Stille waters. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798180610
Скачать книгу
woman shouldn’t go through life alone. Like Susan Sarandon said, we need a witness to our life.”

      “Ek hoor jou.”

      ’n Halfuur later het sy verby die voordeur gaan sluip. Hy was weg, maar sy kon nie ontspan nie. Netnou sit hy in ’n kar en wag. Die enigste manier om ongesiens weg te kom, sou wees om te wag tot almal huis toe gaan. Dan kan sy in die bondel wegkruip. Sy sal sommer vir ’n paar ’n lift gee ook, dan kan sy kyk of iemand haar volg.

      Gelukkig het die kinders haar storie van die pap selfoon en Noxy se krisis geglo. Sy wou hulle nie bel nie. Dis asof sy bang was dat Herman haar tot in die kantoor sou hoor praat. Of erger nog, dat hy ’n manier sou kry om met hulle in kontak te kom.

      Sy vryf oor haar stywe nekspiere. Sy is nou hier en sy is veilig. Sover sy kon uitmaak, het niemand haar woonstel toe gevolg nie.

      Toe sy eindelik opstaan en vir die tweede keer gaan seker maak dat die voordeur gesluit is, trap sy haarself uit as onnodig paranoïes. Herman sal nie ná twaalf jaar nog steeds na haar soek nie. Hy’s nie eens veronderstel om uit die tronk te wees nie.

      En selfs al is hy uit, sal dit onmoontlik wees om hulle op te spoor. Nadat sy die egskeidingsdokument deur ’n balju in die gevangenis aan hom gestuur het, het sy haar voorkoms heeltemal verander.

      Sy het nie haar van terugverander na haar nooiensvan nie, maar het haar ma se nooiensvan aangeneem. Katrien was maar vier jaar oud, Heleen ’n baba, Driekie nog nie eens gebore nie. Hulle adresbesonderhede staan in geen telefoonboek nie. En haar ouers is intussen oorlede.

      Maar wat as …

      Sy skud haar kop. Sy moet ophou met wat as.

      Maar wat as dit hy is? Hoekom nou? Hoekom voel dit ewe skielik asof sy hom om elke hoek en draai sien?

      Sy loop badkamer toe om haar tande te borsel. Miskien is dit net haar oorwerkte brein wat kat en muis met haar speel.

      10 Oktober 2017

      Ek het besluit.

      Vanaand toe juffrou vir Katrien langs my laat sit toe dink ek oh boy, nou beter ek reg speel. Toe speel ek meer reg as sy. En sy vra my oor die musiekstuk en sy lag actually toe ek iets oor die juffrou sê. Sy het gelag! Nie vir my nie, vir iets wat ek gesê het. Omdat sy gedink het EK is snaaks! Vrek dis amazing

      As ek haar môre sien gaan ek haar groet. As ek verby haar stap in die gang gaan ek haar in die oë kyk en sê: Môre Katrien

      11

      Hanna kyk om haar rond waar sy en Carl by die ry ingeval het. Die polisiestasie is ’n miernes van bedrywigheid en daar is net twee beamptes agter die toonbank.

      Nadia staar oopmond na al die foto’s van mense wat as vermis aangemeld is. “Waarheen is hulle dan?”

      “Dis juis die probleem.” Carl vryf oor haar kop. “Niemand weet nie.”

      Hanna draai eenkant toe. Hulle moes nie vir Nadia saamgebring het nie.

      “Ons is op soek na inspekteur Lourens?” sê Carl toe hulle by die toonbank kom, sy hand op Nadia se skouer.

      “Net ’n oomblik.” Die man in uniform verdwyn by ’n deur in.

      Toe die inspekteur opdaag, is hy groter as wat Hanna hom onthou.

      “Ek is bly julle kon kom. Stap saam met my.” Hy lei hulle na ’n vertrek met ’n lessenaar vol opgestapelde lêers en haal een tussen die ander uit. “Die nadoodse ondersoek is afgehandel, maar ons is nog besig om deur die selfoon te gaan. Ek reken julle sal dit so oor ’n week terugkry.”

