Elna het met haar rug na die voordeur gestaan en praat. Toe sy die gehoorbuis terugplaas en omdraai, met ’n glimlaggie nog op haar gesig, sien sy vir Christopher in die wye, oop deur staan.
“Ek het net gaan kyk of die tuinstoele skoon is,” maak hy verskoning, asof hy bang is dat hy van afluister verdink kan word.
“Ja. Ek het net gebel om te sê hulle moenie vir my wag vir ete nie.”
Net so asof ek en sy enige verantwoording hoegenaamd verskuldig is aan mekaar oor ons doen en late, dink Christopher. Nietemin lê die verligting in hom soos ’n groot koelte. Elna se woorde oor die telefoon het so spontaan gekom: “Ons het gisteraand so laat sit en gesels …” Al was dit dalk daarop gemik om die Ligtharts daarop te wys dat sy nie met haar kêrel ’n kamer deel nie, voel hy nogtans verlig. Hy hoop sy ma het dit ook gehoor. Sy dink mos Elna kan soos die ouer sussie wees.
Klaas kom terug vanaf ’n laat byeenkoms. As hy verbaas is om vir Elna te sien, steek ook hy dit goed weg. Hy het haar trouens nog so min en so lank laas gesien, dat hy ’n oomblik lank twyfel of dit wel die dogter van Ossie Osman is. Hy tref haar aan voor die boekrakke in die biblioteek, by die afdeling vir klassieke werk. Sy staan met die Engelse vertaling van die Ilias van Homeros in die hand, en hou die boek dwars om van die kantaantekeninge in potlood te lees.
Half skuldig slaan sy die boek toe terwyl sy groet, maar hy merk dat sy haar vinger nog by die plek hou waar sy laas gelees het.
Hy soen haar lig op die mond. “Waar is die ander mense dan?”
“Christopher het gaan stort, en tannie Corlia is in die kombuis besig. Ek wou haar help, maar sy het my uitgejaag.” Sy glimlag darem toe sy dit sê.
“Dis ook reg. Jy trap nou regtig nie ons drumpel so deur dat ons jou sal laat werk as jy hier kom nie.” Hy dink aan die besoek van Ossie nou die aand, en wonder wat sy sal doen as sy weet dat hy hier kom geld leen het. Hy wat Klaas is, het dit wys gedink om maar ’n tjekkie te skryf. Kry hy dit nie terug nie, is dit tot daarnatoe. Hy het Corlia lief en voel in ’n sekere sin dat hy haar teen haarself moet beskerm, en dit sluit haar familie in.
Elna se teenwoordigheid is ewenwel baie meer strelend en aangenaam as dié van haar pa. “Ek sien jy staan met daardie Ilias. Dis een van dié wat ek nog gekoop het toe daar skaars geld vir kos en klere was. Antikwaries, sommer by ’n boekverkoping op straat. Kyk net al die name van vorige eienaars.”
“Dit het persoonlikheid.” Sy hou nog ’n beleefde toon voor, maar ’n sekere honger slaan deur in haar blik, die aanraking van haar hande, die toon van haar stem. “Ek het al so baie hiervan gehoor, maar nooit regtig geweet dat dit eintlik poësie is nie. Ek het gedink dis iets soos ’n lesing of vervelige letterkundige opstel.”
“Letterlik beteken ‘Ilias’ eintlik ‘Gedig oor Ilion’, wat die hoofstad van Troje was.”
“Natuurlik, Helena van Troje,” peins sy. “Dis mos Agamemnon wat die stad nege jaar lank beleër het om Helena, sy broer se vrou, terug te kry.”
“Maar dan ken jy dit mos,” sê Klaas.
“Ek onthou daardie stukkie van skool af. Maar ek het nie gewonder hoe en waar dit inpas nie.” Haar oë blink van ’n soort verwarring, ’n soort pret, ’n soort verwagting. Klaas Ligthart kyk na die bruin fluweel van haar sprekende oë, na die heuningkleurige vloed van die hare teen haar wange, en ’n verlange na die dogter wat hy nooit gehad het nie word in hom wakker. Wat ’n pragtige meisiekind. Hy het dit nooit besef nie. Dat sy uit so ’n huis kon kom … dit wys jou net. Sy het dieselfde bloed as Corlia in haar are. Corlia, ’n voortreflike vrou wat sterk genoeg was om haar agtergrond in boustene te omskep.
Wat room is, moet boontoe kom. Maar eintlik hoef Elna nie “boontoe” te kom nie, sy is reeds bo, en dalk was sy dit van kleins af. Haar soeke is deel van haar bekoring. Vir hom is soeke altyd ’n teken van openheid, van toeganklik wees vir ander beskouings as jou eie.
