“Vanaand?” vra ek in absolute ongeloof en probeer die gehoorstuk buite die bereik van Pierre se grypende handjies hou.
“Ja,” sê Gustav met finaliteit.
“Maar dit is amper twee-uur,” weeklaag ek en plaas weer die fopspeen in Gustav junior se mond.
“Skat, dit is die groot een dié. Jy móét my help.”
“Waarom neem jy hulle nie na ’n restaurant toe nie?”
Pierre rem aan die koord tussen die gehoorstuk en telefoon en ek moet die instrument vang net voor dit op die grond beland.
“Die Japanners doen nie só sake nie. Hulle wil ons huis sien, my gesin ontmoet. Ons tradisionele kos proe. Vir hulle is dit deel van die transaksie.”
Ek laat my oë vlugtig oor die huis en gesin dwaal wat die Japanners so graag wil ontmoet. Dit is nie ’n mooi toneel nie. Die wêreld lê besaai met speelgoed in verskillende stadia van ontbinding. Pierre is so vuil soos net ’n tweejarige kan wees nadat hy “tuinwerk” gedoen het. Gustav junior het vanoggend, ná elf maande waarin hy gevoer is, besluit hy wil sélf probeer eet. Daar is selfs droë papstrepe op sy voorkop. En sy doek ruik verdag. Ek sit nog in my kamerjas, my hare ongekam, my gesig grimeringloos. Twee-uur in die middag en vuisvoos.
“Is jy nog daar?” Gustav se stem het weer daardie moegheid wat die afgelope tyd al hoe meer deurslaan. Asof hy nou al weet die ete vir die Japanners gaan ’n klaaglike mislukking wees.
“Hoe laat bring jy hulle?”
“Sewe-uur.”
Dit is te vroeg. Nege-uur sou te vroeg gewees het. Elfuur ook. Maar wat kan ek sê?
“Hoeveel is daar?”
“Vier. Almal mans.” Hy bly ’n oomblik stil. Dan sug hy. “Helena, asseblief. Dit … ons toekoms is op die spel.”
“Ja, Gustav.” Ek sit die gehoorstuk neer. En ek huil. Oor die moegheid in my man se stem. Die moegheid wat sê hy weet hy kan nie op my vertrou nie. Wat sê ons huwelik het ’n permanente skietstilstand geword. Wat sê hy maak hom gereed vir die ergste. Soos gewoonlik.
En dit is my skuld. Dit het ’n jaar gelede begin, so ’n maand voor Gustav junior se geboorte. Ek het vir Gustav een aand gesê ek gaan nie ná die kraamverlof terug klaskamer toe nie. Hy was verbaas. “Ek dag jy is mal oor skoolhou?” Ek het vir hom gesê ek wil voltyds probeer skryf. Die sukses met my tydskrifverhale het my genoeg selfvertroue gegee om my eerste roman aan te pak. Gustav was opgewonde, geesdriftig. Hy het my skryfkamer self gaan uitverf, met Miriam, ons huishulp, gepraat, my ou Royal-tikmasjien laat versien.
Ek wou egter ’n rekenaar hê. Ek, wat nie eens ’n voedselverwerker wil gebruik nie, want ’n mens het ’n graad nodig vir die aanmekaarsit en uitmekaarhaal en skoonmaak daarvan. Ek, die tegnologiese ongeluksvoël, wou ’n rekenaar hê met ’n professionele woordverwerkingsprogram, want ek wou ernstig skryf.
Junior is skreeuend en verkreukel gebore, met Gustav se oë en my hande. Pierre was jaloers van die oomblik dat ek die nuwe baba huis toe gebring het. En ’n maand later, nadat alles effens gekalmeer het, het ek voor die rekenaar gaan sit.
Ek sit nou nog voor die rekenaar, laataand of vroegoggend of wanneer die seuns per ongeluk albei op dieselfde tyd slaap. Dan staar ek na die skerm en die toetsbord, maar daar is niks. Nie ’n storie nie, nie ’n karakter nie. Nie eens ’n titel nie.
“Begin eers weer met ’n kortverhaal,” het Gustav aangemoedig.
Maar ’n kortverhaal wou ook nie geskryf word nie. Dit was soos gif wat deur my wese versprei om alles te verlam. My selfvertroue, my energie, my huwelik.
Junior huil skielik vreeslik. Dit ruk my uit my selfbejammering. Ek kyk op. Pierre is besig om hom aan die enkel te byt. Ek wonder vlugtig waar die woord “broederliefde” vandaan kom, wanneer Pierre gaan ophou om sy broer aan die enkel te byt en hoe laat dit is. Kwart oor twee. Minder as vyf uur oor. Ek vee die trane af. Ek sal minstens moet probeer, al is dié ete klaar gedoem tot mislukking. Ek stap kombuis toe om vir Miriam te sê van die Oosterse inval. Sy moet maar solank begin messegoed poets.
