Magrieta het hom in Engels geantwoord: “Sê dan wie u is, Meneer. Ek is Mevrou van Wyk.”
Joey kon later nooit aan homself verduidelik waarom hy toe gesê het wat hy gesê het nie. Dit was seker maar oor haar manjifieke uiterlike, of miskien was dit sy verligting en dankbaarheid om ’n druppel Engels aan die lippe te voel in die dorre woestyn van die skraperige taal. Dit was asof sy woorde uit iemand anders se mond kom.
“God is goed,” het hy gesê.
Dis wat hy gesê het, en die spotlaggie wat na die hoeke van haar mooi oë gekom het, het die onsinnigheid van sy stelling by hom tuisgebring.
“Is dit ’n manier van groet waar u vandaan kom, Meneer? Of wil u kom preek?”
’n Verleentheid het oor hom gekom en hy’t hom toe maar vinnig voorgestel en die “Somerset, Engeland” bygesit vir ’n tikkie waardigheid.
“O,” het sy gesê en hom stadig van bo tot onder bekyk.
Joey het geweet hy’s nie veel om na te kyk nie en gedurende die meer as ’n maand wat hy voortgesukkel het van misverstand tot nie-verstaan was hy só ingedagte en probleembeset dat hy nie eens daaraan gedink het om in die pakkaas op die perdekar rond te krap agter die spieël aan nie. Voor Magrieta van Wyk het dus ’n baie vuil mannetjie gestaan. Hy’t vir meer as ’n maand in sy klere op die grond geslaap; die onverskillige drade uit sy lepel wanneer hy sy half-gekookte gortsop slurp en wat net ’n ingedagte man in sy alleenheid sal toelaat om in sy baard af te drup en daar te bly sit, het in droë brokkies aan die yl groeisel gekleef; die verfrommelde strooihoed wat hy senuagtig in sy hande ronddraai, het saam met sy skoene as kopkussing moes dien gedurende sy nagte in die oopte. Die hoed se kreukels het die onrus van daardie nagte vertoon. Sy en oorlede Hans se kussings was daardie tye op sy voete wat seker nooit in sy lewe weer sou warm word nie. Sy wit hemp was ’n egalige bruin en hy het twee baadjies oor mekaar aangehad: die binneste het gepas, maar die buitenste was heeltemal te groot vir hom, alhoewel die moue die regte lengte gehad het.
Vir Magrieta van Wyk was Joey Drew van Somerset, Engeland, dus net ’n vuil, bakbeen, onwelriekende kolommetjie mens. Die indruk wat hy maak, was duidelik te sien in die afkeer wat in haar goddelike oë gegroei het. Sy andersins so deurdringende blik het onder sy gekoekte hare soos dié van ’n hond geword wat op ’n klein bietjie goedkeuring hoop.
Soos sy vir hom, het Joey ook die mooie Magrieta geruik. Dit was nie die reuk van laventel of seep nie, maar iets anders. Hy het dit later aan homself, maar nooit aan iemand anders nie, verklaar: ’n mens kan só vuil word en so gewoond raak aan die reuk wat daarmee saamgaan, dat jy naderhand skoon aan iemand anders kan ruik. Veral as dit ’n vrou is, en veral as die vrou so mooi is soos nog net Magrieta van Wyk ooit was.
“Ek gaan jou nie binnenooi nie, meneer Drew, jy’s te vuil.”
“Ja, Mevrou,” het Joey saamgestem.
“En hoekom kyk jy nie na jou perde nie?”
Joey se altyd so deurvorsende blik van staal het verkrummel tot brokkies nederigheid en grond toe geval. Hy het Magrieta van Wyk maar pas ontmoet, maar sy het hom al klaar ondergedompel in die kuil van skuld anderkant verskonings.
“Ek is jammer, Mevrou …”
“Jammerte voer nie jou perde nie.Vat hulle agtertoe en kry vir hulle hooi by die mied. Dan kan jy agterdeur toe kom.”
Sy’t die deur in sy gesig toegemaak, en dit toe soos ’n nagedagte weer oopgemaak. “Daar’s ’n trog. Gee die arme diere eers water.”
Joey Drew het skielik, vinnig en gedienstig beweeg om te doen wat sy hom beveel het. In sy diepgeroerde gemoed het hy geweet dat hy altyd sal doen wat Magrieta van Wyk van hom vra. Sonder argument of teenvraag.
Toe hy, ná die perde se versorging, by die agterdeur opdaag, het sy vir hom oor die onderdeur ’n opgehoopte bord boerebeskuit en ’n beker koffie aangegee.
“Ek waardeer u vriendelikheid ten seerste, Mevrou,” het Joey haar bedank en bygevoeg: “Ek is eintlik fotograaf van beroep. Ek neem foto’s.”
