Breytenbach soek nou dringend choppers om die gesneuwelde Fred Zeelie af te voer en met die opvolg te help. Hy wil die insypelaars inhaal voordat hulle die Zambiese grens bereik. Maar die opperbevel wil Breytenbach-hulle eerder in die omgewing van ’n ou vliegveld in Suidoos-Angola ontplooi. Hy weier volstrek en hou vol dat die Swapo’s nie daar is nie. Dit sal ’n mors van tyd wees want hulle is op pad terug Zambië toe, sê hy. Niemand sal hom van iets anders oortuig nie.
More vertel dat hulle na ’n klein beboste gebied gery het waar hulle ’n tydelike basis vir die aand gevorm het. Daar het hulle Fred in ’n grondseil toegedraai. More het taamlik naby aan hom gelê. Hy onthou dit as ’n baie, baie lang nag vol vreemde geluide wat hy liefs nie weer wou oorhê nie – ’n lyk is nie stil nie. Fred was dood en dit was asof die mense nie met mekaar wou praat nie.
Omtrent die enigste woorde was toe Trevor vir Koos gesê het: “Jou Land Rover is nou weer reg.” Net voor donker het hulle geweerskote in die verte gehoor. Later sou hulle uitvind dat dit een van die gewonde Swapo’s was wat hom in ’n groep valskermsoldate vasgeloop het – kapt Johan Verster en ssers Gert Kitching, wat later ook Recces sou word, was deel van dié stoppergroep.
Deur die nag kon jy kort-kort iemand hoor sug. Maar niemand wou praat nie. Dit was of nie een aan die gebeure van die dag herinner wou word nie, elkeen was met sy eie gedagtes besig. ’n Helikopter is eers die volgende dag gestuur om hul gevalle makker te kom haal.
Breytenbach-hulle is toe terug Fort Doppies toe. Maar ná twee dae kom die veiligheidspolisie daar aan en smeek hom om met die opvolgoperasie voort te gaan. Breytenbach sê toe hy kan nie met die Land Rovers oor die rivier nie, hy het helikopters nodig. Die spoor is toe al ’n paar dae oud en Breytenbach besluit om versterkings aan te vra omdat hulle getalle maar min was. Johan Verster en Gert Kitching van 1 Valskermbataljon was reeds in die nabyheid van Suid-Angola met ’n peloton ontplooi. Lt Charl Naudé en sers Frans van Dyk (wat later Recces geword het) was ook daar met ’n seksie valskermtroepe.
Breytenbach beveel Charl en Frans toe om met hul seksie valskermsoldate, ondersteun deur Boesman-spoorsnyers, die Swapo-spore so vinnig as moontlik te volg. Hulle moes dan met gereelde tussenposes terugvoering gee oor die rigting waarin Swapo hardloop asook die sterkte van die vyandelike mag. Na gelang van hierdie informasie sou die Recces hulle dan by moontlike rivieroorgangsplekke voorlê.
Met Dewald se hulp het Charl en Frans die groep Swapo’s op 23 man geskat. Hulle het in enkelgelid gehardloop en die spore was duidelik sigbaar in die sagte Angola-sand, wat die spoorsny vergemaklik het. Om by die getal uit te kom het hulle twee strepe ’n meter uitmekaar in die sand getrek. Hulle het die aantal spore tussen die strepe getel en deur twee gedeel. In sagte sand waar spore duidelik sigbaar is, is dit ’n baie akkurate metode. Dit was volmaan (waartydens Swapo gewoonlik geopereer het) en die spoorsnyspan kon die meeste van die tyd op die spoor bly hardloop. Die agtervolgers was fikser, het vinniger gevorder en die groep Swapo’s geleidelik begin inhaal. Die plekke waar hulle gestop het om te rus en kos te maak het telkens varser geword. Later was die as in die vuurmaakplekke nog warm – as bly, afhangende van die weersomstandighede, drie tot vier uur warm nadat die vuur uitgebrand het.
Een aand was dit Frans se beurt om op die spoor te navigeer en hy het die kompaspeiling gevat. Hy het aan Charl, wat agter hom gestaan het, verduidelik dat die groterige boom op die horison die volgende navigasiepunt is. Die span het haastig soontoe begin beweeg, maar toe loop Frans hom tromp-op vas in die boom met Charl wat hom van agter af nog ’n entjie dieper in die dorings instamp. Dit was ’n duidelike teken dat die span nou al so moeg was dat hulle die boom hier reg by hulle as ’n voorwerp doer op die horison aangesien het. Die wit Caprivi-sand en helder maanlig het dit moontlik gemaak om die 23 Swapo’s se spore onafgebroke te volg en Charl, Frans en hul span valskermtroepe was toe reeds drie dae en nagte op die spoor met weinig slaap tussen-in.
