Die heel slegste iets kan sy vir niemand sê nie.
Dis beter om te swyg. Dan kom daar nie ’n dag waarop jy agter die nooiensvaring jou oë voor Braham hoef te laat sak nie.
Frieda loei toe sy by die kraal instap met die melkemmer en -stoeltjie. Die aandlig kleur die wit vlekke van haar Frieskoeivel ligpienk. “Ek het verlang, Frieda. Daar’s baie wat ek jou moet vertel.”
Sy kan nie met mense praat nie, net met koeie en paddas en met Bamba. Húlle sal haar nooit verraai nie.
Toe sy klaar gemelk is en die emmer eenkant sit, stamp Frieda haar speels met die kop. Dit beteken sy jeuk. Of dalk is dit Frieda se manier van nagsê.
Om naggesê en toegemaak te word, is iets wat sy nie ken nie. Tog onthou sy ’n tyd toe haar ma saans by haar gelê het. Soms het Anthonie op die voetenent gesit in sy strepiespajamas. Dan lê sy in haar ma se arm en kyk prentjies van pampoenkoetse en ’n skoen vol kinders terwyl haar ma lees.
Sy onthou die poeierreuk aan haar ma, en dat dit lekker was
om in haar arm te lê.
Dalk onthou sy verkeerd.
Is dit ’n illusie dat sy magteloos was teen Abel? Was magteloosheid ’n uitweg, of is sy geïndoktrineer om te glo dat seks met jou pa normaal is? Vaagweg kan sy onthou dat sy kleintyd saam met hom gebad het, dan stapel hy ’n toring badskuim op haar kop en hulle lag só hard dat haar ma kom kyk wat aangaan. Hy was haar lyfie, oral, sonder dat dit verkeerd voel. Sy raak op sy skoot aan die slaap terwyl hy haar naels skoonmaak met sy knipmes. Hy dra haar bed toe; soen haar nag. Sy slaap sonder nagmerries.
Soms het sy onder die olienhoutboom troue-troue gespeel. Dan trek sy haar ma se hoëhakskoene aan, en haar pa is die kamma-kamma bruidegom. Sy sê sy gaan eendag met hom trou. Hy lag en gooi haar hoog in die lug. Bring vir haar rooibessies en ryp ghoenas toe hy twee dae lank beeste soek in die berg.
Toe verongeluk Anthonie en haar ma gaan VLV-kongres toe in die Kaap, en alles word verkeerd. Sy het gedink pa’s doen altyd net goed wat reg is, omdát hulle pa’s is. Snags as die deurknop draai, het sy gedink alle pa’s maak só. Dat dit deel is van liefhê, soos optel en abba en bal speel.
Tog het sy nooit met ander dogtertjies daaroor gepraat nie.
Word mens gebore met die wete dat iets verkeerd is, al wéét jy nie?
Sy onthou Vrydag. Skrikkeljaar, 2008.
In haar kop skuif sy die blompotjie op die tafel in Die Koffiekan eenkant toe en steek haar hande na Braham uit. Sy het Ouma Strydom se robynring uit die koekblik in die kliphuis gaan haal waar sy dit wegsteek. Dis in haar hempsak. Dis skrikkeljaar, sê sy, sal jy met my trou? Duisend maal al het sy hom hoor sê hulle moet nóú landdroskantoor toe gaan.
Drome, drome. Om Frankryk toe te gaan, na die Saint Claire-kerk in Avignon, om die hersenskim van ’n veertiende-eeuse digter op te soek. Francesco Petrarca, van wie sy by Braham geleer het. Om Kiepersolkloof te omskep in ’n turksvyplaas. Om op Drieankerbaai se sand te loop, waar Ingrid Jonker haar laaste reis afgelê het. Om op ’n trollie by die hospitaalteater ingestoot te word, sodat haar verslapte kringspier herstel kan word. Om in die eindstryd op Wimbledon se Centre Court te speel, en te wen. Om met Braham te trou.
As sy nie drome gehad het nie, hoe vergesog ook al, sou sy lankal ophou lewe het. Vanself inmekaargesak en doodgegaan het. Drome neem haar weg van die verskrikkings.
Sy het haar ma vir kuiergaste hoor sê: Gertruida dwaal in ’n verbeeldingswêreld, en die ergste is dat sy haar opmaaksels gló. Ek wil nie dink aan die dag as ek en Abel nie meer daar is nie …
Februarie se middaghitte omwalm haar toe sy voor Die Koffiekan uit haar koel motor klim. Braham se motor staan reeds daar. Sy is moeg. Abel het haar heelweek geteister met ’n speelding wat hy oor die internet van Amerika bestel het. Swart rubberding, oortrek met tentakeltjies. Afstootlik.
