'n Week van passie. Hetta Kotze. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Hetta Kotze
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624050469
Скачать книгу
jy by ouma Tara Strydom aangaan?” vra Tiyika en beduie na die enkelkamer langsaan.

      Wilmari knik. “Daar was gister besoekers by haar. Ek sal haar graag wil ontmoet. Die diagnose is lewerkanker, as ek reg onthou?”

      “Ja.” Tiyika maak ’n aantekening in haar notaboek. “Sy is ses en sewentig en het twee jaar gelede ’n beroerte gehad wat haar aan die regterkant verlam gelaat het. Sedertdien woon sy by haar jongste seun. Ek verstaan dat al die kinders bydra tot haar versorging. Die tuisverpleegster wat haar al twee jaar lank oppas, kom elke dag Môreson toe om haar te was en na haar om te sien. Dis ’n baie hegte familie – daar is altyd iemand by haar.”

      Ouma Tara kyk moeg op toe hulle binnekom. Langs die bed sit ’n middeljarige vrou haar hand en vashou. ’n Swart vrou is besig om tandepasta op ’n tandeborsel te sit.

      “Dis dokter Neveling, mevrou Strydom,” sê Tiyika hard. “Sy doen navorsing hier in ons afdeling en wil jou graag ontmoet.”

      Ouma Tara knik. “Dag, dokter.”

      Die woorde kom moeilik en Wilmari moet mooi luister om dit uit te maak. “Het u pyn?” vra sy.

      Ouma Tara skud haar kop.

      Wilmari trek die lêer uit die rakkie aan die onderpunt van die bed om dit te bestudeer. Sy merk dat die dosis morfien, wat deur middel van ’n plakkertjie onder ouma Tara se skouerbeen toegedien word, reeds hoog is.

      “My ma is eintlik net hier vir ’n paar chemoterapiebehandelings,” sê die vrou langs die bed. “Sy het ’n knop in haar skouer ontwikkel en dit hou aan groei en veroorsaak baie pyn. Toe het die spesialis gesê hulle gaan die knop bestraal om die gewas te verklein. Hulle doen nog waarneming, en sal Maandag met die behandeling begin.”

      Wilmari plaas die lêer terug en lê haar hand op ouma Tara se arm. “Daar loop ’n perdestert van senuwees van die nek af deur die skouer,” verduidelik sy vir die dogter. “Dis waarom dit vir jou ma soveel pyn veroorsaak as die knop daarteen druk.”

      Sy glimlag vir ouma Tara, wat haar nou onrustig lê en dophou. “Kan ek u gou ondersoek?” vra sy hard, en die ou vrou knik.

      Wilmari ondersoek haar vlugtig en vra nou en dan ’n vraag, wat deur die dogter of die hulpverpleegster beantwoord word. Dan groet sy vriendelik en beweeg saam met Tiyika na buite.

      “Ons het eintlik die kamer nodig,” sê Tiyika gedemp, “maar die nagsuster het haar uit die saal hierheen geskuif omdat haar dogter nou snags by haar wil slaap.”

      “Wanneer is die diagnose gemaak?” vra Wilmari.

      Tiyika kyk na haar notas. “Drie weke gelede. Volgens die familie is die spesialis se prognose dat haar lewensduur drie tot ses maande kan wees.”

      Wilmari skud haar kop. “Hou haar in die enkelkamer, verpleegster, sodat die familie haar kan besoek. Verwys asseblief enige navrae oor die besluit na my. Ek glo nie dit gaan vir ouma Tara nodig wees om bestraal te word nie. Dis een van die aggressiefste kankers wat ek nog teëgekom het. Hou julle die pyn goed onder beheer?”

      “Ja, dokter. Ons gee ’n morfienstropie by wanneer die plakkertjie nie genoeg is nie,” knik Tiyika.

      “Dis goed.”

      Toe hulle weer by die saalontvangs kom, staan ’n slanke vrou met lang blonde hare vir hulle en wag. Sy groet Tiyika en steek dan haar hand na Wilmari uit.

      “Bly om jou te ontmoet, dokter Neveling. Ek is eintlik hier om jou vir ontbyt by die koffiewinkel te nooi. Ek is Salomien Bruwer, Môreson se bemarkingsbestuurder.”

      “Aangenaam,” glimlag Wilmari toe sy die vrou se hand skud. “Ek het juis vroeg vanoggend toe ek die koffie ruik gedink ek moet daar uitkom. Dit sal heerlik wees.”

