Die kreatuurtjie val in ’n stoel by die tafel skuins oorkant hulle neer en skud haar kop toe die kelner naderkom. Dan vroetel sy in haar skouersak en haal ’n sigaret en ’n aansteker uit.
“Sy weet goed sy mag nie hier binne rook nie,” sê Danie onderlangs. “Hoe moedswillig kan ’n mens wees?”
Die kelner haas hom nader toe die meisie die eerste rook uitblaas. Hy beduie na die buitenste tafels en sy trek ’n gesig. Sy druk die sigaret heftig dood in die asbakkie wat hy haastig neersit.
Salomien skud haar kop. “Arme JD, lyk my sy ruk nou heeltemal handuit. Dis Taryn, direkteur Van Jaarsveld se dogter,” verduidelik sy toe Wilmari vraend na haar kyk. “Sy was tot ’n paar jaar gelede, toe haar ma dood is, nog ’n dierbare kind.”
Wilmari bestudeer die eienaardige stukkie mens onderlangs terwyl hulle verder eet. Almal in die restaurant word om die beurt met ’n uitdagende blik aangestaar. Wilmari moet haar wange byt om die glimlag te keer.
“Ja, baie dinge het verander nadat Mariska dood is,” sê Salomien sag. “Sy was ’n sjirurg hier by Môreson voor die ongeluk. ’n Bus se remme het onklaar geraak en dit het oor ’n rooi lig in haar vasgejaag. Sy is op slag dood.”
Wilmari knik toe die kelner met die koffiepot naderstaan om hulle koppies weer te vul. “Miskien is dit net die storms van die tienerjare,” sê sy en skeur ’n pakkie suiker oop.
“Miskien.” Salomien kyk peinsend na die meisie. “Ek onthou haar as ’n dierbare dogtertjie met ’n skaam glimlag toe ek drie jaar gelede by JD … gekuier het.”
Danie sit sy mes en vurk langs mekaar op die bord neer en skuif met ’n tevrede sug terug in sy stoel. “Dit was nou lekker.”
Hy grinnik vir Salomien. “Wat vang jy deesdae vir ontspanning aan?”
Sy lyk waaksaam. “Nog dieselfde. Ek lees, ek kweek orgideë en woon operas by. En jy?”
Hy knipoog ondeund vir haar. “Ek toets steeds eetplekke uit. Wil jy nie Vrydagaand saamkom en jou opinie gee nie?”
Salomien skud haar kop. “Dankie, maar ek het ongelukkig reeds ’n ander afspraak.”
“Selfde ou Salomien,” terg hy. “Wat van weer ’n bietjie saamkom op ’n hengeluitstappie? Ek gaan Saterdag Rietvleidam toe.”
Sy lag meteens helder. “Oor my dooie liggaam! Ek onthou nog goed hoe die brommers laas oor my tjoppie baklei het. Daar kom JD nou.”
Jon van Jaarsveld kom binne en groet met ’n kopknik toe hy verbystap na sy dogter toe. Sy kyk hom onstuimig aan toe hy gaan sit en draai dan haar kop weg.
Hy sien die sigaret raak en dis duidelik dat hy streng met haar praat voor hy sy bestelling aan die kelner gee. Sy kyk verby hom in die verte en lyk verveeld. Hy pers sy lippe saam en kyk af na sy hande. Dan begin hy weer met haar gesels.
Wilmari besef dat almal om hulle tafel stil geraak het. Salomien sit JD en dophou met ’n weerlose trek op haar gesig, en Danie frons vir sy bord.
Drie mans kom die koffiewinkel binne. Hulle gaan sit en bestel koffie. Wilmari herken hulle as ouma Tara se familie. Hulle sit en skerts, maar bekommernis lê swaar op hulle gesigte.
“Ons reël ’n spanbou by Impunzi-natuurreservaat vir volgende naweek,” begin Salomien weer gesels. “Julle is albei op die gastelys, so hou die naweek maar oop.”
Wilmari skud haar kop. “Baie dankie,” keer sy haastig, “maar dis sekerlik net vir julle personeel? Ek is weer oor ’n paar maande weg. Buitendien het ek dringende werk om af te handel.”
“Ek is bevrees jy het nie ’n keuse nie, Wilmari,” sê Salomien. “Wanneer jy in die geneesheerkorps van Môreson dien, tydelik of permanent, is jy outomaties ingesluit by al die personeelaktiwiteite. JD is baie streng daaroor.”
