Stille waters. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798180610
Скачать книгу
knik simpatiek. “Jou rekenaar is gereed. Neem net hierdie brief na die klerk by ontvangs om dit af te haal.”

      Met die laptop onder haar arm loop sy met onvaste treë tot by Carl en Nadia. “Kom ons ry.”

      “Het jy alles?” Die brief, sien sy in sy oë.

      “Ja.” Haar stem is hees.

      Ek kan nie meer so aangaan nie, eggo die woorde in die verstikkende stilte in die kar. Almal sal oukei wees sonder my.

      Dis alles haar skuld.

      As sy meer oplettend was, sou sy gesien het hy kry swaar. Sy moes nooit begin werk het nie. Sy was selfsugtig. Sy moes hom so lank as moontlik by die huis gehou het, hom self grootgemaak het. Maar toe hy vier word, reken sy mos dit sal goed wees as hy meer sosiaal kan wees. Sy het hom kleuterskool toe gestuur om sy selfvertroue te bou, want hy was tog so skaam en aan haar rokspante vas.

      Sy vee oor haar gesig, asem rukkerig in. Was dit nie bloot haar eie selfsugtige begeerte wat haar gedryf het nie? Om weer tussen grootmense te wees en op ’n volwasse vlak te funksioneer? Sy is nie die huisvrou-soort nie, dit erken sy ruiterlik. En in plaas daarvan om aandag aan haar seun te gee, wou sy haar werwingsagentskap op die been bring.

      Is dit wat Divan nog heeltyd gevoel het, vandat hy klein was? Is dit die sein wat hy as vierjarige opgetel het: dat hulle oukei sal wees sonder hom?

      En later in die skool, toe hy nie meer hokkie wou speel nie en sy hom gedwing het, omdat sy wou hê hy moes deel wees van ’n span? Het hy dit ook gesien as haar manier om hom eerder onder haar voete uit te kry?

      12

      Katrien sit haar pen neer toe haar selfoon piep. Daniëlle.

      Wmj

      Leer en jy? tik sy terug.

      Niks, kom kuier biki

      Dis ’n uitnodiging wat sy nie eens gaan probeer weerstaan ná sy die hele Saterdagoggend agter haar boeke was nie.

      K eks op pad

      Sy pluk haar naghemp oor haar kop en trek ’n kortbroek en top aan. Maak ’n messy bun op haar kop en loop sitkamer toe.

      “Ek gaan by Daniëlle kuier.”

      Heleen kyk skaars van die bank af op waar sy lê en TV kyk. “Kom die tannie jou haal?”

      “Jip.” Wat Heleen nie weet nie, kan haar nie pla nie.

      Sy sluit die deur en veiligheidshek (haar ma sou trots wees) en glip die sleutel in haar broeksak. As sy vinnig stap, is dit net dertien minute tot by Daniëlle se huis.

      Die sypaadjie en hoofstraat is besig. Sy kyk op na die blou lug anderkant die parkie. Partykeer vergeet sy dis daar – die blou lug en die son en die voëls wat sing. Al wat sy in die woonstel hoor, wanneer die TV af is, is mensgemaakte geraas. Die verkeer wat dreun, remme wat skree, die “Dankie, my lanie” van motorwagte in die winkelsentrum se parkeerarea aan die oorkant.

      Eendag as sy groot is, wil sy in ’n huis soos Daniëlle s’n bly. Met ’n grasperk reg rondom en ’n voëlbad en ’n tuinbankie waar sy kan sit en hulle dophou. Sy wil heeltyd buite wees. Nie soos haar ma wat van altyd af ’n kluisenaar was nie. Vir haar is dit óf woonstel óf werk. Sy sê altyd daar is nie geld nie.

      “Maar om te gaan piekniek by Majik Forest kos nie geld nie,” het Katrien eendag probeer slim wees toe haar ma weer die armoedekaart speel. Toe skerm haar ma goed geoefen met die ander hand: Sy is moeg.

