Dis mooiweer en liefde. Wilmari Jooste. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Wilmari Jooste
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624049586
Скачать книгу
maats te meng nie.”

      Hy draai onverwags om en kyk af na haar. Sy lyk soos ’n klein dogtertjie daar in sy T-hemp wat tot net bokant haar knieë hang, maar die gevoelens wat sy in hom ontketen, is allesbehalwe dié vir ’n klein dogtertjie.

      “Ons?” vra hy.

      Sy knik. “Ek sal vir hom ’n middagwerk in die biblioteek reël, en oor naweke kan hy in my tuin kom werk.”

      Nick skreef sy oë. “Wie is S. le Clerque?” wil hy onverwags weet.

      “My ma. Waar kom jy aan haar naam?”

      “Jou munisipale rekening was in een van die boeke wat Steve hier aangebring het – dis hoe ek jou kon opspoor. Toe ek die adres in die telefoongids naslaan, was daar net ’n S. le Clerque, maar by dieselfde adres. Toe daar geen antwoord was toe ek bel nie, het ek besluit om biblioteek toe te ry.”

      “Ek weet nie hoe om jou te bedank nie. As jy my nie daar kom soek het nie ...” Menantheau ril liggies.

      “As dit nie vir Steve se dinge was nie, sou niks hiervan gebeur het nie,” sê Nick, en meteens val alles in plek. As dit nie vir Steve was nie, sou hy hierdie meisie voor hom nooit leer ken het nie.

      Hulle oë ontmoet en nie een kry dit reg om die kontak te verbreek nie.

      “Waar is jou ma? Gaan sy nie bekommerd oor jou wees nie?” vra Nick uiteindelik.

      Menantheau knip haar oë en kyk weg. “Sy is vier maande gelede dood aan ’n hartaanval.”

      “Ek is jammer. Was dit onverwags?”

      “Die hartaanval, ja, maar sy was baie lank sieklik.”

      “En jy bly nou alleen daar?”

      “Ja. Ek het geen ander familie nie.”

      Nick sit sy hande op haar skouers. “Dit klink miskien na leë woorde, maar ek weet hoe jy voel.”

      Sy sien werklike empatie in sy oë. “Jou pa?”

      Nick knik. “Hy en my twee susters is tien jaar gelede saam dood in ’n ongeluk wat my ma bedlêend gelaat het. Vandaar die groot ouderdomsverskil tussen my en Steve. Hy was maar vier toe dit gebeur het.”

      “En jy?”

      “Sestien.”

      Dit word vir haar ’n duidelike prentjie, met Nick onverwags aan die hoof van ’n gebroke huis. Gisternag het hy gepraat van swot voordat hy kan gaan slaap, en Numpie het gepraat van sy werk, dus moet sy aanneem hulle het dit nie breed nie.

      “Ons het reggekom.” Sy stem is ’n stil waarskuwing dat hy nie simpatie soek nie.

      Menantheau glimlag. “Natuurlik sou julle reggekom het. Met jou oordonderende persoonlikheid is niks anders moontlik nie.”

      Nick se wenkbroue lig en sy vingers begin liggies oor haar skouerknoppe beweeg. “Oordonderende persoonlikheid? Hier sien ek myself as ’n ridder op ’n wit perd, maar nou moet ek hoor ek word beskou as oordonderend. Voeg dit by jou ander beskrywing dat ek laag en gemeen is, dan kom ek agter ek is ’n totale vreemdeling vir myself.”

      “Ysterperd,” sê Menantheau. “Jy het nie ’n wit perd nie. En ek was verkeerd oor die laag en gemeen,” sê sy hees en kyk gehipnotiseer in sy donker oë terwyl sy gesig al nader aan hare kom.

      “Maar nog steeds oordonderend?” prewel hy langs haar oor.

      “En oorrompelend.”

      “Soveel byvoegings tot my persoonlikheid. Ek moet dit begin gebruik.”

      Hierdie keer sit Menantheau haar nie teë nie. Sy aanvaar Nick se liefkosings as iets wat eenvoudig in haar lewe moes kom. Ná ’n rukkie beantwoord sy dit met ’n vurigheid wat sy langer as ’n jaar nie ervaar het nie, maar sy weet sy kan nie langer daarteen stry nie. Hierdie aantreklike donkerkopman met sy ewe donker oë het ’n uitwerking op haar wat sy nie gedink het haar weer beskore sou wees nie.

      Numpie se gekug in die deur laat Menantheau ruk van die skrik, en net Nick se arms om haar verhoed dat sy vervaard terugspring.

