Moena bak die lekkerste sjokoladekoek wat sy al ooit geproe het en toe sy verjaar, bak Moena vir haar ’n sjokoladekoek wat soos ’n hart lyk. Sy kook ook baie lekker kerriekos wat anders as haar ma s’n ruik en proe, en haar ma gaan gee soms vroegoggend kosbakke daar af en dan gaan haal hulle dit laatmiddag.
Haar ma sê die vreemde reuk in die huis is van al die speserye waarmee hulle kook.
“ ’n Mens kan van die vloere af eet,” hoor sy haar ma vir haar pa sê nadat hulle die eerste keer daar was.
Soms bring Moena self die kos en dan nooi haar ma haar in en hulle sit in die kombuis en haar ma maak tee. En hulle drink uit die gewone kombuiskoppies, nie die bekers onder die wasbak waaruit Japie die tuinjong of Maria die bediende drink nie. Toe sy haar ma eendag vra, sê haar ma iets van ’n beter tipe en daarna het sy nooit weer gevra nie, want sy kan sien haar ma sukkel om daaroor te praat.
Soos toe sy kleiner was, daar langs die kanaal en die Grootrivier, kry hulle lewe hier tussen die berge en wingerde ook mettertyd ’n patroon.
“Ek gaan nooit aan hierdie nat winters gewoond raak nie,” kla haar ma dikwels gedurende daardie eerste winter. “Wat maak die mense hier met die kinders in die winter?”
Sy hou nogal daarvan as die reën so ’n paar dae lank oor die vallei hang. Dan word die vuur in die sitkamer al vroeg-oggend opgesteek en kan sy middae na skool daar lê en boeklees. Dis vreemd om te dink die jakarandas voor die huis wat heeltemal kaal staan, gaan ooit weer blare kry.
“Wag vir die lente en jy sal hulle nie ken nie,” lag haar pa wanneer sy vra.
Soms ry hulle op ’n Sondag om na die watervalle in die berg te kyk.
“Waarom is ons so behep met water en dink jy ons sal ook eendag nie meer kyk nie?” vra haar ma toe hulle weer eendag uitry om te kyk hoeveel dit gereën het.
Haar pa het nie dadelik geantwoord nie. Eers net die wêreld om die motor sit en bekyk, terwyl die motorbande op die nat pad suis en die ruitveërs heen en weer op die voorruit swaai.
“Nee, want ons ken dors.”
Sekere dinge het nie verander nie. Hulle gaan steeds elke Sondag kerk toe en sit aan die linkerkant van die kerk en haar pa bekyk nog elke Sondag die mense aan die regterkant asof hulle op ’n dwaalpad is. Haar ouers werk hier ook vir elke basaar, skoolkermis en verkiesing. En hulle stem steeds Nasionaal.
Onder hulle in die straat woon Engelse mense en die pa is die leier van die Sappe op die dorp. Bloedsappe, sê haar pa. Toe dit weer verkiesingstyd is, ry sy en haar maatjie met hul fietse daar verby en skreeu kliphard: “Sappe!”
Sy weet nie hoe haar ma daarvan uitgevind het nie, maar sy was baie kwaad en hulle het dit nie weer gedoen nie. Na die verkiesing vergeet ’n mens in elk geval weer sulke dinge.
Sy dink nie sy hou daarvan om ’n kind te wees nie, besluit sy toe sy een aand op haar bed lê, haar kamerdeur op knip getrek. Daar is te veel dinge wat ’n mens nie weet nie en dan doen en sê jy verkeerde goed. Soos toe sy vanmiddag saam met haar pa by die werk was en ’n swart man hom kom soek het en sy hardop haar pa geroep het.
“Pa, hier’s ’n kafferman wat na Pa soek.”
Toe hulle huis toe ry, het haar pa na haar gekyk en sy gesig was ernstig.
“Ek wil nie hê jy moet die woord kaffer gebruik nie. Dis nie ’n mooi woord nie.”
“Wat moet ek hom dan noem?”
“Dis ’n bantoe of ’n swart man.”
By die huis het sy kamer toe geloop en op haar bed kom lê en lees, maar die woorde wil skielik nie sin maak nie en nou lê sy sommer net. Sy het al gehoor haar ma gebruik die woord skaamkwaad en dit is hoe sy voel. Soos met die Sappe-skreeuery, voel sy nou skaam sy het dit gedoen, maar sy is ook kwaad omdat niemand dit nog vir haar gesê het nie. Almal praat dan van kaffers. Hoe gebeur dit dat ’n woord wat een dag nog gebruik word, die volgende dag ’n ander betekenis kan hê. Wat dan van die woord blankes? En wat van hotnots? En as dit nie ’n mooi naam is nie, waarom is dit gegee?
