Louisa du Toit Omnibus 5. Louisa du Toit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Louisa du Toit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624053705
Скачать книгу
mansvoete skynbaar die skinkbord se voupoot raakgeskop.

      Klein konsternasie.

      “Dit kom van die skootetery. Ek gaan gou ’n lap kry,” skarrel Corlia kombuis toe. Margaret slaap nie in nie en vertrek reeds na vier elke middag.

      Maar Phoebe wag nie so lank nie. Sy is op haar knieë voor Christopher, voordat hy nog self iets kan probeer doen. “Sit jy net stil,” beveel sy. Sy skep die kos met haar hande op en gryp dan alle papierservette binne haar bereik.

      “Dis genoeg,” belet hy haar. “Wag tot my ma met ’n nat lap kom.”

      “Nee,” sê sy, amper hartstogtelik. En sy vee sy skoen skoon … met toewyding, met streling. Dit lyk asof die handeling vir haar te veel word. Sy sluit haar hande, die sterk hande wat sy pas aan ’n servet skoongevee het, om sy enkel.

      “Dit lyk of jy my aan jou wil boei,” sê hy, onthou dan dat sy nie lief is vir skerts nie. “Staan op,” sê hy, en help haar orent.

      Toe haar gesig naby syne is, sien hy die trane op haar wange.

      Hy vra nie, vee dit net met sy duimkussings af.

      Dis Ossie Osman wat saam met Klaas terugkom. Hy loop wydsbeen in stadige pas, soos ’n besoekende staatsman. Ook voel hy dat hierdie besoek sy beste taal regverdig: “Ek het eintlik gekom om met boetie Klaas te gesels oor seker aspekte. Naand, ou Chris. Naand, meisie. Naand, Sustruisie.”

      Ou Chris en die meisie het nie veel erg aan die besoeker nie. Dis eintlik Corlia wat met haar binnekoms gestalte aan die skok gee. Sy gaan staan en haar keelspiere wil nie bra saamwerk om ’n groet voort te bring nie.

      “As jy met Klaas wil gesels, moet ek maar by wees, Ossie,” lê sy die moed aan die dag. Sy durf Klaas nie versaak nie. Dis immers haar familie. En sy het ’n baie sterk idee dat die man geld wil leen. Watse “aspekte” kan hy nou hê om oor te gesels?

      Dit is dan ook die storie.

      Ossie sit in die biblioteek, en sy oë draai wit in hulle kasse vanweë die baie boeke wat hy aanskou. Vir hom is geleerdheid, boeke en geld sinoniem, en hy voel hy het reg gedoen om hier te kom uitkoms soek.

      “Nee, sien, boetie Klaas,” begin hy, en ontwyk veiligheidshalwe Corlia se blik, want sy was nou nie juis by sy planne ingesluit nie, “dit lol maar op die oomblik daar by my. Makkie moet lê, en sy moet ook begin goedjies aankoop. Sjert en Malie help uit, maar Sjert het moeilikheid by die werk gehad en ek moet hulle ook haak. Boet wil gaan trou, ons het nie eers van die meisie of van die planne geweet nie. Maar liefde kom mos soos ’n groot maagpyn, jy kan dit nie keer nie, jy moet maar …”

      “Toe maar,” sê Klaas haastig.

      “Nou, soos ek sê, boetie Klaas, Elna het darem nog altyd iets bygedra vir die huis, maar nou het sy haar mos gewip en by die kêrel gaan intrek. Die smart wat ek en Makkie nie het nie …”

      Klaas Ligthart kry sy sinne swyend agtermekaar. Om te rep dat hy nie in die geld swem nie, dat hulle ook maar moet meet en pas, sal nie oortuig nie. Hy wil liewer vir die man sê dis ’n doodloopstraat om vir jou begroting te leen. ’n Mens leen vir ’n projek, vir … vir …

      Maar Corlia is die een wat die woord spreek.

      “Nee,” sê sy, maar die kort woord is so verwronge van emosie dat dit kwalik herkenbaar is.

      “Sustruisie?” frons Ossie. Hy was tog reg, hy moes vroumense uit die ding gehou het.

      “Nee,” herhaal sy nou duidelik. Haar stem is laag en gevaarlik. “Nee, nee, nee …”

      Sy sou die woord onophoudelik bly sê het, as Klaas se hand nie warm en bekend op haar arm kom rus het nie.

      6

      “Jy is regtig ’n wonderwerk,” sê die nuwe baas.