“Jy kan my dit vertel as jy skoon is. Kry jou vuil klere van die kar af en trek daardie uit. Ons sal die goed moet kook. Gee alles vir Sarah. Jy kan dáár uittrek.”
Sy het na ’n buitegebou beduie en die bo-deur toegemaak. Sarah, ’n swart vrou, het saam met hom kar toe gestap. Joey kon nie anders as om op te merk dat sy bokant die wind hou nie, maar dit was maar die begin van sy vernedering.
Sarah het met moeite op die kar gekom, maar toe sy eers bo-op was, het sy die ene bekwaamheid geword. Sy het dadelik die hopie perdemis wat Joey met soveel moeite agter sy trekdiere opgetel het om te droog, raakgesien, die sak waarop hy die droging gedoen het aan die vier hoeke bymekaargevat, vir hom aangegee, haar kop meewarig geskud en met ’n stom vinger gewys waar hy die goed moet wegsmyt. Toe Joey van sy sending af terugkeer, het sy klaar in een van die komberse ’n bondel gemaak van die klere in die trommels. Joey het gesien dat die swart doek wat hy oor sy kop gooi wanneer hy so belangrik agter die kamera inbuk, ook tussen die wasgoed gekom het en hy het dit probeer terugvat, maar sy het dit uit sy hand geruk, hom aangekyk asof hy ’n lastige kind is, en die bondel van die kar af gelaai.
By die buitegebou waar Magrieta gesê het hy moet uittrek, het Sarah hom by die deur ingedruk en beduie hy moet sy klere vir haar deur die deur aangee.
Binne het hy sy koffie en beskuit eenkant gesit. Toe hy sy onderste lang onderbroek begin uittrek, het die verleentheid hom verder oorweldig. Hy’t twee onderbroeke oormekaar gedra: sy eie onder, met oorlede Hans Bester s’n bo-oor. Dié se te lang bene was binne sy kouse in Joey se uitgetrapte skoene om sy voete gevou. Enigiets teen die koue. Maar die binneste onderbroek, so het Joey gesien in die lig wat deur die opening in die een muur val, het met veelvuldige strepies en blertse daarvan getuig dat bondeltjies hooglandgras nie skoon afvee nie. Hy was vuil, en die vrou gaan dit sien aan sy klere, maar die vernedering van die onderste onderbroek sou te veel wees. Hy het dus twee kledingstukke teruggehou: die boonste baadjie en die onderste onderbroek.
Buite, so kon hy deur die vensteropening sien, was Sarah en ’n bruin man besig om ’n stronkevuur onder ’n seeppot aan die gang te kry. Hy sou moes wag. Daar was ’n hoop mieliestronke in die vertrek en, geklee in net sy oorgroot bo-baadjie en sy beskamende onderbroek, het hy teen die stronkehoop gaan sit met sy koffie en beskuit.
Tot die vrouens begin lag het. Hulle uitbundigheid het Joey se ore bereik waar hy op die stronke sit en hy’t by die venster-opening gaan loer. Voor die kombuisdeur het Sarah met een van sy kouse gestaan. Sy’t die kous vieserig tussen net die verste puntjies van duim en wysvinger vasgeknyp en met ’n uitgestrekte arm uitgehou vir Magrieta om te bekyk. Joey het daardie kous self en dikwels gestop en hy’t nie juis ag geslaan op die kleure stopwol wat ter hand kom wanneer ’n ertappel in die kous ongerieflik groot word nie. Die resultaat was ’n veelkleurige kous wat só gestop was dat daar van die oorspronklike nie veel meer oor was nie. Joey het gesien hoe die mooi Magrieta oor sy kous jil en hoe die vroue kommentaar lewer en dan skree van die lag. Hulle woorde het by sy ore uitgekom in ’n taal wat hy nie kon verstaan nie, maar hulle houding en gesigsuitdrukkings het vir Joey se verslae oë gelyk of dit wissel tussen pret, hoon en veragting. Hy word bespot, het Joey geweet, en een van die spotters was die een vrou op die ganse aarde wat hy bitter graag sou wou beïndruk. Hy het gekwets weer gaan sit, wetende dat hy nou buite hoop op enige respek van Magrieta van Wyk se kant af was. Hy sou nooit ooit iets, net iets, in haar oë kon word nie. Die neerslagtigheid het op hom toegesak.
Joey het afgekyk op sy kaal voete. Hulle was smal en wit en blou-geaar, en sy toonnaels was swart-blou van die vuil en heeltemal te lank. Op sy een groottoon het die groeisel al buitekant toe geswaai. “Dié land het ’n boemelaar van jou gemaak, Joey Drew. ’n Verdomde bóémelaar.”
Ná ’n uur is ’n sinkbad die stronkekamer ingedra, gevolg deur emmers stomende water. Die swart man wat die water bring, het Joey se groet net aangekyk en aangegaan met sy werk. Met sy laaste binnekoms het die man ’n skinkbord neergesit. Netjies gerangskik,