Danie knik instemmend. “JD het spesiaal ’n soort ruilooreenkoms met een van die Sandtonklinieke beding. Hulle personeel los hier af wanneer ons personeelsaamtrekke het, en ons los weer by hulle af wanneer nodig. Jy sal nie uit hierdie een kan kom nie, my liewe Wilmie.”
“Ek wil net nie julle geld en tyd mors nie,” gee Wilmari toe. “Eintlik sal dit lekker wees – Bennie is wildbewaarder daar.”
“My magtig!” Danie lyk verbaas. “Ek het gewonder of hy toe by sy ideale uitgekom het.”
“Bennie is my jonger broer,” verduidelik sy vir Salomien. “Hy en my oorlede verloofde het ’n passie vir die natuur gedeel.”
“Dis dan gaaf dat jy hom ook sal sien.” Salomien kyk op haar polshorlosie. “Ek het ’n ander afspraak, so julle sal my moet verskoon. Dankie dat julle kom saameet het.”
“Ek gaan nog koffie bestel,” sê Danie. “Dit en die ete sal vir my eie rekening wees, Salomien, dankie. Wil jy saamdrink, Wilmie?”
Wilmari skuif haar stoel terug. “Beslis ’n ander keer, dankie, maar ek het ’n dringende verslag wat ek moet afhandel en deurneem na professor Tayban toe. Dankie vir die ontbyt, Salomien.”
“Ek e-pos die reëlings vir die naweek,” belowe Salomien toe sy wegstap.
Danie kyk haar agterna, en vir ’n onbewaakte oomblik sien Wilmari die verlange in sy oë. Hy is verlief op Salomien, besef sy.
“Ek moet gaan.” Sy leun vorentoe en soen hom vlugtig. Toe sy regop kom, is sy bewus van Jon van Jaarsveld se blik op hulle.
“Haai!” Danie vang haar hand vas en beduie met sy kop in Jon se rigting. “Gaan jy nie vir hom sê van die man in die parkeerarea nie?”
“Nie nou nie.” Wilmari is meteens traag om in daardie grys oë te kyk, en vir boetedoening aan die dinamiese direkteur van Môreson Kliniek.
“Ek sal later, as sy dogter nie by is nie,” sê sy en maak haar haastig uit die voete.
Jon sien haar uitstap en kan nie help om die verleidelike wieg van haar heupe dop te hou nie. So ongeduldig en hardkoppig as wat sy mooi is … Hy twyfel nie vir ’n oomblik dat sy ’n harde werker is nie, maar sy aanvaar beslis nie gesag maklik nie.
Hy raak bewus van Taryn se blik op hom en kyk ondersoekend na haar.
“Hoekom kyk jy so na haar?” vra sy beskuldigend.
“Sy is ’n mooi vrou.” Jon kan nie die geamuseerdheid uit sy stem hou nie. “Dis wat mans doen as ’n mooi vrou verbystap, Taryn.”
Sy vleg haar vingers inmekaar. “Jy’t dit nooit gedoen toe Mamma nog geleef het nie.”
Sy glimlag verdwyn. “Ek was toe met haar getroud,” probeer hy geduldig wees, “en getroude mans kyk vir hulle eie vrouens.”
Taryn sug oordrewe. “Daar kom Yvonne se ma nou terug. Kry ek die geld, of nie?”
Jon plooi sy gesig streng. “As jy ordentlik vra, kan ek miskien ’n plan maak.”
“Sal Pa asseblief vir my geld gee vir ’n ete en ’n fliek?” akkommodeer sy hom. “Ek belowe om nie te laat terug te wees nie.”
Hy haal note uit sy beursie. “Tienuur,” sê hy ferm.
“Hoekom?” Sy staan op en kyk langs haar neus af na hom. “Jy’s in elk geval nie daai tyd al by die huis nie.”
“Tienuur,” herhaal hy.
Sy neem die geld by hom en buk onverwags af om hom op die voorkop te soen. “Dankie, Pappa.”
Ek het ’n verantwoordelike pos, wil Jon vir haar sê. En die huis raak soms te klein vir my; dis te leeg sonder jou ma. Ek is ’n man met behoeftes … En daar is ’n huishoudster en alles anders wat ’n kind se hart kan begeer vir jou in daardie huis. Wat meer kan ek doen?
Maar hy sê dit nie, want hulle het dié gesprek reeds baie kere tevore al gehad. Hy kyk