En vir wie moet sy vra? Sy is nie een van daardie kinders wat sommer net vra nie. Dis makliker om soms maar net te kyk.
Dis vreemd dat haar ma ook nou werk, veral omdat hulle ver van die middedorp af woon en sy nie sommer daarheen kan stap nie. Soms kom haal haar ma haar vir balletklas of musiekoefening, maar die meeste van die tyd stuur hulle vir Jaffer. Hy kom laai haar by die huis op, neem haar en wanneer sy klaar is, kom laai hy haar weer op. Hy is bruin, maar sy is nie seker of hy dalk Moslem is nie. Sy het nog nooit so ’n naam gehoor nie. Hy maak altyd vir haar die motor se agterdeur oop wanneer hy haar kom haal. Van die kinders spot haar wanneer hy haar aflaai, maar sy gee nie om nie. Hy is vriendelik en praat mooi met haar, soos Josef altyd gedoen het.
Al is dit nie altyd vir haar lekker om ’n kind te wees nie, is die lewe hier bo teen die bult maklik. En haar pa was reg oor die jakarandas. Toe dit lente word, het die blare teruggekom en stadigaan het die pers blommetjies hulle verskyning gemaak. Die voëls keer ook weer terug van hulle oorwinterplekke en dit kweel en kwetter in die bome. Hulle fladder en vleg en bou ywerig neste. Smiddae kan hulle kinders nou onder die bome speel, of in die straat, maar van die lekkerste is wanneer hulle Vrydae die kaskarre se wiele afstof en olie. Langs hulle woon mense wie se kinders so oud soos hulle is en dis maklik om sommer oor die draad na mekaar toe te klim.
Sy dink nie alle kinders se lewe is so maklik nie. By haar in die klas is ’n kind wie se ouers gaan skei en een wie se pa na ’n inrigting in die Kaap gestuur is sodat hy kan ophou drink. Dié kind het nou die dag in die klas begin huil en die juffrou het gesê hulle moet haar uitlos en nie allerhande vrae vra nie. En by hulle in die kerk is ’n meisie wat ’n baba gaan kry, maar nie getroud is nie en nou mag sy blykbaar nie meer kerk toe kom nie. Sy het gehoor toe haar ma-hulle daaroor praat. Sy het ook gehoor toe haar pa vir iemand vertel van die Joodse man in die Kalahari wat ’n kind by sy swart vrou het. Hy wou nie die kind na die nie-blanke skooltjie stuur nie, maar die wit skole wou hom ook nie aanvaar nie. Op die ou end het die man sy kind na ’n privaat skool in Johannesburg gestuur.
“Ai, dit kos my tog baie duur om van Sammy ’n wit kind te maak,” het die man by haar pa gekla toe hulle nog daar gewoon het.
Sondagaande luister sy saam met haar broer in sy kamer na LM-radio se Top 20. Haar broer sê dit word uit Lourenço Marques uitgesaai en dit is waarom die klank so vreemd klink, asof dit in golwe aankom.
Haar pa moet dikwels Kaap toe gaan. Wanneer dit skoolvakansie is, kan hulle soms saamgaan. Maar sy kan nie glo toe haar ouers die oggend sê sy mag saam met haar broer Hippiemark toe gaan en daarna ’n fliek met die naam Woodstock gaan kyk nie. Die Hippiemark is in Loopstraat en dit ruik na wierook toe hulle instap. Oral teen die mure is plakkate van rolprentsterre, musiekmakers en ander mense wat bekend is. Die plek is in stalletjies verdeel en elkeen verkoop iets anders. Sy koop vir haar ’n paar rooi raffia-sandale, ’n leerbandjie vir haar arm en ’n silwer Peace-teken. En in die fliek sit sy doodstil en kyk. Dit gaan moeilik wees om vir haar maats te vertel wat sy alles gesien het.
Op pad huis toe ry hulle verby Distrik Ses en sy vertel dat sy gehoor het ’n verpleegster wat in haar uniform is, kan in die middel van die nag dwarsdeur dié gebied stap sonder om iets oor te kom.
“Ek sal nie so ’n kans waag nie,” sê haar pa. “Dis ’n skollie-nes.”
“Is almal wat hier woon skollies?”
“Nee, almal is seker nie skollies nie, maar hier is baie en dis waarom dit so ’n gevaarlike plek is.”
Sy het nog ’n hele ruk deur die motor se agterruit teruggekyk. Soms dink sy sy wil ook eendag ’n verpleegster word.
En toe een oggend is die koerante vol van die dokter by die Groote Schuur-hospitaal wat ’n hart oorgeplant het. Haar pa sê die nuus gaan wêreldwyd opslae maak en dit is ’n groot deurbraak vir Suid-Afrika. Maar toe haar oom-hulle ’n rukkie daarna terugkom van ’n vakansie in