Dié keer verstaan die konstabel niks. Saam met die ander sit hy en kyk hoe die nag toesak.
Toe dit donker en stil genoeg is, klim hulle uit en laai die lyk op die sleepwa wat aan een van die ander trokke gehaak is. Hulle verlaat die toneel in ’n konvooi. Die konstabel sien hoe die voertuie se ligte in die donker rondsping en wip. Hy vat aan die sak op sy bors en voel die patroon swaar daarin lê. Reël Nommer Een, dink hy.
Ek het roerloos langs haar op die bed gelê. Daar was ’n smeersel bloed op haar maag. Haar lyf het geruk. Sy het haar slaaphemp afgetrek, moeisaam regop gekom, ’n ruk op die kant van die bed bly sit en toe voor die venster gaan staan. Sy het die gordyn oopgetrek en ’n ruk net so bly staan. Toe sy terugdraai, het sy haar kop laat hang. Ek het die laken afgeskuif, die vlek op my dy gesien. Háár bloed. Sy het net daar bly staan. Willoos, koponderstebo. Toiingrige hare. Wat het gebeur? God, wat het gebeur?
Twee
Die kind het oats geëet omdat hy groot en sterk wou word soos wat Ma hom belowe het. Groot en sterk soos Jet Jungle. Soos wat die radio elke weeksdag om sesuur, net voor aandete, belowe het. Eers het hy saamgesing met die kenwysie: Jet-Jungle! Jet-Jungle! Jet-Jungle what a man you get! Get Jet! Elke middag het hy saamgesing en die opgewondenheid het saam met die deuntjie tot ’n klimaks gegroei: Get Jet!
Die storie was in Engels, maar op drie kon hy dit al net so vlot soos Afrikaans praat. Ma en die radio het hom geleer. En Jet Jungle het die skelms ’n ding of twee geleer.
Eenkeer was daar ’n spesiale Jungle Jet in die pak oats – Jet Jungle se vliegtuig! Jy moes dit so op die stippellyne vou, en dan in die vliegtuig se neus ’n tweesentstuk sit. Jy het ’n lyntjie aan een vlerk vasgemaak en dit dan om en om laat vlieg. Om en om het hy dit laat vlieg, om en om. In die getekende venstertjie het Jet Jungle stip voor hom uitgestaar.
Hy het skielik die toutjie gelos. Hy wou kyk waarheen Jet Jungle vlieg; hoe ver hy sal trek. Die vliegtuig het skuins getrek, teen Ma se bruin blompot op die kaggelrak vas. Die pot het stadig omgetiep en geval, soos ’n bom wat Jet Jungle uit die vliegtuig gelos het.
Hy het sy ma agter hom gehoor, en voordat hy kon omkyk, het haar stem hom getref: “Hoekom breek jy my goed?” het sy gegil. Sy het hom aan die skouers gegryp en sy lyf geruk. “Hoekom! Hoekom! Hoekom!” Haar vingers het om sy arms geklem; haar naels het seer in sy vleis in gedruk. Hy kon nie antwoord nie en daar het net ’n hees geluid uit sy keel gekom.
Sy ma het opgehou skud en weggekyk. “Jy is stout. Ek gaan jou los,” het sy gesê en weggeloop, in die gang verdwyn. Die voordeur het agter haar geklap. Hy het stil bly staan en geluister hoe die sleutel in die slot knars. In die kajuit van sy vliegtuig het Jet Jungle steeds net stip voor hom uitgestaar en stukkies van die pot, die klein skerp stukkies, het oor die vloer gestrooi gelê.
Ek onthou dat sy eers lank op die rand van die bed gesit het, haar hande weerskante van haar op die matras. Later het sy haar bene opgelig en omgeswaai, kruisbeen op die bed gesit. Herinneringe is ’n Satan. Dis ’n siek soort genade as hy net in jou kop nesskop en nie ook in jou hart nie. As hy eers in jou hart ook is, gebeur wat daardie aand gebeur het. Dan is selfs God te skaam om te vertel wat gebeur het. Dalk wen die Duiwel tog soms. En dis met klein dingetjies, ’n reuk, geluid, ’n prentjie, dat hy sy oorwinnings behaal.
Twintig minute later het die kind se ma met ’n brood en ’n pakkie sigarette van die winkel af teruggekom. Dunhill. Die rooi pakkie. Dertigs. Die plat pakkie.
