’n Motor het ons opgelaai, en die seuntjie in die motor het vir my van sy kaaskrulle aangebied. Ek was te skaam om daarvan te vat. Ek het my kop weggedraai en aan my pa vasgeklou. Op sy boarm was ’n groen tatoe van ’n kaal vrou met lang hare en ek het gewonder of dit ’n prentjie van my ma was.
My pa is kort daarna tronk toe gestuur en my hele wêreldjie het inmekaargetuimel. Ek is alleen, sonder Theuns, terug Jubilee Home toe. Voor ek vier jaar oud geword het, het my ma my kom haal, met ’n oorwinnende glimlag op haar gesig en ’n stuk papier in haar hand.
“’n Bevel van die hof,” het sy vir die Jubilee Home-tannie gesê.
My ma het my pa in dieselfde jaar geskei. Die volgende keer wat ek my pa as ’n vry man gesien het, het ek hom “oom” genoem.
Hoofstuk 2
The child is grown, the dream is gone. I have become comfortably numb.
PINK FLOYD
Dit het so geleidelik by my ingesink dat my pa weg is dat ek met sekerheid kan sê dit was nie ’n skok nie. Miskien het my ma aanvanklik vir my gelieg daaroor, of miskien het my brein die ergste skok van die nuus as ’n tipe beskermingsmeganisme uitgeblok, want ek kan dit glad nie onthou nie.
“Ek gaan vir jou pa skryf hoe stout is jy,” het sy gereeld gedreig.
“Waar is my pa?” het ek gevra.
“In die tronk.”
“Wat is ’n tronk, Ma?” wou ek agterdogtig weet.
“Dis soos ’n koshuis. Net vir grootmense.”
“Hoekom kom hy dan nie ook vakansies huis toe nie?”
“Want hy werk.”
“Kan ek ook tronk toe gaan?”
Theuns-hulle was reeds daar, en ek kon nie wag om te gaan nie. As hulle vakansies huis toe kom, kon ek vir ure na hulle koshuispraatjies luister. Alfie het daardie jaar met graad twee begin en hy kon nie uitgepraat raak oor die koshuis nie. Dit het vir my na die lekkerste ding op aarde geklink.
“Oor twee jaar,” het my ma gesê. “Wanneer jy groot genoeg is.”
“Hoekom is Alfie al in die skool?”
“Want Alfie is al sewe jaar oud,” het my ma ongeduldig geantwoord.
“Hou oud is Bennie en Theuns?”
“Bennie is twaalf en Theuns is amper tien.”
“Hoekom is ek dan nou eers vier jaar oud?” wou ek ontevrede weet.
“Want jy is eers vier jaar terug gebore!”
“Wanneer kom my pa weer huis toe?”
“Wanneer die perde horings kry.”
“Wanneer kry die perde horings, Ma?”
“Eendag op ’n reëndag,” het sy geantwoord, baie duidelik gatvol vir my.
“Kan ek ook vir my pa skryf?”
En so het ek aangehou.
’n Paar dae later: “Dit reën, Ma! Gaan die perde vandag horings kry? Gaan my pa vandag huis toe kom?”
“Ek’t gesê ééndag op ’n reëndag. Dis nie te sê omdat dit vandág ’n reëndag is, is dit eendag nie.”
My ma se logika het my heeltemal ontwapen.
“Wanneer kom eendag, Ma?” wou ek moedeloos weet.
“Op ’n ander reëndag.”
Elke keer nog ’n doodloopstraat. My pa was my hele lewe lank vir my ’n doodloopstraat. Hy is dit nou nog. En Alzheimers het seker gemaak dat hy dit altyd sal wees.
As my ma maar net van die begin af gesê het my pa gaan eers huis toe kom wanneer ek tien jaar oud is, sou sy my baie teleurstelling, frustrasie en geheime trane gespaar het. My ma het dit gehaat as ek huil. Ek weet nie of sy gedink het ek is onnosel nie, maar ek sou verstaan het as sy gesê het eers wanneer ek tien jaar oud is.
