Corlia byt op haar lip. “Jou ma moes ’n voorgevoel gehad het. Kyk hoe netjies is al die rakke. Dis net vir vat. Dis ’n plesier om hier koffie te maak.”
Elna sê liewer niks. Dat dit sy is wat so reggemaak het, is op hierdie oomblik tog nie belangrik nie. En dit sê darem ook veel dat dit nog steeds ordelik is. Dit wil lyk of dit Boet se vroutjie is wat nogal so netjies is. Sy en Boet het die garage vir hulle ingerig. Met haar aankoms het Elna ’n blik gehad deur die oop deur, en gesien hoe sindelik en leefbaar dit lyk. Maar die magie laat haar vermoed dat die bruidjie reeds swanger is.
“Tannie Corlia, sal dit reg wees as ek vir Christopher vra om my iewers heen te vat? Ek wil graag na die baba gaan kyk.”
“Enige tyd,” sê Corlia. Sy is aan ’t skink, en die tee wasem voor haar gesig. “Hy is dalk die regte een, hy sal nie emosioneel raak nie. En hy ken die omgewing van die hospitaal, hy kry tog opleiding daar. Wag, ek sal hom sommer roep as ek die tee invat.”
Christopher kom, en hy frons hewig toe hy die versoek hoor. “Die baba? Wil julle tog nie vir my sê …”
Hulle vertel hom.
“Sjoe …” Hy vee oor sy voorkop asof daar sweet moet wees. “Die lewe is ook snaaks.”
“Dis wat ek nou-nou vir Elna gesê het.”
“Ma wil nie ook saamgaan nie?”
“Nee, ek bly maar en help skink. Malie …” Sy swyg veelseggend.
“Malie is te besig om te huil,” voltooi Elna met ’n tikkie bitterheid. “En die gevolgtrekking is natuurlik dat ek niks voel nie. Ek is mos die wegloper.”
“My pa was besig met ’n fakulteitsvergadering toe Boet se vrou na ons huis toe bel,” vertel Christopher as hy en Elna op pad is kraaminrigting toe. “Ek kon eers nie mooi uitmaak wie sy is nie. In elk geval, toe los ons maar ’n boodskap by my pa se sekretaresse, en ek en my ma kom solank.” Nou, in die helder daglig, en met al die emosionele ontwrigting, vind hy dit skynbaar maklik om nugter te wees. “Ek self het vandag stokkies gedraai,” voeg hy onpeilbaar by.
“Maar toe is jy darem tuis. Dit was bedagsaam van julle om dadelik te kom.”
Hulle ry in stilte verder.
Die staatshospitaal is inderdaad vir Christopher bekende terrein en hy neem die leiding. Die diensdoende suster is gaaf en simpatiek en lei hulle tot by die broeikaste. Half verwilderd staan Elna, want daar is meer as een baba wat, pure arms en bene en pensie en nawel, soos voorwêreldlike wesentjies in die beskutte ruim van ’n broeikas lê.
Toe hulle eindelik voor die regte een staan, oorval ’n nuwe verdriet vir Elna, ’n grenslose soort wêreldsmart. Sy kyk na die ampermensie, wonder twyfelend of “Baba Osman” kan bly lewe.
“Dis ’n dogtertjie,” sê sy onnodig aan Christopher. Haar pa sal die geboorte moet registreer, sy sal hom moet herinner en bystaan. Makkie se naam. Magdalena. Dalk net Magda, vir so ’n kleine wesentjie.
“Ja, dis ’n klein split.” Sy stem klink heserig, sodat sy wonder of dit billik was om hom hierheen saam te sleep. Dis op sy beste nie ’n mooi verskynseltjie nie. Maar hy is ’n mediese student. Die wete maak haar uiteindelik meer tevrede, maar sy kan nie help dat trane in haar oë pêrel nie. Sy steek haar hand in die sak van haar tweestuk se baadjie.
Eers as sy die sakdoek in haar hand voel en na haar oë bring, kom sy agter dat dit Neil Collins s’n is. Vervaard bêre sy dit weer en diep ’n snesie uit die ander sak op.
’n Verpleegstertjie loer in. “Weet suster julle is hier?” vra sy snipperig, hoewel haar oë goedkeurend oor Christopher dwaal.
Hulle knik.
Sy staan nader. “Sjym. Dis ons kleinste prem op die oomblik. Is dit julle s’n?”
“Nee,” sê Elna. Te laat ontdek sy dat haar stem heftig was.
Hulle voetstappe klink solied in die gang toe hulle na buite gaan; Christopher knik beleef as hulle by die suster se kantoortjie verbystap. Hy word skynbaar herken.
