“Ek dink nie hy wil daar gepla word nie. Hy’s besig.” Op daardie oomblik kom Kiki uit die kantoor.
“Ek moet dringend met Samuel praat, maar Ian sê hy kom nie weer vanaand terug nie. Hy is blykbaar by die olifante en ek sal bly wees as Elias my daarheen kan neem.”
Kiki kyk na Elias en dan terug na Ester. “Hy laat gewoonlik nie gaste daar toe nie.”
“Ek verstaan en ek wil hom ook nie gaan pla nie, maar ek is seker hy sal nie omgee nie.”
“Ek wil nie hê hy moet kwaad wees nie.”
Ester skud haar kop. “Hy sal nie en as hy is, sal hy vir mý kwaad wees en nie vir julle nie.”
Daar volg ’n gesprek tussen pa en dogter en toe stap Elias buitentoe en Kiki glimlag. “Hy sal jou gaan aflaai.”
“Dankie. Ek belowe ek sal jou nie in die moeilikheid laat kom nie.”
Elias het reeds die Land Rover aangeskakel toe Ester buite kom en sy moet haastig inklim. Hy praat nie ’n woord met haar nie en haar vrae droog later op. Sy verbeel haar dat sy die pad na die boomhuis herken, maar hulle ry nie deur die rivier nie en mettertyd weet sy glad nie meer waar hulle is nie. Ester gewaar eers die Jeep en toe die gebou wat soos ’n skuur lyk. Elias stop ’n entjie van die Jeep af en klim saam met haar uit. Twee mans kom agter die gebou uit en glimlag toe hulle Elias gewaar. Die drie groet en daar volg weer ’n onverstaanbare gesprek voordat een beduie dat sy saam met hom kan stap.
Hulle stap langs die skuur verby, maar die sykante is oop en sy gewaar drie jongerige olifante binne. ’n Ent verder sien sy nog twee sulke skure en ’n verskeidenheid kampe en hokke. Mense stap heen en weer, maar om een of ander rede voel dit nie na ’n bedrywige plek nie. Daar hang ’n laatmiddag-rustigheid oor alles en almal.
Hulle stap met ’n voetpaadjie langs tot op die rivierwal en dis eers toe die takke van die bome effens lig dat sy behoorlik kan sien. Sy gaan staan doodstil. ’n Ent voor hulle in die rivier kom ’n olifant aangestap, met Samuel op sy rug. Die groot dier se lyf swaai ritmies heen en weer en die man bo-op wieg gemaklik saam met die beweging. Sy haal haar kamera uit en gaan sit plat op die grond teen die rivierwal. Soos die son agter die horison wegsak, verander die lig van skerp en helder na ’n sagte effekleur. Asof ’n sagte doek oor alles gegooi word.
Sy verstel haar lens voordat sy die knoppie begin druk. Sy sien verbaas dat hulle deur die groot waterpoel gaan loop. Die logge lyf van die olifant sak in die water af en sy kyk vasgenael hoe daar water in die slurp opgetrek word en Samuel papnat gespuit word. Van waar sy sit, kan sy hom hoor lag. ’n Onbevange klank wat haar hoendervleis gee.
Dit voel skielik of sy inbreuk maak op ’n baie intieme ritueel en sy wonder of sy nie liewer stilweg moet omdraai en vir hom by die Jeep gaan wag nie, maar sy kry nie opgestaan nie. Die prentjie voor haar laat haar staar. En terwyl sy nog sit en kyk, begin hulle stadig uit die waterpoel stap, al met die voetpad langs. Toe sy eindelik opstaan, besef sy dis te laat om om te draai.
Hy gewaar haar toe hulle teen die wal begin uitstap. Hy kyk ’n oomblik verbaas na haar en sê dan: “Gee jou kamera vir Julius.”
“Ekskuus?”
“Gee jou kamera vir Julius en klim op daardie boomstomp.”
Sy gehoorsaam voordat sy kans gehad het om te dink. Die volgende oomblik is die olifant langs haar en Samuel strek sy hand na haar uit. Sy voel hoe Julius haar oplig en dan sit sy agter Samuel se rug bo-op die olifant. Eers voel dit asof sy nie asem kry nie, maar geleidelik begin die paniek bedaar en kry sy dit reg om nie so verbete aan hom vas te klou nie.
“Waaraan het ek die eer te danke?”
