Sy begin haar tone versigtig roer terwyl sy wonder of die voëls so hard moet raas. En tussenin is daar die skril geskree van ’n blouapie wat haar elke keer haar kop laat vashou. Met moeite kry sy haar horlosie raakgevat, maar verstrengel haarself byna in die muskietnet.
Tienuur. So ver sy kan onthou, sal die ander net ná een aankom en sy het nog heelwat werk wat sy moet doen. Maar die gedagte aan opstaan laat haar kreun. Dis eers ’n halfuur later dat sy haarself sover kry om haar bene oor die bed se rand te swaai en versigtig regop te kom. Gewapen met haar toiletsakkie, ’n handdoek en klere, stap sy effens wankelrig badkamer toe.
Elias is besig om die houtvloer van die leefarea te vee terwyl hy ’n deuntjie neurie. Die volgende oomblik skreeu hy iets en ’n lemoen vlieg rakelings by haar kop verby. Sy skrik so groot dat sy alles laat val en koes. Hy gee nog ’n paar uitroepe en dan sien sy hoe ’n aap tussen die takke verdwyn. Sy staan op en begin haar klere, wat oor die vloer gestrooi lê, bymekaarmaak. As Elias gesien het dat hy haar byna onthoof het, het hy blykbaar besluit dis nie nodig om iets daaroor te sê nie. Sy rug is weer na haar gedraai en hy neurie verder.
Indien dit moontlik is, klop haar kop nog erger as minute gelede en sy draai die stortkrane wyd oop. Miskien sal dit help.
Elias kyk op toe sy by hom verbystap op pad terug kamer toe. “Hier is kos.”
Ester skud haar kop voordat sy onthou dat dit die een handeling is wat sy nie op die oomblik moet uitvoer nie. “Ek wil nie eet nie. Kan ek net koffie kry?”
Hy beduie na ’n pan op die gasstoof. “Ek het kos gemaak.”
“Ek is nie honger nie, dankie. Kan ek net asseblief koffie kry?” Sy is seker hy verstaan haar. Hy praat vlot Engels en Afrikaans.
Sonder ’n woord skink hy vir haar ’n beker koffie en sit dit op die tafel, saam met ’n bekertjie melk en ’n suikerpot.
“Waar is Samuel?” Die koffie is kokend warm en sy brand haar onderlip toe sy dorstig ’n sluk neem.
“Hy het gaan werk. Hy sê jy moet jou goed inpak. Ek gaan wys jou die plek vir die foto’s en vat jou terug kamp toe.”
“Hoe laat is hy weg?” Sy wonder of hy regtig soveel werk gehad het dat hy nie eens net kon wag tot sy wakker is nie.
“Halfses.”
Sy stap met die koffiebeker kamer toe en gaan sit op een van die stoele voor haar kamer op die balkon. Die son is al warm en die rivierloop is vanoggend verlate, met slegs twee krokodille wat teen die oorkantste wal lê en bak. Die voëls is egter steeds woelig en raserig met hulle doen en late besig. Sy wens sy het ’n afstandbeheerder gehad sodat sy hulle met die druk van ’n knoppie kon stilmaak. Sy moet dringend haar sonbril gaan soek.
Die oomblik toe hulle deur die eerste knik gaan, weet Ester sy gaan nie hierdie rit oorleef nie. Haar kop gaan beslis al op haar geboortenate langs oopbars. Sy weet nie of dit sal help om te vra dat hy stadiger moet ry nie, want dis nie asof hy vreeslik vinnig ry nie.
Hulle ry omtrent ’n kwartier voordat hy stilhou en vir haar beduie sy moet uitklim. Vyf minute se stap bring hulle by ’n interessante stapel rotse wat lyk of hulle deur iemand losweg bo-op mekaar neergesit is.
“Jy kan hier foto’s neem,” praat Elias vir die eerste keer vandat hulle by die lapa weg is. “Kom. Ek sal jou die ander ook gaan wys.”
Ester neem vinnig ’n paar foto’s voordat sy haar treë rek om by te bly, want sy is seker sy hoor iets tussen die mopaniebosse ’n entjie agter hulle. Die rit word weer in doodse stilte afgelê en sy voel byna lighoofdig toe hy eindelik die Land Rover tot stilstand bring. Hy tel die geweer van die agterste sitplek af op en beduie dat sy moet uitklim. Die volgende plek wat hy haar wys, is ’n stukkie vleiland. Al op die rand daarvan staan groot palms in ’n byna volmaakte sirkel. Samuel Mcgreggor het ’n goeie oog vir detail, dink sy beïndruk.
