“Dankie vir jou moeite. Ek dink almal sal tevrede wees. Ek kan nie aan nog iets dink nie,” bedank Ester die meisie toe hulle deur al die lyste gewerk het.
Samuel staan buite toe sy uitgestap kom. “As jy klaar is, kan ons maar ry.”
“Waarheen gaan ons?”
“Na my huis toe.”
“Woon jy nie hier nie?”
“Nee. Ek woon ’n entjie hiervandaan.”
“Ek dog ons bly in chalets.”
“Dit was bietjie kort kennisgewing en ons het nie vir julle almal plek nie. Ons het egter van môreaand af vier tente beskikbaar en die res van die span het ons uitgeplaas na van die naburige lodges.”
“Tente?” Sy probeer haar Henry se gesig voorstel as hy weet hy moet in ’n tent slaap, om nie eens van die modelle te praat nie.
“Ek is seker julle sal dit nie te ongerieflik vind nie.”
Sy stap stil agter hom na waar ’n Willy’s Jeep eenkant onder ’n boom geparkeer staan. Sy sien dat hulle bagasie reeds oorgelaai is.
Net buite die kamp draai Samuel op ’n klein paadjie af wat lyk of dit parallel met die rivier loop. Ná ’n rukkie sak hulle af deur ’n kleiner, droë rivierloop en die Jeep se enjin brul teen die oorkantste wal uit. Hulle skud heen en weer, en ná omtrent ’n halfuur gewaar sy skielik ’n ouerige Land Rover langs ’n groot rots staan. Hy hou langs die voertuig stil en sy klim stram uit.
Daar is nie ’n beduidenis van ’n huis of selfs ’n gebou nie en sy weet nie of sy moet vra of maar net saamstap nie. Hy haal egter reeds hulle bagasie agter van die Jeep af en dan sien sy eers die kliptrappies wat lyk of dit in die rots verdwyn. Van nader sien sy dis eintlik twee rotse met ’n smal opening tussenin. Hulle klim ’n klompie trappies en sy kyk verbaas op toe hulle skielik op ’n ruim onderdak-houtdek uitstap. Op die vloer lê sebra- en ander wildsvelle. ’n Paar leerstoele en twee groot rusbanke staan om ’n groot koffietafel gerangskik. ’n Houttafel met agt stoele staan na die regterkant toe langs ’n halflyfmuurtjie waaragter iets soos ’n kombuis is. Die hele area is met ’n netjiese rietdak bedek. Eenkant, met ’n rots as agterkant, is ’n enorme vuurmaakplek.
’n Man met ’n swart broek en spierwit sjefbaadjie is in die kombuis aan die werk. Hy kyk op toe hulle nader gestap kom. Vir Ester lyk dit of daar vreugde in die donker oë kom lê. Miskien ook nie vreugde nie. Miskien eerder ’n diepe tevredenheid. Hy en Samuel groet met die hand. Die taal wat hulle praat, het sy intussen uitgevind, is Sjangaan. Ná ’n rukkie beduie Samuel na Ester.
“Dis Ester Green. Ester, dis Elias Nkuna. Kiki se pa.” Hy steek sy hand na haar uit, maar glimlag nie soos Moses of Kiki nie.
“Kom, laat ek jou gaan wys waar jy slaap.” Samuel stap na die linkerkant van die stoep en dit voel vir haar of hulle in ’n massiewe wildevyboom se takke instap. Dan sien sy die kronkelende loopvlak van hout tussen die reuse takke en om die stam. Toe sy afkyk, besef sy hulle is ’n hele entjie bo die grond. Die paadjie maak oop op wat soos ’n kleiner houtdek lyk, met ’n deur wat na die regterkant oopmaak. ’n Entjie voor haar sien sy nog ’n deur. Hy het egter reeds by die eerste deur in verdwyn en sy stap agter hom in ’n kamer in. Bo haar is ’n rietdak en teen die een muur staan ’n dubbelbed met spierwit linne en ’n muskietnet oor. Weerskante is twee kassies van ’n rooierige hout en net langs die boomstam is ’n paar hake teen die muur aangebring. ’n Regop kassie met laaie en ’n gemakstoel is die enigste ander meubelstukke. Sy het al in haar lewe op vreemde plekke geslaap, maar hierdie is selfs vir haar ’n eerste ervaring.
“Is jy nie bietjie oud vir ’n boomhuis nie?” vra sy voor sy haarself kan keer. “Is dit nie ’n fase wat alle seuntjies een of ander tyd ontgroei nie?”
