Later, soos Gertruida voorspel het, het hy die grootpad gekry en daarmee saam groepe Boere wat op pad was na die front in die suide. Elke groep het hom gestop, sy goed deurgesoek, hom ondervra deur tolke van wisselende vermoëns en hom dan laat gaan.
Dit het mettertyd vir Joey duidelik geword dat hy met ’n soort paspoort sit: die kamera en ’n baie besige professionele houding. Die meeste groepe wou, wanneer hulle verneem wat sy nering is, hulle historiese oomblik laat verewig op Joey se geheimsinnige swart plaatjies, en wanneer hulle nie gevra het nie, het hy aangebied om hulle te fotografeer. Die bestellings vir afdrukke is geneem, die geringe vooraf-geldjie is betaal en aflewering sou ná die oorlog geskied by die apteek in Kimberley. Joey het die groepe met groot sorg gerangskik, baie te sê gehad oor die beskikbare lig, en dan sy “hold it, hold it, hold it, h-o-o-o-old” met oortuiging laat hoor voor hy sy onderwerpe met ’n leë kamera fotografeer. As daar te veel versoeke vir foto’s was, het Joey begin weier – omdat die koste daaraan verbonde so hoog is, het hy verduidelik, en omdat daar met die koms van die oorlog onsekerheid is oor die verdere beskikbaarheid van fotografiese materiaal. Dit mag dalk die laaste reeks portrette wees wat hy neem. Die man van Somerset, Engeland, het ’n sin vir die realistiese gehad. Dit was terwyl hy die mense dié guns doen, dat hy begin skimp het oor honger en wanneer hy laas ’n drankie oor sy lippe gehad het. Met goeie gevolg.
“’n Kamera is ’n geheime ding,” het Joey altyd gesê. “Hy’s soos onthou en lieg. Daardie goed kruip in jou kop weg en niemand sien iets van hulle as jy nie self uithaal en wys nie. Maar ’n kamera is nog beter. As jy onder daardie swart doek inbuk, weet niemand wat jy sien nie, en van wat daar gaan uitkom weet hulle nog minder. En met die oorlog was dit só dat niemand geweet het of hulle die goed ooit weer gaan raakloop nie.”
Maar die grootste bate van die kamera het in die menslike ydelheid gelê: as die mense se beelde eers êrens in die binnewerk van jou instrument sit, is hulle van jou goeie trou afhanklik, want jy’s al een wat kan sorg dat hulle hul begeerde beelde later in die hande kry. Sulke mense sal nooit jou kamera van jou af wegvat, of jou lot vir jou beswaar nie.
’n Kamera was ’n paspoort en, in die hande van die meester, ’n voorsiener van kos en drank.
Tog was dit nie juis die kamera wat Joey deur die beleëraars van Kimberley gekry het nie. Hy is die dorp in op die wieke van iets wat dalk ’n militêre glimlag genoem sou kon word. Ten spyte van die skoongewaste uiterlike waarna Joey sedert sy ontmoeting met Magrieta van Wyk so noulettend omsien, het ’n Boer by die blokkade Joey herken as die vuil Engelsmantjie wat op hulle plaas aangekom het en net in Engels kon brabbel. Hulle het hom destyds sommer maar weggejaag. Die veldkornet het Joey deurgekyk: Die mannetjie lyk nie of hy die draer kan wees van veel inligting nie. Arme Engelsman, met daardie ogies sal hy in elk geval nie gevaarlik kan skiet nie; hy lyk onskuldig genoeg; hy neem portrette vir ’n lewe; hy’s skytbang, want sy broek bewe elke keer as ’n kanon lostrek. Dis te veel moeite om met die mannetjie opgeskeep te sit, so, gee maar die mense van die dorp nog iemand om kos te gee. Laat hom maar deur.
Joey het van die besetters af weggery en die dorp genader. Hy kon al die De Beers-toring duidelik sien en die geboue en mynhope het al uit die plat verte begin oprys, toe die klank van die kanonladings wat in die dorp bars, Joey begin bekommer het. Agter hom bulder die grofgeskut en voor hom in die dorp dreun die ontploffings van hulle koeëls se ladings. Joey het hom verbeel hy kan al die plofstowwe ruik. Een keer kon hy sweer hy sien hoe ’n gebou se bakstene en balke die lug in geblaas word – met sinkplate wat soos stukkies karton rondvlie.
