Dis mooiweer en liefde
Wilmarí Jooste
Nadat Menantheau le Clerque se verhouding met dokter Kobus Kruger op die rotse geloop het, bepaal sy haar net by haar werk as bibliotekaresse. Haar lewe word egter onverwags in ’n heel nuwe rigting gestuur die aand toe sy Nick Bender ontmoet. Dié groot man met sy onwrikbare trots oorrompel haar totaal, en dit wil voorkom asof hulle verhouding blom.
Maar toe Nick in ’n ernstige motorongeluk betrokke is, vind Menantheau tot haar skok dat Kobus sy dokter is – en dis duidelik dat hy haar nog glad nie vergeet het nie. By hom ervaar sy die rustigheid wat Nick haar nooit kon gee nie. Maar Kobus is nie bereid om altyd in Nick se skaduwee te staan nie ...
~ 1 ~
Sarie Cloete kyk met ’n duidelike skuldgevoel na haar jong assistent. “Is jy seker ek moenie vir jou wag nie, Menantheau?”
“Nee, dankie, mevrou Cloete. Gaan gerus. Ek weet mos u het vanaand ’n afspraak.”
Sarie bloos bekoorlik, haar oë skitterend by die vooruitsig om vanaand saam met die man in haar lewe uit te gaan. Sy was lank ’n weduwee, en die geluk wat nou na haar kant toe kom, gryp sy met albei hande vas.
“Gaan nou. U gaan laat wees,” jaag Menantheau die ouer vrou, wat ook haar hoof is, met ’n glimlag aan. Daar is egter niks van die gevoel van hunkering wat sy diep binne-in haar voel op haar gesig te bespeur nie. “Ek belowe ek sal sluit, en môre betyds hier wees om weer oop te sluit.”
“Soos gewoonlik,” glimlag Sarie.
Daar is geen ander dame op die personeel wat sy eerder met die sleutel van die biblioteek sal vertrou as juis Menantheau nie: die fyn meisietjie met haar spierwit, sysagte hare wat laag in haar nek in ’n sagte rol vasgevang word, en perfekte ovaalvormige gesig waarin donkerblou oë treffend uitstaan.
Maar Menantheau glo sy is niks anders as ’n kleurlose, feitlik onsigbare mens nie. Sarie wens sy kon iets doen om die jong meisie van haar eie wanindruk te genees, maar danksy Menantheau se oorlede moeder sal dit geen maklike taak wees nie. Teen haar beterwete probeer sy tog.
“Menantheau?”
Die groot viooltjieblou oë kyk vraend na haar. “Ja, mevrou?”
“Kyk, ek weet dit het niks met my te doen nie, maar daardie vriend van jou ... dokter Kruger –”
Sy word kortgeknip. “Gewese vriend, en as u nie omgee nie, wil ek nie graag daaroor praat nie. Wat tussen my en Kobus was, is lankal verby.”
Sarie hou haar dikvellig. “Jou ma se siekte het tussen julle gestaan, maar sy is nou dood. Hoekom bel jy hom nie?”
Menantheau kyk vinnig weg, maar nie vinnig genoeg om die absolute pyn op die fynbesnede gesiggie te verberg nie. “Ek het probeer, maar ek kon hom nie in die hande kry nie,” antwoord sy skor. “Hy het sy vennootskap verkoop, en hy bly nou in ’n huis wat hy laat bou het.”
“By wie het jy dit gehoor?” vra Sarie.
“Ek het na sy spreekkamer toe gebel om by die ontvangsdame te hoor waar hy bly. Sy het mos in die woonstel langs Kobus gebly. Maar die nuwe ontvangsdame het gesê dat Anet de Beer inderhaas getroud is met ’n dokter en nie meer daar werk nie.”
“En jy neem aan sy is met Kobus getroud?”
“Ek wéét dit. Sy kon nooit haar gevoel vir hom wegsteek nie.”
“Ai, kindjie, ek wens ek kon iets doen om jou beter te laat voel.”
Menantheau kyk op, haar seerkry baie deeglik versluier. Sy glimlag selfs. “Dis nie nodig om my jammer te kry nie, mevrou. As hy nie bereid was om selfs net een jaar vir my te wag nie, dan was my ma tog reg. Sy het hom nooit vertrou nie.”
Sarie lewer liewer nie kommentaar nie. Sy het Menantheau se ma ’n paar maal besoek, en sy weet Salomie le Clerque was ’n bitter mens met ’n smorende besitlikheid jeens haar enigste kind. Natuurlik sou sy Kobus nie vertrou nie ... sy sou géén man vertrou nie, want ’n man sou Menantheau van haar wegneem.
“Jy sal weer iemand ontmoet, Menantheau.”
Menantheau glimlag, maar dis ’n glimlaggie wat sê sy weet van beter.