      Elna laat haar blik verleë na die notaboekie op haar skoot sak. Sy het nie bedoel om doelbewus enige bekwaamheid te demonstreer in die weke wat verby is nie, en sy hoop nie dat iemand daardie indruk gekry het nie.

      “Ek doen maar net my bes,” sê sy neutraal.

      “Dan wil ek net sê, jou bes is baie goed.”

      “Dankie, meneer Collins.”

      “Ek sal bly wees as jy saam met my iets wil gaan nuttig in die etensuur, dan kan ons gesels oor jou moontlike aanstelling in die plek van mevrou Meloney.”

      “Maar ek dag …”

      “Sy kom nie terug nie. Die gewas wat hulle verwyder het, was kwaadaardig. Dis nou ’n kwessie van bestraling, en so aan. Sy het haar bedanking ingedien, haar man dring daarop aan. Hy wil nie dat sy werkstres ook nog moet hê nie.”

      “Ek sien.” Om ’n man te hê wat so begaan oor jou is, dink Elna vlugtig. En wat so goed vir jou kan sorg.

      “Eenuur, dan? Ons kan maar wag tot die meeste ander uit is.”

      ’n Waarskuwende klokkie vibreer in haar binneste, maar dit lui nog nie werklik nie. Dis seker logies dat hy versigtig is. En dis seker ook logies dat sy versigtig is. Vir praatjies, in elk geval.

      Hy eet skynbaar elke middag in hierdie klein restaurant, want sy tafeltjie is gedek. Dis skemer binne, sodat die hanglampies dofrooi hier vlak bo hulle koppe gloei. Die gordyne, gemaak van ’n growwe juutmateriaal met oranje voerings, keer die meeste daglig uit. Alles is grof: die houtbankies, die sementvloer, die oneffe gepleisterde mure en betonplafon. En daarteenoor is die servette en eetgerei onverwags fyn, soos ook hulle hande wat dit hanteer.

      Elna kyk na die glimming van die mansjetknope op die behaarde pols van Collins. Dit, sy hande, bevreem haar ineens meer as die hele situasie. Dis die eerste keer wat sy sy hande in aksie sien. Voorheen was dit sy mond, wanneer hy ’n brief dikteer … en sy oë, as dit peins oor ’n probleem, of oor ’n korrekte bewoording. En hoeveel mans dra nog mansjethemde? Hy is ’n mooi man, glad en georden.

      Hy is eintlik nog nie lank by die kantoor nie. Drie maande. Hy het van wie-weet-waar gekom, en niemand weet veel van hom af nie. Hulle is bedug vir hom, en dis met ’n soort eerbiedige verligting dat almal teen vyfuur die growwe mat van die buite-uitgang onder hulle skoensole voel.

      “Gewoonlik het ek nie tyd vir iets meer as ’n allegaartjie nie.”

      “Dit sal lekker wees, dankie, meneer Collins.”

      “Jy is Elna, so hoor ek noem die ander meisies jou. Gee jy om …?”

      “In privaat hoedanigheid, soos nou, sal dit seker nie saak maak nie,” antwoord sy versigtig.

      “Natuurlik,” snap hy. “Op kantoor sal ek ook nie Neil vir jou wees nie.”

      “Selfs hier sal dit maar moeilik gaan,” probeer sy die indirekte aanbod ontduik.

      “Ag, nou ja, dalk is dit te veel verwag dat jy my sommer op die naam genoem kry. En bowendien is die kans seker nie groot dat ons meermale in privaat hoedanigheid saam sal wees nie.”

      “Sekerlik nie, meneer Collins.”

      “Ek wil darem hier vir jou sê wat ek nou nie bra op kantoor kon sê nie: dis ’n plesier om saam met jou te werk, Elna.”

      “Ek kan dieselfde van u sê.”

      “Ag, kom nou, dit was nie ’n bal wat ek teruggegooi wou hê nie. Maar ag, jy weet, mevrou Meloney was nou nie altyd juis ’n lus vir die oog nie en glo my, dit het niks met haar siekte te doen nie. Dis ’n kwessie van persoonlikheid.”

      “Sy is seker die stiptelikste werker wat die kantoor ooit gehad het,” voel Elna om op te kom.

      “Ek glo. Maar, ag, kan ek maar vir jou sê? Dit het my grondeloos geïrriteer dat sy haar potlood se punt in haar mond steek terwyl sy wag dat ek moet praat. En sy het ’n gesigsroom of iets gebruik wat soos miere ruik.”

      “Soos miere? Hoe ruik dit?”

      “Soos