Die kos wat aangedra en op die Sondagtafel voorgesit is, was oorvloedig. Oupa Daniël het die tafelgebed gedoen. Daar is in ruim porsies opgeskep. Maar Joey het opgelet dat niemand die kraffie nader trek nie. Hulle het gevra wie hy is en waar hy vandaan kom. Niemand het geskink nie. Hy het die geslypte glas van die kraffie hardop bewonder. Niemand skink nie. Joey het die gesprek gestuur in die rigting van die gebruik van wyn aan tafel. Geen reaksie nie. Uiteindelik het hy maar gewaag en gesê dat ’n slukkie van die wyn uit die kraffie dalk goed met sy maaltyd sal deug. Danie het verduidelik dat daar hanepoot uit die Kaap in die kraffie is. Dis baie soet, het hy bygesê – hulle gebruik dit net ná ete as dessertwyn. Joey het deurgedruk en bely dat hy ’n swakheid het vir iets soets saam met sy soutkosse.
Danie het die kraffie vir hom aangegee en Joey het sy glas volgeskink en uitgedrink. Die gloed het van sy maag af uitgebrei tot in die verste puntjies van sy ledemate. Hy het die wyn geprys en gewonder of hy verkwalik sou word as hy dalk nog ’n glas saam met sy ete geniet.
Dis waar alles verkeerd geloop het, want Joey het die kraffie nie weer op sy plek in die middel van die tafel teruggesit nie, maar sommer voor sy bord. Hy het nie weer permissie gevra nie, net geskink. Sy tong het los geraak en hy het aangebied om, gesien die wonderlike gasvryheid wat hy by sulke uitnemende mense kan geniet, vir hulle ’n klompie gratis vergrotings van die hele familie te laat maak. Sy aanbod is aanvaar. Dit was toe dat Dorothea vra of meneer Drew sal omgee om dalk die week by hulle oor te staan, want haar man se broer en dié se gesin het laat weet dat hulle die eerskomende Saterdag oorkom. Sal meneer Drew omgee om dan ’n foto van die hele familie te neem?
Natuurlik was meneer Drew maar alte gretig om ’n dame met soveel gulhartige gasvryheid te akkommodeer.
“Met die oorlog nou dreigend,” het Dorothea van Wyk voortgegaan, “weet niemand wanneer ons dalk ooit weer bymekaar sal wees nie.”
Joey het die onderwerp aangegryp en daarop uitgebrei met hanepoot-gedrewe nadruk.
Hy het begin deur te vertel hoe vrot die sogenaamde republiek in Transvaal regeer word deur daardie ou dik sot met die leep-oë, Paul Kruger, en hoe die ou man wat dink hy’s ’n soort president net na homself en sy vriendjies kyk, terwyl goeie Britte in die modder vertrap word en nie eens ’n stem het om die ou in die bek te ruk nie. Dit was ’n skande soos dinge oorkant die Vaalrivier aangaan. Hy, Joey Drew, dink dis hoog tyd dat die Britse Ryk ’n klomp soldate oorstuur om die spul ongeletterde en onbeskaafde Boere eens en vir altyd op hulle plek te sit.
“Die spul Boere walg my al van ek hier aangekom het,” het Joey gesê. “Sulke agteraf mense het net nie die kennis of die eerlikheid om ’n land ordentlik te regeer nie.”
Joey het meer gesê. Baie meer.
Hy was so weggevoer deur die onderwerp en die weldadige gloed van die hanepoot in sy lyf en kop dat hy nie agtergekom het hoe sy tafelgenote verstyf nie. Hy het nie eens opgelet dat Daantjie van Wyk sy stoel agtertoe skuif en op sy voete kom nie, of dat die seun die vader in die skraperige taal aanspreek nie. Want Daantjie het sy pa gevra of hy sal omgee as hy die bliksemse skeel Engelsmannetjie aan sy broek se gat vat en hom deur die agterdeur vir die honde gooi.
“Nee wat, ou seun,” het Danie gesê, “laat die klein vloek maar praat. Ek het altyd gewonder hoe hulle koppe werk.”
Joey is toegelaat om voort te borduur en die algemene mening van die Johannesburgse mynwerker te lug totdat Danie van Wyk se plat hand op die tafel neergedawer het.
“Genoeg!” het hy gesê, en in die stilte ná die slag het hy koud en afgemete gepraat soos ’n man wat onmiddellik verstaan wil word deur selfs die domste.
