Sy kom eers tot bedaring toe die strate breër en die tuine en huise ruimer begin word. Waarom laat ek my hoegenaamd ontstel? wonder sy. Waarom skud ek hulle nie net af nie? Niks makliker en logieser op aarde nie. En tog ook niks moeiliker nie. Want tot een besef het Corlia Ligthart onvermydelik gekom, al het dit haar ’n halwe leeftyd geneem: jy kan oor sewe seë vaar, maar jou verlede nie oorboord gooi nie. Die eerste sewe lewensjare, sê sommige opvoedkundiges. Die eerste vyf jaar, sê Klaas, lê onwrikbaar die fondament.
Nou maar goed dan. As die Simons-fondament onveranderbaar is, waarom durf sy nie die mure opbou soos sy verlang nie, met die materiaal wat sy kan bekom nie? Waarom kan sy nie haar skuiling bou soos die elemente in haar lewe dit vereis nie?
Tot haar verbasing vind sy vir Christopher tuis.
“Ek dog dat jy ’n lesing het,” sê-vra sy.
“Ek het nie gegaan nie,” antwoord hy. Hy is op dieselfde plek, naamlik in die biblioteek waar sy hom gelaat het, en sy het ’n vaste idee dat hy die hele tyd nog daar op haar terugkeer wag.
“Ek is nie gewoond daaraan dat jy van lesings af wegbly nie, Christopher.” Dis minder as ’n teregwysing, maar tog ook meer as ’n terloopse opmerking.
“Hoewel ek dit meermale oorweeg.”
“Jy hou tog van jou rigting.”
“Omdat almal dit glo, is ek bereid om dit ook te glo.”
Sy antwoord slaan haar dronk. Soos met die nuus oor Makkie se swangerskap, voel sy nie gereed om dadelik hierop te reageer nie.
“Ek was toe na tant Makkie toe,” sê sy. Natuurlik weet hy dit, maar sy het die aanknoping nodig.
Hy praat nie.
Sy kan dit van haar eie seun nog nooit gewoond raak dat hy soms so broeiend kan swyg nie. “Sy lê in die bed, verwagtend glo, en dit dreig om probleme te gee.”
Christopher swyg. Hy lyk nie verbaas of geskok nie.
“Het jy al iets gedrink?”
“Nee.”
Sy druk die knoppie wat Klaas op die vloer by sy lessenaar het en wat ’n klokkie in die kombuis laat lui. Hy is ’n groot koffiedrinker, en laat net sy voet op die knoppie sak as die koffielus hom oorval.
Margaret kom in haar netjiese uniform. “Iets koels vir my en Christopher, asseblief tog, Margaret. Kyk maar wat daar in die yskas is. Ek weet self nie.”
Sy kan partykeer oor haar seun tog so raadop voel, en dan wil sy tot hom deurdring, maar daar is ’n gordyn tussen hulle. Toe sy eindelik praat, is dit weer oor die kwellende Osman-vraagstuk: “Malie was ook daar. Die kind loop al. Maar oogprobleme. Oorerflik glo. Jy sal beter weet wat dit kan wees. Nou wys haar man glo vinger na die Osmans, want ’n oom van my het swak sig gehad.”
“Wat Ma eintlik wil sê, is dat ’n mens tog baie versigtig moet wees vir genetiese afwykings. Dubbel so as jy dit sou oorweeg om in die familie in te trou.”
Dis soos ’n berg wat aan ’t praat gegaan het, sodat Corlia amper skrik.
“Ek het maar net bedoel om te gesels, Christopher.” Waar kom die suggestie in die lug buitendien vandaan: dat daar iets tussen hom en Elna kan ontwikkel? Op die keper beskou, is dit ’n totaal onnodige bespiegeling. Phoebe is immers daar.
Waarom bly die gevoel dan in haar hang, die vlermuis-onrus met sy koue voelertjies? Is dit omdat haar seun so uitermate stil word as Elna ter sprake kom? Wat het gebeur daardie aand toe hy haar namens sy ma om verskoning gaan vra het? Met sy terugkeer het die voordeur donderend agter hom toegeklap en hy is die trappe kamer toe twee-twee op. Waar sy en Klaas nog in die woonkamer gewag het, kon hulle nie anders as om vraend na mekaar te kyk nie.
“Elna was natuurlik by die werk. Ek wou uitvind waar sy werk, en dan sommer soontoe gaan om haar persoonlik uit te nooi na jou verjaardag toe.”
“Ek kon Ma gesê het waar sy werk.”
“O?”
“Dis sekerlik nie ’n staatsgeheim nie. Sy werk ook nie by ’n masseersalon of iets nie.” Hy neem die skinkbord by Margaret oor.