In die eerste helfte van my vyfde jaar het ek en my ma in vrede saamgeleef. Ons het in ’n drievertrekwoonstel bokant ’n drankwinkel in Boksburg gewoon. Agter ons woonstel was ’n karwassery en die Boksburgmeer was voor ons.
My ma het by die poskantoor gewerk, en Siena van der Westhuizen, ’n bruin vrou, het my opgepas. My ma het gesê sy is ’n oorlamse kleurling, maar Siena het nie daarvan gehou as jy haar ’n kleurling noem nie. Sy het gesê sy is ’n coloured en was baie trots daarop.
Siena kon soos ’n maer vark skree, soos ’n vis suip en soos ’n matroos vloek. Dáár was nou vir jou ’n regte, egte dokkemeid. Maar vir my was sy net Siena vir wie ek baie lief was. Siena wat vir my stories vertel het terwyl sy my gebad het. Siena wat my ure lank op haar rug geabba het terwyl sy skoonmaak of wasgoed op die draad hang. Siena wat my geconvince het dat as ek nie my kos eet nie, gaan my maag uitval die volgende keer as ek toilet toe gaan.
Siena het my altyd saam met haar afgevat drankwinkel toe as sy skelm vir haar drank gaan koop het. Eenkeer het ’n man met ’n bokbaard my amper onderstebo geloop in sy haastigheid om eerste by die drank uit te kom. Siena moes na my gryp om te keer dat ek val. Sy het die man aangegluur, maar niks gesê nie.
Eers toe ons agter die man in die ry staan om te betaal, het sy my hand styf vasgevat en vir die man gefluister-roep: “Hey djy! Djy met die baardjie! Djy’s ’n póés!”
Die man het vlugtig omgekyk en toe dadelik weggekyk. Seker bang gewees vir public humiliation.
“Wat is ’n poes, Siena?” het ek op pad terug woonstel toe gevra, sy met die bottel drank in bruinpapier toegedraai stewig onder haar arm ingedruk.
“ ’n Hus met lang ore,” het sy geantwoord asof sy by my ma geleer het.
“Hoekom is jy oorlams, Siena?”
“Oorlat die Djirre vir my ’n paar ekstra pitte tussen my se ore gegee het.”
As my ma die dag nie gewerk het nie, het ons twee afgeloop na die Boksburgmeer, rummy of solitaire gespeel, of sy het Danielle Steel-boeke gelees. Sy het gesê sy het my na ’n Danielle Steel-heldin vernoem.
My ma het baie Coke gedrink en baie John Player Special-sigarette gerook. En ek het haar verpes met eindelose vrae.
“Vir wie is Ma die liefste? Vir my, of vir Theuns, of vir Alfie, of vir Bennie?”
“Jy kan mos nie dit vra nie, Claudie. Ek’s ewe lief vir al my kinders,” het sy gelieg.
“Ek’s die liefste vir Theuns,” het ek die waarheid gepraat.
Ek het toe al aangevoel dat sy liewer vir Bennie en Alfie as vir my en Theuns was. Sy het ons kinders in twee groepe verdeel: haar Diago-kinders en haar Thompson-kinders. Sy het net “Diago” mooier gesê as “Thompson” – dié het sy altyd so half uit haar mond gespoeg, asof dit haar tong gebrand het. Hoe ook al, ek was in Theuns se groep, daarom was ek die liefste vir hom.
My ma was vir my mooi. Sy het nooit haar kop by ons woonstel uitgesteek sonder grimering nie. Selfs as ons Sondagmiddae langs die meer gaan stap het, het sy grimering aangesit en hoëhakskoene gedra. Elke Sondagoggend het sy haar gesig oor die wasbak in ons badkamer gestoom, haar naels tydsaam geverf en haar hakke met ’n growwe klip geskuur.
Rye en rye botteltjies gekleurde naellak het in ons yskas gestaan. Soms het sy my toegelaat om die kleur van die week vir haar te kies. Sy wou nooit hê dat ek my naels ook verf nie, al het ek haar baie mooi gevra. Dan het sy met ’n hoë stemtoon gesê háár dogter is nie vroeg ryp, vroeg vrot nie. Wanneer my ma se stem so hoog geraak het, het ek geweet ek moet ligloop.
Dit was ons ritueel om Sondae met ’n ou