Eksklusief uit Eden. Marida Fitzpatrick. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marida Fitzpatrick
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624051831
Скачать книгу
ons hele bestuurspan in Bahrein is uitgewis.”

      “Het hulle metgeselle saam met hulle gehad?”

      “Ja, die meeste van hulle. Ons is nog nie seker hoeveel van die gades en metgeselle ook dood is nie, maar dis meer as dertig.”

      “Ek is baie jammer om dit te hoor.” Sy probeer so opreg moontlik klink, soos die ontelbare kere wat sy as joernalistieke groentjie by die Potchefstroom Herald misdaadslagoffers moes bel en sê: “Ek is verskriklik jammer oor wat met jou gebeur het.”

      Meneer Beling skud sy kop en gee ’n lang sug, soos iets wat afblaas. “Ja, dit is erg.”

      Dis nou tyd om die groot vraag te vra en sy skuif ongemaklik tussen die Alice in Wonderland-kussings rond. Sy moet dit versigtig benader. Een verkeerde skuif, een verkeerde woord en Alice val deur die rabbit hole.

      “Ek weet dis ’n baie moeilike tyd vir almal,” begin sy en maak eers keel skoon. “Maar ek sal baie graag met van die familielede van die slagoffers of oorlewendes wil praat.” Snaaks hoe die woorde “oorlewendes” en “oorledenes” so na aan mekaar is. Sy moet altyd baie mooi konsentreer sodat sy nie die verkeerde een gebruik nie.

      Hy kyk af na sy hande wat inmekaargestrengel op sy skoot lê. Dan kyk hy op na haar met oë wat leeg is van enige belofte. “Dit sal nie moontlik wees nie.”

      “Hoe bedoel u dit sal nie …?”

      “Kyk, juffrou, hierdie mense is getraumatiseer. Ek gaan hulle beslis nie blootstel aan al wat ’n joernalis is wat op soek is na sensasie nie.” Al sy aanvanklike vriendelikheid is nou weg.

      “Meneer Beling, ek is beslis nie op soek na sensasie nie. Ek wil bloot ’n menslike invalshoek gebruik.”

      “Jy sal daardie invalshoek maar iewers anders moet kry.” Hy kliek sy Cross-pen, glip dit met ’n behendige beweging in die leeromhulsel van sy Filofax en staan op. “Jy sal my ongelukkig nou moet verskoon.”

      Paniek gryp haar hart vas. Sy probeer ook opvlieg, maar sukkel om uit die kussings orent te kom. Toe sy uiteindelik op is, smeek sy hom onbeskaamd: “Wag, meneer Beling, net ’n oomblik, asseblief. Kan u nie net vir een of twee familielede vra of hulle bereid sal wees om met my te praat nie?”

      Sy asem diep in toe sy sien hy oorweeg haar versoek.

      “Laat ek gou die skakelbeampte van ons Bahreinse tak bel.” Hy stap uit op die hotel se stoep sodat sy nie na die foongesprek kan luister nie.

      Sy sink weer in die kussings weg. Asseblief asseblief asseblief tog. Laat iemand asseblief tog met haar praat. Haar vingers vou outomaties om haar duime. Van kleins af hou sy altyd duimvas as sy iets baie graag wil hê.

      Hoekom het die man ingestem om haar te sien as hy geweet het hy gaan nie bereid wees om haar te help nie?

      Sy gesig is onpeilbaar toe hy terugkom. Sy hou asem op.

      “Jammer, ek kan jou nie help nie,” spreek hy die tyding uit.

      Sy voel soos ’n misdadiger wat gevonnis word. Sy wil soos ’n prokureur in ’n Amerikaanse hofdrama opvlieg en skreeu: “Beswaar, U Edele!” Maar al wat sy uitkry, is ’n verslane “O”.

      “Nou sal u my regtig moet verskoon.”

      Vir die tweede keer probeer sy haar uit die gulsige bank se gestreepte bek bevry. Sy smeek opnuut: “Asseblief, meneer Beling. U is my enigste kontak hier. Ek het al die pad hierheen gevlieg.”

      Nou het sy hom blykbaar kwaad gemaak. “Juffrou, ek kan nie verantwoordelikheid neem vir u maatskappy se besluite nie.”

      “Maar u kan tog sekerlik vir my een sin kommentaar namens McMillans gee.” Nou skraap sy die bodem, soos Grethe altyd sê.

      Selfs dié armsalige strooihalm ruk hy wreed uit haar hand. “Nee. Soos ek gesê het: McMillans het besluit om glad nie met Nuusweek te praat nie.”

      “Maar ek –” begin sy desperaat.

      “Juffrou, nou mors u werklik my tyd. Ek kán u nie help nie. Totsiens.”