“Ek wil jou iets vra en Ian het gesê jy kom nie weer terug kamp toe nie.”
“Wat wil jy my vra?” Hulle lywe wieg ritmies heen en weer en vir die eerste keer in haar lewe sukkel sy om te praat. Sy is nie seker wat haar hoendervleis gee nie, sy klam klere teen haar of die feit dat sy op ’n olifant ry nie.
“Ek ... ek wil hoor of ek ’n paar foto’s in die boom ... boomhuis kan neem.”
“Nee.”
“Ons sal niks breek of deurmekaar maak nie.”
“Nee.” Die woord word sonder ’n sweempie van aggressie gesê, maar sy herken ’n beslistheid in die toon. Nogtans probeer sy weer.
“Dit sal so ’n stunning agtergrond wees.”
“Nee.”
“Ek sal jou ekstra betaal.”
“Sjjjt ...”
Ester bly stil en gee haar oor aan die skommelbeweging. Die aandskemerte lê soos ’n kombers oor hulle. Hy praat nie weer nie en Ester gryp hom vervaard vas toe hulle by die skuur kom en hy iets vir die olifant sê en dié afsak om te kniel. Hy help haar af en dan volg daar ’n gesprek met die olifant. Sy bly langs hom staan en wonder of sy nie besig is om te droom nie. Maar dan skielik trek hy haar nader, en toe hy haar hand neem en dit in die olifant se bek steek, weet sy nie of sy moet lag of gil nie.
“Hy wil net kennis maak. Kan jy die sagte plekkie in die verhemelte voel? Dis ’n baie gesofistikeerde orgaan, of die sogenaamde Jacobson-klier. Olifante gee uiting aan emosies en verkry inligting deur die uitruil van vloeistowwe afkomstig van hierdie klier. Deur die vloeistowwe vind hulle uit hoe dit met ’n ander een gaan, wat in sy of haar lewe aan die gang is, ensovoorts. Hulle is nie soos mense wat vir mekaar kan lieg en sê dit gaan goed terwyl hulle lewe eintlik al uitmekaarval nie.”
“En as hy my hand afbyt?”
“Hy byt net ontroue vroue se hande af.” Hy kyk na haar en skud sy kop. “Vir iemand wat volgens gerugte nie ’n bang haar op haar kop het nie, is jy skielik vreeslik beskeie.”
“As jy nou nog na die renoster-episode verwys ... ek het gesê ek is jammer, maar ek dink steeds nie iemand se lewe was in gevaar nie.” Terwyl sy praat, voel sy hoe die hoendervleis weer deur haar lyf trek, maar sy kry dit ook nie reg om verder weg te staan nie. Daar is iets betowerends daaraan om so naby die groot dier te wees.
Samuel voer hom ’n paar lemoene voordat hy omdraai en, nadat hy en die twee mans ’n rukkie lank gesels het, begin hy Jeep toe stap.
Ester drafstap agter hom aan en hy kyk oor sy skouer. “Waarheen is jy op pad?”
“Ek moet saam met jou ry.”
“Ek is op pad huis toe.”
“Jy moet my net eers terug kamp toe neem.”
Hy skud sy kop terwyl hy in die Jeep klim. “Ek gaan nie weer vanaand terug kamp toe nie. Dis ’n hele ent hiervandaan.”
Ester voel hoe haar nek letterlik warm word. “Moet asseblief nie nou kinderagtig wees nie.” Sy beduie met haar arm. “Verwag jy ek moet die nag hier deurbring?”
Hy skakel die Jeep aan en haal sy skouers op. “Ek weet nie wat jou planne vir die aand was nie. Miskien wou jy vannag saam met die olifante kom slaap het, of miskien was dit net ’n truuk om my te sien. As dit laasgenoemde was, wil jy seker nie nou al terug kamp toe gaan nie.”
“Ek kan nie besluit of jy verwaand, moedswillig of vies is nie.”
“Miskien iets van al drie.” Hy leun oor en maak die deur vir haar oop.
Sy klap die deur effens te hard toe en hy gee haar ’n skuins kyk.
“Jammer.”
Hy trek weg en vir ’n hele ent is net die dreuning van die Jeep se enjin hoorbaar. Dit het intussen donker geword en die twee kopligte baan die pad vir hulle.
“Ek het nie van die renoster-episode gepraat nie en ek dink