Toe sy haar kop oplig, sien sy vir engel Gabriël. Dit lyk of sy hele gestalte in Clinique Light Reflecting Serum gedompel is – dis asof hy skyn. Sy sonblonde hare val in los, sagte krulle om sy skraal gesig. Waar sy oë moet wees, is twee blou damme van verlange.
“I’m Eric Peterson.” Engel Gabriël steek sy hand na haar toe uit.
Sy neem dit soos Nagmaal. “I’m Mia,” hoor sy haarself sê. Sy handdruk is ferm maar teer. Dis omdat hy vlerke het, dink sy.
“Kan ek jou help?” vra hy weer op die mooiste Engels. Sy ís in die Tuin van Eden, en hier is die volmaakte Adam uit wie se ribbebeen sy geskape is.
Deur die genade kom sy tot verhaal en staan op. Sonder die byklanke en dramatiese gebare van vroeër verduidelik sy dat sy ’n joernalis van Suid-Afrika is wat oor die bomontploffing kom berig het.
“Kom ons gaan gesels buite. Dis so ’n mooi dag,” sê hy. Fyn spreek hy sy woorde uit, asof dit kosbare draad is wat kan breek as hy dit te rof behandel.
Toe hulle uitstap, staan hy terug om haar eerste by die deur te laat uitgaan. Sy hand rus vlugtig in die holte van haar rug. Dis so vinnig en so lig dat dit in ’n ander tyd, op ’n ander plek, ongemerk verby sou gaan. Maar vanoggend, hier by die Marina-hawe, laat sak dit iets deur Mia se lyf.
Toe sy na hom draai en sien hoe sy blik haar opsom, is sy bitter spyt oor wat sy vanoggend aangetrek het. Sy het net ’n wye, kuitlengte romp en top uit haar tas gepluk en is sonder ’n greintjie grimering by haar kamer uit. Ook haar hare het sy net so laat droog word.
Hulle gaan staan teenaan ’n reling met die water klotsend by hul voete, die bote dobberend voor hulle. Dit ruik en klink soos Sondae toe sy ’n kind was en hulle met die motorboot uitgegaan het dam toe om te gaan ski.
Hy vou sy arms oor die reling en draai sy kop skeef sodat hy na haar kan kyk. “Hoekom wil jy oor die bomontploffing skryf? Dis so negatief. Hier is tog talle pragtige artikels in Bahrein wat wag om geskryf te word.”
“Ongelukkig kan ek nie my opdragte kies nie.”
“ ’n Mens het altyd ’n keuse,” sê hy en kyk haar indringend aan.
Sy besluit om sy laaste opmerking te ignoreer en tot die punt te kom. “Weet jy enigiets van die voorval af?”
“Ek het dit gesien gebeur.”
Dankbaarheid en hoop vul al die plekke waar moedeloosheid die afgelope twee dae gate in haar gevreet het. Dit syg deur haar soos room deur ’n warm gerysde poeding. “Hoe?” vra sy.
“Ek was hier, by die hawe. Die boot het skaars ’n kilometer en ’n half buite die hawe ontplof. Daar.” Hy strek sy voorarm uit om vir haar te wys in watter rigting die rampboot was toe dit ontplof het.
“Wag,” sê Mia, skoon uitasem van opwinding. “Ek wil net gou my notaboek uit my handsak kry.”
Hy lig sy hand op om haar te keer. “Nee.”
Fronsend kyk sy op na hom. Daar het ’n skadu oor sy gesig gesak.
“Maar ek wil dit neerskryf sodat jy nie weer hoef te verduidelik nie.”
“Jy kan my nie aanhaal nie.”
Nee, nee, nee! skreeu dit in haar. Plan B kan nie ook grond toe duik nie. Maar sy kry die vraag doodkalm uit: “Hoekom nie?”
Hy draai weg, vou sy arms en kyk af na die water. “Ek wil glad nie betrokke raak nie.”
“Ons hoef nie jou naam te gebruik nie. Ek kan net sê ’n ooggetuie.”
“Almal sal weet dis ek wat met jou gepraat het.”
“Waarvoor is jy bang?”
“Ek is nie bang nie.”
“Nou wat dan, Eric?” Sy naam lê gemaklik in haar mond, asof sy dit al oor en oor gesê, geskreeu, gefluister het.
Hy draai weer na haar en sy oë is bewolk toe hy sê: “Dis gekompliseerd. Ek kan dit nie vir jou verduidelik nie.”
“Probeer. Dalk kan ek aan ’n oplossing dink.”
