Hy kyk na die meisiehand wat die glas vashou. Met die duim van haar ander hand vryf sy al met die rand langs. Dit veroorsaak ’n wringende geluid, wat in Christopher se verbeelding aanswel tot ’n fyn, veraf sirene.
9
Neil Collins het een ding geleer: ’n gedurige gedreig met weggaan is net so goedkoop soos ’n gedurige vredemakery wat net om die eerste hoek weer verbreek word.
Die dag nadat hy saam met Elna Osman gaan eet het, en nadat Rosanna so moedswillig slonsig by sy kantoor opgedaag het, ervaar hy weer eens die waarheid hiervan. Rosanna dreig met weggaan amper so dikwels as met selfmoord, en moord is net ’n kortkop agter. Vir die wis en die onwis het hy die rewolwer tog maar gebêre op ’n plek waar sy nie daarna sal soek nie, naamlik by sy visgereedskap.
Maar alle geld kan hy nie van haar weghou nie – en wil sy dan ’n treinkaartjie koop, is dit goed en wel. Op die oomblik reken hy dit sal hom goed doen om net ’n slag sonder haar te wees en diep asem te haal.
Vanoggend aan die ontbyttafel is dit ’n herhaling van die ou-ou, vasgelegde patroon van rusie: hy skuil agter sy koerant weg en sy probeer enigiets in haar vermoë om hom agter sy papierfort uit te lok. Onder “enigiets” val dus allereers verwyte, daarna trane, daarna dreigemente, daarna ’n deur wat in sy kosyne tril soos dit toegeklap word.
“Ek weet nie waarvoor ek lewe nie,” begin Rosanna Collins. “Kinders het ons nie, en jy gun my dit ook nie om een aan te neem nie. Waarvoor lewe ek? Ek het lus en maak ’n einde aan alles.”
Die koerant ritsel, en Rosanna weet nie of dit in reaksie op haar woorde is, of vanweë die nuusberig oor die deurmekaarspul wat in die wêreld aangaan nie. Dis hoe sy enige wêreldnuus en veral die finansiële deel afmaak: ’n deurmekaarspul. Sy vervies haar ook sommer as die klomp mansmense in ’n geselskap daaroor begin praat. En kom sy dan tussenin met ’n grappie of iets, vreet Neil haar agterna uit en sê sy het ’n leë kop.
“Ek wonder,” sê Rosanna, “as ek net stil verdwyn, of jy darem sal agterkom.”
“Ja, ek sal, want ek sal my koerant in vrede kan lees,” sê Neil Collins.
Hy hoef nie na sy vrou te kyk om te weet hoe sy lyk nie. Sy lyk presies soos jare terug, toe sy vir hom alte oulik was met die netjiese beentjies onder die baie kort rokkie, en die hoog uitgepluisde kapsel. Nou, tien jaar later, dra sy nog kort rokkies met ’n uit-die-mode-snit, en hoog uitgepluisde kapsels. Nie dat dit al is nie … dis maar net simptomaties van ’n erger verstarring. Destyds het dit nie saak gemaak dat sy ’n kougomkouende meisietjie is wat haar beplanning op “Wat die sterre voorspel” grond nie. Hy was immers self net ’n klerkie, en dit was lekker om sorgvry te wees by jou meisie. Hulle sou mos ouer word, verstandiger. Later …
Hy is geneig om haar gelyk te gee, dat sy iemand is wat kinders nodig het. Sy sal eintlik ’n lekker ma wees, sal op hulle vlak kan kommunikeer, redeneer, en dalk groei sy dan saam met hulle op tot volwassenheid. Hulle het wel toetse laat doen, en daar is nie regtig iets verkeerd nie, sy het maar net nooit swanger geraak nie. Sy is van die soort wat dalk, sodra sy ’n kind aanneem, haar eie kind ook sal kry. Daar is sulke gevalle. Sielkundig, wat ook al. Dis die beste diagnose en raad wat hulle kon bekom.
As sy net wou aanhou werk, of ’n liefdadigheidsinstansie ondersteun, maar sy sit ledig by die huis rond. Drink tee by vriendinne wat met hulle babas spog en haar verder demotiveer. Verder koop sy nodelose tierlantyne en nog meer klere wat beter by ’n tienderjarige sal pas. So voed sy haar eie oppervlakkigheid, en die kloof tussen hulle word net al hoe breër.
Dit is die tragiese tweespalt in sy lewe dat hy gevorder het tot bestuurder, maar nie kan waag om sy vrou in geselskap te presenteer nie. Hy kon ’n duisend dode sterf toe sy gister by die kantoor haar opwagting maak. Hy het haar tog gesê dat sy hom nie op kantoor moet pla nie, juis gedagtig aan haar manier van aantrek. En waarom kom sy toe wel?
