Ons neem vir Buks die vierde keer saam, ’n Vrydagaand, na ’n Disney-tekenprent, en ek moet hom van die motor af na die huis toe dra toe ons terugkom, want sy lyfie is slap en warm van die slaap. Ek sit hom in sy bed terwyl Monica die ketel aanskakel, en toe ek in die kombuis kom, sê sy sy is honger en vra of ek ook ’n broodjie wil hê. Ek sê asseblief, en sy pak die brood en botter, kaas en konfyt uit, en ons sit gesels-gesels elkeen ons eie broodjies en bou, tot ek later ’n paar pitjies vyekonfyt van haar onderlip moet afsoen en ek vir die eerste keer my arms om haar kan sit en haar teen my vashou en my hande oor haar dik, swart hare kan laat loop.
* * *
“Jy kan maar nog slaap. Ek sal net vir jou kyk,” sê hy te vroeg die volgende oggend, met ’n stem wat bewe van ingehoue opgewondenheid.
Hy sit langs my bed, op ’n stoel, stip starend na my; sy hande hou iets op sy skoot vas.
Ek kreun en draai om. “Hoe laat is dit?”
“Die lang arm is bo en die kort arm is onder. Dit is al baie laat.”
Ek kreun weer.
“Jy moet die lig aansit.”
“Ek moet slaap.”
“Ek weet alles,” sê hy met groot genoegdoening. “Van gisteraand.”
Ek sit skielik regop in die bed. “Van gisteraand?” vra ek en sit die bedliggie aan.
“Ja,” sê hy en glimlag sy kuiltjie-glimlag. Dan hou hy die konfytbottel triomfantlik omhoog. “Kyk,” sê hy met wysheid ver verby sy jare. “Daar is bottervisse in ons jêm.”
“Hoe pleit jy, meneer Liebenberg?” vra professor Vermaak.
“Skuldig, professor.” Ek vou my hande op my skoot. Hulle hoef nie te sien hoe ek bewe nie.
Hy sit in die middel van die driemanskap wat die dissiplinêre komitee vorm. Links van hom is die adjunkregistrateur: studentesake, meneer Ronsard Steyn, ’n klein, skraal mannetjie met ’n potloodstreep-snorretjie en ’n been wat senuagtig onder die tafel rukspring. Regs is prof Tienie Grobbelaar, die bejaarde hoof van die departement Romeinse Reg en Regsgeskiedenis, sy lang, grys hare deurmekaar soos gewoonlik, sy oë toe, asof hy slaap. Ek sit oorkant hulle, ’n eiland op ’n stoel in die somber vertrek.
Dit is Steyn wat nie kan wag om sy stuiwer in die armbeurs te gooi nie: “En met reg ook, meneer Liebenberg. Jy besef dat jy geskors kan word vir dié oortreding?” Hy vra dit asof hy nie kan wag om die vonnis uit te spreek nie.
“Ja, meneer.”
“Ek is seker daar is versagtende omstandighede,” sê prof Tienie rustig, sonder om sy oë oop te maak.
“Natuurlik,” sê prof Vermaak, die lang, formele een.
Hulle kyk na my met afwagting. Steyn se springende been maak ’n ritmiese skuifelgeluid op die dik mat.
Ek wil hulle so graag alles vertel. Maar sal hulle verstaan? Sal dit regtig ’n verskil maak? Ek kyk van my swetende hande af op. Steyn se kraalogies is soos dié van ’n kobra – reg om die gif van skorsing met ’n blitsige pik uit te deel. Hy sal nie verstaan nie. Vermaak? Miskien. Maar hy lyk nie na ’n man wat ooit verblind was deur die liefde nie. Prof Tienie? Hy is die een wat elke dag ’n angelier in die lapel van sy gekreukelde baadjie dra. Miskien is hy my enigste hoop. Ás hy wakker is. Ek wend my tot hom, al kyk hy nie na my nie.
“Dit was die liefde, professor.”
Steyn se been raak stil. Hy beur vooroor. “Die liefde?”
Ek knik.
“Dit lyk my nie jy besef hoe ernstig jou posisie is nie, meneer Liebenberg.” Sy been het weer begin spring. “Lighartigheid is uiters onvanpas.”
Vermaak lyk ongemaklik, maar sê niks. Ek weet ek is gedoem.