“Christopher het natuurlik net een kyk hierna gegee, toe besluit hy nee dankie. Wil jy die boek leen en huis toe neem?”
Hoe fyn van aanvoeling sy is, blyk uit haar antwoord: “Dan liewer nie. Ek wil my nie slimmer as my geleerde nefie probeer hou nie. Ek sal sommer rondblaai en pik-pik lees.”
“Dis jammer ’n mens kan dit nie in oorspronklike Grieks lees nie.”
“Ja nè, dit sou … wel, Grieks wees. Maar ’n vertaling is ’n goeie tweede beste, skat ek.” Sy huiwer en voeg dan by: “Soos baie dinge in die lewe.”
“As ’n mens dit eers verstaan en aanvaar, vou die lewe voor jou oop soos ’n driedimensionele prentjie.”
Hy, die andersins gemaklike, het dit hartstogtelik gesê. Sy wonder oor die diep gloed wat deur sy oë geflits het. Dit was of hy op die rand van ’n belydenis is, maar betyds besin het. So het elke hart sy eie, eienaardige smart, dink sy. Was daar dalk ’n ander meisie voor tannie Corlia? Dis moeilik om te aanvaar dat Corlia vir hom tweede beste sou kon wees.
Hy gesels verder oor die boek in haar hand en ’n warmte, ’n vrede bou om haar op soos sy nooit geken het nie. Sy ruik leer en ou papier, pyptabak en meubelolie. Deur die wye venster met sy swaar, oopgetrekte roomkleur gordyne sien sy die tuin lê, hoe die laatson op die blare van lukwart, blomgranaat en tamarisk kantel. Selfs die hond draal tevrede buite rond, soos in ’n idille. Uit die binnehuis klink daar musiek, ’n deinende oseaan van klank. Musiek wat normaalweg vir haar te swaar sou wees, maar wat hier ’n aanvulling van die gedrae lewenstyl is. Ook die gedempte egtheid van die skilderye.
Sy kom tot die ontsettend weeïge besef dat ’n volle lewe besig is om by haar verby te gly soos ’n voedende stroom, terwyl sy in die vlak watertjies plas. Sy het ’n ouer, net één ouer, nodig gehad wat ook na kennis en wysheid soek, wat boeke van gehalte die huis in bring, wat haar gereeld biblioteek toe vat. Sy moes maar altyd self sukkel om daar te kom. Die biblioteek in die hoërskool het in ’n mate die leemte gevul, maar tuis was daar geen rugsteun nie, net die boeke wat haar ma armsvol by die bure uitruil, met haar pa wat enige “gelesery” as tydmors bestempel. Nooit ’n interessante gesprek oor wêreldsake of lewensfilosofie nie, net ’n gemaal en gekarring om te bestaan. En musiek soos hierdie op die agtergrond, sou eweneens as “gemors” bestempel word.
“Oom Klaas,” sê sy plotseling innig, oorstelp, “wat doen ’n mens as jy besef dat jy … ’n onterfde is?” Sy weet self nie waar hierdie rou, onverwagte belydenis vandaan kom nie. Dis nie soos Elna Osman om haar diepste gevoelens ten toon te stel nie. En dit nog voor Klaas Ligthart, die man van die tante wat haar so diep gekwets het.
Maar hy is so stil, so kalm, so sterk. Sy dink aan haar eie pa, aan Ossie Osman, en sy wil huil. En huil, en huil. Hy is soos ’n versadigde luislang; daar kom net roering solank jy hom met ’n stok aankarring, maar onmiddellik daarna laat hy weer sy kop sak om te dommel.
“Jy is nog jonk,” sê Klaas gedemp. “En jy is ’n instinktiewe outodidak, jy is in staat om jouself sommer so in die loop te verryk en op te voed, soos iemand wat met ’n mandjie oor die arm loop en blomme uitsoek-pluk … links een, regs een, sonder om tot stilstand te kom.”
“Oom prys my so hoog aan sonder om my eers te ken.”
“Ek het jou leer ken … nou.” Die afgelope kwartier, ja. Hy het haar skerp intelligensie leer ken, haar gesmoorde ambisie, haar vertroulikheid en soeke na krag.
“Ek sal maar die paadjie loop wat vir my gebaan is. Ek sal my ambisie smoor en trou en kinders kry en op hulle skree en …” Dit klink of sy wil stik.
Die man kyk haar aan. Hy dink skielik: As ek Christopher was, sou ek op haar verlief geraak het. Maar nee, hy weet tog hoe Corlia daaroor sal voel.