“As die Engelse hom wil hê, gaan hy kom, my kind. Hulle sal net naderhand so onredelik raak dat ons nie meer sal anders kan nie. Vertrou kan ons hulle nie, en net die Here kan ons help. Ons moet op Hom vertrou.”
“Sal die Here ons help as die oorlog kom, Pa?”
“Nie as jy daardie vraag vra nie, Wynand. God is getrou, maar jy moet sekerheid in jou hart hê. Dan sal die mosterdsaad vir jou leer: Moenie bevrees wees nie, want jy kan berge versit met jou geloof en die hulp van jou God.”
“Ek dink nie ons mense het ’n gedagte van hoe groot die berge is wat versit sal moet word nie, Pa,” het Gertruida tussenin gesê.
“Ons moet volhard in die gebed, Gertruida. God is ’n God van geregtigheid, Hy sal ons nie in ons regverdige saak alleen laat nie.”
“Die Engelse gaan net so hard bid soos ons, Pa. ’n Oorlog is nie ’n stryd oor wie die hardste kan bid nie.”
Martie se stem was skerp: “Dis godslastering! Wat jy daar sê, is laster, Gertruida!”
“Al wat ek sê, is dat die Engelse net so oortuig is van die regverdigheid van hulle saak as ons. Jy moes nou die aand daardie skeel Engelsmantjie gehoor het! En die Empire maak al meer as die helfte van die aarde toe. Daar’s niks wat ons teen daardie oormag kan doen nie.”
“Dis dié dat ek sê ons moet alles doen om die oorlog te vermy.” Dit was Wynand, en hy’t dit sag gesê.
Daantjie het met mening by die gesprek ingeval: “En alles sommer so vir hulle op ’n skinkbord aandra? Daar’s te veel mense tussen ons wat met daardie evangelie volgens Judas tussen ons boer. Hierdie klomp vredepraters is niks meer as papbroeke nie. Ons moet die Engelse die see in boender en klaarkry.”
“Sê jy ek is ’n lafaard, Daantjie?” Wynand was op sy voete.
“Ek sê nie oom Wyand is nie …”
“Nou sê ek vandag vir jou, Daantjie van Wyk, ek sal veg as ek moet, maar ek gaan nie my eie en my mense se bloed laat verspil vir ’n hopelose saak nie.”
“Ek sal myne gee, oom Wynand! Ek sal veg tot ek nie meer ’n druppel bloed in my are het nie!”
Daantjie het maklik gepraat en makliker gespog. Sy besittings, sy perd, die mooiste vrou – alles was die beste en moes sigbaar die beste wees. Agter sy rug het hulle hom Blink-Daantjie genoem. En oor die familietafel daardie middag kon hy sy blink patriotisme uitstal. Hy het, soos ’n volksredenaar, met die diepste moontlike stem gepraat en die gesegdes van die politieke sprekers nageboots. Sy tirade was vol van “vryheid kosbaarder as die lewe self” en “dié land so duur gekoop met … . ja, geheilig, deur die bloed van ons vaders en benat met die smartlike trane van ons moeders”. Met al dié geykte woorde het Daantjie tog gesê waarin hy geglo het, want die woorde het in hom ingegroei totdat daar rondom hom uiteindelik ’n geheiligde volk in ’n heilige vaderland was – met hom in die middelpunt. Teen die einde van sy belydenis het hy met ’n sagter, gepynigde stem die swakheid van sommige volksgenote betreur – dié wat so máklik, só maklik, dit wat heilig is kan weggee, sonder om bereid te wees om die offer te bring. Die óffer te bring.
“Ek is nie een van hulle nie, jy kan maar ophou,” het Wynand, wit om die mond, tussenin gesê.
Martie van Wynand was nie ’n imposante vrou nie. Sy was kort en geset, maar wat sy nie besit het aan gestalte nie, het sy voor opgemaak in opvlieëndheid. Sy’t alles wat Daantjie aan die sê was van harte geglo, en sy en Wynand het al dikwels woorde gehad oor sy vredeliewendheid, maar wat Daantjie in die rigting van haar man geskimp het, was te erg. In haar oë was weifeling al klaar ontrouheid, en ontrouheid die eie-broer van die grootste doodsonde denkbaar: verraad. Sy moes iets sê: “Dorothea, sê vir hierdie seuntjie van jou hy moet sy groot bek van Wynand af hou.”
“Daantjie wys nie vinger nie, Martie …”
“Ek het dit nie só bedoel nie, oom Wynand …” het Daantjie begin terugkrabbel, want sy pa se blik was swaar op hom.