“Laat die jong man verduidelik,” sê prof Tienie.
“Dit sal goed moet wees,” sê Steyn.
’n Sweetdruppel loop langs my neus af. Die das druk teen my keel. Ek is nie ’n goeie prater nie. Maar nou hang my toekoms daarvan af.
Ek maak my keel senuagtig skoon, my oë weer op my hande. “Alles was okay gewees tot ek vir Sara Nieuwoudt gesien het,” sê ek, en my stem klink soos dié van iemand anders. “Toe het alles verander.”
* * *
Ek sien haar die eerste keer terwyl ek besig is om met Willem ’n sinlose argument te hê. Ek en Willem is die slotpaar van die Shimlas. Ons was ook die slotpaar van die universiteit en die Vrystaat se ondertwintigspanne – en almal sê ons gaan vanjaar die slotpaar van die Vrystaat wees.
“Jy is net eenvoudig te sterk,” sê Willem. Ons stap van die rugbyveld af koshuis toe.
“ ’n Mens kan nie té sterk wees nie,” sê ek.
“Jy is nie ’n mens nie. Jy is Diesel Liebenberg.”
Hulle noem my al van skool af só, omdat oom Japie Kellerman, wat op die plaas langs my pa s’n anderkant Trompsburg boer, eendag ná ’n skoolwedstryd vir my pa gevra het: “Wat voer jy daardie klong, Lieb? Diesel?”
Willem hou vol: “Dit help nie Coach raas met my omdat my kant van die skrum swaai nie. Dit is jy wat minder moet druk. Jy sal jou krag moet leer ken.”
En toe sien ek die meisie op die fiets. Dit is nie asof ek nooit vroumense raaksien nie. Hulle is mos maar oral. Maar hiérdie soort sien het ek nog nooit gesien nie. Dit is asof die son net op háár skyn, asof alles om haar in die skaduwee is. Ek sien haar bruin hare wat agter haar aanwaai, haar oë wat opkyk na die bome, die vel van haar arms wat blink, haar gesig, o haar gesig, en iets hier in my kop maak ’n kortsluiting, amper soos die keer toe ek en Slaghuis Strydom op Loftus in mekaar vasgehardloop het …
Haar fiets is hier langs ons, tussen ons, verby.
“Haai,” sê ek vir haar en gaan staan stil, maar sy hoor nie; haar lang bene in die denim hou net aan om die fiets egalig te trap.
“Watse ‘haai’ is dit met jou?” vra Willem, maar ek hoor hom skaars. Ek staar haar agterna. En dan sien ek die bome se blare het begin val; ek sien die kleure van herfs en ek wonder waarom ek dit nog nie voorheen opgemerk het nie.
“Waarna kyk jy? Het jy iets vergeet?”
Dan besef ek ek móét weet wie sy is, want ek gaan met haar trou. ’n Mens moet darem jou vrou se naam ken. Ek hardloop, want sy is al ver.
“Diesel, wat makeer jou?”
Ek hardloop.
“Jy’s mal.” Dit is nie regtig wat hy gesê het nie, maar ’n mens gebruik nie sulke woorde voor ’n dissiplinêre komitee nie.
Ek hardloop.
Sy draai af.
Ek is vaagweg bewus van studente langs die straat wat groet. (Ek is bekend, dalk effens beroemd.) Ek maak die draai net betyds om te sien hoe sy voor Vergeet-my-nie afklim. Ek stoom voort. Sy stoot die fiets na die koshuis se voordeur. Ek moet by haar kom voor sy by die deur in verdwyn. Dameskoshuise sluk mense in.
Ek versnel. En toe moet ek begin rem. Om honderd-drie-en-twintig kilogram op volle vaart weer tot stilstand te bring, is soms ’n bietjie van ’n probleem.
Sy hoor seker my rempoging, want sy kyk om en haar mooi, swart oë word groot. Sy stoot die fiets nog vinniger deur se kant toe. Maar nie vinnig genoeg nie.
Ons ontmoet mekaar net mooi in die oop voordeur van Huis Vergeet-my-nie – ek, Sara Nieuwoudt, haar fiets en haar boeke wat in die fiets se mandjie was. Ons ontmoet teen so min of meer veertig kilometer per uur.
Agterna