Breytenbach het vyf manne gekies om die opdrag saam met hom uit te voer: Trevor, Kenaas, Koos en die twee vlootlede wat die vorige Desember saam met hulle by die Swartvlei-meer geduik het, Ken Brewin en Willie Dewey. Die Recce-operateurs het niks van seewaartse operasies geweet nie en het dus eers vier maande seeopleiding gedoen.
Hulle het die boek Cockleshell Heroes van CE Lucas Phillips en HG Hasler as riglyn gebruik. Die boek handel oor ’n soortgelyke strooptog wat deur die Britse kommando’s gedurende die Tweede Wêreldoorlog vanaf ’n duikboot gedoen is. Breytenbach-hulle het egter ’n praktiese probleem: die groep het geen kajakke nie. Koos se pa kom toe tot hul redding deur drie Klepper-kajakke (’n opvoubare soort kano) uit Duitsland te bestel vir die voorgenome operasie. James Moorcroft het baie goeie kontak met die Duitsers gehad en die Kleppers is op klandestiene wyse die land ingebring.
Streng sekerheid is deurentyd tydens die groep se opleiding gehandhaaf en niemand behalwe Breytenbach het geweet waar die operasie sou plaasvind nie. Die spesialemagte het altyd dekstories – wat op die hoogste vlak beplan en gekoördineer is – gebruik om die ware aard en plek van ’n operasie te verbloem.
Die span sou van Pretoria met ’n Skymaster na die Mosambiekse kus vlieg waar ’n Portugese fregat (’n klein, vinnige oorlogskip) hulle sou oppik. Breytenbach het die groep ingelig oor die teiken en taak op hande. Kenaas (hul springstofdeskundige) het die ladings voorberei en elkeen in die groep het presies geweet wat hy moet doen en hoe die taak uitgevoer moes word.
Met hul aankoms by Nkala aan die Mosambiekse kus vind hulle dat die Portugese fregat nie opgedaag het nie – dit wag in Beira. Hulle vlieg toe na Beira waar hulle aan boord van die fregat gaan. Op die diepsee het die fregat kontak gemaak met die duikboot Emily Hobhouse (S-98) met kdr Woody Woodburne as kaptein en hulle het aan boord gegaan.
Die span sou 20 km van die teiken afgelaai word omdat die Hoof van die Vloot, v-adm Johnson, besorg was dat die lewende koraalriwwe in die omgewing van die hawe die duikboot kon beskadig. Breytenbach het heftig beswaar gemaak, waarop Woodburne onderneem het om hulle in die geheim veel nader aan die strand af te laai.
Die sesman-span het hul drie Klepper-kajakke op die duikboot se dek aanmekaar gesit en al hul uitrusting en springstof binne-in gelaai. Om 20:00 is hulle toe sowat 14 km van die kus afgelaai. In die verte kon hulle Dar es Salaam se liggies sien. Die groep was baie gespanne, veral omdat dit die eerste keer was dat hulle so ’n operasie aangepak het.
Elke spanlid was gewapen met ’n AK47 met slegs een magasyn. Koos en Trevor het as noodmaatreël ’n seilsakkie met ’n paar ekstra patrone aan die been vasgegespe. Almal het siviele drag aangehad vir ingeval hulle op land in iemand sou vasloop. Dit sou hulle help om hul teenwoordigheid met ’n liegstorie te verklaar.
Die matrose het gehelp om die Kleppers met toue teen die duikbootromp stabiel te hou terwyl die span inklim. Dit was moeilik omdat die Kleppers maklik kon omslaan, veral in rowwe seetoestande. Gelukkig was die see daardie aand betreklik kalm en alles het vlot verloop. Die matrose het die toue laat los en die duikboot het onder die water verdwyn. Nou was die span op hulself aangewese. Om hulle was dit doodstil met net die water wat teen die Kleppers klots.
Hulle het gereken dat hulle in die gunstige weersomstandighede teen 6 km per uur sou kon roei en die Tanzaniese kus in 2½ uur kon bereik. Koos onthou dat daar op daardie oomblik ’n groot kalmte oor hom gekom het, waarskynlik omdat hulle alles so deeglik ingeoefen het.
Breytenbach, wat saam met Floyd voor geroei het, het genavigeer en die formasie gelei. Aan hul regterkant was Koos en Kenaas met Ken en Willie ’n klein entjie terug. In ’n stadium het ’n golf van agter gekom en Koos en Kenaas vinnig verby Breytenbach-hulle gestoot. Dié het hom op die plek vervies en hulle aangesê om by die vasgestelde prosedure te hou.
Op die teikengebied was die strand donker en verlate. Die twee vlootlede het daar agtergebly om die kajakke te versteek en wag te hou. Die seewater het reeds die black is beautiful afgewas waarmee die span hulle op die duikboot gekamoefleer het. Vir Breytenbach was dit ’n geringe terugslag: “’n Wit ou wat black is beautiful dra, lyk bloot maar soos ’n wit ou wat black is beautiful dra.”