Daar was ’n dag by die myn toe Joey gesien het wat plofstof aan ’n mens en omgewing kan doen. Hy is daardie dag in die myn afgestuur om ’n klomp stukke mens te gaan optel ná ’n ontydige ontploffing. Daar was glo nog lewende dinamietkerse in die wand toe ’n span al tonnelstutte wou insit. Iemand het seker met die blaasgat gepeuter en die ontploffing moes amper in hulle gesigte afgegaan het. Joey moes help bymekaarsoek wat daar van drie man oorgebly het – die ander dooies was heel genoeg om in een stuk uitgehaal te word. Hulle moes soek na oorblyfsels – tussen klippe en rotse en versplinterde dakstutte – en hulle moes dit doen in ’n dik wolk stof, stof, stof, wat net nie wou gaan lê nie en met elke beweging weer van voor af opgestuif het. In die geel lig van hulle lampe het die tonnel soos die hel gelyk. Die herinnering het in Joey se keel kom sit – die stukke vleis, die lyntjies pees, die verpletterde skerwe been, ’n halwe kop, afgeskeurde ledemate … alles in die lig van ’n lamp en omwaas van stof, stof, stof. Die reuk het soos ’n naarheid weer by Joey teruggekom. Dit was die reuk van dinamiet, stof, ’n slaghuis en ’n kakhuis – alles inmekaargedraai en in jou neus opgeprop. Dit was die reuk van dinamietverpoeierde rots, van dood, en van al die safte organe en stowwe wat in die nog lewendes borrel en dein.
Joey het begin om sy vrees vir die oop ruimtes te heroorweeg. Dáár was dit ten minste stil en veilig. Hy het geweifel. Agter hom het die grofgeskut gebulder en voor hom het die ontploffings uit die dorp teruggedreun. Dit kon net beter wees buite die beleg.
Hy het omgedraai en teruggery na waar hy vandaan gekom het. Die Boere het sy dilemma van ver af dopgehou. Toe hy by hulle aankom, het hulle gevra waar dink hy gaan hy nóú heen? Weet hy dan nie daar’s oorlog en die dorp is onder beleg nie?
Soos ’n rot in ’n val, het Joey gedink.
Daaroor het Joey en die Boere saamgestem.
Hulle het op die eerste dag nadat hulle berig ontvang het op kommando gegaan.
Oupa Daniël het die afskeidsgebed gedoen waar hulle voor die tuinhekkie bymekaar was. Die vroue het trane afgevee, en die mans het met toe oë en met hulle hoede in hulle hande gestaan. Alhoewel hulle “sidderend voor die troon van die Almagtige God”, soos oupa Daniël dit genoem het, bymekaar was, was hulle nie een groep nie, maar drie, want elkeen het volgens sy stand gestaan. Hulle het vergader volgens die regte, voorregte, vooroordele en verbande wat op daardie voor-oorlogse oomblik nog gegeld het. Dit kon nie anders wees nie. Hulle het nie eens geweet dat hulle dit doen nie, en hulle het nie besef hoe hulle toekoms van daardie saamwees af sou uitwaaier in ondenkbare rigtings nie. Op daardie oomblik het die voorskrifte van vredestyd nog gegeld.
Hulle kon ook nie weet dat, soos op Joey Drew se familie-foto, hulle bymekaarwees só, ’n laaste is nie, want hulle het nog nie die versteurings van geweld geken nie. Miskien het Fienatjie so iets gedroom, maar wie sou nou wou luister na so ’n donker en ingewikkelde droom oor hoe ver en hoe naby mense op gedeelde oomblikke aan mekaar is. Sy’t dalk net gedroom hoe hulle onder daardie gebed sou staan: Die Van Wyks eenkant, Dorothea langs Danie, Gertruida naby die twee, Sussie aan haar pa se hand, Daantjie en Magrieta naby, maar op hulle eie, want Daantjie het ’n handholte, ’n onthou-hand, op Magrieta se stywe, ronde boud gehou; Nellie alleen, haar oë oop en op Petrus Minter gerig. Die Minters het hulle eie groep op respekafstand gevorm en, drie treë respek verder, was daar twee swart mans: Soldaat wat sou saamgaan en Greeff wat sou bly en maar net daar was om die perde vas te hou.
En so het hulle gegroet en weggery. Met hulle perde en pakperde. Net Petrus Minter was bloots op ’n muil, want Soldaat het sy eie perd gehad en die ander perde was nodig vir plaaswerk.
Tot hulle klere het iets van die wydtes tussen hulle vertel. Daantjie het die vorige aand sy nuwe breërandhoed van die hangkas af gehaal en Magrieta het die een rand vir hom opgespeld met ’n patriotiese borsspeld wat hy haar nog gegee het. Om sy nek was ’n rooi nekdoek, sy hemp, baadjie en wye rybroek het by mekaar gepas, sy kamas-laarse was blink, gebosseleer en het tot by sy knieë gekom. Sy spore was blink en geketting, sy perd geroskam en afgevryf, sy saal en toom ingesmeer en gepoets. Daantjie van Wyk wou lyk soos ’n vermoënde man wat oorlog toe gaan, en hy het. Nadat die prosessie deur die onderste plaashek is, het Daantjie sy perd op ’n galop getrek, tot bo-op die koppietjie gery en daar dwars gedraai, in die stiebeuels opgestaan en, hoed in die hand, met een wye, dramatiese wuif afskeid geneem van die groepie wat hulle nog van die voorstoep af agternagekyk het.
Agter op sy muil het Petrus Minter die papiertjie wat Nellie hom met die groet in die hand gedruk het, oopgevou en gelees. Sy wou nie voorbarig wees nie, het sy geskryf, maar haar liefde gaan