Fees van die ongenooides. PG du Plessis. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: PG du Plessis
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624052616
Скачать книгу
’n skropborsel.

      Net toe Joey in sy bad wou klim, was daar die geluid van ’n perdekar buite en hy het hom na die vensteropening gehaas om te sien wat aangaan. Danie van Wyk en paar lede van sy familie het stilgehou en afgeklim. Die kapkar was blink en skoon, die tuie gepoets, die swart perde blink van versorging. Danie van Wyk het eerste afgeklim. Hy het die swart manel en die wit strikdas en beffie van ’n kerkraadslid gedra en twee welgeklede vroue van die kar af gehelp. Vir die ou man wat saam was, is ’n kassie nader gedra vir die afklim.

      Joey het verlig, maar met ’n verkeerde afleiding in sy kop, van die venster af na sy bad toe gegaan: “Dankie tog, dis Engelse mense. Hulle praat seker net die skraperige taal met bediendes en vreemdelinge.”

      Nog ’n kar het stilgehou, maar hy was al in die bad.

      Die deur het oopgegaan en Danie van Wyk het in die opening verskyn: ’n man van knap oor die vyftig, met grys in sy netjiese baard en breë snor. Hy was fors van postuur en het bo Joey in die bad uitgetroon. Joey, klein, kaal en wit – en verleë omdat die badwater waarin hy sit al klaar die vaal-bruin kleur van oorgebruikte skottelgoedwater het – het oorkruis en nederig opgekyk na die formeelgeklede man.

      “Ek hoor jou van is Drew,” het Danie van Wyk in goeie Engels gesê. “Myne is Van Wyk.”

      “Asseblief, Meneer,” het Joey amper gepleit, “ek is nie wat Meneer sien nie.”

      “Dis seker moontlik. Ek wil net vir jou sê, meneer Drew, dit is nie ons gewoonte om vreemdelinge se wasgoed op Sondae te laat was nie, maar ek kan sien my skoondogter het gelyk: u is ’n noodgeval. Ek sal vir hulle sê om nog skoon water te bring. As jy uit daardie sop moet klim …”

      Joey het nie gehoor wat hy verder sê nie, want Danie van Wyk het vooroorgebuk en met die silwerbeslaande steel van die perdepeits in sy hand die besmeerde lang onderbroek van die grond af opgetel en daarmee deur die deuropening verdwyn.

      Joey het uit die bad gespring om te sien wat hy met sy onderbroek gaan maak. Tog net nie wys nie! Maar Danie van Wyk het net, al was dit ten aanskoue van almal op die werf, die onderbroek oor die punt van die peitsstok gedra soos ’n dooie slang en dit in die vuur onder die seeppot ingeskiet. By die wasgoeddraad was Sarah besig om die wasgoed op te hang: Joey s’n kort; Hans Bester s’n lank. En by die komberse het die swart vierkant van sy kamera-doek gehang – ’n paspoort na respek, het Joey gehoop.

      Danie van Wyk het vir hom ’n nuwe lang onderbroek met die eerste emmer skoon water saamgestuur.

      Maar ten spyte van die swart doek het die Van Wyks nooit enige agting vir Joey Drew ontwikkel nie.

      Dit was hulle christelike plig om gasvry te wees teenoor die vreemdelinge in hulle poorte, maar verder as dit het hulle nie gegaan nie. Joey het sy kos teen etenstyd gekry en ’n kamer om in te slaap, maar die familie het hulle formeel en eenkant gehou en selfs in Joey se teenwoordigheid daardie skraperige taal met mekaar gepraat. By hom het die oortuiging gegroei dat hy in sy teenwoordigheid bespreek word. Net as hulle direk met hom praat, het hulle Engels gebruik. Sy perde is versorg, sy wasgoed gewas en gestryk, en sy direkte vrae is beantwoord. Dit was al.

      Die een vraag wat hulle hom wel gereeld begin vra het toe sy verblyf by hulle oor weke en maande begin strek, was wanneer hy van plan was om te gaan. Die vraag het mettertyd toegeneem en ’n skimp geword. Hy’t geweet dat hy nie meer welkom was nie, maar hoe kon hy hulle vertel dat hy die oop ruimtes waarin hy so verlore was, vrees? Dat hy bang was om weer die pad te vat in ’n oopte waar selfs die son nie kon besluit waar om op te kom of onder te gaan nie? Waar, nadat hy besluit het wes is soontoe, die son môreoggend gaan opkom, en as hy besluit oos is dáár gaan die son net links van die plek ondergaan? Weg van die plaas af gaan niemand hom weer verstaan nie en die koue eensaamheid gaan op hom neersif soos die ysies van die kil nagte onder die sterre en die witgerypte oggende. Hy het baie verskonings aangevoer om nie te gaan nie – die perde, sy gesondheid, die weer. Totdat hulle opgeraak het. Sy ure het hy verwyl in sonkolletjies wat hy ontdek het. Hy kon later sien die seisoen begin verander, maar hy het gebly. Hy’t ’n gemors van die hele ding gemaak, en hy het goed genoeg geweet hoekom. Dit was alles oor daardie eerste en enigste maaltyd wat hy saam met die familie aan hulle tafel genuttig het.