      Sy huiwer en kyk na Tiyika. “Net nog een saak, verpleegster: weet jy van enige klagtes oor vreemdelinge wat snags in die parkeerarea ronddwaal?”

      Tiyika en Salomien verwissel ’n vinnige blik en Tiyika lyk meteens bekommerd. “Waarom … vra dokter?”

      “Net gewonder.” Wilmari trek haar skouers op. “Daar was ligte gebreek by die personeelparkering gisteraand. Die sekuriteitswag het toe vir my met sy flits kom lig om die glasstukke mis te ry. Toe ek wegry, kom daar ’n ander motor verby, en ek het my verbeel ek sien in die ligte iemand in ’n blou hemp teen die gebou skuil.”

      Tiyika suig haar asem hard in. “Norman het gisteraand ’n man met ’n blou hemp by die ambulansparkering gekonfronteer! Die man het gesê hy het ’n pasiënt besoek en hy’t op pad uit verdwaal!”

      “Norman Khoza is die hoof van ambulansdienste,” verduidelik Salomien vir Wilmari. “Jy moet dit maar rapporteer, Tiyika.”

      Sy glimlag vir Wilmari. “Kom, ek sal jou tydens ontbyt ’n bietjie meer oor die saak vertel.”

      Toe hulle op die grondvloer uit die hyser stap, kom ’n lenige man geklee in ’n netjiese pak klere verby en groet Salomien. Dan ruk hy tot stilstand. “Wilmie!”

      Wilmari draai verras na hom toe. “Danie? Ek het nie geweet jy’s nou hiér nie.”

      Hy omhels haar sonder huiwering en soen haar.

      Dan staan hy terug en bekyk haar waarderend. “Ek praktiseer nou al vir ’n jaar as ortopeed hier. Jy lyk goed! Wat maak jý by Môreson?”

      “Ek is besig met navorsing.” Wilmari draai terug na Salomien, wat hulle geïnteresseerd dophou. “Ek en Danie het saam gestudeer,” verduidelik sy.

      “Toe kies Wilmari koers oorsee en ek gaan maar aan met my studies,” voltooi hy en sug oordrewe.

      “Ons sien jou nie dikwels so uitgelate nie, Danie,” terg Salomien. “Wil jy nie saam ontbyt kom eet nie?”

      “Ek laat my nie twee keer nooi nie.” Hy vryf sy hande ingenome saam. “My eerste afspraak is gekanselleer, so ek het tyd. Dis in elk geval min genoeg dat ek en jy kans kry om te gesels, Salomien.”

      “Dis omdat ons almal so besig is,” skerm sy.

      “Wat behels jou navorsingsveld?” wil Danie by Wilmari weet toe hulle verder stap.

      “Onkologie. Ek is verbonde aan professor Tayban se kankernavorsingseenheid.”

      Danie steek verbaas vas. “Onkologie? Maar …” Hy swyg toe hulle by die koffiewinkel instap.

      “Wat van daardie tafel in die hoek?” vra Salomien.

      Wilmari kyk om haar rond. Die atmosfeer in die koffiewinkel is ontspanne en huislik en daar is baie beweegruimte. Die tafels het elkeen ’n vrolike tafeldoek en ’n potjie blomme op. Hulle het skaars gaan sit, toe is die kelner byderhand met die spyskaart. Hulle bestel ontbyt en Salomien vra dat die koffie dadelik gebring word.

      Tydens die gesprek wat volg, hoor Wilmari by Danie dat hy geskei is. Salomien wei uit oor die werksaamhede by Môreson.

      “Jy wou my nog vertel oor die man in die parkeerarea,” val dit Wilmari by.

      “Man?” vra Danie skerp.

      Wilmari vertel hom van die vorige aand se voorval en hy kyk geskok na haar.

      “Daar is al drie gevalle van aanranding deur damespersoneel aangemeld,” sê hy en frons vir Salomien. “Julle sal JD dadelik moet inlig.”

      Wilmari ril. “Is … die ander beseer?”

      “Twee kon met bloukolle wegkom,” sê Salomien, “die derde een is byna verkrag. Daar is reeds ’n klomp veiligheidsmaatreëls ingestel – jy’t seker agtergekom die kantingange is gesluit. Dis ’n nagmerrie vir bestuur.”

      Hulle ontbyt word bedien en terwyl hulle eet, groei Wilmari se skuldgevoel oor haar blatante verontagsaming van Jon van Jaarsveld se raad. Die man het werklik goed bedoel. As hy net minder dominerend opgetree het! Dis oor hy beheer van die situasie geneem het dat sy ergerlik geraak het.

      ’n