Maar die aanstelling wat toe gemaak word in sy plek, op aanbeveling van Mattewis, is ou Adolf. Volgens Mattewis is hy voortreflik, sterk, nie lui nie, gaan hy nie gebuk onder die jongmanstreke van die jonges nie.
Ek vermoed hy is ook minder kompetisie by die jong vrouens by die stasie, maar ek sê dit liewers nie.
Mattewis is soos die meeste aanbevelers van personeel in enige werkkring, want dis hosanna voor die aanstelling, en kruisiging daarna, wanneer die goeie engel wat aanbeveel is, ’n kleierigheidjie aan die voete blyk te hê.
Soos dit maar met kantore, werkkringe, die liefde, die vriendskap en dié soort dinge gaan.
Hosanna tot kruisig – dis ongeveer ons aller lewensloop.
Ou Adolf val toe in. As inval nie ’n te sterk woord is nie.
So teen die tweede dag roep ek Mattewis nader en ek vra hom hoe vaar die ou, want vir my lyk dit maar of hy hom met moeite voortsleep tussen die kweek wat hy uit die roostuin moet haal.
Nee, sê Mattewis, dis nie dat die ou baie vinnig is nie, maar hy’t kop vir kweek.
Dis ’n groot kompliment om ’n kop vir iets te hê. Mattewis reken ek het net kop vir skryf. Hy lees nie goed nie. Maar ou Adolf het kop vir kweek.
Oor kweek en populierwortels het ek en Mattewis soms ’n tegniese geskil – soos ook oor uintjies. Ek verkondig naamlik dat as jy ’n uintjie nie uittrek voor hy saad maak, en dan nog soveel bolletjies saam uittrek as wat menslik moontlik is nie, die ding weer groei. Net soos kweek, of populierwortels, of ander kruipende vuilgoed.
Mattewis meen dat as jy die ding gereeld bo afskoffel wanneer hy kop uitsteek, jy hom naderhand moedeloos maak en dan vrek hy tot in sy siel.
Ook ’n waarheid, gee ek toe, maar meer vir ander lewensterreine soos die huwelik, die literêre kritiek, en menslike verhoudinge in die algemeen.
Mattewis reken ook die uittrekkery is te stadig. Jy sien, soos jong Thomas, nie jou resultaat gou genoeg nie.
Om dus skielik te verneem van iemand wat kop het vir kweek, is ’n openbaring. Ek gaan dus maar kyk.
Om ’n kop te hê vir kweek, is verskriklik Dis al weer droog hier by ons – die mielies draai toe in die middag, die pampoenblare hang, die vyeboom se belowende Desemberdrag vergaan in klein, klipharde stukkies droëvy.
As jy dus, in die droë tye, ’n kop vir kweek het, slenter jy eers oor en gaan koppel ’n tuinslang aan die suiping uit die kanaal. Dis so ’n drupwatertjie wat jou toegelaat word.
Dan sleep jy die ander punt van die tuinslang na jou gekose kweekrank.
Dan stap jy terug en gaan draai die water oop.
Dan gaan sit jy op jou hurke en kyk hoe die trae watertjie die kweekrank week.
Dan wag jy.
Dan besluit jy.
Dan trek jy die geweekte rank met wortels en al uit die grond.
Dan gaan eet jy.
Terwyl jy die water laat loop waar daar geen kweekrank naby is nie.
Dan het jy klaarblyklik ’n kop vir kweek.
Ek roep Mattewis en ek sê iets soos nee-o-bleddie-magtag, só kan dit nie aangaan nie.
Die teenargument is duidelik en logies:
1. ek het gesê ek verkies die uittrek-sisteem bo die afskoffel-sisteem;
2. die grond is so hard dat alles agterbly as dit nie eers geweek word nie;
3. dit volg dus dat om die opdrag in sy totaliteit uit te voer, ou Adolf korrek te werk gaan, aangesien hy my opvattings oor kweekverwydering deel.
Ek sê dan moet ons maar wag vir reën en die hele spul uittrek.
Mattewis kyk na die lug soos net ’n Wes-Transvaler in Januarie kan – die houding in Wes-Transvaal sê dan oor reën net een ding: moenie laf wees nie.
