Dis mooiweer en liefde. Wilmari Jooste. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Wilmari Jooste
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624049586
Скачать книгу
skrik haar disnis toe sy haar eie krakende stem hoor. Sy is so hees soos ’n kraai.

      “Ja, juffrou, en ek wil net kom sê ek is baie jammer oor wat ek gedoen het. Ek het die goed gegryp en weggehardloop sonder om aan die gevolge te dink.” Hy buk en tel haar handsak op om dit na haar uit te hou.

      “Ek het dit weggesteek nadat ek die geld uitgehaal het.” Hy bloos bloedrooi. “Dit het ek ongelukkig nie meer nie, maar ek sal ’n werk soek wat ek namiddae kan doen en u terugbetaal.”

      “My boeke?”

      “Ek het dit vir my ma gegee om te lees. Sy sal dit mooi oppas.”

      Menantheau neem haar handsak by hom en knip dit oop. Sy skrik toe sy sien dat die biblioteek se sleutels nie daarin is nie, maar Steve stel haar dadelik gerus.

      “Ek het vanoggend vroeg al die handsak gaan haal, en Nick het die sleutels biblioteek toe geneem. Hy het vanoggend al die munisipaliteit gebel en gesê wat gebeur het en dat u te siek is om te gaan werk. Hulle het spaarsleutels waarmee hulle kon oopsluit.”

      “Wat is jou naam?” kraak Menantheau hees. Haar keel brand soos ’n kool vuur en sy wens hier was ’n slukkie koue water om te drink.

      “Steve.”

      Sy dink ’n oomblik na. “Ek onthou jou gesig. Jy kom gereeld na die biblioteek vir hulp met jou skoolprojekte.”

      Steve word ’n aksie rooier. “Ja, en juffrou het al ’n hele paar keer vir my fotostate verniet gemaak as ek nie geld gehad het nie.”

      “Noem my Menantheau, Steve. Kan ek jou ’n vraag vra? Maar jy moet dit net antwoord as dit ’n volkome eerlike antwoord is.”

      “Ja?”

      “Hoekom het jy dit gedoen, Steve?”

      “Ek ... My ma is sieklik en bedlêend. Sy was maar af die laaste paar dae. Ek het die boeke vir haar gegee en gesê jy het dit vir my gegee by ’n skoolfunksie. Ook ’n pakkie sjokolade en suiglekkers wat ek met juffrou se geld gekoop het. Die ander geld het ek vir ’n ou by die skool gegee vir wie ek geld geskuld het. Hy het die wêreld vir my warm begin maak.”

      Menantheau weet instinktief dat hy die waarheid praat. “Dankie dat jy eerlik was met my. Ons sal praat oor daardie werk-idee van jou. Dit klink vir my na ’n goeie idee. Kan ek nou eers vir jou vra om vir my ’n bietjie water te bring? My keel voel soos ’n rasper en my kop wil bars.”

      “Ek gaan vir Numpie roep. Sy het gesê as juf- ... as jy wakker word, moet ek haar kom roep. Nick het vir jou medisyne van die apteek af laat kom wat jy moet drink.”

      “Numpie?”

      “Dis die vrou wat my ma bedags versorg.”

      Dis seker dan die vrou wat haar aangetrek het, dink Menantheau skaam. Sy wonder wat die vrou gedink het om haar poedelnakend hier in die bed aan te tref.

      Soos blits is Steve by die kamerdeur uit, en ’n paar minute later is Numpie daar met die medisyne.

      “Die apteekman het gesê hierdie is vir die koors. Daardie blou pilletjie is vir die kop- en lyfseer. Daardie gorrelgoed is vir die keel, en ek het sommer self vir jou ’n bietjie heuning en suurlemoen aangemaak vir daardie droë hoes. Sluk dit maar so saam met die hoesgoed wat hulle gegee het,” rammel Numpie sommer in een asem af.

      Toe al die medisyne onder Numpie se persoonlike toesig gesluk is, gaan sit sy op die kant van die bed, en haar neus wikkel soos dié van ’n bloedhond wat spoor geruik het.

      “Nou waar kom Nick aan jou? Moet ek rêrag glo hy het jou in die reën opgetel?”

      “Is jy gewoond daaraan dat ek vir jou lieg, Numpie?” wil Nick uit die deur uit weet, en beide Numpie en Menantheau wip soos hulle skrik.

