Jon skuif verlig oor na die ander tafel toe. “Hier kom my ontbyt ook nou net. Wat is dit met die vroumense, Danie, klein en groot?”
Danie glimlag breed. “Dierbare ergernisse. Dit wil vir my lyk die tienervroumense is die moeilikste van almal.”
“Dis nie altemit nie.” Jon gooi sout en peper oor sy eiers en begin eet. “Daardie meisiekind van my gee my grys hare.”
“Miskien kort sy ’n ma.”
Jon skud sy kop. “Ek dink nie daar is iemand wat Mariska se skoene sal kan volstaan nie. En trou vir Taryn se onthalwe kan ek nie. Oor vier jaar is sy uit die huis en dan is ek steeds getroud.”
Danie lag. “Ja, as jy dit só stel …”
“Is Gert Beetge jou pasiënt?” vra Jon.
Danie knik. “Hy’t my gesê julle speel saam muurbal. Hoe hy so lank uitgehou het, weet ek nie. Die x-strale toon ’n groot diskusherniasie na posteriorvlak L4 tot L5. Daar is reeds geringe neurologiese uitval.”
“Dis die ou storie,” sê Jon. “Ons rugbybeserings haal ons almal hier by die middeljare in. Hy is een van die fiksste mense wat ek ken.”
“Dit sal sy herstel bespoedig.” Danie roer sy koffie. “Ek hoor daar was weer ’n voorval in die personeel se parkeerarea.”
Jon trek sy oë op skrefies. “Ek weet niks daarvan nie?”
“Dit het gisteraand gebeur; Wilmie het ons nou net vertel.”
“Wilmie?” Jon frons en vee sy mond met die servet af.
“ ’n Troetelnaam vir dokter Neveling,” grinnik Danie. “Ons twee het saam gestudeer.”
“Ek verstaan.” Jon stoot sy bord terug. “Ek het eintlik uit die afskeidsgroet afgelei dat julle mekaar ken.”
Danie knik. “Ons kom ’n lang pad saam. Ons groep het altyd op universiteit saam gejol. Wilmari en Rheeder – dit was haar verloofde – was versot op mekaar. Hy en Wilmie se broer was albei fanaties oor die natuur en Wilmie is elke vakansie saamgesleep op hulle goggavang-ekspedisies. Ek glo nie hulle het ooit ’n normale vakansie gehad nie – dit was altyd met ’n tent en ’n bakkie die bosse in. Rheeder was amper klaar met sy studie as bioloog toe hy met leukemie gediagnoseer is. Hy is aan die einde van Wilmie se finale jaar oorlede.”
Danie se gesig raak somber. “Dit was ’n hartseer tyd vir ons almal. Wilmie kon nie sy dood verwerk nie en is oorsee vir ’n jaar. Ons het toe eintlik kontak verloor.”
“Jy wou my vertel van die aanval,” herinner Jon hom.
Danie herhaal wat Wilmari gesê het.
Jon pers sy lippe saam. “Die wagte het gerapporteer dat iemand die ligte by die personeelafdakke gevandaliseer het. Dis onaanvaarbaar! Die man raak mak. Peet sal ’n plan moet maak. Ek kan nie toelaat dat my personeel aangeval word as hulle hulle werk doen nie.”
Danie staan op. “Ek moet gaan, JD, my volgende pasiënt is seker nou daar. Dankie vir die geselskap.”
Jon kyk afgetrokke na die gewerskaf in die koffiewinkel toe Danie weg is. So, die parmantige navorsertjie het toe haar rieme styfgeloop in die parkeerarea. Hy trommel met sy vingers op die tafel. Die probleem moet dadelik hanteer word, al moet hulle ’n lokval stel.
Dan glimlag hy skeef. Wilmie … Sy loop met haar eie bagasie, net soos hy. Die foto op haar lessenaar is seker van die verloofde.
Hy het haar weer vanoggend sit en bekyk terwyl Taryn sy lewe vergal het. Sy is sjarmant en ontspanne wanneer sy saam met vriende is, en sy het ’n mooi lag. Net jammer sy verander in ’n ystervarkie met uitstaanpenne wanneer hy naby kom. Miskien moet hy haar vra om met Taryn te help. Die twee sal mekaar verstaan.
Hy wonder meteens of dit ’n goeie ding is dat sy met kankernavorsing werk as sy nog rou oor haar verloofde. Is haar kompulsiewe werksure nie dalk ’n ontvlugting van die harde realiteite van die onkologie-afdeling nie? Sou professor Tayban van haar persoonlike tragedie bewus wees? Hy sal moet uitvind.
Hy voel weer die verontwaardiging in hom opstoot oor haar kortaf optrede die vorige aand. Miskien is hy net bederf, maar hy het gewoond geraak aan die respek van sy personeel én belangstelling van die vroulike geslag. Wilmari Neveling het hom eenvoudig geïgnoreer en aangegaan met haar werk. Die skok op haar gesig toe sy besef dat hy nog in die kantoor is, het hom oortuig dat dit nie toneelspel was nie. Net so maklik kon die aanvaller haar daar in haar kantoor oorrompel het.
Hy stoot sy stoel terug en stap toonbank toe om sy rekening te betaal. Vreemd dat hy skaars bewus was van Salomien by die tafel langsaan, maar heeltyd bewus gebly het van die donkerkop. Salomien gee nog vir hom om, hy kan dit aanvoel, maar sy jaar lange verhouding met haar lê ver in die verlede. Sy is ’n dierbare mens en ’n knap bemarkingsbestuurder, maar sy kon dit nooit regkry om sy hart aan te raak nie.
Jy is oud en sinies, betig hy homself toe hy uitstap, en naïef om te dink dat daar nog so iets soos die opwinding van eerste liefde vir jou kan wees.
Hy haal sy selfoon uit sy sak en skakel die operasionele bestuurder om hom na sy kantoor te ontbied. Peet moet sy afdelingshoofde bymekaarkry en die saak van die aanvaller vandag nog takel.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.