      Hy het daardie Sondag van sy aankoms amper die velle van sy lyf af geskrop om skoon te kom. Die skoon klere wat Sarah vir hom gebring het, het nog na die strykyster geruik, en hy het so méns begin voel dat hy die res van die familie met selfvertroue kon ontmoet.

      Almal kon en het, tóé, Engels in sy teenwoordigheid gepraat.

      Danie van Wyk was die gesinshoof en sy vrou, Dorothea, die onbetwiste heerser in die huis.

      Gertruida van Wyk, Danie se suster, was ’n oujongnooi van reeds diep in die vyftig. Sy het by die familie gebly en Joey het afgelei haar jare van maagdelike onthouding aan plesier en liggaamlike vervulling het haar gestywe met dieselfde deeglikheid as dié waarmee sy die wit omslae van die moue om haar polse gestysel, gestryk en uitgelê het. Haar bewegings, haar gaan sit en opstaan en loop, en bes moontlik ook haar gaan lê, was so presies en beheersd soos die afgemete woorde uit haar mond. Dit was asof die Arabiese gom in die kant-boordjies wat sy hoog teen haar nek op dra, mettertyd ook in haar ingeweek en haar tot diep binne-in verstyf het.

      Die enigste lid van die gesin wat sy afkeer in Joey se aanwesigheid nie weggesteek het nie, was Magrieta se man, Daantjie van Wyk. Hy was jonk, nie onaansienlik nie, en spoggerig, en alhoewel hy ná daardie eerste ete nooit weer ’n woord met die Engelsman gepraat het nie, kon hy nie help om in Joey se teenwoordigheid spelerig te raak met sy mooi vrou nie. Joey het gesien hoe geskok Gertruida was wanneer die twee jonggetroudes se suggestiewe spel te duidelik begin sinspeel op wat kennelik daardie aand sou volg. Sy het dan uit die geselskap verdwyn, en die twee het daaroor gelag. Met daardie spelery was daar amper iets vermakerigs in Magrieta houding. So asof sy vir Joey en Gertruida sê: Ons het dit, julle nie. Wanneer die ouers nie naby was nie, het hulle iets van die geilheid van hulle jong liefde gewys. Van die oomblik van hulle eerste ontmoeting af, toe Joey so verslons voor haar gestaan en die goedheid van God so uitgeblaker het, het Magrieta altyd ’n glimlag vir hom gehad – so effens spottend asof hy steeds vuil is en verward raak voor haar skoonheid. “Ek is sommer net ’n ding in haar oë,” het Joey vir homself gesê, en dis nie hoe hy dit wou gehad het nie.

      Daar was nog twee dogters. Nellie, sestien en blosend voor die geringste, en Sussie, die jongste, stil en eenkant.

      Die grootvader in die huis, oupa Daniël, het al swaar opgestaan en met oumenstreetjies geloop, in die verlede geleef, betigtend met die jongeres omgegaan, en by die geringste aanleiding lank en smekend gebid.

      So het Joey die familie leer ken. Maar dit was altyd oppervlakkig, omdat dit van ’n afstand af moes geskied. Hy moes hulle leer ken soos ’n vreemdeling wat ’n vreemdeling bly, en só agterkom wat aangaan: meer uit afleidings as uit mededelings. Daardie eerste middag het hy nog nie geweet hoe die vurk in die hef steek nie, en het hy nog geglo: ’n Gegoede familie, ’n Engelse familie, goddank.

      Dorothea het hom, toe hy skoongewas en ordentlik aangetrek uit die stronkekamer verskyn, gevra om te kom aansit vir hulle Sondagmiddagete in die eetkamer. Almal het net Engels gepraat, het Joey tot sy sterfdag geglo. En as dit nie so was nie, hoekom het hy dit so gehóór? Wat het jou makeer? het die selfverwyt wat met die herinnering op sy skouer kom sit, altyd gevra. Hy moes tog kon hóór die ou man sê sy tafelgebed in Nederlands. Waar was sy gedagtes? Dis van ordentlikheid dat hulle in sy teenwoordigheid net Engels gepraat het. Dit kon sy smartlike reis, of sy smagting na ’n bietjie verstaan, of die vernedering van sy vuilwees, of die skok van Magrieta se verdomde skoonheid gewees het, of so iets, maar wat ook al die rede, wat gebeur het, was onomkeerbaar gedaan.

      Dalk was dit die noodlot wat gemaak het dat sy oog die kraffie op die tafel die eerste raaksien toe hy die eetkamer binnegaan. ’n Geel vloeistof het in die kraffie gegloei. En daar was belowende wynglase voor die borde. Joey het drie weke vantevore op ’n bitter koue nag met ’n seer hart van die laaste druppels uit oorlede Hans se brandewynfles afskeid geneem. Drie weke is lank.

      Rondom hom was die eetkamer van ’n gegoede familie. By die swaar stinkhouttafel kon veertien aansit, die