Kry styl - Jesus s'n. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321640
Скачать книгу
goeddink. Lees gerus weer 1 Korintiërs 12, Romeine 12, Efesiërs 4 en 1 Petrus 4. Ons is uniek begaafd, uniek bederf en uniek toegerus.

      God is nie generies met sy geskenke nie, maar persoon-spesifiek. Hy gee vir ons elkeen ’n eie persoonlikheid en temperament, saam met ’n spesifieke aanleg en ’n paar unieke hemelse gawes. Só rus Hy ons toe vir ons diens aan Hom en ander. God se gawes gaan regtig nooit oor onsself nie. Ons is hier vir Hom en vir ander mense. Ons is God se unieke geskenke aan sy kerk en aan sy wêreld. Nogtans het ons die slegte gewoonte aangeleer om geloofverbruikers te wees. Ons het verander in consumers van godsdienstige produkte en dienste. Dit is glad nie God se styl nie.

      Verander vir ander ... op die regte maniere

      According to Rick Warren envy says, “I must be like you to be happy.” People-pleasing says, “I must be liked by you to be happy.” Both viewpoints serve as traps that prevent you from living a victorious life.

      – Johan Smith

      Die probleem met uitdrukkings soos getting saved, soos die Amerikaners dit graag noem, is dat redding dikwels afgewater word tot iets soos “om Jesus in jou hart in te nooi”. As ons Jesus dan wel in ons harte ingenooi het, het ons ’n done deal, ’n afgehandelde geloofstransaksie agter ons naam en ’n vuurvaste pad voor ons. Hierdie pad van “my hart word Jesus s’n, in ruil vir sy ewige blyplek wat myne word”, skep min voltydse navolgers van Jesus wat terselfdertyd dienaars van God en ander mense is. Die rede? Dit is meer gefokus op ’n geloofstransaksie as op ’n lewende verhouding met die Here. Dit fokus net op die hiernamaals en nie ook op die hiernoumaals nie.

      God se reddingswerke wil ons nie net in ’n beter weergawe van “ons” omskep nie. God se doel met ons redding, en met al die genadegawes waarmee Hy ons oorlaai, is om ons in staat te stel om sy styl na te leef. En God se styl is dat ons onsself onselfsugtig sal gee om ander mense op te bou. Ons verander vir ander mense sodat ons altyd iets uniek na elke gesprek, elke interaksie, elke vriendekring en elke kerk toe kan saambring, iets wat niemand anders kan saambring nie. Ons uniekheid is juis die geskenk wat ons gedurig vir God moet teruggee en vir ander mense moet gee. Dit is hoekom ek so baie hou van Todd Hunter se boek Christianity Beyond Belief: Following Jesus For The Sake Of Others (2008). Dit vertel vir ons dat ons hier is om ander te seën.

      Stylvolle geloof – is dit haalbaar? Is dit ooit reg?

      stylish

      ˈstʌɪlɪʃ/

      adjective.

      Fashionably elegant and sophisticated.

      Só definieer Google die woord stylvol.

      Die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek stem volmondig hiermee saam. Stylvol gaan oor goeie smaak in terme van enigiets, vanaf kleredrag tot by stylvol gemeubileerde wonings. Elegant is ’n gepaste sinoniem vir stylvol. Modes, eietydse gebruike, aktuele ontwerpe – dit alles val binne die bandwydte van wat gewoonlik met die woord stylvol omskryf word.

      Hoekom gebruik ons die woord stylvol ook wanneer ons praat oor ons geloof en om ons geloof te deel? Is dit nie maar net nog ’n nuwe cool term nie? Amper soos die groot kerklike M-woord in vermomming? (Die M-woord is natuurlik die kerklike gonswoord missionaliteit.) Is sulke taal nie deel van ’n tendens in die kerk wat Loren Mead beskryf as “the tyranny of the new” nie? In 1991 het hy in sy boek The Once and Future Church hierdie toestand omskryf as een …

      … in which all our energy is used up in inventing the new and marketing it … When the new way is considered the only way, there is no continuity, fads become the new Gospel and in Paul’s words, the church is blown to and fro by every wind of doctrine.

      Wanneer die najaag van kerklike nuwighede aan die orde van die dag is, ten koste van eeue oue waarhede en rituele, duik vreemde leerstukke en gebruike oral op. Die kerk van ons leeftyd is onherroeplik deel van ’n groter geloofstradisie wat reeds millennia lank die Here navolg. Die kollektiewe wysheid van ’n paar duisend jaar is tydloos in die kerklike geheue en in biblioteke oor die wêreld heen verpak. Dink maar aan al die kosbare kerklike belydenisse, geskrifte, kuns en musiek wat vir ons behoue gebly het, ten spyte van die kerk wat op wie weet hoeveel plekke drooggemaak het. Om al hierdie teologiese skatte te ignoreer in oorhaastige pogings om die nuutste musieksmaak, gebruike of styl na te volg, is ’n duur prys om te betaal.