      En siedaar verdwyn hy, sy Cross-pen en sy Filofax uit die sitkamer.

      Mia sak tussen die kussings terug. “Sluk my nou maar heel in,” sê sy vir die bank. “Daar gaan buitendien niks van my oorbly as Grethe klaar is met my nie.”

      Toe sy uiteindelik die krag bymekaargeskraap kry om haar lyf na haar hotel te sleep, bring die portier haar bagasie. Die draaideur spoeg haar steunend en kreunend aan die ander kant van die Sheraton se vyfsterwêreld uit.

      Buite omvou die Midde-Oosterse hitte en bedompigheid haar. Die tydjie in die hotel met sy lugversorging, marmer en graniet het haar van koue laat ril. Sy verwelkom die hitte wat soos ’n kombers op haar hoendervleisvel neersak.

      Maar dis ook net vir ’n oomblik lekker, dan begin die sweet haar weer aftap. Meimaand is dit klaar ontsettend warm in Bahrein. Die toeristeseisoen is van November tot Februarie, die res van die tyd is dit te warm. In die middel van die somer brand die woestynson warmer as vyftig grade Celsius te midde van honderd persent humiditeit.

      Sy kyk oor die straat hoe die wit van die sand en die huise in die laatmiddagson glinster. Dis pragtig hier, moet sy toegee, ’n besonderse skoonheid. Nie Suid-Afrika se welige kleurvolheid nie, maar mooi op ’n ander manier.

      Die lug ruik warm en sout. Amper verstikkend as ’n mens te diep inasem. Terwyl sy voor die hotel vir die taxi staan en wag, bekyk sy die mense. Arabiere in lang, wit jurke en kopdoeke. Vroue in bhurkas – die swart klede wat hulle van kop tot toon bedek met net hul oë wat deur ’n skrefie in die materiaal uitsteek.

      Mia wonder hoe die vroue dit in daardie swart tente uithou. Dit moet ondraaglik wees in hierdie hitte. Gelukkig hoef sy nie self ’n kopdoek te dra nie; Bahrein is een van die meer liberale Arabiese lande. In Saoedi-Arabië sou sy dit byvoorbeeld nie kon waag nie.

      Die mense hier praat meestal Arabies, maar ook Hindi en Urdu, het sy op die internet gelees. Die tale klink sag en rond om haar, asof die sprekers die woorde soos suiglekkers in hul monde rol. En die sinne klim en val soos musiek; soos vreemde, eksotiese gesange.

      ’n Moslemgesin met ’n spul kindertjies kom met die trappe opgestap en sy probeer met ’n groot gesukkel haar bagasie uit hul pad verwyder. Haar tas stort by ’n trappie af en sy buk om dit op te tel.

      Toe sy uitasem tot verhaal kom en opkyk, kan sy nie glo wie voor haar staan nie: Malan Retief! Hy het nou seker haar hele lompe gespook aanskou. Hoeveel vernederings gaan sy nog vandag moet verduur?

      “Kan ek jou help?” bied hy aan. Dit sou opreg geklink het as hy nie so geamuseerd geglimlag het nie.

      “Nee, dankie,” antwoord Mia kil. “Ek kom reg.”

      Sy wonder waar hy nou vandaan kom. Beslis nie van ’n vliegtuig waar hy, soos sy, ’n tien uur lange slapelose nag moes deurbring tussen ’n skreeuende kind en ’n snorkende vet man nie. Daarvoor lyk hy heeltemal te vars en uitgerus.

      Op Malan Retief se planeet is daar seker ’n geheime tonnel waardeur vliegtuigpassasiers kruip wat hulle binne enkele sekondes van hul vlugvoosheid verlos. Dit stryk sommer ook hul klere en sit nuwe jel in hul hare, sodat hulle soos akteurs in ’n Nivea for Men-advertensie daar uitstap. Dis hoe Malan vanoggend lyk: sy swart hare is op so ’n manier gestileer dat dit glad nie gestileer lyk nie, asof hy bloot sjiek gebore is.

      Verder is hy ’n advertensiebord vir ontwerpersname: Carducci-baadjie, Pringle-hemp, Levi-jeans wat net reg aan sy lenige lyf pas en pragtige bruin leerskoene wat waarskynlik ’n ontwerpersnaam dra wat sy nie sal kan uitspreek nie.

      “Wat maak jý hier? Skiet hulle ’n toneel van 7de Laan of Egoli in Bahrein?”

      Hy vou sy arms en leun teen een van die hotel se pilare. Glimlag steeds geamuseerd. Sy wens haar hart het nie so wild geklop nie. Wat gaan aan met haar? Sal Malan Retief dan nou so ’n uitwerking op haar hê?

      Maar sy hou haar koel. “Ja,” antwoord sy