      “Kon julle enige inligting op sy selfoon kry?” Carl tel Nadia op sy skoot.

      Die inspekteur knik. “Daar is ’n paar mense wat ons sal vra om ook ’n verklaring te kom aflê.”

      Hanna se kop ruk op. “Soos wie?”

      “Het jou seun ’n meisie gehad?”

      “Nie waarvan ek weet nie.”

      Haar gedagtes flits na ’n aand toe Divan so einde van graad nege was. Toe hy in die studeerkamer se deur verskyn, het dit haar nog gevang dat sy skielik moes opkyk na hom. Die kind wat sy later geglo het klein sou bly, het omtrent oornag ’n halwe kop langer as sy geword.

      “Ek mag nie laat wees vir orkes vanaand nie.” Hy het arms gevou teen die kosyn geleun.

      “Jy’s nooit laat vir orkes nie.”

      “Waar is my Levi T-shirt?”

      “Seker in jou kas?” Sy het ongeduldig begin raak. ’n Nuwe rekenmeesterspraktyk het haar pas aangestel om hulle werwing te doen, die CV’s het ingestroom en sy wou beïndruk met vinnige resultate.

      “Ek kry dit nie, Ma.”

      “Trek ’n ander een aan.”

      “Ek wil daardie een aantrek.”

      Sy was op die punt om haar te vererg toe die lig vir haar aangaan. “Is daar iemand wat jy met jou Levi-hemp wil beïndruk?”

      Hy het hom weggestoot van die kosyn af. “Toemaar, los dit.”

      Die idee dat hy dalk vir die eerste keer ’n meisie se oog wil vang, was veels te lekker om dit te los. “Nee, ek kom help soek. Wat is haar naam?”

      “Sy het nie ’n naam nie, want daar is niemand nie.”

      Sy het die T-hemp onder ’n hopie kortbroeke in sy kas gekry.

      Op pad deur toe het sy omgedraai. “Spuit van Pa se deodorant aan. Dit ruik baie lekker.”

      Sy het nooit uitgevind wat die meisie se naam was nie. Hy het nooit weer iets daaroor gesê nie.

      “Hanna?” bring Carl se stem haar terug na die werklikheid.

      “Daar is moontlik ’n meisie in wie hy belanggestel het,” sê inspekteur Lourens. “Haar naam is Alyssa. Dan is daar ook ’n Albert wat genoem word.”

      Die blonde meisie, onthou Hanna. Die een aan Albert se sy.

      Carl maak keel skoon. “Hulle was gister by ons huis.”

      “Het hulle iets vir julle gesê?”

      “Nee, niks. Die meisie het baie gehuil.” Sy brand nou om haar hande op Divan se selfoon te kry.

      “Ons sal wel met hulle gesels,” sê die inspekteur. “In hierdie stadium probeer ons al die legkaartstukkies bymekaarsit.”

      Sy leun vorentoe. “En die brief? Wat sê dit?”

      Inspekteur Lourens strek vir ’n skryfblok. “Ek het ’n kopie daarvan gemaak. Ek wil net eers vra dat julle julle verklarings aflê voor ek dit oorhandig.”

      “Praat jy maar eerste, Carl.” Sy staan op en hou haar hand na Nadia uit. Daar is geen manier wat sy gaan toelaat dat enige kind hierna sit en luister nie.

      Toe hy klaar is, kom roep Carl haar waar sy buite op die bankie sit en wag. Sy los Nadia by hom en stap binnetoe met ’n hart wat wild klop.

      Met moeite herleef sy die toneel waarop sy afgekom het. Nie een van haar woorde voel asof dit enigsins bydra tot wat sy reeds vir die inspekteur gesê het nie.

      “Dankie, mevrou. Ek besef dit was vir jou moeilik.” Hy sit sy pen neer en hou ’n toegevoude papier na haar uit. “Die brief.”

      Angstig begin sy lees.

      Hallo Ma en Pa

      Haar hande ruk te veel. Sy sit die papier plat op die lessenaar neer.

      Ek is lief vir julle, en ek weet julle is lief vir my.

      Sy sluk swaar aan die pyn in haar keel.

      Ek kan net nie