Stille waters. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798180610
Скачать книгу
laat voel dat hy haar raaksien.

      En sy moet ’n wegsteeklêer oopmaak vir die feit dat sy hóm dalk nooit raakgesien laat voel het nie.

      Toe die macaroni reg is, draai sy die stoofplate af en loop na haar kamer. Oor en oor sien sy hoe Divan se pa die voordeur oopgemaak het. Hoe die tannie inkom met bloedrooi oë wat stokstyf in haar kop staan. Asof in ’n dwaal, soos iemand wat vas geslaap het.

      Sy sak op haar bed neer. Hoor weer hoe die oom vertel dat die tannie gistermiddag net vinnig winkel toe was en hoe sy vir Divan in die garage gekry het. Die brief wat hy gelos het …

      Sy draai op haar maag en vat haar foon om te kyk wat op die whatsapp statuses aangaan, maar sy neem nie regtig die foto’s in nie. Wat staan in die brief wat Divan gelos het? Het hy gepraat van Eugene en A.J.? Die oom het gevra of hulle dalk weet wat vir Divan gepla het, maar sy kon dit nie oor haar hart kry om hom te vertel nie. Sy kón nie, want sê nou hy vra hoekom het sy nie iets daaraan gedoen nie?

      Haar kamerdeur vlieg oop. “Ma is hier,” sê Driekie.

      Sy los die foon op die bed en stap kombuis toe. “Hallo, Ma.”

      “Hallo, Katrien. Julle het weer nie die voordeur gesluit nie, net die veiligheidshek. Julle moet regtig meer versigtig wees.”

      “Oukei.”

      Die hele punt van ’n veiligheidshek is tog om jou veilig te hou, wil sy sê. Maar sy bly eerder stil. Haar ma lyk nie in ’n bui om nou daardie gesprek te hê nie.

      “Hoekom is Mamma so laat?” Driekie haal messe en vurke uit die laai.

      “Ek het vir tannie Noxy met ’n krisis uitgehelp. Ek kon julle nie bel nie, jammer. My selfoon was pap.”

      Heleen sit die borde op die toonbank neer. “Ons het gedink Ma is gerob.”

      “Hoekom?” Haar ma skep die kos in en gee die borde vir hulle aan.

      “Plekke met geld is targets, en Ma dra die sleutel.”

      “Ek het nie geweet Ma se werk is gevaarlik nie?” Driekie se oë is groot.

      “Dit is nie.” Haar ma kom sit by die tafel en hou haar hande na hulle toe uit. “Kom ons bid, ek is rasend honger.”

      Ná een hap soek Driekie tamatiesous.

      “Sorry, dis op,” keer Katrien toe haar ma na die kombuiskas wil strek. “Ek het die laaste bietjie in die kos gebruik.”

      Haar ma kyk na Driekie. “Ek sal weer aan die einde van die maand koop, oukei?”

      Driekie knik moedig. Die einde van die maand is tien dae weg.

      Hulle eet in stilte verder, tot Katrien dit nie meer kan vat nie.

      “Ek was vanmiddag by Divan Klopper se huis.”

      Haar ma kyk op. “O?”

      “Ons wou gaan jammer sê oor Divan.”

      “Hoe gaan dit daar? Sy ma is seker stukkend.”

      Katrien kou klaar. “Die oom ook.”

      “Het sy ma rooi hare?”

      “Jip.”

      “Dan wás dit die vrou by die winkel. Sjoe, ek kan my nie indink waardeur sy nou moet gaan nie.”

      “Die oom het gesê sy was net vinnig winkel toe en toe sy by die huis kom, was dit te laat.”

      “Dis só bad.” Driekie lek haar vurk af. “Het hy boeties en sussies gehad?”

      Katrien trek haar skouers op. “Ek weet nie.”

      Haar ma staan op. “Dankie vir die kos, dit was lekker. Heleen en Driekie, julle kan die skottelgoed was. Katrien, jy kan bietjie gaan leer.”

      “Dis Vrydag, Ma.”

      “En dis jou graadelfjaar. Die Junie-eksamen begin oor ’n paar weke. Jy moet nou alles insit.”

      Dit verg al haar selfbeheersing om nie reguit vir haar ma te sê hoe belaglik sy is nie. Hierdie obsessie met geleerdheid maak haar mal. Haar ma kry eenvoudig nie rus vir haar siel voor Katrien nie agter die boeke sit nie. Soms wonder sy of haar ma haar nie net eenvoudig weg wil hê nie.

