Praat hy net van piesangs?
“Is daar nog baie pasiënte?” Sy kom regop en maak die kitaar teen die rietmuur staan.
“Baie, baie meer. Soos wat die nuus van die hospitaal versprei, kom hulle van oral teen die kus aangestrompel. Die choleragevalle raak by die uur meer,” sê hy grimmig.
Sy vryf oor haar oë. “Ek sal nou enigiets gee vir ’n stort.”
Hy snork. “Hier is nie eens genoeg drinkwater nie.”
“Dankie vir die koeldrank.”
Die blou stippels in sy oë word ’n bietjie blouer. “Ek was bang jy drink sommer enige water en dan het jy ook een-twee-drie cholera.”
’n Ou bewustheid tussen hulle het die klein rietskuiling wat nou in blouwit lig soos in ’n teater gebaai is, ingesluip. Dis ’n bewustheid wat Vasti al vir vier jaar ignoreer. Jacques, die man wat almal aanvaar het haar kêrel is, was haar verskoning. Die verskoning wat sy minder as ’n week gelede amptelik gemaak het deur impulsief aan hom verloof te raak – tien dae na haar ma se dood.
Maar daar is ’n ander rede waarom sy nooit kan toegee aan die aantrekkingskrag wat Frits Spies vir haar het nie. ’n Rede waaraan sy nie eens wil dink nie, maar net dag na dag maak asof dit nie bestaan nie.
Oor iets wat sy haar ma beloof het.
Iewers in die donker daar buite, waar daar skynbaar nog lewe buiten haar en Frits is, klink die gedreun van groot voertuie op. En dan stemme wat verlig uitroep. Dalk het die beloofde hulp van die Rooi Kruis opgedaag.
Sy tel die blikkie op en teug aan die oorsoet koeldrank. “Dankie. Ek was baie dors. Hoekom het jy hierheen gekom?”
Dis die vierde keer dat sy dit vra, as sy reg tel.
“Ek het nie geweet jy speel kitaar nie.”
Weer antwoord hy haar nie. Die lampie met sy blou gasbotteltjie begin skielik proes. Die gas is seker amper op.
“My pa het my geleer.” Sy het Frits die afgelope vier jaar so min as moontlik oor haarself vertel.
“En waar is hy nou?”
Die lampie doof uit en die stilte is meer suisend as die liggie se geblaas.
“Dood.”
Sy het die woord sonder intonasie probeer sê – goeiste, dis al ’n dosyn jaar gelede! – maar iets van die ontsetting van dominee Nico van Vuren se laaste maande moes tog deurgeslaan het, want toe haar oë gewoond raak aan die flouer maanlig, voel sy hoe hy na haar kyk.
“Waaraan?”
Daar roer ’n briesie van die see se kant af en die maanlig bewe deur die rietsplete, bewe oor Frits se donker hare en laat sy oë nog ligter lyk.
“Hartversaking.”
Wat die waarheid is. As enigiemand nou regtig op die letter van die wet wil let.
“Sal jy weer vir my speel?” Hy buk en hou die kitaar na haar uit.
“Wat moet ek speel?” vra sy verdwaas.
“Wat jy netnou gespeel het.”
Het hy stilletjies na haar staan en luister? “Ken jy dit nie?”
“Ek het dit al gehoor.” Hy gee ’n verleë laggie. “Almal het al.”
Sy vat die kitaar by hom, raak per ongeluk aan sy kneukels en voel die skok deur haar trek.
“Dis ‘Herinneringe aan die Alhambra’,” sê sy gou voordat hy iets kan agterkom.
Sy gaan sit weer kruisbeen op die mat. Hy tree nader aan die tros piesangs, breek vir hom een af, skil dit tydsaam en eet terwyl sy speel. Dié keer glip sy nie weer in haar gedagtes terug na Malawi nie, daarvoor is Frits te lewensgroot in die skuiling. Sy gesig is geslote, maar sy sien hoe luister hy met hart en ore.
Die laaste klanke doof uit. Sy koester nog ’n sekonde die stilte tussen hulle.