Die strate was nog baie besig vir hierdie laat uur en die mense het min ag geslaan op die vier Recces in hul siviele klere. Hulle het eers in die rigting van die gholfklub beweeg, oor die groen gras gesluip en myne onder die voertuie op die parkeerterrein geplaas. Die gholfklub, wat deur hooggeplaastes besoek is, het groot publisiteitswaarde gehad. Op die ingewing van die oomblik het selfs die Britse hoë kommissaris se Rolls Royce ’n lading teen sy enjinblok gekry. Al die ladings is met vertraagde tydmeganismes gestel. Hierna is hulle terug na die Kleppers om die ladings vir die brug te gaan haal. Hulle het al met die rivierbedding langs koers gekry na die teiken toe. Voertuie het die heeltyd oor die brug gery terwyl hulle die ladings plaas. Alles het glad verloop en Breytenbach wou weet of daar nog springstof oor was. Dié moes Koos en Kenaas teen ’n kragpaal plaas om sodoende ook die kragtoevoer te ontwrig.
Daarna is die vier terug strand toe waar Ken en Willie hulle angstig ingewag het. Almal was nou haastig en hulle het die Kleppers met groot spoed deur die branders gelanseer. Volgens Koos het hulle “so vinnig geroei dat mens agter ’n Klepper sou kon ski”. Hulle was sowat ’n kilometer van die strand af toe die eerste ladings afgaan. Toe Koos omkyk sien hy ’n horison rooi gekleur van die ontploffings. Ook by die gholfklub het die ladings nou die een ná die ander afgegaan.
Hulle het onverpoos na die RV-punt geroei waar die duikboot sou wag en hul rigting deurentyd met kompaspeilings bepaal. Uitstekende navigasie was nog altyd ’n uitstaande kenmerk van die Recces. Dit was in die dae voor die GPS en die groep moes op tyd en afstand staatmaak om sonder vaste verwysingspunte die korrekte bestemming op die oop see te bereik. Veertien kilometer verder het hulle die RV-punt teen omstreeks 04:00 gehaal. Tot hul ontsteltenis was daar egter geen teken van die duikboot nie – en hul noodplan was maar skraps. Anders as vandag was daar nie Barracuda-bote, helikopters of ander oppervlakskepe om hulle op te pik nie. Hulle was op hul eie aangewese en die noodplan was om van eiland tot eiland in die rigting van Suid-Afrika te roei – iets waarvoor hulle heeltemal kans gesien het omdat hulle ná al die inoefening uitsonderlik fiks en vasbeslote was.
Hulle het besluit om ’n rukkie te wag. Teen hierdie tyd was hul kele baie droog, die spanning het hoog geloop en die adrenalien het sterk gepomp. Tot hul groot verligting het die duikboot net ná 04:30 digby hulle na die oppervlak gekom. Hulle het die Kleppers vinnig afgeslaan en in die duikboot ingeneem. Later sou hulle hoor dat die duikboot in die nette van ’n vissersboot beland het en dat Woodburne se bemanning eers daarvan ontslae moes raak voordat hulle na die RV-punt kon gaan. Stukke visnet was steeds om die duikboot se skroef gedraai en die twee vlootduikers het dit die volgende oggend gaan loswikkel.
Hulle het die volgende dag in die omgewing van Dar es Salaam gebly om die Tanzaniese radiouitsendings vanuit die duikboot te monitor. Uit die uitsendings kon hulle aflei dat politieke kommentators oor die algemeen gemeen het dat dit insurgente was wat onder Oscar Kambona se leiding ’n gewapende opstand begin het.
Terug in Suid-Afrika het Woodburne sowel as Breytenbach die Van Riebeeck-dekorasie (VRD) vir hul aandeel in die operasie ontvang. Die ander spanlede het almal die Van Riebeeck-medalje (VRM) gekry.
V-adm Johnson wou egter nie toestemming gee vir hul volgende operasie, ’n aanval op Dar es Salaam se olieraffinadery, nie. Hy was steeds besorg dat die ongemerkte koraalriwwe die Emily Hobhouse se veiligheid bedreig het. Hulle was baie gelukkig om die eerste keer ongeskonde terug te keer, het hy gesê. Hoewel die leër ten gunste van ’n opvolgoperasie was, het die Hoof van die Weermag Johnson in sy besluit ondersteun.
Die Dar es Salaam-operasie het daartoe gelei dat Breytenbach meer gevorderde seewaartse opleiding vir die Recces wou hê. Hulle is toe twee tot drie maande Frankryk toe vir ’n aanvalsduikkursus.
Breytenbach het vroeg in 1973 begin uitkyk vir ’n geskikte offisier wat onder hom as adjudant kon dien. Dit was ’n