“Jou hare is nat,” sê hy en vee ’n sliert agter haar oor in.
Net dié bietjie vat is genoeg om haar lyf in vlamme te laat uitbars.
“Frits. Hoekom het jy hierheen gekom?” vra sy skor.
Sy mond vind hare. Hy proe na boekenhoutheuning en moeilikheid. Veral na moeilikheid.
Haar lyf vormgiet nietemin teen syne.
“Hieroor,” kreun hy in haar oor. “Net hieroor,” en hy gryp haar nog stywer teen hom vas.
Sy sit haar arms om sy nek. Hy plunder haar mond, lê haar dan saggies op die slaapmat neer en buig oor haar.
Haar vingers is in sy hare. Dit voel springerig van skoonwees.
“Frits, ons moenie …” sê sy hulpeloos.
“Dit was onafwendbaar, Vasti. Van die begin af.”
Sy warm vingers sprei wyd oor haar week maag oop. Hy skuif haar T-hemp op en in die skrefies maanlig sien sy hoe sy oë ligter word toe haar borste soos twee onbewaakte torings voor hom lê.
“Jy is so mooi en ek wou al so lankal,” prewel hy met sy mond teen haar bors.
Sy onbeskaamde begeerte na haar laat haar bewe.
Op haar beurt lig sy sy T-hemp op. Sy lyf is van versilwerde gladheid aanmekaargesit. Hy leun oor haar, ver genoeg dat die puntjies van haar borste net-net teen sy borskas raak. Die puntjies spits hongerig op na hom toe. Hy voel dit, want hy lag saggies, oorwinnend.
En tog is dit daardie laggie wat die betowering versplinter.
“Frits, nee. Jacques.”
Die blote noem van Jacques se naam bring Frits skynbaar ook terug na die werklikheid.
Hy sit weg en trek sy T-hemp af.
Met haar rug na hom doen sy dieselfde. Skaamte sypel deur haar. Hoe kon sy?
“Hel,” is al wat hy prewel.
Sy sit regop en trek haar knieë tot teen haar bors.
“Ek wil hê jy moet van my af wegbly,” fluister sy.
“Hoekom?”
“Jacques,” sê sy eenvoudig.
“Jacques?” vra hy met ’n stem vol ironie. “Hoe de hel kan jy dink dat ’n verhouding tussen jou en Jacques moontlik is as ons twee –”
“Niks het gebeur nie,” keer sy haastig.
“Jy is reg. Niks het verdomp gebeur nie,” sê hy bitter en staan op.
Die rietmat voor die deuropening swiep woedend terug toe hy dit laat val.
Hy is weg, dink sy verlig.
Nee, sy is nie verlig nie. Sy laat haar kop op haar knieë val.
Maar sy het die regte ding gedoen deur hom weg te stuur, al wil haar hart breek. Daar hang ’n swaard oor haar kop waarvan Frits niks weet nie. Sy gee te veel vir hom om om hom deel te maak van daardie vloek.
Vasti sit langs die see en kyk na die golwe wat aanhou en aanhou rol, breek en terugtrek, rol, breek en terugtrek …
Hulle werk hier in Mosambiek is klaar. Die minibussie wat dokter Peens se gemeente voorsien het, vertrek môreoggend baie vroeg terug na Suid-Afrika.
Sy behoort verlig te wees, want dit was tien hartbreekdae omdat hier te veel ellende en te min van alles anders is: dokters, verpleegsters, medisyne, beddens. Maar sy is bang om huis toe te gaan. Sy moet die verlowing met Jacques gaan verbreek en dis nie iets waarna sy uitsien nie.
Hoekom het sy ooit daardie Saterdagaand ingestem toe hy haar vra? Hy het haar op ’n weerlose oomblik gevang. Sy was pas terug van haar ma se begrafnis en sy het soos ’n weeskind gevoel. Die gedagte dat sy die res van haar lewe alleen moet slyt soos wat sy haar twaalf jaar gelede voorgeneem het, was meteens oorweldigend.
En buitendien, Jacques het self so weerloos gelyk. Daar was iets desperaats in sy bruin oë. Soos ’n seuntjie wat vir sy gunstelingjuffrou ’n lenteblom bring, het hy die groot inkopiesak na haar uitgehou.