“Is jy seker daar is nie water vir was nie?” sê sy en kom orent.
Hy steek sy hand uit en trek ’n grasstoppel uit haar hare. Sy blik is onleesbaar so in die maanlig.
“Jy het regtig ’n bad nodig, Vasti. Jou hare lyk amper nie eens meer bruin nie, maar grys van die stof. As dit nie vir die cremesoda-oë was nie, het ek jou nie herken nie.”
Sy stem is tergend en sy kenmerkende Frits-reuk golf oor haar toe hy nie sy hand laat sak nie, maar met sy vingerpunte aan haar hare bly raak. Van dié paar puntjies lyfkontak tussen hulle sypel begeerte na hom brandewynwarm deur haar are. Sy is bang daarvoor. Soos wat hulle al nader aan die afskeid kom omdat albei klaar gespesialiseer het, sukkel sy al meer om haar gevoelens vir hom te beheer. Maar sy moet.
Die maanlig val weer driehoekig by die skuiling in toe iemand die mat oplig. Frits laat sak sy hand en die hitte vloei uit haar lyf.
“Vasti, waar is jy?” roep Dorothy.
“Ek het aan die slaap geraak. Ek is nou op pad,” antwoord sy.
“Ek het goeie nuus. Daar het nog ’n dokter opgedaag, iemand Spies. Ek het nog nooit iemand so vinnig sien drups opsit nie. Hy weet wat hy doen.”
Vasti verys en sien hoe flits Frits se tande in die maanlig soos wat hy glimlag. Maar Dorothy babbel opgewonde voort, salig onbewus dat hy ook hier is.
“En daar is nog vier nuwe dokters en twintig verpleegsters en ’n klomp medisyne en drie waterkarre wat die Rooi Kruis gestuur het. Hulle het tot pepermente vir dokter Peens saamgebring.”
Vasti lag. Dokter Peens, die man wat die noodleniging hier begin het, is verlore sonder sy imperiale mentjies.
“Ons span mag nou gaan slaap. Maar voor dit kan ons in warm water gaan stort,” kondig Dorothy triomfantelik aan.
“Sowaar? En waar kom die warm water vandaan?” vra Vasti.
“Dokter Peens het geweet nog water is op pad en hy het iemand ’n donkie vol warm water …” begin Dorothy, maar haar oë het seker nou by die maanlig aangepas en sy sien Frits raak.
“Hallo, Dorothy,” sê hy onverstoord. “Ek en jy het netnou in die hospitaaltent ontmoet.”
“Jammer, dokter,” mompel sy verleë. “Ek het nie geweet u is hier nie.”
“Vasti het netnou al gekla sy wil gaan was,” is al wat hy sê.
“Ek het nie geweet julle ken mekaar nie,” sê Dorothy.
“Ons werk … het saamgewerk,” sê Frits.
“Frits is ’n narkotiseur,” voeg Vasti by. Hoekom klink hulle soos tieners wat betrap is?
“Gaan wys vir my waar daardie donkie vol warm water is. Waar het dokter Peens brandhout gekry?” vra Vasti en stap saam met Dorothy weg.
“Dryfhout op die strand. Daar is hope.” Toe sy seker is hulle is ver genoeg van die skerm verwyt Dorothy: “Hoekom het jy my nooit vertel van hierdie Frits-ou nie?”
“Ons werk net saam.”
“En kuier alleen in ’n donker rietskerm?” vra Dorothy betekenisvol.
Vasti vryf oor haar hare en ontdek nog grasstoppels. “Niks voel op die oomblik normaal nie, Dorothy.”
“Wat het hy hier kom maak?”
Ja, wat? Hy het haar nog nie gesê nie.
“Ek weet nie,” antwoord sy.
Haar brein weier om te aanvaar dat hy hier is net omdat sy hier is. Haar hart is ’n heel ander storie.
“Frits? Is dit jy?” vra Vasti toe sy weer by die rietskerm ingaan. Asof sy nie in elke selkern weet dis hy nie.
“Jy ruik lekker,”