Titelblad
HERMIONE SUTTNER
Bitter heuning
Vertaal deur Linda Rode
KWELA BOEKE
Opdrag
Vir my ma,
wie se liefde vir Namakwaland,
en boweal vir Velddrif,
my geïnspireer het om die boek te skryf.
Motto
“When the past is recaptured by the imagination, breath is put back into life.”
– MARGUERITE DURAS
Voorwoord
Voorwoord
Ek het tussen Namakwaland en Velddrif aan die Bergrivier grootgeword. Vakansies langs die Bergrivier het my so betower dat ek en my man later daar ’n stukkie grond gekoop het.
Op ons eerste dag in ons nuwe huis was ons sonder elektrisiteit. Toe ek begin rondvra na ’n winkel, het iemand aanbeveel dat ek by Abram Zeligs* se huis gaan aanklop. “Hy mag dalk slaap, so hamer maar aan die deur. Hy kan vir julle kerse, suiker, tee, koffie en sulke nodighede gee.”
Ek maak toe so en ’n kort, bejaarde man maak die bodeur oop.
Toe ek hom vra vir ons benodigdhede, sê hy: “Oh, you speak English? Who is your favourite poet? And what do you think of space and time?”
Hy was so opgewonde om Engels te praat met iemand en nooi my dadelik in. Wat ’n plesier! Die huis was gevul met boeke. ’n Klein private kamertjie vol boeke, en langsaan ’n yslike, ietwat verwaarloosde vertrek met duisende boeke. Orals net boeke, wonderbaarlike boeke met kommentaar op die agterblaaie geskryf. Die spesiale boeke in die private kamertjie was oorgetrek met silwer en goue sigaretpapier.
Iemand klop aan die deur en Abram gaan kyk. “Kom binne, Klaas*,” hoor ek hom sê. “Jy moet vir Hermien (so het hy my naam uitgespreek) ontmoet. Sy ken boeke.”
“Langenhoven – ek sal vir jou sy gedigte opsê,” sê Klaas met die inkom.
Abram vertel dat Klaas die heuningkoning van die Sandveld is. En net daar nooi Klaas my uit na De Heuwel. Hy sê sy suster, Mara*, sal so bly wees om ’n stadsvrou te ontmoet om mee te gesels. Gou-gou teken hy vir my op die agterkant van ’n sigaretdosie hoe om op die plaas te kom.
Die dag toe ek daar aankom, staan Mara reeds en wag by die hek. Ek onthou sy het ’n lang skirt aangehad en ’n groen toeknooptrui. Agter haar het die graanlande uitgestrek. Sy het geglimlag – haar oë was so blou en haar glimlag so warm, ons het sommer dadelik van mekaar gehou.
Ek is saam met haar voorkamer toe, en daar op die lang geelhouttafel het sy ’n boks foto’s tussen die gesels deur begin uitpak. Klaas was ontstig en het by haar gepleit om daarmee te wag tot ’n ander dag. Hy wou my laat proe aan die twaalf flesse heuning wat hy oor die afgelope jare versamel het, want elkeen het ’n ander geur gehad.
Maar Mara wou nie bes gee nie. Toe gaan Klaas maar uit tuin toe en sê hy sal terugkom as ons tee drink.
Heel eerste wys Mara my ’n foto van Matthys*, haar oorlede man. Ek maak ’n opmerking oor hoe aantreklik hy was en hoe ’n wonderlike huwelik sy moet gehad het – altyd tussen blomme en saam met diere op die foto’s.
“Jy was seker so verlief!” sê ek.
“Verlief? Op Matthys? Nee! Hy was nie my groot liefde nie.”
“Wat bedoel jy, Mara? Wie was dan?”
“Theunis*. Theunis was die liefde van my lewe.”
“Wys my ’n foto.”
“My pa het hulle almal vernietig. Almal – op een na.”
Klaas het haar vooraf vertel dat ek skryf. Sy kyk skielik dringend na my. “Jy moet die storie van my liefde skryf. As ons dood is, ek en Klaas, is daar niemand meer wat my storie ken nie. Ons het geen kinders nie, geen nageslag nie.”
