Kortetjies en 'n lange. PG du Plessis. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: PG du Plessis
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Юмористические стихи
Год издания: 0
isbn: 9780624051350
Скачать книгу
kom kry, het jy meer plantjies as waarvoor jy in jou wildste drome gehoop het. Dan plant jy maar uit, want mors wil jy nie, en dan het jy te veel rape. Met rape werk dit so. iemand sal dit seker eendag kan verklaar, maar op die oomblik is dit maar net so.

      Hy skilderkuier toe, sê Frans, by ’n baie aangename gesin – op ’n keer toe die rape so in oorvloed is.

      Weggooi kan jy die goed nie, en jy voer dit eers later vir die vee. Aan die begin wend jy enige poging aan om soveel moontlik saam met die gesin te verorber. Mors is sonde, en die verkwister is die broer van die verwoester.

      Dus: met raaptyd word daar ernstig probeer om die surplus eetbaar te kry.

      Die gesin, sê Frans, bestaan uit die ouers en vier baie oulike seuntjies. Mitsgaders dan, vir die oomblik, hulle skilderkuierende gas.

      Nou, sê Frans, ’n mens moet in die raaptyd ook maar versigtig van jouself as ’n huisgas praat. Dis al of dié woord in die raaptyd – uit die aard van die raap se gastronomiese werking – ’n dringendheid ontwikkel wat die gebruik daarvan baie na aan ’n pynlike werklikheid bring. Jy praat eenvoudig nie van jou kuiermense as huisgaste in die raaptyd nie, want jy weet nooit in watter toestand jou kuiermens verkeer, wat hy in stilte sit en beplan, of wat hy dalk reeds in stilte begaan het nie – as ons sy segswyse en sinsbou sal verskoon, sê Frans.

      Maar dis by aandete, in die raaptyd, by die mooi gesin, waar hy so baie geleer het van sowel opvoeding as maniere.

      Die aand aan tafel, met die ete waarvan rape onder meer deel uitgemaak het, kraak die oudste seuntjie se stoel kwaai.

      Hy sê: “Askies, mense.”

      Die ete gaan voort.

      So met die voort-eet, kraak die stoel van die tweede oudste, en hy sê: “Askies, mense.”

      Die ete gaan voort.

      Die derde oudste outjie se stoel kraak toe, en hy sê sy “Askies, mense” en hulle eet voort.

      Frans sê dat hy toe in ’n soort spanning begin verkeer, want hy ken rape en hy ken klein seuntjies.

      Die jongste outjie se stoel het hom naamlik nog nie geopenbaar nie, en hy vrees dat daardie stoel dalk met ’n opgeboude kraak opgeskeep sit.

      Dit was toe ook ’n kraak der krake wat daardie outjie se stoel onder hom gekraak het.

      Die kraak word gevolg deur doodse stilte.

      Die pa van die gesin wag ’n rukkie en toe spreek hy sy jongste skerp aan:

      “Wat dink jy vang jy aan?”

      Frans en die outjie is toe ewe verbaas. Daar is duidelik diskriminasie en dubbele standaarde aan die werk oor die gekraak van stoele.

      Die jongste sê dus bietjie verbouereerd: “Pa?”

      “Hoe moet jy sê?” vra die pa.

      “Askies, mense,” sê die outjie en die ete gaan voort.

      Die pa kyk Frans toe in die oë en hy sê: “Nee, as daar een ding is wat ek my kinders leer, dan is dit maniere.”

      Maniere is nie so onverstaanbaar nie, sê Frans, dit hang maar af hoe jy na die ding kyk.

      Want die pa sê toe: “Askies, mense,” en hulle eet verder.

      En toe sê Beëlsebub …

      As dit aand word hier op die plasie waar ek my sit sit, en die son trek kop-uit agter die denne, kom rem die alleen soms aan my baadjiepante.

      Dan vroetel ek ’n stuk vleis uit die vrieskas los, ignoreer die dooie-vis-oog van die TV, maak vuur, kry my sit en wag vir die verlatenheid.

      Dié daag op soos die nag kom. Die honde in die verte raak stil, die paddas raak moedeloos geroep na die liefde – of vind in stilte hul vervullings waarmee hulle my visdam besliert en bepaddavis.

      Dis dan, in die alleen, dat daar soms ’n man uit die donker van die bos kom.

