Vanoggend het sy vlak by die kantingang geparkeer, maar nou, met die ingang gesluit, staan haar motor amper heel agter, by die donkerste muur. Die ander paar motors is baie nader geparkeer, onder die ligte wat steeds brand.
Iets knars onder haar voete toe sy verder stap en sy kyk af. Dis glasskerwe. Die dakligte aan die onderpunt van die afdak is gebreek, geen wonder dis so donker daar nie! Vir so ’n spogkliniek is dit uiters nalatig, dink sy vies. Daarby kan die motors nog ’n pap band opdoen.
In haar kop begin ’n rooi waarskuwingsliggie flikker. Dieselfde liggie wat al so dikwels tydens moeilike operasies soos ’n alarm afgegaan het wanneer ’n krisis op hande is. Sy draai in haar spore om en stap rustig terug na die openbare parkeerarea, terwyl sy in haar handsak vroetel asof sy iets vergeet het.
Sy kyk twee keer om na haar motor en dan na haar horlosie en besef met ’n wrang glimlag dat sy ’n toneelstuk vir ’n denkbeeldige gehoor opvoer. Tog voel sy eers gemaklik toe sy by die trappe opstap na die kliniek se ingang toe.
“Sal jy saam met my stap?” vra sy vir die wag. “Ek is dokter Neveling, en my motor staan om die draai geparkeer. Daar lê glasstukke rond en ek wil hê jy moet net seker maak ek ry nie een raak en kry ’n pap band nie.”
Die wag roep na ’n ander een onder in die gang en hulle gesels in hulle eie taal. Die een bly by die deur staan, terwyl sy maat saam met haar om die gebou stap. Hy maak die klap van die holster aan sy sy los en plaas sy hand oor sy wapen.
’n Krieweling hardloop langs Wilmari se rug af toe hy by die gebreekte glas hurk en dan die vuurwapen uit die holster trek en begin rondkyk. Jy sal nog agterkom dat daar ’n grondige rede is vir elke versoek wat ek rig, het Jon van Jaarsveld gesê.
Sy sluit haar motor oop en voel soos ’n bangbroek toe sy eers seker maak dat daar niemand agter die sitplek skuil nie. Sy sluit haar deur en ry versigtig verby die glasstukke na die uitgang toe. Die wag skop ’n paar skerwe uit die pad en by die hoek van die gebou verminder sy spoed om dankie te sê.
’n Motor in die openbare parkeerarea trek uit en baai haar en die wag vir ’n oomblik in helder lig. Sy lig instinktief haar hand voor haar oë om te keer en ’n beweging in haar truspieël trek haar aandag.
Agter, in die donkerste hoek, ’n paar treë van waar haar motor geparkeer was, laat die skerp lig ’n figuur uitstaan. Dit lyk soos ’n man met ’n donkerblou hemp aan. Toe is die lig weg en is dit weer donker.
Sy trap rem en kyk om, dan na die wag om te sien of hy ook iets opgemerk het. Maar hy is besig om die vertrekkende motor agterna te kyk en sy vuurwapen te bêre. Hy lig sy hand in erkenning van haar dank en stap terug na die ingang.
Wilmari kry meteens koud. Sy skakel haar verwarmer aan en hou dit al die pad na haar woonstel toe aan. Daar ry sy dankbaar deur die bemande sekuriteitshek. Sy ontspan eers toe sy haar voordeur agter haar toetrek.
Daar is nog vrugteslaai in die yskas en sy skep roomys bo-op. Sy skop haar skoene uit en gaan sit kaalvoet op die bank met haar een been onder haar ingevou. Sy wonder of Jonatan van Jaarsveld se vrou ook by Môreson werk …
Sy sit die leë bordjie langs haar op die bank neer en lê terug teen die kussing. Sy moet haar ongeduldigheid wanneer sy met werk besig is, leer beteuel. Rheeder het altyd gesê sy raak te gefokus op haar taak en vergeet van mense se gevoelens.
Eintlik was dit heel vriendelik van die direkteur om haar te kom groet. Hy het daarby seker die volste reg om vol nonsens te wees. Volgens wat sy by ander hospitale gehoor het, is JD van Jaarsveld die dryfkrag agter Môreson Kliniek.
Sy skuif die bordjie na die mat toe en swaai haar voete op die bank. Sy twyfel in elk geval of sy baie met hom te doen sal hê; hy beweeg in ander kringe as sy. Hy het ook met ’n ander saak die spyker op die kop geslaan: sy ís oormoeg. Dis vir haar geestelik uitmergelend om so na aan die siekte te werk wat die enigste man wat sy ooit liefgehad het van haar gesteel het.