“Klaarblyklik het ek nie myne ontgroei nie.” Hy wys na die laaikassie. “Daar behoort handdoeke en seep in te wees.”
Sy kyk om haar rond. Daar is nie vensters nie, maar oorkant die bed is houthortjies wat soos deure oopvou na twee gemakstoele en ’n houtreling. Sy stap uit op die stoepie en sien dat hulle letterlik op die rivierwal is. ’n Entjie onderkant hulle staan ’n olifant en ’n entjie verder aan kom twee kameelperde en ’n paar sebras na die groot poel water aangestap.
“Is hier iets soos ’n badkamer, of maak jy ook sommer gebruik van die rivierpoele?”
“Die badkamer is anderkant die braaiplek. Stap net met die lysie links om die rots.”
“En as ek vannag badkamer toe moet gaan?”
“In die laai behoort ’n flits te wees.”
“Hier is nie ’n heining om die plek nie.”
“Behalwe bobbejane, ape, luiperds en cheetahs het ek nog nooit juis enige ander dier hier gekry nie. Hulle beland gewoonlik per toeval hier as hulle dalk verdwaal en op ’n manier oor die rots kom.”
“Waar slaap jy?”
“Die volgende deur.”
“Woon jy alleen hier?”
“Ja.”
“Waarom woon jy nie by die kamp nie?”
“Ek het te veel Tarzan gelees toe ek klein was.”
Ester kyk hom skeef aan en hy glimlag.
“Destyds het dit soos ’n interessante eksperiment gevoel. En nou is ek gewoond hieraan en voel dit soos huis. As jy mooi kyk, sal jy sien dat dit eintlik tente is wat op die stellasies staangemaak is. Wanneer ek hier is, rol ons gewoonlik die kante op, maar as ons nie hier is nie, is dit ’n goeie manier om die plek toe te maak en te keer dat die ape en bobbejane nie oorvat nie. Nie dat hulle nie probeer nie.”
Hy tel sy tas op en stap verder met die houtpaadjie langs tot sy ’n deur hoor oopgaan. Sy staan nog ’n rukkie na die toneel onder haar en kyk. Die lug is besig om van donkerblou na swart te verander en sy ril liggies toe ’n veraf geroep opklink. Haar brein sukkel skielik om alles om haar in te neem en dis moeilik om te glo dat sy die vorige aand hierdie tyd nog in Londen was. Die wêreld het klein geword en sy is nie seker ’n mens se lyf is gemaak om so vinnig so ver te kan reis nie. Dit voel vir haar of sy haarself êrens in ’n stadium tussen die werklikheid en ’n droom bevind.
Sy draai om toe ’n geluid agter haar opklink en dan sien sy dis Elias wat ’n gaslamp op haar bedkassie kom neersit. Sy haal skoon klere uit haar tas en ’n handdoek en seep uit die laaikas en stap daarmee badkamer toe. Samuel het nie ’n grap gemaak toe hy van ’n lysie gepraat het nie. Die paadjie om die rots is ’n smal lysie, maar tot haar verligting is daar darem ’n ketting gespan waaraan sy kan vashou. Sy bly egter opkyk om te sien of een of ander dier nie bo-op die rots vir haar sit en kyk nie.
Die stilte om haar is byna oorverdowend, maar ná ’n oomblik besef sy dis ook nie waar nie. Die lug om haar is gevul met geluide. Voëls wat op verskillende toonhoogtes en met verskillende klanke in die bome om haar kwetter. ’n Entjie weg hoor sy die skielike skreeugeluid van ’n blouapie en tussen alles deur raak sy bewus van die lae dreuning van ’n stem wat een of ander vreemde lied sing. Sy ril weer liggies, maar steek in haar spore vas toe sy die badkamer gewaar. Sy is seker sy het nie ’n witgeteëlde badkamer verwag nie, maar sy weet sy het dalk iets meer as ’n halwe muurtjie met ’n toilet daaragter en ’n stort onder die opelug verwag.
Die rots onder haar voete is warm van die dag se son toe sy kaalvoet onder die stort instap. Die water is koel op haar vel en sy staan ’n lang ruk onder die lopende water voordat sy haar lyf begin was.
Daar lê ’n moegheid in haar wat niks met fisieke uitputting te doen het nie. Miskien is dit nie soseer in haar lyf nie, maar eerder in haar kop. Die dag het te veel emosies losgemaak en te veel woorde. Terwyl sy na Samuel Mcgreggor geluister het, was dit of ’n prop effens skietgegee het en woorde en gedagtes wat lank reeds ingeperk was, het begin uitkom. Dit was asof sy bewus was van ’n ander stem in haar kop en sy besef nou dis