan dat hulle net uit genade gered is, en wy hulle lewe heelhartig aan hulle Verlosser.

      In Moses se plek sou ons seker dadelik vir Aäron afgedank het nadat hy die goue kalf gemaak het (Eks 32:2–5, 21). Maar God se genade is groot, en Aäron is vergewe en het daarna ’n getroue hoëpriester geword. By Massa en Meriba het hy by sy kleinboet Moses gestaan (Num 20:2). Tydens die episode met die goue kalf was dit die Leviete wat by Moses gestaan het, en gewillig was om die afgodsdienaars tereg te stel, al was hulle familielede (Eks 32:26). Daarom is hulle uitgesoek om in die tabernakel te dien en om aan die volk onderrig te gee (Deut 33:9–10). Moses was self uit die stam van Levi (Eks 2:1).

      Ons moet altyd onthou dat ons self dikwels die enigste Bybel is wat ons medewerkers lees. As ons aan die Here getrou bly, dra dit ’n sterk getuienis uit. As ons ter wille van gewildheid maar met die stroom saamgaan, is die kans maar skraal dat ons vir iemand anders tot seën kan wees. “As iemand in ’n put val, help jy hom nie deur self ook in die put te spring nie.” Die groot toets is of ons gehoorsaam is aan God se bevele, en of ons sy verbond ernstig opneem, soos die Leviete.

      GEBED: “Here, maak my ook volledig gehoorsaam aan u bevele. Dankie vir u genadeverbond met my en my nageslag.”

      Lees vanaand in Deuteronomium 33:12–19 die volgende seënuitsprake en let op hoe hulle verskil.

      Woensdag 22 Februarie

      Lees Deuteronomium 33:20–29.

      Aswoensdag

      Verloste mense

      Jy is ’n volk wat deur die Here verlos is! (Deut 33:29).

      Vandag is Aswoensdag. “Wat is dit? Is dit die dag as die askar die rondte doen?” wonder jy dalk. Baie kerke het die gewoonte om vandag ’n spesiale diens te hou, 46 dae voor Paassondag. Dan sal die leraar as neem en daarmee ’n kruis op sy voorkop trek. Elke lidmaat sal dan ook vorentoe kom en dieselfde teken ontvang. Dit wys dat hulle jammer is dat hulle sonde veroorsaak het dat Jesus aan die kruis moes kom sterf. Aswoensdag is ook die begin van die vastyd (“Lent”) waarin hulle hulle van lekker kos en plesier sal onthou uit eerbied vir Christus se lyding. Hulle wil daardeur wys dat hulle dankbaar is dat hulle deur Christus verlos