Eksklusief uit Eden. Marida Fitzpatrick. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marida Fitzpatrick
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624051831
Скачать книгу
verbied. Verskeie webblaaie beskryf Jaish Islamiyah as ’n uiters gevaarlike ekstremistiese terroristegroep. Letterlik vertaal beteken die naam “Weermag van God”. O hemel, waarin het sy haar begewe?

      ’n Australiese webwerf sê: We advise you to exercise a high degree of caution in Bahrain because of the high threat of terrorist attacks. Statements by international terrorist groups have called for attacks against Western interests in the Gulf region. Dit klink amper net so erg soos oorlog. Maar sy kan nie nou omdraai nie.

      Die volgende naam wat sy op Google intik, is Malan Retief. Sy het al ’n paar keer met hom gesels, maar sy moet presies weet met wie sy meeding.

      Meer as ’n duisend skakels kom op. Natuurlik al sy wonderlike berigte en artikels.

      Die eerste webblad op die ellelange lys is dié van Mondi, een van die gesogste joernalistieke toekennings in Suid-Afrika. Hoofseun Malan se aantreklike gesig pryk daar langs sy lys prestasies. Hy het die afgelope drie jaar elke jaar ’n Mondi-toekenning gewen. Die vorige twee jare was dit vir Scoop van die Jaar en laas jaar vir die beste ondersoekende joernalis. Dit was vir sy onthullings oor korrupsie in een of ander regeringsdepartement.

      Op Verslag se webwerf lees sy Malan Retief het begin vanjaar op agt en twintigjarige ouderdom die jongste mens ooit geword om as die koerant se hoofverslaggewer aangestel te word. Ag tog! Dis so goed sy moet die Comrades teen Bruce Fordyce hardloop.

      Mia Bindeman tik sy in die Google-soekkassie. Teleurstelling kom sit op haar skouers toe sy die resultate sien. Presies drie! Een is Sasima, die webblad van Potchefstroom Gimnasium waar sy op hoërskool was – haar naam verskyn by die reëlingskomitee vir Sasima-alumni. Die ander een is Nuusweek se webblad waarop haar naam en e-posadres gegee word sodat kykers foute in die TV-gids kan aanmeld. En die derde een is haar persoonlike blog wat sy en Stephanie nou die dag in ’n oomblik van waansin geskep het. Dit bevat ’n belaglike foto van haar en ’n opskrif wat sê: Die Mal Wêreld van Mia.

      As Malan Retief dit moet sien, vou hy seker dubbeld soos hy lag.

      Nou moet sy wat Mia is met kampioen Malan meeding. Maar sy sal dit regkry, besluit sy. Sy gaan die scoop der scoops kry! En daarmee saam gaan sy sommer vir Malan ’n bietjie aarde toe bring.

      Die aand op die lughawe is Mia tot in haar murg toe moeg. Dit was ’n dolle gejaag van ’n dag. Nadat sy al die agtergrondinligting op die internet gekry het, moes sy ’n skootrekenaar, internasionale diens vir haar selfoon, dollars en wie weet wat als nog reël. En tussendeur met die skakelbeampte van McMillans praat om ’n onderhoud met een van hulle direkteure in Bahrein te kry. Toe moes sy huis toe jaag om te gaan pak.

      Haar vlug vertrek eers heelwat later, maar sy het klaar haar bagasie ingeteken en haar instapkaart gekry. Die skootrekenaar en kamerasak dra sy saam as handbagasie, want sy is bang dit word gesteel. Die band van die skootrekenaarsak sny in haar skouer in en die kamerasak val heeltyd van haar ander skouer af. Ag nee, wat te erg is, is te erg, besluit sy. Sy het nie krag om met hierdie swaar vrag rond te stap nie. Sy gaan liewer by die instaphekke sit, al is dit nog ure voor haar vlug. Buitendien is sy eerder vroeg as laat.

      Toe sy uitasem op een van die silwer stoeltjies neerval, kan sy nie glo wie by die trappe afgewarrel kom nie: Malan Retief. Was natuurlik in die besigheidsitkamer daar bo. Warrel is die enigste manier om sy afdaling met die trappe te beskryf, want stap of hardloop is dit nie. Daarvoor is dit heeltemal te vrolik en selfversekerd – asof hy op ’n verhoog is en nou enige tyd ’n klopdansvertoning gaan lewer. Hy dra ook ’n skootrekenaar en ’n kamerasak, maar dié is blykbaar gewigloos, want hy doen dit met die grasie van tien jong Afgaanse honde.

