“Ek is nou daar,” sê hy.
Uit die duffelsak oor sy skouer haal hy ’n fotoraam en gee dit vir Vasti. “Die kinderhuis het al sy besittings verkoop om te help betaal vir die begrafnis en sy laaste studieskuld, maar ek het gesê jy sal dit wil hê.”
Sy kyk na die foto en hy sien hoe haar mond bewe. Hy wou nie die foto vir haar gee nie, hy wou nie hê sy moes enigiets hê wat haar aan Jacques kon herinner nie, maar sy gewete wou nie toelaat dat hy dit vernietig nie. En nou het sy die donnerse verlowingsfoto wat hy van haar en Jacques geneem het. Sy stralend in haar rooi rok. En Jacques? Hy lyk net verlig oor die versekeringspolis wat hy in Vasti gevind het.
Die Amerikaanse vrou maak keel skoon buite die riethut. Hy moet gaan, maar hy gee ’n laaste kyk in Vasti se rigting. Sal sy regkom? Sy lyk so klein en broos in haar wit T-hemp.
“Ek is jammer dat dit so moes gebeur, Vasti.”
Hy sien hoe katrol sy haar argwaan in.
“Dankie dat jy my ten minste kom sê het.”
Môre, pas nadat sy terug is, sal sy na die begraafplaas gaan. Hy ken haar so. Maar die vars graf sal nog nie ’n naam op hê nie. Nie een van die nuwe grafte sal nie. Die kinderhuis se mense sal die skande help wegsteek. Die geheim sal vir nog ’n rukkie langer veilig wees.
En sy sal vir nog ’n rukkie langer beskerm wees teen ontnugtering, troos hy homself terwyl hy hom van haar moet wegskeur.
2
Vasti voel Engela Dekker se oë op haar voordat sy vir dokter Peens vra: “En wie gaan by oom Pierre oorneem?”
“Sy naam is Frits Spies,” sê die ou dokter en steek oudergewoonte ’n peperment in sy mond nadat hy sy koppie neergesit het.
Frits? Is hy terug? Haastig sit Vasti ook haar koppie tee op die tafel neer. Haar hand bewe te veel, netnou laat val sy die koppie. Dan besef sy: Engela het op een of ander manier geweet hy kom.
Dis elf maande sedert Vasti Frits laas gesien het, en tyd het die skerpte van haar ma en Jacques se dood afgevyl. Sy het so gehoop dieselfde sou gebeur met haar herinneringe aan Frits. Dit het nie. En nou is hy blykbaar terug en Jacques, die versperring wat sy tussen hulle twee opgerig het, is weg.
Weer voel sy hoe Engela na haar kyk. Ken Engela met haar sensuele, wye mond vir Frits? Dis al asof sy iets weet wat Vasti nie weet nie.
“Ek hoop nie hy is een van daardie dokters wat so belangrik is dat ’n mens hom nie eens op sy voornaam mag noem nie,” sê Engela liefies.
Vasti weet sy verwys na haar. Sy verkies ’n professionele afstand met die verpleegpersoneel. En Engela hou daarvan om ’n knuppel in die hoenderhok te gooi en te kyk hoe die vere waai, probeer sy haar gebelgdheid verklaar.
“Wie is hierdie Frits Spies as hy by die huis is?” wil dokter Zelda Coetsier weet en boog haar mooi gevormde wenkbroue hoër.
“ ’n Jong maar baie knap narkotiseur. Verlede jaar toe ek noodwerk in Mosambiek gaan doen het, het hy uit sy eie opgedaag en gehelp. Ek gee my werk met ’n geruste hart aan hom oor. En ja, Engela, Frits is die gemaklikheid self,” sê dokter Peens.
Vasti sug innerlik. Hoekom moet Frits juis hiernatoe kom? Hy weet mos sy werk hier, en sy het hom so mooi gevra om weg te bly van haar. Hoekom klop haar hart so vinnig by die blote gedagte dat sy hom weer gaan sien? Hoekom onthou sy nou elke erotiese droom wat sy die afgelope amperjaar oor hom gehad het?
“Jy en Frits sal uitstekend klaarkom, Vasti,” sê dokter Peens niksvermoedend.
“Ek gaan jou mis, oom Pierre,” sê sy.
Sal sy en Frits ooit weer kan saamwerk? Ná wat daardie nag in die rietskerm in Mosambiek gebeur het? Sy het hom elke dag gemis, maar sy is meer vasberade as ooit om van hom af weg te bly.