Die derde plek wat Elias haar gaan wys, is verder op teen die rivier waar dik takke van oeroue wildevybome byna tot op die grond hang. Onder die takke, in die skaduwee, is dit koel en effens donker en sy wonder of Elias haar nie net ’n bietjie daar sal laat sit nie. Hy het egter reeds omgedraai en is besig om terug te stap voertuig toe. Hy gee haar elke keer net genoeg tyd om haastig ’n paar foto’s te neem.
Die rit van daar af is nog meer stamperig en Ester moet op haar tande byt om nie te kreun nie. Nadat hulle ’n entjie teen ’n klipkoppie uitgery het, stop hy weer en sy stap agter hom aan tot hy op ’n groot, plat klip gaan staan. Sy moet eers ’n paar keer diep asemhaal toe sy bo kom, maar dan sien sy die uitsig en sy vergeet byna om weer asem te haal. Sy sal nie op so ’n plek kan woon nie, maar sy kan nogal verstaan dat iemand soos Samuel Mcgreggor nie meer hier wil weggaan nie. Hulle kyk uit oor ’n stuk ongerepte landskap. Tussen die mopanies en die maroelas troon daar twee yslike bome uit, soos reuse wat jaloers wag hou. Die rivier lê duidelik groen omsoom ’n ent onder hulle. Dis so stil dat sy êrens ’n insek kan hoor zoem.
Elias draai om en sy volg hom versigtig teen die skuinste af. ’n Entjie van die Land Rover af hou hy sy hand skielik in die lug en sy loop byna in hom vas. Sy kyk heen en weer, voor en agter haar, maar sien niks. Totdat Elias stil na ’n plek net skuins agter die voertuig beduie. Dan sien sy die renoster. Sy lig die kamera wat oor haar skouer hang en sonder om iets te sê, stap sy stadig nader, terwyl die sluiter onophoudelik klik. By die hoek van die voertuig sak sy op haar hurke en eers toe ’n hand om haar boarm sluit en sy die volgende oomblik ietwat hardhandig in die voertuig gehelp word, word sy weer bewus van die ouer man.
Van die woorde wat hy kwytraak, verstaan sy niks, maar wat sy kan aflei van die ‘eish’ aan die begin en van sy stemtoon, klink dit of hy nie op die oomblik te gelukkig met haar is nie.
Sy besluit om nie te antwoord nie, ook nie te vra waaroor die ontsteltenis gaan nie. As sy dalk vermoed het dat hy vir haar kwaad is, word haar vermoedens vinnig bevestig toe hy skielik met aansienlik meer spoed die stamperige pad aandurf en sy later koorsig van pyn voel. Sy was nog nooit so bly om geboue van enige aard te sien soos toe die lodge eindelik voor hulle verskyn nie. Die vlakvark kom weer nader gehardloop en in haar ylende gedagtes neem sy haar voor om nog ’n foto van die potsierlike dier te neem voor sy teruggaan.
Elias stop ’n entjie van die hoofgebou af en laai haar bagasie af. Een van die Sjangaan-mans kom oor die grasperk aangestap en tel haar tasse op. Hy beduie na die hoofgebou en sy stap agter hom aan. Voordat hulle by die gebou is, kom Kiki uitgestap en glimlag toe sy vir Ester gewaar.
“A-a-a, jy het die nag in die boom oorleef. Jy’s ’n dapper vrou.” Sy praat dieselfde goeie Engels as Elias, met net ’n sweempie van ’n aksent.
“Maar as ek nie nou vinnig twee baie sterk kopseerpille kry nie, gaan ek dood. Ek sal jou enigiets betaal as jy vir my twee pille kan gee.”
“Laat David jou solank na jou tent toe neem. Ek sal iemand met die pille stuur. Onthou, jy mag nie alleen buite rondstap nie. Bel asseblief kantoor toe as jy êrens heen wil gaan,” roep sy oor haar skouer.
In hierdie stadium voel dit vir Ester of sy dalk maar liewer moet toelaat dat ’n wilde dier haar so vinnig moontlik opvreet. Dit sal ten minste ’n einde aan haar lyding maak. Hulle kronkel met ’n paadjie tussen die natuurlike plantegroei deur totdat dit vir haar voel of hulle verdwaal is. Eindelik sien sy ’n grasdak tussen die bome deur en dan gewaar sy die byna versteekte konstruksie. Om dit ’n tent te noem, is seker tegnies reg, maar dis nie sommer ’n gewone tent nie. Alhoewel die sykante van ’n dik, roomkleur seil gemaak is, staan dit op ’n netjiese houtplatform en bo-oor die hele konstruksie is ’n netjies gedekte rietdak. Hulle klim ’n paar trappies tot op ’n stoepie en die man by haar trek die groot ritssluiter oop en vou die deursigtige binneseil weg sodat sy kan instap.
Die binnekant is koel en