Die kaptein kom met ’n lang rottang in en glimlag joviaal. “Right, wie se gat gaan brand?” vra hy.
Steyn steek ’n bewerige hand op en glimlag skeef, ooglopend in die vergeefse hoop dat, indien hy vir die kaptein se grappie lag, hy ’n bietjie genade sal ontvang.
“Ja, ou maat, jy is nie ’n sissie nie is jy?” Die kaptein glimlag nog breër.
“Nee, Kaptein.” Steyn probeer dapper lyk. Die kaptein se vriendelikheid laat hom weer hoopvol glimlag.
“Kom, stap saam,” sê die kaptein en loop met lang treë na een van die sydeure.
Steyn volg gedweë, sy hande diep in die sakke en arms styf teen sy sye gedruk, asof hy koud kry.
Die studentekonstabel het agter hulle aangeloop, deur die binnehof na die selle waar ’n swart konstabel een van die deure oopgesluit het. Hulle het die koue, donker sel binnegegaan en Steyn het onmiddellik met sy rug teen die verste muur gaan staan en die kaptein smekend aangekyk. Die studentekonstabel het nie geweet wat hom nou te doen staan nie en het skaapagtig geglimlag terwyl die kaptein die rottang met ’n paar oefenhoue deur die lug laat blaf het. Die studentekonstabel kon Steyn se vrees aanvoel en het self senuweeagtig begin word. Ná die derde oefenhou het Steyn begin huil.
“Ag nee, kom nou! Jy’t mos gesê jy’s nie ’n sissie nie,” smaal die kaptein en laat sy rottang nog ’n keer blaf.
“Ek’s bang, Kaptein.” Daar is nou ’n kermklank in Steyn se stem.
“Jy maak my nou net die moer in.” Die kaptein se glimlag is weg. “Jy wil my nie die moer in maak nie, wil jy? Wil jy nou hê ek moet jou harder bliksem?”
Steyn maak sy keel skoon, gooi sy kop effens dramaties agteroor en sug diep. “Nee, Kaptein.”
Die studentekonstabel weet die kaptein gaan in elk geval sy beste gee.
“Ons wag net vir die dokter,” sê die Kaptein meer bedeesd.
Steyn laat sy kop sak, pers sy oë styf toe en vee met sy regterhand oor sy gesig.
“Hoekom, Kaptein?” vra die studentekonstabel skielik, deels uit nuuskierigheid en deels uit simpatie vir Steyn.
“Hy moet die gevonniste voor en ná die tyd ondersoek.”
“Hoekom, Kaptein?” vra hy weer, weliswaar sagter om nie die kaptein te affronteer nie. Wat hy eintlik wou vra is: Sjoe! Is dit dan so erg?
“Dis maar die reëls,” antwoord die kaptein terwyl hy ongeduldig heen en weer stap met die rottang wat soos ’n leeumannetjie se stert agter hom kwispel.
Die dokter is ’n ouerige man met ’n besonderse diep frons. Hy het die deur versigtig oopgedruk en vir die kaptein geknik, sy stetoskoop uit ’n leertas gehaal. Steyn het paniekerig weggeruk toe die dokter sy bloeddruk wou neem. “Hou stil,” het die dokter sag beveel en, nadat hy klaar was, na die kaptein gedraai en met dieselfde gelykmatige stem gesê: “Hy’s reg.” Die dokter het uitgeloop om buite te gaan rook en te wag totdat hy weer geroep word om die finale ondersoek te doen.
“Trek uit jou klere! Hou aan jou onderbroek.”
Steyn trek sy klere stadig uit en vou kledingstuk vir kledingstuk sorgvuldig op, so asof hy probeer tyd wen vir ’n wonderwerk om te gebeur. Toe hy sy broek begin opvou, bars die kaptein woedend uit: “Toe, toe, toe! Maak fokken gou!”
Steyn laat sy halfgevoude broek val en skuifel nader.
“Right, buk en hou aan die kante van die houtbankie vas. En moenie opspring nie, want dan gaan ek jou niere fokken uitbliksem, en moenie met jou hande keer nie, want dan is jou vingers af. Het jy my?”
“Ja, Kaptein.”
“Toe, kom, dis gou verby,” paai die Kaptein. “En ek wil jou nie hoor huil nie.”
“Nee, Kaptein.”
Die kaptein het aangetree soos ’n gholfspeler wat afslaan. Hy het sy greep op die rottang reg gekry, die swaaiafstand met ’n wye armbeweging bepaal en toe die treë vir ’n kort aanloop afgemeet.
