“Jy klink soos iemand wat ’n onderhoud voer.” Hy glimlag weer onder sy breë snor. Ek sien die kuiltjies hier langs sy snor en ek weet hy het net ’n grappie probeer maak.
“Ek is net nuuskierig. Ek ken nie mense met sulke indrukwekkende titels nie.”
“Dit is glad nie indrukwekkend nie. Ek lewer ’n diens aan mense, help hulle om hul geld op die regte manier te belê, of dit nou aandele, versekering, rentebeleggings of wat ook al is.”
“Geniet jy dit?”
“Die groot voordeel is dat ek van die huis af kan werk en my eie ure kan bepaal. Ek is baie lief vir die buitelug, vir pakstap veral. Dit gee my tyd daarvoor.”
“Ek is ook lief vir pakstap,” sê ek opreg, want ek het eenkeer saam met ’n groep in die Magaliesberg gaan stap toe ons op kollege was.
“Wonderlik,” sê hy. “Dan moet jy asseblief Saterdag saam met my kom. Daar is ’n wonderlike dagroete teen Tafelberg op.”
* * *
“Sy naam is Theuns Richter. Dit pas hom, nè? Hy is ’n finansiële konsultant en hy het my gevra om oormôre saam met hom te gaan stap op die berg. Ek sê vir jou hy is fantasties en daardie glimlag van hom is só mooi en lekker dat dit vet maak …” sê ek amper uitasem vir Inge.
Sy sit en opstelle merk. Sy kyk nie op nie. “Het hy die bankrowery gelos?”
“Ag, man, ek het ’n fout gemaak. Theuns sal nooit … As jy hom ken … Dit is net onmoontlik,” probeer ek verduidelik, maar dis hopeloos, want sy ken hom nie.
“En sy ego is nie geïntimideer deur jou beroep nie?”
“Wil jy koffie hê?”
“Jy het vir hom gelieg,” sê sy met sekerheid.
“Ek sal hom Saterdag alles vertel. Ek belowe.”
Sy prewel iets in Duits wat soos ’n skietgebed klink.
* * *
Vrydagoggend is daar ’n klein beriggie op die voorblad van die koerant. Skattebol-rower slaan weer toe. Hulle haal die tellers aan wat sê hoe aantreklik die verdagte is en sê hy het ’n modieuse bruin leerbaadjie en bruin broek aangehad. Ek wonder of Theuns Richter ’n modieuse bruin leerbaadjie het.
Die dag wil nie verbygaan nie. Laatmiddag is daar ’n motorongeluk by die kruising van Lang- en Waalstraat en ek kom later as gewoonlik by die huis.
Inge is nie alleen nie. Kort konstabel Snijders is by haar. Hulle gesels soos ou vriende. Ek onthou van die krieket en ek weet ek sal moet nee sê. Want as Theuns sien ek gaan saam met iemand anders uit …
Ons groet en ek sit die ketel aan, maar Snijders is skielik haastig en effens skaam. “Sien jou Maandag, Luttigh. Totsiens, Inge,” groet hy en is daar uit. Ek is maar verlig.
“Ek gaan saam met hom krieket toe vanaand,” sê Inge en sy bloos.
Ek staan met die teelepel koffie tussen blik en beker, versteen van ongeloof.
“Hy het eintlik na jou kom soek. Toe is jy laat. Ons het baie lekker gesels. Toe vra hy my. Toe sê ek ek sal gaan as jy nie vir my kwaad sal wees nie. Is jy kwaad vir my?”
* * *
Theuns Richter het ’n modieuse bruin leerbaadjie aan toe hy my vroegoggend by die woonstel kom haal. Ek wil lag, want ek kan nie glo dat ’n regte bankrower sy werksklere op ’n Saterdag ook sal dra nie.
“Ons moet gou vir jou ’n gemaklike rugsak gaan koop,” sê hy besorg toe hy my ou, verslete seilsak sien.
“Ek het nie genoeg …”
“Ek sal jou nie toelaat om te betaal nie, Louisa.”
Ek is mal daaroor as hy my Louisa noem. Ek stribbel effens teë, maar hy is ’n vasberade man. By die winkel haal hy sy beursie uit. Dit is groot en van swart leer gemaak. Ek sien die note. ’n Dik stapel. En ek weet ons sal die Skattebol-rower gou moet vang, want my senuwees gaan dit nooit hou nie.
