Kry styl - Jesus s'n. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321640
Скачать книгу
Ons is uiteraard stylvol.

      Asof dit nie genoeg is dat God ons elkeen uniek gemaak het nie, het Jesus nog iets met ons gedoen. Hy het ons wat in Hom glo ’n tweede keer nuut gemaak. Dit het gebeur toe Hy ons daar ver op die markplein van die dood opgespoor en ons losgekoop het. So vertel Paulus in 1 Korintiërs 6:20. Ons is nou Jesus s’n. Hy het kaart en transport op ons lewe. Ons is permanent onder nuwe bestuur. Ons is nie meer ’n rowerspelonk of ’n sondaarsnes nie, ons is Jesus s’n. Ons is kinders van God.

      Jesus red en herskep ons persoon-spesifiek. Een vir een soek Hy ons op. Mens vir mens red Hy ons. Dit is geen sprokie nie. Luister net ’n oomblik saam met my na ’n stukkie dialoog in Kate Morton se boek The Forgotten Garden (2008):

      “Life’d be a lot easier if it were like a fairy tale,” said Cassandra, “if people belonged to stock character types.”

      “Oh, but people do, they only think they don’t. Even the person who insists such things don’t exist is a cliché: the dreary pedant who insists on his own uniqueness!”

      Jesus omskep ons nie in stock character types nie, al klink dit partykeer so as jy na sommige preke luister. Ons is nie bliksoldaatjies wat in gelid marsjeer nie. Jesus red ons uniek en spesifiek. Ja, Hy red ons almal deur sy dood aan die houtkruis. Een vir almal en almal vir Een, maar hierdie einste Een sien ons elkeen op unieke maniere raak.

      Boonop het ons God se stylvolle hart gekry

      God loves each of us as if there were only one of us.

      – Augustinus

      Die nuus raak net nog beter. Jesus het ons nie net gekoop nie; Hy het ons elkeen boonop ’n nuwe hart gegee. Verniet!

      In my Sondagskooldae is ek gedurig aangemoedig om my hart vir Jesus te gee. Ek het gehoor my hart is vuil en sleg en Jesus wil my hart skoonmaak. Ek is ook geleer dat Jesus in my hart wil bly, dat Hy op die troon van my hart wil sit. Maar nou ja, namate die lewe aangegaan het, het ek agtergekom Jeremia 17:9 is eintlik die reine waarheid. Hierdie vers sê ons hart is bedriegliker as enigiets anders. Dit is ook vol boosheid, volgens Prediker 9:3 en Markus 7:21. Spoedig het ek besef my hart is maar ’n onbetroubare ding. Boonop het ek agtergekom dat ek my weggeehart gedurig terugvat by Jesus wanneer ek onwettig vir ’n sonde of twee kies.

      Natuurlik leer Deuteronomium 6:5 ons dat ons die Here met ons hele hart, hele siel en hele verstand moet liefhê, asook met al ons krag. Ons moet Hom loof en dank met ons ganse hart (Ps 9:2). Feit is, ons onbetroubare hart is die oorsaak van al ons moeilikheid op die geloofsfront, soos Spreuke 4:23 tereg aanvoel. Ons moet ons harte rein hou (Ps 24:4; Jak 4:8). Tog het ons meer nodig as voortdurende check-ups van ons geestelike harte. En dit is juis hier dat God se supergroot geskenk inkom. God wil vir ons baie meer doen as wat ons bereid is om vir Hom te doen. Ons wil gedurig ons harte vir Hom gee, maar God wil nie net die ontvanger van ons harte wees nie. Nee, Hy wil sý hart vir ons gee!

      Weer en weer in die Ou Testament belowe God dat daar ’n dag sal aanbreek dat Hy self ons klipharte uit ons liggame sal ruk en dit met sy eie hart sal vervang. Lees gerus weer Esegiël 11:19-21 en 36:26, of Jeremia 24:7 en 31:33 waar God aankondig dat Hy vir al sy kinders ’n nuwe hart sal gee. Presies dit het waar geword toe die Heilige Gees oor die kerk uitgestort is. Toe het die groot hartoorplanting vanuit die hemel plaasgevind. Ons leef nou in die dae dat God se hart en sy woorde in ons klop.

      Is dit nie aangrypend dat die lewende God ’n nuwe hart en ’n nuwe gees in ons binneste ingeplant het nie? Hy het ons klipharte met hemelse chirurgie verwyder. Hy het dit vervang met ’n regte hart wat vuurwarm klop met liefde vir Hom en ander mense. Die Here het ’n hartoorplanting op ons gedoen. In Jeremia 24:7 se taal het God aan ons ’n nuwe hart gegee sodat ons sal weet ons is sy volk en Hy is ons God. Nou kan ons met hierdie nuwe hart na Hom toe draai en vir Hom leef.

      As ek kan kies, vat ek veel eerder God se hart as om voortdurend my eie hart by Hom te laat opgradeer. Of om my hart vir Hom te probeer weggee, soos ek kleintyd geleer is. Ek wil eerder God se hart hê.

