Die boek van Ester
Wilna Adriaanse
TAFELBERG
Vir Deon
saam met wie ek Afrika se ritme leer ken het
When Africa weeps for her children
My cheeks are stained with tears
When Africa honours her elders
My head is bowed in respect
When Africa mourns for her victims
My hands are joined in prayer
When Africa celebrates her triumphs
My feet are alive with dancing
– uittreksel uit Wayne Visser se gedig “I am an African”
1
“Egoli” Ester kyk deur die motorvenster. “Midasstad. Goudstad. Geldstad. Very old money meets new riches on the flyovers. Poort na Afrika. Misdaadhoofstad van die wêreld.”
“Jy vlei ons. Tweede of derde dalk, maar ek dink nie ons is al eerste nie.”
Ester kyk na die man langs haar en ervaar êrens diep in haar iets soos ’n brandkol. Hoe ouer hy word, hoe meer lyk hy soos hulle pa, maar dis haar ma se rustige stem wat sy hoor. Haar ma. Die woord word ’n gesig, ’n reuk en ’n stem, en ’n oomblik voel dit of sy haar hand kan uitsteek en iets sal raakvat. Of dalk kan sy vlugtig aan die woord raak, voordat dit weer sy betekenis verloor. Sy draai haar kop en hou die straatverkopers by die verkeerslig dop.
“Ek kan nie glo dat jy ná al die jare nog die ou Volvo het nie, maar aan die ander kant is dit seker ook jou redding. Selfs nie eens die armste straatbedelaar kyk met begerige oë na dié stuk metaal nie” praat sy verby die snaakse smaak in haar mond.
“Jy kon ’n taxi van die lughawe af geneem het”
“Waarom koop jy nie van jou erfgeld vir jou ’n nuwe motor nie, of is hierdie regtig jou manier om aan die lewe te bly?”
“Ek is baie tevrede met my voertuig, maar terwyl ons nou daaroor praat, waar’s jóú erfgeld? Het jy vir jou iets daarmee gekoop?”
“Dis seker in die bank waar jy dit gebêre het. Is daar nie ’n wet wat sê ’n mens mag nie bloedgeld spandeer nie?”
Ira kyk skramsweg na haar. “Dis nie bloedgeld nie.”
“Waarom spandeer jy dan nie joune nie?”
“My behoeftes is min.”
Ester gee ’n hees laggie. “Solank jy jou eie verskonings glo, is dit reg met my.”
Hulle ry onder ’n woonstelblok in en albei is stil totdat Ira sy voordeur oopsluit. Ester kyk nuuskierig rond terwyl sy voor hom uitstap. “Nice plek, maar is jy onlangs beroof, of het jy by een of ander Orde van die Askete aangesluit?” Sy kyk na die enkelrusbank, gemakstoel, koffietafel en grootskermtelevisie in die sitkamer. “Waarom gaan haal jy nie net vir jou meubels uit die huis uit nie?”
“Wat moet ek met meubels maak? Ek het ’n sitplek én ’n slaapplek. Ek het jou gesê my behoeftes is min.”
Sy stap agter hom aan na waar hy haar tas in ’n slaapkamer met ’n driekwartbed neersit. Toe stap hy kombuis toe, skakel die ketel aan en gooi koffiepoeier in twee bekers. Hy lig die blik terwyl hy na haar kyk.
“Jammer, ek weet jy drink waarskynlik deesdae net Jamaican, Blue Mountain of Luwak, maar dis die beste wat Villa Green kan aanbied.”
“Hoe het Pa altyd gesê, bedelaars se keuses is wensdenkery. Ek sal my mond hou, maar net omdat ek dringend kafeïen in my bloedstroom moet kry.”
Sy maak een van die kombuisvensters oop en steek ’n sigaret aan. Nadat Ira die koffie gemaak het, stap hulle saam sitkamer toe en sy sak met ’n sug op die rusbank neer.
“Dit voel vreemd om terug te wees.” Sy blaas liggies oor die koffie in die beker.
“Jy moes eerder al teruggekom het. Nou het dit soos die monster in die kas geword.”