“Om te kyk wat hier aangaan, Neil,” het sy gesê.
“Wat bedoel jy, aangaan? Ek doen my werk, en ek het gevra dat jy my nie steur nie.”
“Nee, maar ek het kom kyk, want ek begin hond se gedagte te kry. Ek is net nie meer goed nie … dis hier te kort, en daar te lank.”
Veral hier te kort, het hy gedink en gekyk na haar onpaslike rokkie waarvoor haar dye net te dik begin geword het.
“Rosanna,” het hy gevra, “het jy met een van jou vriendinne ons huwelik bespreek?” Amper het hy gesê “leëkopvriendinne”, wat die waarheid sou wees.
Uiteindelik, onder die dwang van sy woorde, het dit uitgekom: Trudie, ja, Trudie het gesê sy moet kom vasstel of hier op kantoor nie iets aangaan nie. Trudie het gesê sy moet veg vir haar regte en as hy haar uit sy lewe wil smyt, moet dit hom duur kos.
“Gaan sê jy vir Trudie ek sê sy moet gaan vlieg.”
“Ek dink nie Trudie was verkeerd nie. Wie is die meisiekind wat my deurgewys het hiernatoe, en sit sy op jou skoot? Ek dag daai Meloney-vrou werk hier.”
“Sy’s siek. Sy het verkies om te bedank.”
“En hierdie ene?”
“Sy werk in mevrou Meloney se plek. Omdat sy knap is, ja. Liewe land, Rosanna, ek speel nie in een van jou TV-storietjies nie. Ek doen eerlike, harde werk, en ek word bygestaan deur ’n personeel.”
“Hierdie meisie het my so hoogmoedig aangekyk. Sy wil my minderwaardig laat voel. Sy weet nie ek kan net my vingers klap, en sy sit op straat nie.”
“Moenie belaglik wees nie. Ek sal haar mos nie afdank omdat jy nie van haar hou nie.”
“Jy kies haar kant, sien jy? Ek het lus en verdwyn uit jou lewe, Neil.”
“Dit kan help. Op die oomblik, in elk geval, want ek het vandag ’n druk skedule.”
Sy is daar uit, vies. Nie rasegte, skroeiende toorn nie. Dis meer van ’n getjommel en ’n verwytery wat jou later oor die kop wil gaan. As sy nog moet weet dat hy gister, voor haar besoek, saam met Elna Osman gaan eet het!
Hy is vanoggend haastig om by die kantoor te kom.
Daar wag werk.
En Elna Osman is daar. Daar word binnekort in die stad ’n spesiale blitskursus vir privaatsekretaresses aangebied. Hy wil Elna die kursus laat loop. Nie dat sy dit juis nodig het nie, maar hy wil haar na sy hand leer. Sy is nog jonk, sy sal seker nie gou trou nie. Sy dra geen ring nie. Hy is nie van plan om sy hart op loop te laat sit nie, so glo hy. Hy is nie ’n ontroue soort man nie, en Rosanna sal dus solied deel van sy lewe bly. Maar niks belet hom om op kantoor te geniet van hierdie meisie se teenwoordigheid, bekwaamheid en aangename geselskap nie. Dit sal hom pantser vir die res van die dag saam met sy vrou. Dalk stem dit hom selfs meer positief teenoor Rosanna.
“Terloops,” sê Rosanna nou, en kraak ’n stukkie roosterbrood tussen haar tande, “moenie soek as jy my vanaand nie tuis vind nie. Enigiets kan gebeur.”
As sy verwag het dat Neil in roerende ontsteltenis die koerant sal neersmyt, het sy dit mis. Hy mompel net iets onverstaanbaars en blaai ritselend om.
“Maar as jy my tog moet soek,” sê Rosanna, “ek sal iewers ’n notatjie los om ’n idee te gee waar ek is of wat met my gebeur het. Wag, ek het nou amper my mond verbygepraat.”
Dis ’n smeking, niks minder nie. Hy weet sy sal ophou met dié sinneloosheid as hy haar in sy arms neem, haar soebat om tog niks onverantwoordeliks te doen nie. Sy sal trouens met die sinneloosheid ophou tot vanaand of môre, en dan van nuuts af begin. Hy weet. In die begin het hy teerheid probeer, maar hy moes ondervind dat verharding makliker is en meer vanself kom. Onttrekking. Emosionele egskeiding.
Buitendien sal hy liewer iemand soos Elna Osman in sy arms wil neem. Hy skrik vir sy eie gedagte.
“Gaan waar jy moet gaan en doen wat jy moet doen,” mompel hy duister en vou die koerant