’n Stilte het oor die familietafel kom broei. Oupa Daniël het ’n enkele keer in die rigting van vergewensgesindheid en broederlike liefde geskimp. Dit het nie gehelp nie. Net die messegoed het op borde geklik.
Dit was in dié stilte dat die klavier sy enkele noot laat val het. ’n Vuurhoutjie van ’n noot.
Die twee dogtertjies, Sussie en Driena, het gevra of hulle, terwyl die grootmense in die eetkamer eet, buite op die stoep hulle eie speelmaaltyd kon hê. Maar die kos was gou op en hulle het moeg geraak vir die speletjie. Sussie wou vir Driena tante Gertruida se klavier gaan wys en hulle het stil by die eettafel verbygeskuif tot voor die klavier. Sussie het die flap saggies oopgemaak, die vilt-bedekking oor die klawers weggetrek, en al wat sy wou maak, was om een noot stadig en dus sonder ’n geluid af te druk. Maar daar was ’n geluid en die noot het die gelade stilte ingevaar.
Gertruida het hulle sag vermaan: “Kom weg van die klavier af, kinders.”
“Driena, kom weg van daardie ding af!” het Martie skerper as wat sy gewoonlik met haar dogter praat, gesê.
Sussie het agtergekom dat daar iets groots verkeerd was tussen die grootmense en sy het flap saggies probeer toemaak. Maar haar hand het die klawers geraak en ’n vals akkoord het deur die vertrek geklink.
Martie het haar na haar skoonvader gedraai en hard, sodat die hardhorende ou man kan hoor, vir hom gesê: “My arme oorlede skoonmoeder draai vandag in haar graf om, Pa. Hoor Pa my? Ek sê, my arme oorlede skoonmoeder draai vandag in haar graf om, Pa.”
“Nou hoekom sal sy nou só ’n ding doen?”
“Nooit-nooit-ooit sou sy dit toegelaat het nie. Nóóit!”
Oupa Daniël was uit die veld geslaan: “Die-wat-nou sou sy nie wou toelaat nie?”
Wynand het Martie geken en probeer keer wat daar te kere was: “Martie, los die mense uit …”
“Nee, Wynand, ek het my sê en ek gaan hom sê.” Daar was ’n verbetenheid in haar stem en sy wou voortgaan, maar Gertruida het haar voorgespring: “Nou sê dan jou sê, maar ek kan nou al vir jou sê wat jy gaan sê: die klavier is Satan se instrument, dis wat jy wil sê. En hy’s hier omdat ek in die Kaap loop skoolgaan het tussen die Engelse, is dit nie? En dis hoekom ek nooit ’n man gekry het nie – soos jy agter my rug vir die Bothas gaan loop en vertel het, en oor my aanstellerigheid oor ek dink niemand hier is goed genoeg vir my nie! Dis wat jy wil sê!”
“Al wat ek vandag vir jou kan sê, Gertruida van Wyk, is dat my oorlede skoonmoeder nooit daardie wêreldlike ding in hierdie huis sou toegelaat het nie!”
“Gertruida speel net stigtelike musiek op die klavier, Martie,” het oupa Daniël sake probeer kalmeer.
“Moenie dit vir my probeer vertel nie … Vader. En om te dink sy’t die kosbare liefdesgeld wat haar moeder vir haar nagelaat het op hierdie duiwelsding verspil! Net sonde en versoeking kan uit daardie ding uit kom! Ek gaan hoed opsit.”
Daarmee is Martie die kamer uit. Wynand het sy kop geskud: “Sy word deesdae so. Dis seker maar oor die oorlog in almal se binnewerke rondkarring. Ek het die Here al so baie keer gevra dat Hy Martie moet verlos van dié godsdienstige ding … Wat lag jy, Gertruida?”
Gertruida wou nie verduidelik oor die Liewenheer se penarie met so ’n teenstrydige gebed nie, en het ná ’n “ag, sommer” stilgebly.
Wynand-hulle het dus nie oorgeslaap soos die plan was nie, maar dadelik begin aanstaltes maak. Hulle wou nie te diep-donker by die huis kom nie, was Wynand se verskoning.
Buite, waar Greeff besig was om Wynand se perde in te span, het Danie op sy beurt verskonend na die middag se woorde verwys: “As ’n vader is ek trots op Daantjie se warm gevoelens vir ons volk, Wynand. Hy is nog jonk en voortvarend …”
“Grootbekkigheid gaan ons nêrens bring nie.” Met dié woorde het Wynand heel onnodig om die kar