      Die eerste keer toe haar ma uitgevind het dat sy na Daniëlle toe stap, was sy vir ’n hele maand gehok. Van toe af jok sy oor die stappery. Dis beter vir almal.

      Sy druk die interkomklokkie by die hek.

      “Is dit jy?” vra Daniëlle oor die klein luidspreker.

      “The one and only.”

      Die hek klik oop. Sy sorg dat dit weer stewig op knip is voor sy na die voordeur stap.

      Daniëlle wag haar in. “Dankie tog jy’s hier. Ek was legit op pad om te revert na Talking Angela toe.”

      “Wow, wanneer laas het ons daai game gespeel?”

      “Voor ons uitgevind het die aarde is actually rond.”

      Daniëlle se kleinboetie is in die TV-kamer op sy tablet besig. Katrien groet hom in die verbygaan.

      “Waar’s jou ma-hulle?”

      “Canal Walk toe.”

      “En jy gaan nie saam nie?”

      “Hulle het gaan draftekkies soek. Nie heeltemal my scene nie.”

      “Van wanneer af draf jou ma-hulle?”

      “Hulle het dit nou in hulle kop gekry om die Ironman te doen. Crazy, ek weet.” Daniëlle tel haar foon van die bedkassie af op. “Kyk hoe het Evette gisteraand gelyk.”

      Die Instagram-foto wys hulle klasmaat met ’n kort toppie en ’n lappie denim wat blykbaar haar idee van ’n romp is.

      “Waar was dit?”

      “Albert se huis.”

      “Ek kan nie glo hulle het partytjie gehou ná ons by Divan se ma-hulle was nie!”

      “Evette het glo totally sloshed geraak. Alyssa ook. Sy was completely out of it.”

      “Hoe weet jy al hierdie dinge?”

      “Sean het my gisteraand gewhatsapp.”

      “No ways.”

      “Hy wou weet of ek oukei is.”

      “Jy joke!”

      “Ek weet, nè? Ons het seker twee ure lank gechat. Die ding van Divan vang hom baie. Het jy geweet hulle was close op laerskool? Divan het hom na sy verjaardagpartytjies toe genooi en alles.”

      “Nope. Maar ek moet sê, dit vang my ook. Ek voel só skuldig. Ek kon glad nie slaap gisteraand nie.”

      “Waaroor voel jy skuldig? As iemand moet skuldig voel, is dit Alyssa. Hy was gaga oor haar en sy het hom aan ’n lyntjie gehou.”

      “Eugene en A.J. het Donderdag vir Divan met krammetjies geskiet. Dit was so erg dat sy oor gebloei het, maar hulle wou hulle pap lag daaroor. En ek het niks gesê nie.”

      “Dit help nie om iets te sê nie. Hulle sou net teen jou ook gedraai het.”

      “Ek wóú praat, maar Divan het my gekeer. Hy’t gesê hy het ’n plan. Ek dink dit was sy manier om vir my te sê hy wil homself uithaal.”

      “Sjoe, dis creepy.”

      “As ek hom net gevra het wat sy plan was, kon ek hom dalk daaruit gepraat het.”

      “Shame, man. Ek dink nie jy moet so dink nie. As hy wou hê iemand moes hom daaruit praat, sou hy iets gesê het.”

      “Ja, seker.” Katrien blaai deur die ander foto’s op Instagram. “Ken jy ’n Kevin?”

      “Nope. Wie’s dit?”

      “’n Ou wat my begin follow het.”

      “Oe, ’n secret admirer! Wys my.”

      Sy maak Instagram op haar foon oop en hou dit na Daniëlle uit.

      “Hy’s handsome.” Daniëlle glimlag breed. “Maar hy’t geen followers nie.”

      “Ek weet. Dit maak nie sin nie.”

      “Sy account is private. Miskien moet ek hom follow en vra wie hy is.”

      “Ek weet darem nie.” Katrien strek haar uit. “Netnou is hy ’n pervert.”

      “Nie hierdie