      Noudat hy al baie hier was, kom hy sommer in sy werksklere.

      Hy heet B. Satan. Die B staan vir Beëlsebub.

      Hy kom uit ’n warm deel, sê hy my, dié dat hy, noudat ons mekaar beter leer ken, sommer met sy voete in die vuur sit, my kookwater drink en my pyp aan die brand blaas as ek ’n bietjie sukkel.

      Die eerste keer toe hy hier opdaag, was hy formeel gekleed, maar ek kan dit verstaan, want hy het afgekom vir die sinode.

      My nog vertel hoeveel seën hy op sy arbeid gehad het onder die swartspan.

      Toe hy vanaand gaan sit, sien ek hy’s moeg, en ek vra hom daarna.

      Hy was laas so moeg, sê hy, toe hy by die VV was.

      Dinge is nie meer wat dit was nie, sê hy, want hy’t deesdae soveel dissipel-probleme dat hy al daaraan begin dink het om af te tree en oor te stap na die goeie kant toe. Moeilik en vernederend soos so iets vir elke selfrespekterende duiwel sal wees.

      Jy kan g’n duiwel meer vertrou nie, sê hy.

      Die enigste goed wat hom nog moed gee, en wat sy span geesdriftig hou, is die sukses wat sy kollega Broedertwis op die oomblik onder die Afrikanermense het.

      Want hulle het ook al in verdoemenis-bestuur geleer, as dit goed gaan met een van die seniors, dan kry hulle ook op ander gebiede goeie resultate.

      Nou met Broedertwis se sukses gaan dit volgens berigte ook sommer baie beter met die Lieg- en Nyd-afdelings.

      Maar dis lokale sukses.

      Wat help dit jou, vra hy maar net, om hier ’n stukkie sukses van Persoonlike Ambisie te sien en daar te sien hoe Agterbaksheid iets regkry, as hy nie sy span sover kan kry om die spulletjie by Geweld uit te kry nie?

      Wat hy nie kan verstaan nie, en hy werk seker al vyf-en-dertig eeue met politici, is die wyse waarop twee van sy teenstanders, Deernis en Geregtigheid, blykbaar deesdae ’n inspraak kry – selfs tot by die wetmakers.

      Nie dat hy sy kollega Persoonlike Ambisie wil beskuldig van laksheid nie, want die man het met die skeuring buitengewoon goeie kwaad gesteek, maar hy vind tog dat hy beter kon vaar aan Regeringskant.

      Jy kan nie verwag om die kwade behoorlik te bedryf as jy laat slaplê by besture nie.

      So, ek moet hom nie kwalik neem as hy soms bietjie moedeloos voorkom en nie so lughartig as gewoonlik aan my kookwater drink nie.

      Om hom te laat beter voel, vra ek hom hoe Wellus deesdae vaar.

      Gemiddeld, sê hy. Dit gaan goed met die media-poging wat, soos ek weet, veral berus op die lyfblad wat Wellus op die agterblad van ’n sekere koerant aanhou, maar nou met die seksrevolusie aan die taan, verwag hy baie minder siele uit daardie rigting.

      In elk geval sal Wellus nie sy begroting vir die jaar haal nie.

      So hy het maar aanbeveel dat hulle plan B moet voortsit met die broedertwis. Daarom het hy ook nou gesê Leuen moet van sy mindere dissipels soos Reglieg, Kwaadstook en Skinder harder inspan, want hy weet my mense het ’n vatbaarheid daarvoor. Hy kan name noem van onlangse suksesse, as ek wil.

      Ek sê hy moet maar liewer nie, want met die politiek vermoei ek my liefs nie.

      O, sê hy. Hy het reeds gedink ons twee kan dalk ’n ooreenkoms sluit.

      Nee, hy hoor by sy media-man dat ek nou in ’n Sondagkoerant gaan skryf. Hy’s nie ongeneë om mee te werk nie, ek moet maar my prys noem. Hy kan weer juffrou Bellie Shataan afstuur as ek dalk …

      Ek sê nee, groot soos die versoeking is, liewer nie, want mooi soos sy is, en flink en alles, sukkel ek bietjie om aan haar swawelparfuum gewoond te raak. En al lieg die mense, is dit tog of die huis bietjie daarna ruik.

      O, sê hy. Daarna kan ons omsien. Ons kan parfuum van die ander kant af …

      Nee, sê ek.

      Maar kan