Tradisionele kos? Braaivleis? Gustav kan vleis braai en ek sal ’n slaaitjie … Nee. Sal nie werk nie. Ek gaan haal die Kook en geniet.
Bobotie. Dit is vinnig en maklik. Met geelrys. En groenbone en gebakte aartappel. Daarna die vinnige mikrogolfbruinpoeding. Nie ’n tradisionele nagereg nie, maar wat, ons verhef dit vanaand tot dié status. Want dit is al wat ek in die mikrogolfoond kan maak sonder dat dit ontplof.
Ek glimlag. Die verligting van ’n gefinaliseerde spyskaart laat my beter voel. “Dink positief,” sê Gustav altyd. Nou goed. Ek stap vrieskas toe. Die maalvleis sal moet ontdooi. Gou by die groentewinkel oorkant Bellville se biblioteek vars boontjies, uie en aartappels kry. En wyn by die drankwinkel. Sommer rooi én wit.
Ek begin geesdrif opbou. Sewe-uur is meer as vier en ’n half uur weg. Dit kan gedoen word. Eers die kinders skoon kry, self vinnig aantrek, hare borsel, ’n bietjie grimering en dan winkels toe.
Negentien minute later is ons op pad voordeur toe, met ’n paar laaste versoeke aan Miriam. Stryk tog asseblief die wit tafeldoek, spoel die kristalglase uit, haal asseblief die deftige sout-en-peperpotjies uit.
Ek draf uit motor toe, gespe die seuns elkeen in ’n veiligheidstoeltjie vas en trek weg, gereed vir Operasie Inkopies.
Halfpad tussen die huis en die groentewinkel gaan die motor staan. Nie eensklaps nie. Met die eerste proes trek my maag op ’n knop, met die tweede weet ek daar is moeilikheid en teen die derde proes mik ek al sypaadjie toe, want dan sny die enjin uit.
Dink positief.
Junior begin huil, want hy hou net van ’n motor terwyl die wiele rol. Ek klim oor die sitplek en soek sy fopspeen, nog nie bereid om paniekerig te raak nie.
Die motor is verlede maand gediens. Daar was geen tekens van probleme nie. Waarom nou? Ek kry die fopspeen, druk dit in die gapende opening en stilte daal weer neer.
Ek trek die enjinkap se knip van binne oop, klim uit en lig die kap op. Alles lyk reg. Wat beteken daar is nêrens stoom, rook, olie, water of petrol wat uitborrel, -spuit of -lek nie. Ek pluk-pluk hier aan ’n draad en daar aan ’n pyp, maar wil nie my hande vuil maak nie. Dan stap ek om, draai die sleutel en stuur ’n skietgebed op. Die aansitter kerm soos ’n moeë insek, maar verder niks. Ek kyk onwillig na my horlosie. Sewe minute voor drie. Daar is vier uur oor.
Paniek is baie soos ’n kind wat masels kry. Die een oomblik is daar niks, die volgende is dit oral. Maar ek stoei daarteen. Dink positief, hoor ek weer Gustav se stem. Doen dit volgens die nommers, sê hy. Beplan. As jy jou dag beplan, kan die krisisse maar kom.
Ek haal diep asem. Ek moet iemand kry wat kan help. Soos ’n man. Daar is baie van hulle wat verbyry. Ek moet net een sover kry om stil te hou. Ek spring weer uit, gaan staan agter die motor en waai vir die eerste voertuig wat aankom.
Dit is ’n minibus-taxi. Ek skrik vreeslik, hou op met waai en kyk sommer anderpad.
Die taxi hou stil.
Iewers het iemand geskryf ’n mens moet versigtig wees vir wense; dit kan dalk net waar word. Ek het gewens vir ’n man. Elf van hulle peul by die taxi uit.
“Probleme?” vra die taxibestuurder, wat my eerste bereik.
“E …” sê ek en dink kliphard aan ’n verskoning waarom ’n vrou en twee kinders langs die pad sal staan met ’n oop enjinkap. Maar ek het mans se instink om ’n hulpelose vrou te red, heeltemal onderskat. Hulle stroom almal verby, enjin toe. Hulle praat in Xhosa, wys met vingers na verskillende enjindele, stry en argumenteer.
“Draai die sleutel asseblief,” sê die taxibestuurder.
Ek spring in en draai die sleutel. Joegoejoegoejoegoe maak die enjin.
Al elf mans luister aandagtig,