“Hoe dit ook al sy, die werksadres was toe nie eers nodig nie, sy het ’n ander woonadres. Daar is groot bitterheid. Sy woon nie meer by haar ma-hulle nie. Sy bly glo by haar kêrel.”
’n Druppel grenadellasap stort op Christopher se denimbroek. Die donker vlekkie sit daar. Dit trek Corlia se blik onweerstaanbaar. Sy sien die spanning van sy dyspiere onder die stewige materiaal.
Daar val meteens niks meer te sê nie. Hulle hoor mekaar sluk aan die koel vog.
Sy neem die leë glase. “Ek wil na aandete gaan omsien. Phoebe kom nog?”
“Ja. Ja, sy kom nog. Daarna gaan ons ’n bietjie na die dramastudente kyk.”
Ek het baie om voor dankbaar te wees, dink Corlia toe sy kombuis toe gaan. My seun gaan nooit iewers heen sonder om vir my te sê waar ek hom kan vind nie. Hy bring nooit ’n gas vir ete sonder dat hy my gewaarsku het nie. Hy vergeet nooit om ’n deur te sluit, ’n lig af te skakel nie. Sy klere lê nie rond, sy kamer ruik nie muf nie. Hy is klinies bedagsaam, ja.
Klinies … die woord sit haar gedagtes aan die loop oor wat hy netnou gesê het: omdat almal dit glo, glo hy maar ook dat hy van sy studie hou. Wat bedoel hy? Wat wou hierdie donker, broeiende kind van haar sê? Voel hy dan nie meer gelukkig in die mediese rigting nie? In ’n stadium, tydens hoërskool, het hy van joernalistiek gepraat. Dis nou as hy nie van vlieg gepraat het nie. Klaas was gemaklik met joernalistiek, maar sy, Corlia, het lankal die saadjie van medies geplant en lewend gehou. Christopher het immers ’n brein so skerp soos ’n ontleedmes vanself, ’n stewige hand, wetenskaplike aanleg. En net genoeg ongenaakbaarheid om hom nie allemansgoed te maak nie. Hy kan gou spesialiseer. Christopher het al meermale gespot dat sy ma reeds ou tydskrifte opgaar vir wanneer hy ’n eie spreekkamer het.
Toe Phoebe van Duifhuis vir aandete binnekom (sy en Christopher eet dikwels oor en weer, veral as hulle ’n afspraak daarna het), is Corlia gereed om haar te ontvang. Hulle nuttig soms in die aand ’n informele skootete in die woonkamer, voor die televisie.
Corlia bedien ’n voortreflike bolognaise, en elkeen se dienskinkbord word voor hom neergesit. Sonder om spesifiek na hulle te kyk, weet Corlia van elke gebaar van die twee jongmense. Sy weet van elke oorbuig na mekaar, elke aanraking van die knie.
Hoe verspot kan ek tog wees, betig sy haar. Om my nodeloos te bekommer oor Elna. Hier sit Christopher met die meisie wat nie net ons keuse nie, maar ook syne is. Hoe sag gesels hulle tog. Hoe luier hulle blikke in mekaar. Hoe stadig en teer vee Phoebe haar hare van haar voorkop en wang weg as hy na haar kyk, soos ’n skugter roos wat oopkelk onder die aanraking van die son.
Sy is ’n ernstige meisie, deurleef en ordentlik. Nog nooit het Corlia hulle ligtelik hoor skerts nie. As Phoebe trouens een swak punt het, dan is dit dat sy iets baie maklik te ernstig kan opneem. Van musiek hou sy nie tussenin, soos Christopher nie, maar uit en uit swaar. Simfonieë waarna sy byna sakramenteel luister.
Sy is ’n besonderse meisie, ’n duur ornament, ietwat fors geboetseer maar weliswaar uit egte, kosbare grondstof. ’n Ornament wat nie deur enigeen bekostig en waardeer kan word nie, maar eens op ’n goeie dag deur ’n versamelaar raakgesien en sy eie gemaak sal word.
So dink Corlia terwyl sy tersluiks na Phoebe kyk. Alles aan haar is klaar, en goed. Sy het niks nodig om haar af te rond of op te kikker nie. Haar vel is gesond en sterk, elke gelaatstrek loop doelbewus langs sy bestemde lyn of kurwe. Sy is die tipe wat, as burgerlike meisie, deur ’n prins raakgesien sou kon word. Haar afronding en selfvertroue is merkwaardig vir so ’n jong ouderdom.
En sy is die Van Duifhuise se dogter. Ou vriende, met Ruben ’n waardige voorganger vir Klaas indien hy sou oorneem.
“Eet julle maar,” sê Klaas en staan offervaardig op as die voordeurklok lui. “Julle is haastig om uit te gaan.”
Terwyl