En so het ’n lang vriendskap begin. Ek het plaas toe gegaan of sy het na my toe gekom. Ek het al haar herinneringe neergeskryf. Sy het vir my stapels briewe en foto’s gebring, en so het Bitter heuning – deels waarheid, deels fiksie – ontstaan.
DIE SKRYWER
Velddrif 2011
* Persoonsname is verander om die karakters se ware identiteit te beskerm.
1. ’n Gawe uit die see
1
’n Gawe uit die see
Ek is Mara, die dogter van Bavaria Mara gebore ter see.
Ek is van die veld, al dui my oorsprong op die see. My wêreld is in die hart van die Sandveld, noord van die Kaap. Die Sandveld is ’n droë streek wat uitstrek van die voetheuwels van die Piketberg, waar die graanlande van die Swartland lê, in ’n wye wit boog tot by die koue Atlantiese Oseaan wat dit aan die westekant begrens. Noordwaarts strek dit tot aan die rooibruin aarde van Namakwaland.
Van ver af lyk die vlaktes van die Sandveld bar en wit, veral gedurende die somermaande wanneer die oostewind sand van die kus af waai wat orals en op alles neersif. Die stryd om die huise skoon te hou van die ewige sand is net so taai soos die stryd om enigiets geheim te hou in die Sandveld. Al is die streek so afgesonderd, leef mens daar oop en blootgestel soos die kort bossies wat die veld bespikkel.
Skulpgruis wat dig rondom die huise gestrooi lê en verblindend wit in die somerson glinster, help om die sand buite te hou. Deure en vensters is gemaak van wrakgoed van skepe wat aan die kus gestrand het – herinneringe aan die koue oseaan net anderkant die bossieveld.
My ma is gebore in die versmorende hitte van die trope aan boord van die Bavaria, op pad van Lissabon. Haar ma, my ouma Sannie, was onderweg terug Suid-Afrika toe ná die Boereoorlog. Sy het my vertel hoe die kaptein afgekom het na die kajuit toe en my ma gedoop het: Bavaria Mara Krige.
Ouma Sannie, toe pas weduvrou, het bittere trane gestort oor haar ellendige lot, maar sy het haar Bybel geken. Daarom het sy haar kind genoem na die bitter kruie – marah – wat die mense van die Ou Testament gedurende Paasfees geëet het om hul swerftog deur die wildernis te gedenk, voor hulle die Beloofde Land bereik het.
’n Tydjie lank is Bavaria Mara op haar volle doopname genoem, tot die bitterheid van die oorlogsherinneringe uitgedoof is deur die dogtertjie se soete geaardheid.
Ouma Sannie het haar tuiste in die Sandveld gemaak en gesweer sy sou dit nooit weer verlaat nie. Haar droefheid het haar in die eerste jare in ’n swygsame vrou verander, en sy het die naam Stil Sannie onder die Oufonteiners gekry.
Toe Bavaria Mara vier was, het Stil Sannie vir Knud Pedersen ontmoet, ’n groot, sterk, goedgeaarde Deen wat van sy skip gedros het. Hy het een kyk gegee na die skitterwit strand, die pragtige vlei en die rivier wat kronkelend daarin uitloop, en terstond besluit om Oufontein sy tuiste te maak. Vreemd soos die landstreek vir hom was, was die nederige witgekalkte huisies ’n welkome gesig ná soveel maande ter see, en die helder lig en wye hemel was ’n verblydenis vir sy hart.
My ma, Bavaria Mara, kon onthou van die tyd toe oupa Knud en my ouma Sannie mekaar ontmoet het: skielik het ouma Sannie elke dag psalms en gesange gesing en weer begin saamgesels. Knud is verwelkom deur die riviervissers, wat gewoond was aan matrose wat van die skepe dros. Dit was ook nie ongewoon dat sulke matrose met Sandveldmeisies getrou het nie, en gewoonlik het dié huwelike goed uitgewerk. Gou was Knud Pedersen sommer net bekend as “die Deen”.