Toe Sarie uitgaan, bly sy alleen agter in die groot, stil gebou. Sy maak ’n paar laaste administratiewe takies klaar, en drentel dan rustig en op haar tyd deur die rakke om vir haar ’n paar boeke vir die aand uit te soek.
Dan stel sy die alarm, stap uit en sluit eers die binnedeur, daarna die buitedeur en dan die veiligheidshek met die grootste omsigtigheid. Dis egter moeilik met haar arms vol boeke en dan nog met haar handsak ook êrens onder haar arm vasgeknyp.
Sy sit haar pakkaas op die lae muurtjie neer om haar motorsleutels uit te haal. ’n Papier val uit haar handsak en sy druk dit sommer in een van die boeke. Sy kyk bekommerd op toe sy donderweer hoor rammel, gevolg deur ’n verblindende weerligstraal. Dit gaan binne minute begin reën. Sy moet wikkel as sy in haar motor wil kom voordat die storm uitsak.
Maar binne sekondes begin die reën gietend uitsak. In haar haas trap sy skeef en sy gee ’n skerp uitroep van pyn. Sy sit die sleutels in haar handsak op die muurtjie en draai dan hurkend na die lig om na die skade te kyk.
’n Sug glip oor haar lippe toe sy sien dat haar sandaal se hak afgebreek het, en ’n skerp pyn skiet deur haar voet toe sy daarop probeer trap. Sy hoor ’n geluid agter haar en toe sy omkyk, sien sy net hoe ’n donker, skraal gestalte met al haar goed verdwyn.
“Haai! Wag! Kom terug, asseblief!”
Dis egter verniet, en die skelm verdwyn in die gietende reën sonder om hom in die minste aan haar geroep te steur. Menantheau besef dat sy seker dankbaar moet wees. Hier is nie juis mense hierdie tyd van die aand nie. As daardie man ander planne gehad het, sou sy totaal weerloos gewees het. Haar verswikte voet sou dit onmoontlik gemaak het om weg te hardloop.
Maar haar situasie lyk ellendig, besef sy bekommerd. Sy kan nie ry nie, want die skurk het alles gegryp, ook haar sleutels wat nog in haar handsak was. Sy durf in elk geval nie hier padgee nie, want ook die biblioteek se sleutels is weg. Dit sal háár skuld wees as iemand toegang tot die biblioteek kry met die sleutels wat in haar besit was toe dit gesteel is.
Die wind ruk met ’n skerp vlaag aan haar rok en sy bibber koulik terwyl sy aan haar baadjie dink wat in haar geel Kewertjie lê. Sy wip soos sy skrik toe die windvlaag onverwags reën onder die afdak indruk en die koue water die gloeilamp met ’n slag bokant haar kop laat ontplof.
Dit gaan ’n lang, koue nag word, besef sy gelate, en gaan sit in die verste hoekie met haar arms om haar bene gevou om van die koue en reën te probeer ontsnap. Haar voet klop pynlik, maar sy probeer dit ignoreer en laat haar gedagtes doelbewus dwaal na Sarie Cloete, wat seker nou al gereed staan en wag vir haar vriend.
Steve Bender voel soos ’n skurk toe hy uiteindelik tot stilstand kom onder ’n winkelafdak en die boeke neersit om die handsak oop te maak. Juffrou Le Clerque het hom al meer as een keer gehelp met ’n skoolprojek, ook om fotostate te maak as hy nie geld het nie. Maar, besluit hy verontskuldigend, hy moes die kans aangryp toe hy dit sien. Sy ma lyk maar weer sleg vandag, en hy kan hom net haar gesig voorstel as hy vir haar hierdie klomp boeke gee om te lees.
Hy haal die beursie uit en fluit saggies deur sy tande toe hy die geld daarin sien. Hiermee sal hy uiteindelik die geld vir Dennis kan gee wat hy skuld, en dan hoef hy nie meer bang te wees vir die groot seun en sy pelle wat hom al meer terroriseer nie. Maar daar sal genoeg oor wees om nou vir sy ma iets lekkers te koop en dalk môre ’n geskenk ... Iets wat haar weer ’n bietjie sal laat glimlag.
Hy steek alles sorgvuldig weg en stap dan met ’n tienrandnoot in sy hand na die kafee op die hoek. Hy koop vir sy ma ’n pakkie suiglekkers en ’n sjokoladestafie, en stap dan weer loer-loer uit om die goed te gaan haal wat hy weggesteek het.
Toe hy deur ’n oop stuk veld stap waar baie rommel en gemors lê, steek hy die sambreel, die handsak en die bos sleutels daar weg. Môre sal hy dit kom haal en vir juffrou Le Clerque gaan gee. Sy sal nooit vermoed dat dit hy