“Ja,” sê Christopher, en die kort woord kan enigiets beteken. Enigiets tussen geheimhouding en ontnugtering, verleentheid en geamuseerdheid. Elna se vingers vou, vou die servet op haar skoot, en sy het nooit in haar lewe minder lus gehad vir kos as juis nou nie. Haar pa? Haar gedagtes staan stil, weier om ’n koers te neem. Kom geld leen, dis al wat sy op hierdie onryp moment kan dink. O, as sy maar geweet het, dan het sy ver van hierdie huis af weggebly, vir altyd.
“Nee, ek ry hier verby, toe dag ek ek kom hoor of jy vanaand varsity-bib toe wil gaan, Christopher. Ons gaan dikwels daar werk,” sluit die meisie bedagsaam vir Elna by die gesprek in.
“Ja,” sê Elna dof. “ ’n Goeie gewoonte.”
“Ek het ’n vermoede my pa en ma betaal haar omkoopgeld om my bib toe te lok sodat ek ’n bietjie kan swot,” glimlag Christopher flou.
Waarom, dink Elna, moet alles opeens so dof en ver voel en klink? Die glans op die blare van die tuinbome het getaan, en die keurige geroosterde broodjies met ham- en pynappelvulsel se geur het skynbaar verslaan. Die skaduwees het gaan lê … dit lyk of hulle op ’n elmboog neergesak het en nou van die grond af loer na die menslike wesens op die tuinstoele.
“Eet of drink iets, Phoebe,” nooi Corlia. Vir Elna klink die stem swewend.
“Dankie. Ek moet nog gaan eet, maar ek sal hiervan proe. Dit lyk allerheerliks.”
“Hoor hier, Phoebe, gaan jy maar vooruit. Ek sluit later by jou aan. Ek gaan net vir Elna terugneem.”
“Moet jou nie oor Elna bekommer nie, ek sal haar vat,” sê Klaas gou. Ook maar beter dat hy eerste gepraat het, want Elna het dit klaar op haar lippe voel vorm, die woorde dat Christopher hom nie oor haar moet bekommer nie.
Christopher kyk na sy pa en ofskoon sy blik uit en uit op Klaas gerig is, sluit dit op ’n manier tog almal in, en is die angel van sy woorde vir almal bedoel: “Ek het haar gebring, en ek neem haar terug,” sê hy streng, asof hy teenstand verwag. “Is dit nie basiese goeie maniere nie?”
“Natuurlik,” sê Corlia. “En dit sal mos ook nie so lank duur nie.”
“Ag, geld goeie maniere dan vir ’n ou se niggie ook?” lag Elna met ’n sorgvryheid wat sy nie in haar diepste hart gewaar nie.
Dit was nodig dat sy hierdie opmerking maak, besluit sy wanneer almal met ’n soort verligting saamglimlag. Waar sy netnou oor die telefoon gepraat het van “vriende” by wie sy kuier, asof sy die Ligtharts die familiariteit wou spaar, het sy dit nou dwingend nodig geag om te noem dat sy Christopher se niggie is. Sy is dit verskuldig aan elkeen hier rondom haar.
Maar veral is sy dit verskuldig aan Phoebe van Duifhuis, wat net so besonders as haar naam is, en oor wie se gesig die luierende spanning nou uiteindelik verbreek is.
“Ja, Christopher,” sê Phoebe, “dit geld vir niggies ook. Ek sal vir jou wag by die bib. Moet net nie te gerus raak nie. Onthou, dis tradisie dat cousins op mekaar verlief raak. Of lees jy nie Victoriaanse romans nie?”
En sy, die ernstige meisie, glimlag hom stralend toe.
8
In die motor op pad na die Ponters se huis is Elna broeiend stil. Dis ’n ander soort stilte as die vergenoegde swyes van Phoebe, waaraan Christopher gewoond geraak het. Wanneer Elna stilbly, vermoed hy ’n wemeling van gedagtes in haar gemoed. Ja, hy kry die indruk dat sy ’n ontsettend bedrywige binnelewe moet hê. En dat daar ’n oneindige binnerykdom wag om in woorde ontsluit te word.
Haar swyes is sprekend, nie swaar soos Phoebe s’n nie. Ek en Phoebe is baie eenders, besluit hy. Te eenders. Ons sal die spreekwoordelike skepe word wat in nagtelike mis by mekaar verbyvaar.
Twee eenderse pole.
Hy het nou die aand met twee magnete sit en speel, opnuut bevestiging gevind daarvoor dat teenoorgestelde pole mekaar aantrek, eenderses mekaar wegstamp.