Sy ma het sommer so doodgewoon die deur oopgesluit en ingestap. Toe sy die deur agter haar toeklap, het sy ’n rukkie voor hom gaan staan, en hy het haar bene vasgegryp en gegil: “Mamieeeeeeee!”
Sy het met ’n vuis waarin die pakkie sigarette geklem was teen sy kop gedruk. “Bly nou stil of jy kry nie kos nie,” het sy gesê.
Later die middag sit hy met ’n groen karretjie voor die voordeur en speel toe sy pa by die huis kom. Hy los die karretjie oombliklik en gryp ook sy pa se been vas. Die swaar en warm druk van sy pa se palm op sy kop was amper soos om iets moois te sien of iets lekkers te proe en hy wou sy pa nie los nie.
Sy ma groet sy pa nie.
“Wat?” sê sy pa.
“Niks.” Sy ma draai om en loop kombuis toe.
“Hoekom?” sê sy pa en laat val sy tas hard op die vloer. “Wat de fok het ek nou weer gedoen?”
Hy klem sy pa se been stywer vas.
“Niks.”
“Niks? Jy sê nie eers behoorlik hallo nie.”
“Ek’s sorry. Ek voel net nie lekker nie.”
“Nou wat warra jou, hè? Nou wat warra jou?” Sy pa buk af en trek die kind se hande weg van sy been; gee twee groot treë na sy ma toe.
“Hierdie kind maak my mal,” sê sy ma. “Hy dryf my teen die mure uit.”
“Hoekom? Wat maak hy?”
“Ag, man, hy’s net spiteful. Hy doen alles die teenoorgestelde van wat ek sê. As ek sê sit, dan staan hy, en nou het hy vandag die pot wat my ma my vir ons anniversary gegee het, gaan staan en breek.”
Sy pa draai om na hom toe. “Wat de fok is jou storie?” vra sy pa. “Hè, piskop?” Sy pa se gesig is nou reg teen syne.
“Niks nie, Daddy.”
“Niks nie? Fokken niks nie? Hmm?”
“Nee, Daddy.”
“Nou hoekom is jou ma so gewarra, hè?”
“Ek weet nie, Daddy.”
“Kom, vertel my. What’s the name of the game?”
Hy begin huil. “Ek weet nie, Daddy,” sê hy.
“Jy warra jou ma, nou wil jy nog tjank ook?” sê sy pa. “Soos ’n piskoppie.”
Ek het my hand by haar kraag ingedruk, haar sleutelbeen hard en warm gevoel, my voorvinger onder haar brastrap. Sy het my hand vasgegryp en agteroor op die kussings geval. Al die dinge wat ons vrees of nie verstaan nie, het ’n vloek geword. Groot dinge. Gevaarlike dinge. God se dinge. Die donderweer, die bliksemstrale. Die liefde van die lyf. Die lyf self het ’n vloek geword. En bloed? Dit is die grootste vloek. ’n Vloek wat klewerig rooi deur ons are stoot totdat die noodlot dit uit ons ruk. Bloed is die grootste vloek.
In standerd ses het die kind se beste vriend, Roelf, vir hom ’n venster op ’n vreemde wêreld oopgemaak. ’n Polisiewêreld, het die kind eers gedink, maar eintlik was dit maar net die gewone wêreld, iets anders as sy ma en pa se wêreld, iets anders as toe deure en harde woorde.
Roelf-hulle het op die plotte buite die dorp gewoon. Soms is hy toegelaat om ’n naweek daar oor te slaap, en dan het hy en Roelf die Vrydagmiddag ná skool al populierbos toe getrek. Dit was in die verste hoek van die plot en buite hoorafstand van enige ander mense. Hulle het Wilsontoffies en Coke gehad, soms biltong of droëvrugte, en altyd ’n kassetspeler wat met batterye werk. Die Scope. En Roelf se vloekwoorde. Die kind het gelag wanneer Roelf gevloek het; Roelf het so anders as sy pa gevloek.
Hulle het gewoonlik met die skoolbus tot by die plot gery, en by die huis het hulle altyd eers die honde gegroet; dan het hulle by die kombuisdeur ingegaan, die sifdeur agter hulle laat klap en Roelf se sagte ma gegroet.
Een Vrydag is hy weer met die