As die motordeure agter hulle toeklap, voel albei vreemd verlig sonder om dit aan mekaar te sê. Die hospitaaltuine is ’n gloed pers vygies op aardbruin rotstuine.
“Hoe voel jy?” vra Christopher.
“So verdrietig ek kan sterwe.”
“Ek kon jou troos, maar dit lyk my jy is alreeds getroos.”
Sy weet dat hy na die mansakdoek in haar sak verwys. Dus het hy gesien hoedat sy dit vinnig weer wegstop. Dit was veelseggend. Sy moes maar gemaak het asof dit sommer niks is nie, en dit gebruik het om haar trane af te vee. Sy besluit om stil te bly. Enige kommentaar kan opsetlik klink en die verdagtheid net vererger.
In stilte, soos hulle gekom het, ry hulle terug. Oor die toekoms van die baba, as dit aan die leef sal bly, wil sy amper nie dink nie. Op die oomblik is dit so swak … word kunsmatig gevoed, met pypies lewend gehou soos ’n kooltjie wat saggies aangeblaas word om te bly gloei.
Later daaroor dink, besluit sy. Later, nie nou nie. Tussen nou en later kan die hemel en aarde verbygaan. Elke dag het genoeg aan sy eie bekommernis, en vandag van alle dae trek swaar.
“Wil jy nie maar vannag by ons kom slaap nie?” vra Corlia toe hulle terug by haar pa se huis is. Sy voel duidelik dat sy iets prakties moet kan doen in die heersende ontwrigting. Ja, sê haar hart, en sy roep haar ’n visioen op van die stil, smaakvolle huis en die skemerige boekrakke, die gedempte badkamer, die musiek wat op die agtergrond swel en breek, soos golwe op ’n ver strand.
Nee, sê haar verstand. Nie na wat Christopher gisteraand aan jou verklaar het nie. Dat hy vanmôre niks daarvan herhaal het nie, doen nie daarmee weg nie.
“Dankie, maar dit sal regtig nie nodig wees nie,” sê sy en hoop dat dit nie ondankbaar klink nie.
“Dit lyk my nie jou pa is in staat om reëlings te tref nie,” bevind Corlia. “Klaas moet maar kom hoor wat is wat, en met alles help.”
“Ek sal ook doen wat ek kan.” Sy sien ewenwel nie kans om hier oor te slaap nie. Maar na die Ligtharts toe durf sy nie gaan nie. Sy besef dat sy eintlik geen vaste tuiste het nie. Die Ponters bied haar nog die meeste huislikheid en darem ’n woonadres, maar sy besef dat dit nie net so kan aan- en aangaan nie. As sy nie finaal kan besluit om met Johnny te trou en daar aan te bly nie, moet sy elders verblyf vind. Finansieel weet sy nie wat vir haar voorlê nie, met die ellende hier by haar mense. Sy kan nie sommer ’n woonstel huur nie. Wat bly oor?
Soos ’n blink, syige spinnerak het die goedwilligheid van die Ponters haar vasgespin. Die dambord met sy geel-en-swart blokkies het ’n soort lewenspel geword, waar elke skuif van haar opgevolg word deur ’n wederskuif van die knokkelrige hand van oom John Ponter. Skuif, teenskuif … totdat een van hulle se laaste skuif noodwendig die totale vasgekeerdheid van die ander een sal beteken.
En Johnny wat grinnikend sit en toekyk. Hy hou daarvan dat Elna wen, maar is te lojaal aan sy pa om dit te wys. Uit die klein kombuis word elke koppieklank ’n ghongslag … elke keer ’n uur later, ’n uur verder by omdraai verby.
Corlia en Christopher groet vir Elna buite op die paadjie. Sy staan op ’n veilige afstand en wuif net tot siens. Om elke keer te moet soengroet, kan ongemaklik raak. Sy wil ook nie belaglike familiepikkies aan Christopher uitdeel nie. Nie na die soen van daardie aand nie.
“Die stomme kind,” sê Corlia toe hulle terugkyk en haar alleen daar op die harde grondpaadjie sien staan. Ossie het nou nooit eers ’n strook sement gegooi nie, dink sy vies. Watse lewe het haar suster by hom gehad?
“Dis nie dat Elna te bejammer is nie,” sê Christopher onpeilbaar. “Soos sy nie daar lyk nie, is sy ’n pilaar van sterkte.”
Corlia laak dit as hy in hierdie gemoedstemming verval. Soms kan hy ineens terugsink en broeiend, onverstaanbaar word. Dan verskil hy van alles wat sy sê. Laat dit hom beter