      Mia gryp die koerant wat twee stoele verder lê en skud dit oop om agter die breë blaaie weg te kruip. Sy het nie nou krag vir Malan Retief nie. Die laaste keer toe sy hom gesien het, was by Februarie se Persklubfunksie. Hy het nogal met haar gedans en, moet sy toegee, baie lekker gedans. By al sy talente en deugde het hy ook ’n heerlike lang, lenige lyf. Sy was so bly toe die aantreklike, suksesvolle Malan háár vra. Hy het so lekker geruik en sy wou net in vervoering raak …

      Maar toe los hy haar in die middel van ’n liedjie net so op die dansvloer. “Jammer, Mia,” het hy gesê, “daar’s net iemand met wie ek gou moet praat.” Toe sy omkyk, sien sy hom afpyl op die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum, wat pas by die deur ingestap het. Sy was woedend. En sy het haar voorgeneem om nooit weer met hom te dans nie, al is hy hoe mooi, al is sy stoppelbaard hoe sexy en al kan hy hoe lekker langarm.

      Malan sien haar deur die genade nie en mik reguit vir die instaphekke. Hy het sowaar ’n vroeër vlug as sy. Mia gooi die koerant briesend neer. Sy glo dit nie! Hy loop klaar voor, vyftien-stroop.

      Van bo in die vliegtuig lyk Bahrein so klein dat Mia wonder of hulle ooit daar sal kan land. Droog en wit lê die eiland soos ’n stuk kurk en dobber in die helderblou see. Uit die lug lyk dit nie na Eden nie. Dit lyk skaars of daar ’n boom is, wat nog te sê ’n boom met verbode vrugte.

      En ’n verleidelike groen slang sal nie ’n halwe dag hier hou nie. Hy sal oral uitstaan teen die dor landskap. Alles is plat, uitgestrek en in verskillende skakerings van wit. Dis asof die woestynson alle kleur weggebrand het. Maar terselfdertyd skoongebrand het. Gesuiwer het. ’n Rein, wit eiland. Soos ’n maagdelike bruid. Haar ma sal daarvan hou.

      Op pad van die lughawe af sê die taxibestuurder ’n mens kan die hele eilandjie binne ’n uur of wat platry. Nie dat enigiemand in dié stadium ’n uur saam met haar in ’n motor sal wil deurbring nie, dink Mia. Dis Dinsdagmiddag halfvyf en gisteraand toe sy uit Johannesburg vertrek het, voel soos ligjare gelede. Sy het dieselfde klere aan waarmee sy gisteroggend werk toe is en sy het eergisteraand in haar woonstel laas gebad. Haar lang, donker hare hang in olierige slierte.

      Nou staan sy hier voor die baie indrukwekkende Sheraton Hotel. Sy weet nie hoe sy gedink het ’n Midde-Oosterse hotel moet lyk nie, maar só ’n gladde Westerse yspaleis het sy nie verwag nie. Ten minste darem iets met parfuum en sluiers, of ’n bietjie goud en pers.

      Maar goed, meneer Patrick Beling is seker nie hier om Arabiese nagte in wit satyn te geniet nie. Vir hom is dit seker hoe meer Westers, hoe beter. Hy is die Amerikaanse bedryfsdirekteur van McMillans Construction. Die maatskappy se skakelbeampte het vir haar sy nommer ge-SMS toe sy op die vliegtuig was en sy het hom van die lughawe af gebel. Hy het gesê hy kan haar by sy hotel sien – so gou as moontlik.

      Haar opwagting by die luukse hotel is net so onelegant soos sy op die oomblik lyk. Met ’n groot gesukkel strompel sy met haar reuse-tas, handbagasie, kamerasak en skootrekenaar deur die groot draaideur – een van daardie wat voel of dit jou hakskene jaag, hoewel dit baie stadig beweeg.

      Gee tog dat meneer Beling nie hierdie jammerlike toneel aanskou nie, dink sy terwyl sy sweterig spook om al haar besittings uit die deur te bevry. Toe sy opkyk en ’n gesofistikeerde man in ’n ontwerperspak in die hotel se sitkamer sien wag, weet sy dis hy. Net haar geluk. Hy sal ook nie opstaan om haar te help nie.

      ’n Portier kom tot haar redding en bied aan om haar bagasie tydelik te bêre.

      So gesweet en afgemat as wat sy is, so vars en stylvol lyk die sitkamer en meneer Beling. Hy is so blink soos sy van klink – kon net sowel ’n aanbieder vir Verimark gewees het.

      “Aangename kennis,” sê hy met ’n swaar Amerikaanse aksent en druk haar hand só hard dat sy sweer sy kan haar handbeentjies hoor kraak. Sy tande is net so wit soos Grethe s’n. Sy wonder of hy dit ook elke drie maande laat bleik.

      Hulle gaan sit op twee reusagtige gestreepte banke met oordadige bont kussings. Die bank is so hoog en sy sink so diep in die kussings weg dat net die punte van haar skoene die vloer raak. Soos Alice in Wonderland. Dit laat haar nog belagliker voel.

      Maar sy haal haar notaboekie en pen uit en probeer so hard as wat sy kan om soos ’n professionele, deurwinterde joernalis te lyk. Meer Ruda Landman, minder Alice in Wonderland.

      “Dis jammer oor die omstandighede waaronder ons ontmoet,” sê sy op haar beste Potchefstroomse Engels.

      “Ja, ek het gisteraand al geland. Ek moes so gou moontlik kom om die families te ondersteun,”