Ek sê hom hy moet die dodder loop brand voor hulle ons aangee.
Hy kan maar gou vir ou Adolf help om die kweek in die roostuin, met die droogte, moedeloos te skoffel, sê hy.
Hy wen en hy weet dit.
Later sê hy luiheid is om soos ek te wees. Jy kyk en jy dink meer as wat jy aan die gang kom.
Verder kry jy ’n pens.
Kyk vir ou Adolf.
Ek voel skielik oneindig dik, vat die paraffien, en gaan brand die dodder langs die land self.
In die roostuin skoffel Mattewis en ou Adolf, sommer met die graaf, dat die stof so staan.
’Seblief, dieselfde ene …
Nou ná die reëntjie het die spul hier by ons aan die bot gegaan. Alles is aan die groei of die somer nie lank genoeg gaan wees saadskiet toe nie. Uintjies vooraan, soos altyd.
Ons is filosofies daaroor. Dis lewensfeit dat die sonde vooraan tier. ’n Mens se hart is ook maar ’n groentetuin waar jy die goeie wil laat groei en die kwade self opkom.
Jy plant, sê ek vir Mattewis, goeie voornemens, en die onkruid van jou swakhede groei die beste toe.
Vat nou die ding met Faantjie wat so gedwaal het.
Dié kom hier aan, sommer vir die kuier, want hy weet ek is allenerig en hy’t nie geld vir ander vakansie nie. Ek sê welkom, welkom, want hy’s ’n aangename jong man, en hy’t ’n wag in hom wat nie maklik is nie.
Sy meisie is oorsee, hy’t die skoot hoog deur, hy skryf briewe met baie seëls op, dikkes. Hy kou aan penne wanneer hy sy liefde probeer in woorde kry, vind ek uit, en hy kou sy naels tot in die lewe. Van wag.
Een oggend kry ek hom waar hy in die gang op die naakte mat lê en slaap. Hy verduidelik dat hy maar daar gaan lê het, want sy sou dalk bel en hy was bang hy hoor nie die foon lui nie.
Hy loop dus met hartseer oë rond toe twee dinge gebeur.
Die een was die ding met Mafoeta se gans, en die ander een was die wangedrag van ou Hennie se stuk.
Ek begin maar by ou Hennie.
Hennie is, as jy hom so kyk, nie eintlik iemand wat jy in ’n film vir ’n romantiese held sou gebruik nie. Die tering het hom sonder genade verteer, sy stem is nie vir die liefde gemaak nie, sy hele aanskyn is, na die beste van my oordeel, nie eintlik inspirerend vir vroueharte nie.
Maar hy’t toe nuwe lewe in hom, want ’n heel stewige vrou het by hom ingetrek, sy meel geëet, selfs ’n keer of twee kom help skoffel. Sommer verniet. Om maar ’n bietjie naby hom te wees in die dag ok, sê hy my.
Kom ons laat sy storie ’n oomblik en kyk na die geval Mafoeta.
Hier tussen die ganse was daar een wat Mafoeta aangeneem het. Die liefde was wedersyds, so wie wie aangeneem het, kan ek nie sê nie.
Maar dit was tog iets om te sien. Waar hy geloop het, het die gans agterna gefoeter. Die gans het hom gesoek. As hy moes skool toe, dan moes die gans hok toe, want anders het die ding die plaas vol geloop en soek.
Ek weet nie hoe lyk ganse as hulle bly is nie, maar as Mafoeta van die skool af kom, was daardie gans bly. En wanneer hy moes gaan slaap, het die gans met weemoed in die hok agtergebly.
So, toe Faantjie sy treur hier by ons treur, was dit die stand van sake: ou Hennie was verlief, en Mafoeta en sy gans was baie dik.
Toe kom die nare Saterdag.
Ek en Faantjie is dorp toe, en waar wiele draai, is Mafoeta by.
Met die terugkom, sien ek die ganse in die hok is minder, so die man wat ’n paar wou hê, het kom haal.
Mafoeta se oë soek tussen die ganse rond en die duiwel het sy gans vir die vreemdeling gegee. Daar’s nie baie sentiment in Mafoeta nie. Hy’s