“Die monster in die kas is nie my verbeelding nie. En so ver ek weet, loop hulle hier sommer buite die kaste rond.”
Toe hy haar nie antwoord nie, laat sak sy die beker effens. “Waarom het jy teruggekom? Dit was die ideale geleentheid om die laaste verwronge tak en wortel van vaderlandsliefde uit te trek en nie weer terug te kyk nie.”
“Ek kan dit nie verduidelik nie, in elk geval nie so dat jy my sal verstaan nie. Dis net iets wat ek moes doen. Call me a fool if you want.”
“Jy’s ’n fool.”
“Of dalk ’n ewige optimis.”
Sy skud haar kop. “Ek dink fool is ’n beter beskrywing.”
“Miskien wil ek net glo dat Pa nie so verkeerd kon gewees het nie.”
“Ha! Ek dink as jy hom vandag sou vra, sal hy erken hy moes die tekens beter gelees het. Mense het al die jare sy insig en waarnemingsvermoë geprys.”
“Waarom is jy steeds vir hom kwaad?”
“Soos ek sê, hy moes van beter geweet het. Dit was pure hardkoppigheid.”
“Dit was nie sy skuld nie.”
Ester vee haar hare agtertoe. “Wie se skuld was dit dan? Hulle het hom gewaarsku om nie te krap in dinge wat hom nie aangaan nie, maar nee, hy moes krap en grawe en in die proses het hy sommer hulle albei se grafte gegrawe. Vir wie moet ek kwaad wees?”
“Hy was ’n joernalis, ’n nuushond, en het soos die Engelse joernalis William Stead geglo an editor is the uncrowned king of an educated democracy. Dis nie sý skuld dat al sy verwagtinge vir die demokrasie nie waar geword het nie.”
“Waar in Afrika het dit waar geword? Waarom dink jy is ons hier en nie in Kenia nie? Jy lewe, nes hy, in ’n gekkeparadys.”
“Is die huis al verkoop?” wil sy weet toe hy haar nie antwoord nie.
“Ja.”
“Wanneer? En hoekom het jy my nie gesê nie?”
“Ek is seker ek het jou gesê jy moet op jou bankrekeningstaat kyk, want ek het vir jou geld inbetaal.”
Ester steek weer ’n sigaret aan en trek tot die kooltjie rooi gloei. Daar lê ’n huiwering in haar stem toe sy praat. “Wie het dit gekoop?”
Toe hy haar nie dadelik antwoord nie, haal sy haar skouers op. “Dit maak eintlik nie saak nie. Ek wil nie regtig weet nie.”
“Samuel Mcgreggor het die huis gekoop.”
“Wie’s Samuel?”
“Samuel Mcgreggor. Die vriend van my op wie se plaas julle die shoot gaan doen.”
“Waarom het hý die huis gekoop?” Sy kan hoor hoe haar stem styg. “Hier is seker letterlik duisende ander huise wat hy kon koop.”
“Hy reis op die oomblik redelik gereeld en dis ’n welkome verandering ná verblyf in hotelle as hy hierheen moet kom. En hy hou baie van die huis.”
“En wat van Josef en Gladys?”
“Hulle bly aan en kyk vir hom na die huis wanneer hy nie hier is nie. Die reëling pas almal goed en ek is bly vir hulle onthalwe. Hy sal goed na hulle kyk.”
“Om dit aan ’n vriend te verkoop, beteken elke keer as jy vir hom gaan kuier, word jy gekonfronteer met al daardie herinneringe. Elke keer as jy aan hom dink, is dít die agtergrond.” Sy skud haar kop. “En watter soort mens sal willens en wetens sy vriend deur ’n rivier vol riool wil laat loop wanneer hy kom kuier? Besef hy nie hoe kleef dit weer van voor af nie en hoe moeilik is dit om skoon te kom nie?”
“Met jou wat eenvoudig weggevlieg het, moes ek vinnig leer om droogvoets daardeur te kom. Ek het nie juis baie ander keuses gehad nie, het ek? Iemand moes sorg dat Josef en Gladys versorg word, dat die papierwerk afgehandel en sekere goed opgepak word.”
Ester