      Maar luister net! Ek hét God se hart! Hy het reeds sy hart in my oorgeplant. Ek het God se hart ontvang toe ek in Christus begin glo het en die Heilige Gees oor my lewe uitgegiet is. Ek moet dit net herontdek. Ek moet die ritme van sy hartklop stylvol aanvoel en naleef.

      Die Gees is die stileerder van ons nuwe lewenshuis

      Those in whom the Spirit comes to live are God’s new Temple. They are, individually and corporately, places where heaven and earth meet.

      – NT Wright

      God het ons nuwe lewenshuis ontwerp en Jesus het dit herskep. Daar is ’n nuwe bordjie langs ons elkeen se lewe geplant wat uitroep: “Onder nuwe hemelse bestuur.” Maar kyk mooi, onderaan hierdie einste bordjie staan daar nog iets geskryf: “Onder permanente konstruksie van God se hemelse Binnehuisversierder.” Ja, dit is waar. Ons is nou in die kreatiewe hande van die Gees. Hy is God se hemelse Binnehuisversierder.

      En wat is die Gees se spesialiseringsveld? Tempels! Die Gees bou tempels. Hy omskep sondaars in tempels vir die lewende God. Dit vertel 1 Korintiërs 3:16; 6:19 en 2 Korintiërs 6:14 – 7:1 ons. Die Gees verander Jesus se losgekoopte mense in lewenshuise vir die Here. Daar is geen uitsondering nie. Slegs tempels, slegs heilige woonplekke vir die Allerhoogste. Dít is waarmee die Gees Hom besig hou hier op aarde. Hy herskep ons almal in pragtige aardse woonkwartiere vir die Here.

      En die Gees se styl? Doksa! Hy doen net doksa … heerlikheid. Dit is sy styl. Dit is wat Hy doen in elke lewende tempel wat Hy nuutmaak. Paulus skryf in 2 Korintiërs 3:18 dat die Heilige Gees besig is om ons te verander van heerlikheid tot heerlikheid, van doksa tot doksa. Die Gees wil God se heerlikheid laat weerkaats in alles wat ons sê en doen. Daarom laat Hy ons skitter vir Jesus. Hy verdryf die muwwerigheid uit ons lewe. Hy maak ons gedagtes vars; Hy maak ons dade nuut. Ook verander Hy ons in voltydse verspreiders van Jesus se uitnemende lewensgeure, soos Paulus in 2 Korintiërs 2:14-16 sê. Ons ruik nou anders. Ons is die lewende wierook wat vir Jesus brand. Ons gee sy geur af.

      Ons gevolgtrekking? Ons lyk en ruik al meer na ’n lewende, bewegende tempel van die Allerhoogste omdat die Gees ons lewe stileer. Praat van ’n nuwe styl! En voorwaar een om voor te leef! Die Gees verander ons in mooi mense in die Here se oë; mooi mense wat oral nuwe skoonheid raaksien. Ek praat van die Here se skoonheid en dié van sy handewerk.

      Hoor net hoe beskryf Steve DeWitt dit in Eyes Wide Open: Enjoying God in Everything (2012):

      Physical beauty is a shadow. Food is a shadow. The security of money is a shadow. Health is a shadow. Family is a shadow. We long for a relationship with someone greater than us, and we settle for cheap substitutes – race-car drivers and football players and movie stars admired from afar. But the real desirability is found in Christ. God made every created beauty in this world as an expression of Christ’s beauty and the beauty of the Father’s love for the Son. All beauty is a breadcrumb path that leads us to Christ.

      Uniek tot in die fynste besonderhede – só stileer die Gees ons elkeen

      You are the only you God made ... God made you and broke the mold.

      – Max Lucado

      Mehmet Murat Ildan sê-vra:

      You walk like others? You talk like others? You think like others? Then the world doesn’t need you because others are already abundant in the world! Be original!

      Dit is ’n skerp manier om ’n geldige punt te stel, maar dit trek nie ’n streep deur die waarheid dat ons elkeen ’n oorspronklike meesterstuk is nie. God stem saam. Hy maak net originals. Nie een van ons is tweedehands wat iewers langs die pad met ’n bietjie hemelse genade opgegradeer is nie. Toe Jesus ons gered het, het Hy ons splinternuut gemaak. Of het ons dalk Paulus se groot woorde in 2 Korintiërs 5:17 vergeet? Iemand wat in Christus is, is ’n nuwe skepping. Die Here van hemel en aarde het oor begin met ons. Ons wat dood was, is lewend gemaak. ’n Nuwe Genesis het in ons aangebreek, sê Paulus in 2 Korintiërs 4.

      God se unieke pad met ons hou egter nie hier op nie. Sy Gees neem dit baie verder deur vir ons elkeen ’n paar unieke gawes te gee. Charismata noem Paulus dit. Op elke plek in die Nuwe Testament waar