* * *
Maandagoggend is kouefrontkoud en nat, maar my hart is warm. Ek en Inge het Sondag in ’n waas van giggelende bakvissie-verliefdheid deurgebring. Sy is mal oor Snijders en ek het al my bruidsbylaes gaan opdiep uit die kas.
Theuns was wonderlik. Besorg, rustig, humoristies, ernstig, romanties. Ons het Saterdagaand gaan uiteet by ’n restaurant in die hawe. Hy het my by die woonstel se deur gesoen tot ek gedink het die stopsels in my mond gaan smelt.
Sondag moes hy werk – ’n kliënt op Worcester gaan spreek. Dit het my en Inge kans gegee om met skreeusnaakse verbeeldingsvlugte die gesamentlike troue te beplan.
“Alle reaksiespanne,” knetter die radio, en ek begin al hardloop van pure skrik. “Bankroof by Suiderkruis Bouvereniging in Buitengracht.”
Ek weet dit is Skattebol. En ek wil hom hê sodat ek kan ophou om my te bekommer elke keer as Theuns ’n leerbaadjie of ’n beursie vol geld of ’n donkerbril by hom het.
Ek hardloop soos ek nog nooit gehardloop het nie. Oor strate, waar motoriste met skreeuende bande en geïrriteerde toeters vir my plek maak. Oor sypaadjies, waar mense oorbluf uit die pad skarrel. My pet val af, maar ek ignoreer dit. Die blaas op my linkervoet van Saterdag se pakstap brand.
Ek hardloop.
Skattebol is dié keer nie vinnig genoeg nie. Hy hardloop by die bouvereniging se deur uit toe ek om die hoek kom. Hy het ’n voorsprong van honderd meter. Hy sien my en kies koers hawe se kant toe. Afdraand. My sterk punt.
Dit is moeilik om mooi te kyk as jy hardloop soos jy nog nooit gehardloop het nie, en jou bors hyg en jou longe brand en die blaas op jou voet is ’n kool vuur.
Maar ek weet dit is nie Theuns nie, want Skattebol hardloop sonder grasie, sonder die atletiese lenigheid van my swembadman.
Ek haal hom nie in nie. Sy treë is langer. Sy bene ook. Die afstand rek.
My woonstelmaat se aanstaande kom tot ons redding. Snijders verskyn uit ’n systraat asof hy gestuur is, en hardloop skuins in Skattebol vas. Hulle sloeg grond toe. Snijders se kop klap teen die randsteen en ek sien hy bly lê.
Skattebol het ook seergekry. Hy staan van die grond af op, maar sy linkerbeen wil nie meer lekker werk nie. Hy sukkel kruppel orent en maak weer aanstaltes see se kant toe.
Sy rug, die bruin leerbaadjie, is skielik hier voor my. Ek het my rewolwer in die hand en ek duik, my knie na sy stuitjie gemik. Hy syg neer, ek bo-op hom, sy gesig in die stof, die donkerbril in twee stukke.
Ek druk die rewolwer se loop diep in sy nek weg, rem sy arms agtertoe, druk sterk met die knie in sy midderug en knip die boeie om die polse.
Myne. Net myne.
Ek staan op en rol hom met die voet om.
“Haai, Louise,” sê hy, maar hy glimlag nie, en ek verlang na sy kuiltjies en ek huil voor ek die arrestasie op die radio kan inroep.
* * *
Inge klop aan my slaapkamer se deur.
Ek blaas my neus, staan op en maak oop.
“Hier is iemand vir jou.” Sy het haar begrafnisgesig op vandat ek huil-huil huis toe gekom het.
“Ek wil niemand sien nie.”
“Kom, spoel af jou gesig en borsel jou hare,” sê sy met Duitse gesag. Ek gehoorsaam. Dan stap ek saam met haar sitkamer toe.
Sersant Johan Kok sit op die punt van die stoel met ’n verlepte angelier in sy hand. Sy baadjie het strepe en sy das het strepe en sy hemp het strepe en sy bles blink dof.
“Ek het jou net kom gelukwens met jou eerste arrestasie,” sê hy met sy mooi, rustige stem, en ek sien hy het blou oë en dit pas by sy blou