“Loop tert jou op dat ons na die hospitaaldans kan gaan,” het hy gesê.
“Wat is dit?” Sy het die rooi rok uitgehaal. Die lap het soos gesmelte sjokolade oor haar arm gevloei. “Jacques, jy weet tog ek trek nooit só aan nie. Dis te … Is dit satyn?”
Daar was vir ’n oomblik ’n vreemde trek op sy gesig.
“Nee, dis glo tafsy,” het hy met ’n spotlag gesê. “Komaan, Vasti, maak vanaand of jy ’n prinses is. Dit sal jou oom Jacques se hart so goed doen.”
“Nou goed dan,” het sy ingestem. Hy kon haar nog altyd uit haarself trek, tot in die wyer wêreld.
“Vasti, ek en jy het min geheime vir mekaar,” het hy gesê toe hulle met sy skedonk op pad was na die dans.
O, sy het ’n reusegeheim, hy weet maar net nie daarvan nie. Maar sy is seker hy het geen geheime vir haar nie. Sy weet byvoorbeeld hoe erg die verwagtings van die kinderhuis vir hom is. Hy was drie jaar oud toe die staat hom van sy hopelose ma weggevat en in die kinderhuis geplaas het. Sy pa was nooit in die prentjie nie. En toe word hy die kinderhuis se sterproduk, die verwaarloosde seuntjie wat ’n dokter geword het, die model vir al die ander kinders.
Sy was vroeër die jaar saam met hom by die kinderhuis. Daar was ’n jong meisie met ’n wye mond en potblou oë wat Jacques bly aangaap het asof hy ’n popster is. Hy was bra ongemaklik oor haar bewondering. Vasti onthou haar naam omdat dit uitsonderlik is: Fleur. Sy was vir Vasti die verpersoonliking van die druk op Jacques.
“Ek kan skaars glo ons ken mekaar al twaalf jaar,” het sy gesê. “Nes ek skaars kan glo dat ek myself nou ’n ortopediese chirurg durf noem.”
In die straatlig kon sy sien hoe sy gesig verstrak. Dis vir hom ’n teer punt dat hy net ’n hospitaaldokter is, en dit was taktloos van haar om na haar prestasie te verwys. Sy moedig hom al jare lank aan om met ’n privaat praktyk te begin, maar die feit dat hy sy derde en vyfde jaar moes herhaal, het sy selfvertroue geknou.
“Vasti, my hartjie, sien jy nie kans om hierdie skurwe padda in jou lewe maar te soen en in ’n prins te probeer verander nie? Trou met my?”
Sy was nie seker of hy ernstig was nie. “Ekskuus?”
“Kom ons raak vanaand verloof. As jy later besluit jy sien nie kans nie, bly ons mekaar se beste maatjies vir altyd en altyd en nog ’n dag. Maar kan ons minstens vir ’n paar weke probeer om ’n verhouding te hê?”
Toe sy ’n alleenloper op die kampus was met haar snaakse sendingstasieklere, was hy haar enigste vriend. En daar was ’n emosie onder sy spottende stemtoon wat tot in haar hart gesny het. Hy het geklink soos wat sy sedert haar ma se dood voel: alleen op hierdie aarde. Op daardie oomblik was die idee van ’n opsig-verlowing met haar beste vriend soos teeboomolie op ’n brandwond.
“Daar is net een ding wat jy moet weet. ’n Liefhebbende pappatjie gaan die uwe nooit, ooit word nie. Nog van dié vrot gene van my voortplant? Nooit as te nimmer nie.”
Sy het verras na hom gekyk en toe haar hand oor syne gesit. As hy maar net kon weet dat die feit dat hy nie kinders wil hê nie vir haar die deurslag gegee het om ja te sê.
“Nou goed dan,” het sy roekeloos gesê.
Die volgende dag het dokter Peens haar gevra of sy in Mosambiek sal kan kom help.
En nou moet sy teruggaan na Jacques en vir hom sê die verlowing is van die baan. Pleks dat sy maar daardie Saterdagaand nee gesê het.
Nooit sal sy die uitdrukking op Frits se gesig vergeet toe hulle die danssaal binnestap en Jacques hom trots as haar verloofde voorgestel het nie.