“Jy moet KY-jel bring as jy dorp toe gaan,” het hy in die nag gesê. “Batterye ook.”
Sy gáán hom doodskiet. “Bring dit self.”
Hy vererg hom en stamp die rubberding in haar op. Sy druk haar gesig teen die matras en word iemand anders. ’n Gesiglose vrou op die trein na Avignon. Sy kyk deur die treinvenster na die wingerde en lindebome vol groengeel blommetjies. Sy moet vir Braham ’n bottel lindeheuning saamneem huis toe. Want hy is die soetste iets in haar lewe.
Toe die gesiglose vrou by die treinstasie afklim, hoor sy haar kamerdeur toegaan.
Sy staan onder die stort om die gemors van haar af te spoel. Maar die stort kan nie haar binneste reinig nie.
As Braham sulke goed moet weet, sal hy haar verfoei. Verfoei Abel haar ook wanneer hy by haar kamer uitloop?
“Hallo, Braham. Jammer ek is laat,” en sy skuif agter die nooienshaarvaring in, “ek moes koöperasie toe vir melksalf en lê-meel. En my ma se alewige winkellysie …”
“Ek is bly jy’s hier. Jy moenie jou selfoon afskakel nie …”
“Ek moet.” Sy vat die spyskaart by die kelnerin. “Anders bel my pa aanhoudend oor nog goed wat ek moet bring. Wit druiwesap vir my, dankie,” en sy gee die spyskaart vir Braham aan. Hy bestel ’n piesangmelkskommel.
“So, hoe was jou week op Kiepersolkloof?”
“Sleg. Dis mislik om saam met my pa te boer. Moenie vra hoekom nie.”
“Ek mag nooit vra hoekom nie. Jy’s ’n misterie, Gertruida.”
Die dakwaaier tjierie; sy herrangskik die suikersakkies in die suikerpotjie. Druk op die bultjie in haar hempsak waar Ouma Strydom se robynring lê. “Ek weet.”
Later ril sy toe hy die dikgeel melkskommel opsuig. Hulle praat weinig, want haar besmeerdheid druk die praat terug in haar keel.
Dis ’n leë middag.
Skrikkeljaar is net nóg ’n dag.
Sy vat die plat klip wat sy op die kraalmuur bêre, en vryf Frieda se skof en rug daarmee. Tot by die kruis, die boude. Ribbes, flanke, maagronding. Ondertoe, ondertoe. Sy sit die klip neer, krap Frieda se maag met haar naels. Die koei steun.
“Ek weet jy hou nie daarvan as ek jou bene en kop krap nie, Frieda. En dis sleg as daar aan jou spene getrek word, ek weet.” Sy vat die melkstoeltjie, stap om na die ander kant. Vryf. Maag krap. “Die begrafnis is verby, Frieda. Kiepersolkloof is nou myne. Kom, hier’s jou beskuitjies …” Die koei eet die beskuitjies uit haar hand. “Môre kom maak ek jou kraal skoon; dit lyk of die reën verby is.”
Sy gooi helfte van die melk in ’n ander emmer om by Mama Thandeka af te gee. Nou-nou is dit donker, en sy moet nog by die kliphuis kom. Die hoenders sit op die stokke en maak dowwe kropgeluide toe sy die melk in die trekkerband gooi. Môre sal die hoenders gaatjies pik in die suurwit diksel.
Toe sy omdraai om die emmer by die hokkraan uit te spoel, staan Mabel by die hok se hek met ’n toegeknoopte brooddoek. “Mabel, vat sommer die melk …”
“Wag, Gertruida, laat ek eerste praat. Mama se bors is beterder. Ek sal vannag by jou in die huis kom slaap as jy bang is. Jy hoef nie soos ’n jakkals in ’n gat …”
“Ek is nie bang nie, en ek kruip nie in ’n gat nie. Die kliphuis is my huis.”
“Die veld is nat, Gertruida. En maak nie saak wie of wat jou pa en ma was nie, jy moes ’n erge skrik gevat het. Mens begrawe nie jou pa en ma elkere dag nie. Laat ek by jou kom slaap, toe?”
“Dan moet jy in die kliphuis kom slaap. Ek slaap nié in die huis voordat ek klaar skoongemaak het nie.”
“Dan kom help ek jou môreoggend. Maar daar’s goeters wat jy my moet sê voor ek vannag my kop neersit.”
“Vra, dit raak donker.”
“Wie gaan dinge