      God se tydlose waarhede mag nooit ingeruil of prysgegee word ter wille van oorhaastige behoeftes aan relevansie of om in te wees nie. Dit is ook nie die doel van hierdie boek nie. Of met die term stylvolle geloof nie. Ons durf nie weer in die nuutste giere verval nie, soos die een wat James KA Smith in sy boek You Are What You Love: The Spiritual Power of Habit (2016) soos volg beskryf:

      We have created youth ministry that confuses extroversion with faithfulness. We have effectively communicated to young people that sincerely following Jesus is synonymous with being “fired up” for Jesus, with being excited for Jesus, as if discipleship were synonymous with fostering an exuberant, perky, cheerful, hurray-for-Jesus disposition like what we might find in the glee club or at a pep rally.

      Stylvolle geloof is tydloos en tyd-bepaald

      Die konsep stylvolle geloof wil iets anders kommunikeer as net nog ’n nuwe modieuse geloofspad. Dit gaan nie oor die gewildste terme, idees en dinge op die mark nie. Behalwe dat sulke paaie deur die tydgier aangedryf word, is dit papierdun wat inhoud betref. Stylvolle geloof, soos die term hier gebruik word, drentel nie blindelings agter die tydgees aan nie. Dit wil eerstens by Jesus inval. Jesus se styl is tydloos relevant, maar ook tydig relevant.

      Jesus, wat betyds in ons tydgleuf opgedaag het, se pad is nooit tydgebonde nie. Daarom pas ons nooit Jesus se ewige styl by ons s’n aan nie. Dit gebeur andersom. Ons val in by Jesus. Tydgiere, ideologieë, modes, tendense, en so meer, maak Jesus nooit oorbodig nie. Dit maak Hom nie werkloos of nutteloos nie. Jesus troon uit bo alle tye en alle style. Hy is aan die stuur van alles. Hy gee die pas en die styl aan.

      Ons gedagtes is te klein om die tydloosheid van Jesus te verstaan of in ons eie woorde vas te vang, want Hy is ewig. Van altyd af en ook nou, maar tot in ’n ewigheid anderkant die dood, is Jesus altyd op tyd, in tyd en betyds. Hy is ons Heer hier en nou en vir ewig. Jesus se styl is nooit irrelevant nie. Dit is elke keer, op elke plek en tussen alle mense, vars, nuut en tydig. Dit gee die pas aan. Jesus is tyd-bepaald en tyd-spesifiek, al is Hy self ewig en tydloos.

      Wanneer ons kies om te skuil in godsdienstige vlugtelingkampe ver weg van die lewe en meen sulke “veilige vestings” moet ons isoleer van die invloede van die wêreld, loop ons Jesus se styl mis. Dan kwyn ons weg in ons godsdienstige kwarantyn. Dan is ons irrelevant, uit pas en uit tyd. Want Jesus se pas vat ons altyd na sy gunsteling-mense toe. Ek praat van God se verlore kunswerke, sy wegloopskape. Jesus wil betyds by hulle opdaag met ’n beker hemelse water vir hulle dors en met hemelse brood vir hulle honger. Hy wil hulle wonde verbind. Hy wil saam met hulle kuier en hulle terugdra na die Vader se ruim huis toe. En ek en jy moet Hom dit nadoen. Ons is sy gestuurdes. Jesus se sending is presies ons sending. Daarom is dit broodnodig om Jesus se pad aan te leer. Dan beleef en deel ons ons geloof stylvol.

      Jesus se styl is altyd relevant, al is sy styl nie oral gewild nie

      The disciples of Jesus didn’t choose a subject or a syllabus, they chose a person.

      – Alison Morgan

      Om in te val by Jesus beteken nie ons val uit pas met die res van die lewe nie. Want Jesus is lewensrelevant. Die ware Jesus, bedoel ek, nie die godsdienstig getemde, makgemaakte Jesus-voorstellings wat so gewild is nie. Jesus se relevansie moenie met gewildheid verwar word nie. Jesus het nooit hand om die lyf met korrupte mense, celebrities en supersterre geloop toe Hy op aarde was nie. Nooit het Jesus langs die pad “doen gratis sonde met hemelse komplimente”-kaartjies uitgedeel nie.

      Ja, Jesus was beslis die vriend van sondaars, maar Hy was ook die redder van sondaars. Hulle was en is altyd meer as welkom in sy geselskap. Nogtans het Jesus altyd sy hart met hulle gedeel sodat hulle anders sou begin leef. Vir struikelendes en stukkendes was daar altyd ’n oorbegin en ’n voorbegin saam met die Man van Nasaret. Vanaf voltydse sondaars tot voltydse dissipels – dit was en dit is steeds die Jesus-roete. Só klink die magnetiese Jesus-styl wat