Met die eerste hou het Steyn soos ’n hond getjank en spoeg het soos uit ’n sproeier deur sy sidderende lippe geblaas. Sy bene en arms het geruk en bloed het deur sy onderbroek gesypel. Die tweede hou het vinnig daarna geval, asof die kaptein hom wou verras, en Steyn het huilend op sy knieë neergesak, sy hande steeds aan die bankie geklem. Meer bloed het deurgesypel, en daar was nou ook ’n bruin vlek in die middel van sy onderbroek. Die reuk het die studentekonstabel naar gemaak. Hy wou uit, weg uit die vertrek, maar het gefassineerd, soos na ’n ongeluk bly staar. Hy kon sy oë nie van Steyn afhou nie, en het net kort-kort na die kaptein se verbete gesig geloer. Dit doen hy aan ’n wit man en nogal ’n mede-Afrikaner? het die studentekonstabel gedink. En dit sonder ’n tikkie genade?
“Kom, staan op dat ons kan klaarkry,” sê die kaptein.
Steyn kom stadig en bewerig regop. Hy kantel sy kop en vee die trane aan sy boarm af, mompel iets, te sag om te hoor. Ná die derde hou laat los hy die bankie, tol met ’n hoë, skril geluid om en steier in die hoek vas, ineengekrimp, piepend. Sy hande biddend voor sy verwronge gesig.
Die kaptein is nou briesend; hy dreig Steyn met erger straf indien hy nie sy pak soos ’n man vat nie. Steyn skuifel weer tot by die bankie. Hy bewe onbeheersd.
Nog drie houe val. Steyn se sitvlak is ’n bloederige bruin gemors, sy sidderende lyf oortrek met hoendervleis, asof hy kouekoors het.
Ná die sesde hou is die kaptein weer sy joviale self. “Ek hoop nie ek sien jou weer hier nie, ou bulletjie,” sê hy, byna vaderlik. “Jy moet ’n man word op wie ek trots kan wees. Afrikaners is nie kriminele nie.”
Die studentekonstabel kan sien dat die kaptein die straf nie persoonlik bedoel het nie, maar dat dit vir hom tog ’n belangrike saak is. Hierdie wreedheid is ’n beginselsaak, ’n middel tot ’n heilige doel.
“Dankie, Kaptein,” het Steyn geprewel en koponderstebo, huilend bly staan terwyl die dokter hom ondersoek.
Die studentekonstabel het stil saam met die kaptein terug stasie toe geloop. Hy het probeer om heeltemal in die pas met die offisier te loop, byna te marsjeer, regop en trots. “Ja,” het die kaptein gesê, sy blik ernstig vyf tree voor hom op die grond. “Nou weet hierdie klein etter ook dat daar niemand hier rond is wat ’n rottang swaai soos ek nie. Kak sal hulle kak, sê ek jou, net as hulle hoor dis ek wat hulle gaan moer.”
Die studentekonstabel luister na die kaptein se diep stem, die rustige selfversekerdheid daarvan. Hy weet die kaptein sal nou ophou praat oor rottangs en straf, dat dit net sy aanloop is tot ’n gesprek oor lewenswysheid, beginsels en ’n heilige doel. Links, regs, links, regs loop hy en die kaptein oor die binnehof, links, regs … Maar hulle bereik die aanklagkantoor se deur sonder dat die kaptein nog ’n enkele woord sê.
Sy het van die kussings na my opgekyk, haar een hand om die pols van my hand wat nog onder haar kraag was, die ander sag agter my nek; sy het my afgetrek na haar. Wanneer het ek ’n ander mens geword? Toe? Lank, lank voor dit het ek myself Kiewiet begin noem; dit was my nuwe naam. Seker minstens ses maande lank het ek volgehou my naam is Kiewiet, en net daarop gereageer. En net Engels gepraat. Ek wou my nie meer met myself en my wêreld assosieer nie. Ek wou my werklikheid en myself herontwerp. Ek wou transformeer tot iemand wat vir Ma meer aanvaarbaar sou wees. Háár ma was Engels en ek het gedink sy sal van my Engels hou. Maar wat is ’n naam, ’n taal, ’n lyf, ’n gesig? Is dit ek? En wie is ek? Is ek dit wat ander sê ek is? Ek weet dit nou nog nie, maar ek weet dat ek verander het.
Die studentekonstabel het nagskof gewerk toe die berig deurkom. Daar is oproeriges op Hoofrifweg wat motors met klippe gooi. Die AKB het ’n voertuig na die toneel gestuur, en ’n halfuur later het die cheesevan met groot vaart tussen die aanklagkantoor en die selle stilgehou. Sersant Putter en konstabel Mbandla het uitgeklim en ’n bebloede man agter uit die cheesevan gesleep. Die man