En hy het gedink, baie gedink. Hy is ’n dinker, te onderskei van denker, want hy is geen groot filosoof nie. Wanneer sy gedagtes te diep wil delf in groot waarhede, onbegryplikhede, is dit of daar ’n barrikade verskyn, ’n versperring, wat hom terugneem na vlakker waters toe. Hy sal beslis nie eendag een van daardie gevierde huisdokters word wat, benewens medisynemeester, ook filosoof en algemene raadgewer en sielkundige vir die gesin is nie.
As hy eendag in ’n algemene praktyk te staan kom, bygesê. Dis al asof daar ’n newelagtige gordyn tussen hom en sy toekomstige beroep hang. Wat doen ’n mens, wonder hy soms benoud, as jy by omdraai verby is en jy vermoed dat jy die verkeerde pad ingeslaan het? Selfs met sy pa durf hy nie daaroor praat nie. Klaas is ’n man met baie begrip, maar dis te veel gevra dat selfs hy sal verstaan hoedat iemand etlike lewensjare en baie geld kan verspil deur ’n onbesonne keuse van beroep. Hy is ’n man wat daarin glo om figuurlik gesproke ’n gebou klaar op te rig as jy getender het.
Christopher se gedagtes wentel terug na Elna hier by hom in die motor. “Weet jy,” begin hy blindweg bieg voordat hy hom kan besin, “ek was ernstig netnou oor die studie. Ek sit nie alles in wat ek kan nie.”
“Jy weet nie wat jy het nie.” Dit klink soos ’n vermaning, en nogal ’n taamlik gewigtige een.
“My hart is nie daarin nie.” Noudat hy in enkele woorde die hele mandjie patats voor haar omgekeer het, is die poorte ontsluit. Hy praat, kies holderstebolder sy woorde soos wat dit lukraak op sy tong beland. “Almal het altyd maar aangeneem dat ek dokter sal word omdat dit my keuse sou wees. My ma, natuurlik, het ’n vleiende, romantiese prentjie van ’n geneesheer. So dink ek. Alle vrouens het. Hulle besef skynbaar nie dat dit een van die beroepe is wat die kwaaiste eise stel en die meeste sleur het nie. Baie bloed en derms. Jy kan net daarvan ’n sukses maak as jou hele hart daarin is. Dis glad nie soos in die boeke nie, weet jy?”
“Ek kan nie sê nie. Ek lees nie romans oor dokters en nursies nie.”
Die tweede vermaning, deksels. Die woorde rol heftiger oor sy tong noudat sy dit so koelerig ontvang. “Op ’n keer wou ek koerantman word, maar ek dink dis die gedagte aan die vreemde wat my betower het. ’n Korrespondent, iewers ver hiervandaan. Ek is nog altyd benou deur die gedagte aan ruimtelike gebondenheid.”
“Wie nie?” sê Elna Osman nugter. “Wie voel nie soms hy moet ’n berg uitklim, maar sy bene word vasgehou nie?”
“Jy ook?” strompel Christopher Ligthart deur die oerwoud van sy belydenisse. Hy, die dikwels swygsame, sit nou amper beskaamd by die besef dat hy sy woordevloed nie kan keer nie. Die volryp stilte van Elna het as ’t ware ’n sluis by hom oopgetrek en dit stroom, stroom uit sy diepste hart.
“Weet jy, Elna, jy sal lag, maar weet jy wat het my oë oopgemaak? Dis televisie. Met programme soos lugvaart, vlieëniers. Dit voel vir my ek kan opspring en ‘Joeghoe!’ skreeu as die ouens so deur die lug skeer.”
“Is dit nie ’n algemene seunsdroom nie? Ek vra maar, want ek weet nie.”
“E … wat?” ’n Bondel opdrifsels het in die weg van sy woordestroom beland.
“Ek sê, droom alle seuntjies, en dus mans ook, nie om ’n lugmagvlieënier te word nie? Iets om hulle bo die aardgebondenheid … en hulle maatjies, te verhef.”
Hy hou stil, sommer iewers langs ’n straat, ontnugter. “Ek het tog gedink jy sal verstaan,” prewel hy gekneus. Die ou, broeiende ingekeerdheid slaan onmiddellik terug. Ook die gedagte dat sy werklik begryp, maar toneelspeel. Haar volgende woorde bevestig dit.
“Waarom ek?” vra Elna met ’n nugterheid wat amper wreed aandoen. “Waarom moet ek begryp, as niemand ooit na my drome wou luister nie? Ek weier. Jy het geen aanspraak op my begrip nie. Nóg jy nóg enigiemand anders. Ek moes op my eentjie droom, en ophou droom. As daar iewers ’n