      Numpie se skrik is egter gou verby en sy is glad nie op haar mond geval nie. “Nee, ek double-check maar net. Jy is nie vroumense gewoond nie. Hulle sal jou maklik met ’n slap riem vang. Vir wat is jy nie by jou werk nie?” is Numpie op die oorlogspad.

      “Ek het vanaand verlof geneem. Daar is ’n paar dingetjies wat afgehandel moet word. Het jy nie werk om te doen by my ma nie?”

      “O. Nee, maar dis goed.” Numpie snuif seergemaak. “Ek weet goed wanner ek nie welkom is nie.” Sy kyk na Menantheau. “Jou klere is skoon. Ek het dit daar in Nick se kas gehang.”

      Sy is skaars by die deur uit of Menantheau se oë blits oor hom. “Het jy geen respek vir mense se gevoelens nie?” kwaak sy deur haar seer keel, en die hele effek gaan daardeur verlore. “ ’n Mens praat nie so met ’n ouer persoon nie.”

      Nick stoot die deur toe en kom sit langs haar op die bed. Met geoefende vingers draai hy die verband om haar voet los. Die swelsel het baie gesak.

      “Jou voet lyk baie beter. Dit behoort jou nie te veel probleme te gee as jy versigtig is daarmee nie.”

      “Ek weet my voet voel baie beter, dankie. Moenie die onderwerp verander nie.”

      Tergliggies skitter in sy oë. “Moenie jou om die bos laat lei deur Numpie se toneelspel nie. Sy sou in elk geval gou ’n verskoning gesoek het om na my ma te gaan vir ’n lekker skindersessie. Maar ek kan jou dieselfde vraag vra, Menantheau le Clerque.”

      Sy nabyheid ontstel haar en sy probeer wegskuif, maar die laken is half onder haar ingevou en sy kan nie beweeg nie. “W-watse vraag?”

      “Of jy geen respek het vir ’n ander mens se gevoelens nie.”

      “Ek het nie die vaagste idee waarvan jy praat nie.”

      “Nie?” Nick frons. “Jy wil dus hê ek moet jou in detail vertel presies hoe ek gevoel het toe ek vanoggend hier ingestap het en jou naakte liggaam in my bed gedrapeer gekry het?”

      Haar wange brand van skaamte. Dan was dit nié Numpie wat haar aangetrek het nie!

      Nick is oortuig daarvan dat dit nie ’n nuwe vlaag koors is wat Menantheau se wange so rooi het nie, maar net om seker te maak, leun hy nader en vou sy hand om haar voorkop.

      Sy klap sy hand vererg weg. “Los my uit, jou bullebak. Jy is baie gemeen!”

      “Dis nou stank vir dank. Ek red jou uit die grootste verleentheid denkbaar deur jou aan te trek, nogal met my geliefkoosde T-hemp. En daarvoor word ek geklap en uitgeskel as gemeen.”

      Menantheau onthou hoe seer haar vel van die growwe sweetpakmateriaal was. “Dis nie nodig om dit in te vryf hoe jy my hier gekry het nie.”

      “Verwag jy dan dat ek moet vergeet watse betowerende prentjie jy geskep het? Jy verwag die onmoontlike van my, Menantheau.” Sy oë verdonker en daar is geen tergliggies meer in die bruin dieptes te bespeur nie. “Dis nie iets wat ek sommer net so sal kan vergeet nie. Jy het van verlede nag af my wêreld vir my omgekeer.”

      Nick staan op en gaan staan met sy rug na Menantheau gekeer deur die venster en staar. Hy druk sy hande in sy verbleikte denimbroek se agtersakke en Menantheau se oë streel oor daardie deel van sy anatomie, wat besonder goed lyk.

      “Het jy besluit wat jy gaan maak oor Steve se misstap?” vra hy skielik.

      Haar oë vlieg skuldig op, maar hy kyk nog steeds deur die venster.

      Hulle is nou op veiliger terrein. “Niks. Hy het kom verskoning vra en alles teruggebring.”

      “Behalwe jou geld.”

      “Hy het belowe om ’n middagwerk te kry en dit daaruit terug te betaal.”

      “Ons het nog nooit nodig gehad om iemand se geld te steel nie.” Nick se stem klink bitter, en Menantheau weet dat hy ’n baie trotse mens is.

      Sy klim uit die bed en stap effens kruppel tot agter hom. Die hand wat sy op hom lê, is bedoel om een van bemoediging te wees, maar dit voel of ’n elektriese skok deur haar gaan, en sy pluk dit vinnig terug.

      “Weet jy hoekom hy dit gedoen het, Nick?”

      “Omdat