Sy laat haarself vir die eerste keer toe om weer oor die man in die truspieël te dink. Hét sy dit gesien? Of was dit net die motorligte van voor wat haar nagsig deurmekaargekrap het? Sy moet onthou om vir Martha te vra of daar ronddwalers by die kliniek is. Die wag se reaksie het haar eintlik meer as enigiets anders verontrus.
Sy weet sy moet kamer toe gaan en gaan uittrek en regmaak vir die bed, maar sy het nie die krag daarvoor nie. Sy nestel haar gesig teen die sagte materiaal van die bank se armleuning en gee die stryd teen die slaap gewonne.
2
Wilmari parkeer die volgende oggend seweuur in Môreson se openbare parkering voor die hoofgebou en gaan by die voordeur in. Die koffiewinkel is reeds oop en die geur van geperkoleerde koffie hang in die lug. Sy sal een of ander tyd hulle spyskaart gaan uittoets, besluit sy toe sy verbystap.
Die sekuriteitswag by die deur en die ontvangspersoneel groet vriendelik en sy ervaar ’n onverwagte warmte. Sy dryf uit vrye keuse die afgelope vyf jaar rond en knoop geen bande aan met mense of plekke nie. Ná Rheeder se dood aan die einde van haar studies het sy oorsee gevlug. Sy het ’n ruk by haar ma en dié se tweede man in Londen gekuier, en toe met ’n rugsak deur Wes-Europa getoer. In Switserland het sy haar hart uitgehuil omdat sy en Rheeder gedroom het om daar wittebrood te hou nadat hulle gekwalifiseer het.
Aan die einde van daardie jaar het sy besef dat sy nie meer kan weghardloop nie. Sy het besluit om die gevreesde en aggressiewe siekte, kanker, trompop te pak en dit te help oorwin. Sy sou dit leer ken, en help om gevorderde behandelings en metodes te ontwikkel om dit te voorkom. Sy sou dit bestudeer totdat daar geen geheimenisse meer vir haar is nie.
Sy het haar Zuma-jaar op die platteland gedoen en daarna in onkologie begin spesialiseer. Dit was spoedig vir haar duidelik dat dit nie so maklik gaan wees om dié vyand te verslaan nie. Professor Tayban het haar in haar tweede jaar genader en vir sy nuutgestigte kankernavorsingseenheid gewerf.
Die hyserdeur gaan oop en sy dink aan Môreson se direkteur toe sy die knoppie na die vierde vloer druk. Sy skuld die man eintlik ’n verskoning.
“Jy’s lekker vroeg,” sê Tiyika toe Wilmari by die ontvangstoonbank aanmeld.
Wilmari beduie na Martha se leë kantoor. “Is suster in die sale besig?”
“Sy kom nie vandag in nie, dokter.”
“O.” Wilmari staan ’n oomblik besluiteloos. Sy wou Martha uitvra oor die man by die parkeerterrein.
Tiyika tel haar notaboek op. “Ons kan maar begin wanneer jy gereed is.”
Die jong kankerpasiënt, Bettie, se ma is vandag by haar. Wilmari voel dadelik aangetrokke tot dié besadigde vroutjie met die sagte stem. Sy pas by haar man, dink sy.
Mabel Fryer stel haarself voor en bedank Wilmari vir haar openhartigheid met haar man in hulle gesprek die vorige dag.
“Dit help,” sug sy. “ ’n Mens voel so magteloos en desperaat as hierdie goed met jou kind gebeur.”
Bettie lê vandag lusteloos terug op haar kussing, die pop in haar arm.
“Voel jy sleg, nooi?” vra Wilmari en Bettie knik.
Tiyika kyk op haar notas. “Sy gaan vandag vir haar eerste chemoterapiebehandeling. Dokter wil sien hoe sy daarop reageer voor hy verder beplan. Daarna sal sy heel waarskynlik die buitepasiëntkliniek besoek totdat die behandeling voltooi is.”
Wilmari frons. “In Bettie se geval sou ek aanbeveel dat sy vir die laaste paar behandelings weer opgeneem word en in isolasie gehou word tot haar bloedtelling na wense herstel het. Ek sal ’n nota op haar lêer maak.”
“Dis die koste, dokter,” sê Mabel verleë. “Die mediese fonds is maar moeilik.”
“Hulle betaal gewoonlik as ons die behandeling behoorlik motiveer,” stel Wilmari haar gerus. “Ek sal dit reël met die dokter wat Bettie