      “Ek kom maar net groet. Anna is klaar versorg vir die nag, en ek het julle kos in die oond gebêre. Met dié dat jy vir ’n wonder by die huis is, wil ek graag gaan kuier. Ek sal môre vroeg terug wees.”

      “Dankie, Numpie,” antwoord Nick onverstoord, asof dit niks ongewoons is om in sy kamer te staan met ’n meisie in sy arms nie.

      Toe hulle weer alleen is, kyk hy af na die meisie in sy arms. “Oorrompelend?” wil hy sag weet. “Is dít wat ek met jou doen, Menantheau le Clerque? Is jy bang daarvoor?”

      Menantheau weet nie wat met haar aan die gang is nie. Sy het gister nog vir Sarie gesê dat daar nie weer ’n man in haar lewe sal wees nie, en hier staan sy in Nick Bender se arms en laat toe dat hy haar soen en liefkoos asof hy dit al jare doen.

      Sy tree uit sy omhelsing en sit haar hande oor haar warm wange. “Ek ... Miskien is ek bang daarvoor, Nick. Ek ken jou nie. Jy ken mý nie. Ek weet nie wat tussen ons aan die gang is nie.”

      “Nie?” vra Nick skepties en kruis sy arms oor sy bors asof hy homself nie vertrou nie. Sy oë sak na waar haar borste puntig staan om haar reaksie op sy liefkosing te verraai.

      Sy laat sak haar hande en vou ook haar arms oor haar bors. Haar oë blits toe sy na hom kyk.

      “Natuurlik wéét ek. Ek bedoel ek het net nooit gedink ek is die tipe meisie wat soos ’n vrot pampoen in die eerste die beste man se arms sal val nie. As iemand vir my ’n week terug gesê het ek sou feitlik sonder ’n draad klere saam met ’n wildvreemde man onder ’n stort staan, sou ek voorgestel het daardie persoon moet ’n dokter gaan spreek.”

      “Maar jy skroom darem nie om sonder ’n draad klere aan in my bed te klim nie?” wil hy tergend weet.

      “Dis ook nie iets wat ek gereeld doen nie! Gisternag was die eerste keer. En dit was net omdat die sweetpak my vel gekrap het.”

      Nick spook met sy gevoelens. Hy het nog nooit geglo aan los verhoudings nie. Hy het ’n paar maal op skool ’n meisie gehad, maar sedert sy pa se dood was sy verantwoordelikhede net te groot om hom aan meisies te steur. Hy het nooit ’n behoefte daaraan gehad nie, totdat hy verlede nag met Menantheau in sy arms onder die stort gestaan het.

      Is dit wat hy vir haar voel werklik net ’n seksdrang? Toegegee, in haar nabyheid moet hy homself doelbewus in toom hou, en die prentjie van haar onbedekte bors was vandag gedurig in sy gedagtes. Maar is dit werklik ál wat hy vir haar voel?

      Nee, hy glo nie. Hy voel ’n oeroue beskermingsdrang teenoor hierdie meisie vandat sy verlede nag bewend van koue en angs voor hom gestaan het. Maar hy weet ook dat hy teen daardie gevoel moet stry. Menantheau kan nie deel van sy gedagtes of lewe word nie. Daar is eenvoudig nie tyd vir ’n verhouding nie.

      Hy het nog ’n halwe studiejaar oor vir sy meestersgraad as meganiese ingenieur, en tot dan werk hy saans as kelner by ’n baie gewilde restaurant waar mense maklik goeie fooitjies gee. Hy het nou wel ’n volledige beurs gekry, maar sy werk is – buiten sy ma se karige pensioen – al bron van inkomste.

      “Gee my jou motorsleutels sodat ek jou motor kan gaan haal. Jy is seker haastig om huis toe te gaan.”

      Die verslae uitdrukking op Menantheau se gesig en die feit dat hy ’n uiters lafhartige uitweg kies om die situasie te beredder, laat Nick sleg voel. Maar op hierdie oomblik is dit die beste waaraan hy kan dink.

      Menantheau ruk haar met moeite reg en ignoreer die dowwe pyn in haar binneste. Sy buk af na haar handsak, haal die sleutels uit en gee dit vir hom.

      “Dis ’n geel Kewertjie.”

      Hy neem die sleutels by haar. “Ek het so aangeneem, omdat dit die enigste motor is wat verlede nag daar gestaan het.”

      Met dié groetwoorde draai hy om en stap uit.

      Menantheau weet