Dokter Peens staan op en kyk plegtig om hom rond. Dis die laaste keer dat hy as kollega saam met hulle tee gedrink het. Sy sal die reuk van sy ouderlingpepermente, wat sy altyd met hom sal assosieer, mis, maar ook sy menslikheid en nederigheid.
“My viertrek staan gepak. Ek en my vrou vertrek môre Namibië toe,” sê hy en probeer dapper klink om ná soveel jare af te tree.
“Geniet dit,” glimlag sy toe hy uitstap.
Engela stap by die deur uit wat na die teaters lei. Die middag se teaterlys wag.
“En wie op aarde is Frits Spies?” vra Zelda weer.
Vasti probeer haar skouers ongeërg optrek. “Jy hoor mos: die narkotiseur wat volgende week in dokter Peens se plek inval.”
“Ek wonder of hy môreaand by die hospitaaldinee gaan wees,” sê Zelda.
O genugtig, sy het skoon van die dinee vergeet. Sy sal Jacques se rooi rok aantrek, besluit Vasti. Sy moet Frits probeer oortuig dat sy nog steeds lief is vir Jacques.
“Hy begin eers volgende week amptelik werk, dalk kom hy nie,” sê sy hoopvol.
“H-m, ek hoop tog hy daag op.”
“Hoekom?” vra Vasti en staan op.
“Want jy het ligpienk geword toe sy naam genoem word, en onse suster Duiwela het ook skielik rooimiere gekry.”
Vasti skud net haar kop. Zelda is ’n gekwalifiseerde ortopediese chirurg, maar sy verkies om nie haar eie praktyk te hê nie. Sy verkies om Vasti en die ander ortopediese chirurg met operasies te assisteer terwyl haar tweelingseuntjies nog klein is en sy nie sulke lang ure wil werk nie. Zelda is ’n wonderlike dokter, maar haar blou oë is soms net te skerpsinnig en oplettend wat persoonlike sake betref. In die jaar wat hulle saamwerk, het Vasti haar leer ken as nugter en volwasse, iemand sonder komplekse en met baie goeie insig in mense.
Dorothy Twala drafstap die teekamer binne. “Ek loop nou net vir dokter Peens raak en hy sê my Frits Spies kom in sy plek. Dis wonderlike nuus!”
“Ken jy hom dan, Dorothy?” vra Zelda.
“Hy het verlede jaar vir my en Vasti in Mosambiek gehelp ná die sikloon. Jy moet hom sien steke insit: tjoef-tjaf en dis klaar. Ek het gedink hy is ook ’n chirurg, maar toe is hy al die tyd ’n narkotiseur.”
Net die noem van Mosambiek wil Vasti laat bloos. Haar brein bewaar met fotografiese presisie die beeld van Frits se glimmende grys oë toe hy daar in die rietskerm oor haar gebuig het.
“The plot thickens. Dus was jy en hy verlede jaar saam in Mosambiek, Vasti,” merk Zelda op.
“Suster Twala, as jy klaar is, sal ek graag met my teaterlys wil begin,” sê dokter Ingrid Tredoux in die deur.
Vasti kyk onderlangs na haar. Die ys in haar persoonlikheid het tot in haar stem gekristalliseer. Van haar blonde kroontjie tot haar modelmooi bene, wat selfs vir haar as ortopeed lyk of hulle tot onder haar armholtes aanhou, laat Ingrid haar aan die sneeukoningin dink. Toe sy laat verlede jaar by Berg-en-Dal begin werk het, het Dorothy ook hier werk gekry, maar soms wonder sy of dit vir haar vriendin so lekker is, want Dorothy het by Ingrid Tredoux, algemene chirurg en verskrikker van verpleegsters, beland.
“Ja, natuurlik, dokter, ek kom,” sê Dorothy haastig en storm uit.
“Jy weet Duiwela sal Ingrid se buie baie beter kan hanteer as die sagte Dorothy,” sê Zelda.
“Ek het al probeer dat hulle ruil, maar Engela kry dit altyd bewimpel om by my te bly. En sy is goed met haar werk,” sê Vasti.
“En sy hou daarvan om te stir, daai een.”
Vasti sug en staan op. “Ek moet seker gaan saalrondtes doen.”
“So jy en hierdie Frits?” terg Zelda verder.
“Ons het vier jaar lank saam gespesialiseer. Is jy nou tevrede?”
“Jy