Sy mond vertrek in ’n bitter glimlag. Hy draai weer weg. Een van die blonde krulle val oor sy voorkop. “Nee, ek’s jammer, ek kan jou nie help nie.”
“Maar Eric, ek –”
“Ek wil nie betrokke raak nie. En jy behoort ook nie. Los dit nou.”
Toe sy wegstap, staan hy nog daar, half gebukkend met sy arms oor die reling. Daar is ’n sorgeloosheid in sy lang, lenige lyf. Iets ligs. Asof hy kan opstyg. Maar ook ’n donkerte. ’n Swaar somberheid wat hom só aftrek dat selfs sy vlerke hom nie kan oplig nie.
Haar engel kan homself nie red nie. Hoe moet hy háár red?
Misdaad is seker net ’n gerug in Bahrein. By Manama se polisiestasie is dit so stil soos in ’n kerkgalery tweeuur op ’n Dinsdagmiddag. By iets soos ’n waghuisie buite by die ingang draai drie mans lui in die laatoggendson rond. Hulle het wit klede aan en rooi-en-wit geruite kopdoeke op, wat met dik swart bande op hul koppe gehou word.
Die kopdoeke lyk nes vadoeke, dink Mia. Toe sy klein was, wou sy vreeslik graag lang hare hê. Sy het altyd vadoeke oor haar kop gegooi en dit met ’n pet vasgedruk, dan het haar ma haar Jasser Arafat genoem. Selfs in matriek het sy nog dié bynaam gehad.
Nou verlang sy sommer huis toe. Sy’s nog nie eens ’n volle drie dae hier nie en dit voel klaar soos ’n ander tydsdimensie dat sy laas in Johannesburg was. Om nie eens te praat van Potchefstroom nie. Potchefstroom? Op watter planeet is dit? Daar waar mans broeke dra en vroue hul gesigte mag wys, maar nie hul harte nie?
“Ek wil met iemand praat oor die bomontploffing,” sê sy vir een van die mans.
Hy staar haar uitdrukkingloos aan. As sy haar ’n emosie op sy gesig kan verbeel, is dit afkeuring. Met uitpeuloë staar hy na haar kaal arms. Bahreinse mans is nie gewoond aan die ontblote vel van ’n vreemde vrou nie.
Sy herhaal die sin met die nodige byklanke en handgebare. Hemel tog, hoeveel keer gaan sy nog die gordyntjies moet ooptrek om hierdie konsert op te voer? Op ’n manier kry hulle mekaar verstaan. Die man verduidelik sy moet met die kaptein praat.
Dit verg ’n hele uitasem toer van die polisiestasie, trappe op en trappe af, om vas te stel die kaptein is met ete. Sy kan seker ’n uur of wat wag, besluit sy. Buitendien is ’n halfuur klaar om. Hy behoort dus seker enige tyd hier in te stap.
Maar sy ken nog nie die Midde-Oosterse manier van doen nie. Met dié dat dit in die somer helwarm word, is dit praktyk om nie oor die warmste middagure te werk nie, selfs al is dit nog nie somer nie.
Drie uur later wag sy nog steeds op die kaptein. Haar romp en bloes is deurweek en kleef aan haar lyf soos ’n tweede vel. Sy is seker sy gaan nou enige tyd begin hallusineer van hitte-uitputting, maar wag sal sy wag. Plan C moet minstens volbring word voordat daardie vuurpyl ook in vlamme opgaan.
Uiteindelik daag die kaptein op, ’n nors man met ’n welige swart snor. Ook in ’n wit kleed en vadoek op die kop. Maar sit hom in ’n Suid-Afrikaanse polisie-uniform en hy kon net sowel ’n bombastiese Pretoriase speurder gewees het, dink Mia.
“What you want?” blaf hy toe hulle in sy warm, stowwerige kantoor gaan sit.
Sy wil hierdie wit sand in hulle almal se gesigte skop en skreeu totdat haar stem weg is. Sy wil vir Malan Retief in die turkoois water van die Marina-hawe verdrink. Sy wil in Eric se arms gaan opkrul en huil totdat haar trane in die blou wolke van sy oë verdamp. Sy wil ’n hele pak Woolies-kolwyntjies verorber. Dís wat sy wil hê, wil sy vir die kaptein skreeu. Maar natuurlik doen sy dit nie.
Van ver, uit ’n ander sterrestelsel, hoor sy haar stem en die geoefende rympie: “Ek sal dit waardeer as u my in kontak kan plaas met van die oorlewendes of familie van die oorledenes van die bootramp, meneer.” Op haar mooiste Engels. Haar