“Ons is Boere, meneer Drew. Ons sal jou Britse Ryk beveg tot die einde. Jou koningin en haar trawante het ander mense se lande die een na die ander gevat asof die wêreld aan julle behoort omdat julle Engelse is. Wat julle voorwendsels nou ook al hierdie keer sal wees, die enigste waarheid is dat julle agter die goud van die Witwatersrand aan is en dat julle dit wil steel soos julle ons diamantvelde gesteel het. Jou Empire het weer geld geruik en julle sal agter die reuk van rykdom aandraf soos ’n reun agter ’n bronstige teef – soos julle nog altyd gemaak het, sonder om om te gee waar julle julle groot pote neersit of wie se bloed julle vergiet. Julle wil ons vryheid saam met ons goud van ons vat. Maar jy en ou Victoria sal nog agterkom hoe hoog ons ons vryheid ag en dat ons daarvoor sal sterf as ons moet. Dis ons land dié. Niemand het julle hierheen genooi nie. Julle was nou al ’n klomp ongenooide rowers oor omtrent die hele wêreld en julle is dit hier ook. Niemand het julle genooi nie! Julle het goud geruik en sélf al kwylend aangedraf gekom. Kry dit in jou kop … Dorothea, wys vir die man waar hy vanaand kan slaap en sê hom hy moet onder my voete uitbly.”
Al die stoele het gelyk oor die plankvloer geskuur en die Van Wyks het opgestaan. Oupa Daniël is opgehelp voor hulle almal die vertrek uit is. Hulle het net die skraperige taal met mekaar gepraat.
Joey het alleen aan tafel agtergebly en toe maar die kraffie leeggemaak. Hy het ’n doodsonde gepleeg. Soveel het hy geweet.
Dorothea het hom die kamer gaan wys waar hy die aand kon slaap. Dis waar sy hom voor die keuse gestel het: Sy sou nog graag ’n familiefoto wou hê, en daarom kan hy maar bly as hy so voel, maar hy moet net nie verwag om weer saam met die familie te eet nie. Die huismense weier om saam met hom aan dieselfde tafel te sit ná wat hy gesê het.
Joey het gebly. Hy’t die plaas bewandel soos ’n melaatse en moes die werf op sy eentjie leer ken: die imposante sandsteenhuis met sy rooi sinkdak, die ommuurde voortuin, die groot stoep. Soos die dae verbygegaan het, het hy wat daar te sien was oor en oor bekyk – die waenhuis en stal, die hoenderhokke, die klompie bloekoms agter die huis, die winterkaal vrugteboord, die groentetuin met net die winteruie en kool, die hooimiedens, die windpomp met sy dam. Dit was nie ’n aangename plek vir ’n stadsman om te wees nie, veral nie as hy niks te doen het en niemand het om mee te praat nie. Twee sonkolletjies teen die bult agter die huis was maar sy boerplekke. Daar kon hy probeer om die koue wat die nagte buite in sy gebeente nagelaat het uit hom te bak, en van daar af kon hy uitkyk oor die vlakte voor hom. Want soos hy ná oorlede Hans se dood wes en suid geswerf het, het die bulte al platter geword en het die landskap verander in ’n gelykte. Die uitsig was goed van sy sonkolletjies af, en die vlaktes het onmeetlik gelyk. Hy het die eensaamheid gevrees wat oor daardie ruimtes hang. Joey was bang vir die tweespoorpaadjie in die verte oor hy kon sien hoe die ding vergeefs probeer om oor daardie vlakte te kom. Sommer so, terwyl jou oog hom nog probeer volg, het die strepie pad in die niet verdwyn. Die paadjie het nie êrens aangekom nie, dit het nêrens gestop of stasie gemaak nie, dit het net verdwyn in ’n soort eindeloosheid. Dis daardie wegraak die onbekende in wat Joey gevrees het, want hy het toe nog met die oog van ’n verstoteling gekyk. Dis eers later dat hy sou leer sien.
Wat Joey Drew dus van dié gegoede Boere geweet het, kon hy net waarneem wanneer dit etenstyd word en hy dus sy omswerwinge só moes konstrueer dat hy binne roepafstand van die agterdeur af was. En dan, nadat hy sy aandete alleen aan die kombuistafel moes nuttig, het hy die familie probeer uitluister. Hy het dan oor die kraakgeluide van die plankvloer heen, en so stil moontlik, na sy kamer toe gesluip – by die eetkamerdeur verby waar Danie teen daardie tyd sou besig wees om uit die Familiebybel voor te lees, of oupa Daniël sy uitgebreide aandgebed sou doen.
Joey kon nie weet dat hy elke aand deel was van die ou man se gebed nie. Want oupa Daniël, gedagtig aan die opdrag dat ’n mens ook vir jou vyande moet bid, het elke aand by sy Here gepleit om in te gryp en in sy groot genade en almag die Engelse weg te keer van hulle grypsug en hulle op die pad van regverdigheid te lei. En, meer spesifiek, dat die Here nie sy aangesig moet wegkeer van die onaansienlike en aanstootlike klein Engelsman in hulle poorte nie, maar hom moet bekeer van sy dwalinge. En as dit moontlik is, het oupa Daniël gepleit, leer tog hierdie familie om hulle vyande lief te hê, al weet