      Sy maak haar kamerdeur agter haar toe en val op die bed neer. Sy google Instagram terwyl sy haarself probeer oortuig dis nie om haar ma te spite nie, sy wil net die laaste foto sien wat Divan gepost het.

      Op Instagram is almal besig om ’n fun tyd iewers te hê.

      Sy word nooit saamgenooi nie. Daniëlle darem ook nie.

      Alyssa lê verleidelik in haar bikini op die strand en glimlag. Soms weet Katrien nie of sy Alyssa bewonder of haat nie. Alyssa het alles. Sy is vrek mooi en sy is nice en sy gaan met Albert uit wat die hotste ou in die skool is. To top it all het sy ouers wat haar naweke strand toe neem sodat sy kan werk aan haar reeds fabulous tan. Katrien kan nie onthou wanneer laas sy op die strand was nie, want haar ma hou nóóit op werk nie.

      Sy rol verby die posts en besluit om eerder direk na Divan se profiel te gaan.

      Sy foto maak seer en laat suur in haar keel opstoot.

      Hy was nie te onaantreklik nie. Ja, sy hare en sy ooghare en vel en alles was spierwit, maar hy het die mooiste blou oë gehad. Sy kyk na die enigste ander foto op sy profiel, een van hom by ’n hond. Was dit syne? Sy het nie vanmiddag by hulle huis ’n hond gesien nie.

      Verder is daar niks. Slegs sewe mense het hom gevolg.

      In die tienerwêreld maak dit jou ’n serious loser.

      Soos sy. As sy reg onthou, het sy elf followers.

      Sy klik op haar eie profiel. Fan-frieken-tasties, sy het ’n nuwe follower bygekry! Kevin. Net Kevin, sonder ’n van. Wat maak dit saak? Twaalf followers is beter as elf.

      Sy bekyk die foto van naby. Dis baie onduidelik, maar sy kan met redelike sekerheid sê sy het geen idee wie dit is nie. Ook nie in watter skool hy is nie, as sy na sy kleurbaadjie kyk. Maar hy is super hot.

      Sonder followers?

      Sy frons. Dis weird. Mooi ouens soos hy het gewoonlik honderde followers. Laas toe sy gekyk het, het Albert oor die agthonderd followers gehad.

      Om geen followers te hê nie, kan een van drie dinge beteken: Kevin is ’n groter loser as wat sy is. (#Onmoontlik. Nie met sy looks nie.) Hy het nou net die Instagram account oopgemaak. Of, hy het ’n vorige account gehad en wil nou weer oor begin.

      Baie kinders doen dit as hulle nie meer van hulle vorige profiel hou nie. En dit sal nie eens help om te kyk of hy ’n ander profiel gehad het nie, want met ’n naam soos Kevin sal daar te veel wees. Sy sal maar moet wag om te kyk of sy followers optel, maar sy gaan nie die eerste een wees wat hom volg nie.

      Sy soek vinnig na ’n foto op haar foon waarin sy goed lyk. Die ou moet darem nie dink hy volg ’n spook nie. Sy kry een op die orkes se whatsapp-groep waar sy met haar trompet staan en post dit op haar profiel.

      Dan maak sy Instagram toe. Voor sy uitgevang word en weer na ’n preek oor die gevare van die internet moet luister. Terwyl sy haar geskiedenisboek uithaal, kan sy nie help om te wonder hoe sy dit reggekry het om so ’n cool ou se aandag te trek nie.

      Dorette sak op die bed neer, skop haar skoene van haar moeë voete af en knie haar voetsole. Haar senuwees gaan dit nie hou nie. Sy kon sweer sy het vandag weer vir Herman gesien. Toe sy aan die einde van haar skof by die winkel wou uitstap, het hy hande in die broeksakke op die stoep gestaan. Sy het weliswaar net sy agterkant gesien, maar die bou, die houding – alles was Herman.

      Asof hy vir haar wag.

      Net daar het sy omgedraai en terug kantoor toe gespoed. As dit Herman was, sou hy haar huis toe volg. Dan is dit verby. Skaakmat.

      “Why are you back?” het Noxy verbaas gevra.

      “Daar’s nog ’n paar dinge