Na nóg twee dae was hulle minder as ’n halwe dag agter die Swapo’s – die as van die vure was nog baie warm. Die spoorsnyspan het verwag om enige oomblik kontak te maak. Hulle het die vasgestelde prosedure nougeset gevolg en Breytenbach per radio gekontak sodat hy en sy span in beweging kon kom. Dié is sonder omhaal met sy span na ’n moontlike oorgangsplek by die Kwando-rivier, ’n gebied wat hulle goed geken het.
Hulle het baie vinnig die plek uitgesnuffel waar die Swapo’s die rivier oorgesteek het. Die spoor was tot hul ongeloof net ’n paar minute oud, so vars dat die water nog uit die sleepmerke van die mokorro’s (’n kano wat van ’n uitgeholde boomstam gemaak is) op die sand gesypel het. Die Swapo’s is met die mokorro’s oor die Kwando en was vir eers veilig op Zambiese grondgebied.
“Die terrs het gehárdloop; goeie donner, hulle het daai paar dae gehardloop,” onthou Trevor die opvolgoperasie. “Dit was mos die heel eerste keer wat die terrs in Angola gestamp is!”
Breytenbach was ewe woedend vir die veiligheidspolisie oor die verloop van die gebeure: “Ons kon daai donners al die eerste dag vasgetrap en doodgeskiet het, maar toe wil julle mos aanloopbaan toe neuk!”
Dit was die einde van die opvolgoperasie.
Tweede lt Fred Zeelie was die eerste Recce-operateur wat in aksie gesterf het, op 23 Junie 1974. Binne die groter prentjie was hy ook die eerste Suid-Afrikaanse soldaat wat in die Grensoorlog omgekom het. Vir sy onverskrokke optrede onder vuur is hy later op Breytenbach se aanbeveling met die Louw Wepener-dekorasie (LWD) vereer. Hy is met volle militêre eerbewys in Alberton begrawe.
Sers Dewald de Beer het die VRM vir sy dapper optrede tydens die vuurgeveg ontvang. Dit was die eerste en enigste keer wat die VRM vir ’n operasie op land toegeken is.
Jare later sou die heel laaste soldaat van die SAW wat in die Grensoorlog gesneuwel het, toevallig weer ’n Recce wees. Dit was okpl Herman Carstens van 1 VR wat op 4 April 1989 op die SWA-grens gesterf het in ’n geveg met Swapo. Die gedagte word nou geopper dat sy uniform langs dié van Fred Zeelie in die Nasionale Museum vir Militêre Geskiedenis (vroeër bekend as die Oorlogsmuseum) in Johannesburg moet hang.
Ná Fred Zeelie se dood is Frans van Dyk en Charl Naudé terug na die Singalamwe-basis waarvandaan hulle met hul peloton valskermtroepe daagliks patrolliewerk gedoen het.
Een middag sien Charl hoog in ’n boom langs die Kwando-rivier ’n visarendnes. Hy hou dit ’n ruk dop en toe hy steeds niks van die wyfie gewaar nie, klim hy tot by die nes. Binne-in vind hy twee heeltemal ondervoede kuikens. Dit bevestig sy vermoede dat die ma waarskynlik dood is. Hy haal hulle toe versigtig uit die nes, druk hulle voor by sy hemp in en klim af.
Onder Charl se wakende oog ontwikkel die twee mooi. Een middag daag twee Recces, Marius Viljoen en Nella Nel, by die basis op met ’n boodskap dat die Recces die valskermtroepe uitdaag om ’n sokkerwedstryd in Ou Doppies te kom speel. Die volgende Saterdag is Frans en Charl met nege valskermtroepe na die Recce-basis vir die wedstryd. As ’n gebaar van welwillendheid gee Charl een van die visarendkuikens aan die manne van Fort Doppies.
Ná die sokkerwedstryd wat in die omuramba (’n groot grasbedekte pan) naby Ou Doppies gespeel is, het almal in die kroeg saamgekuier. Charl en Frans het weer eens besef hoe hulle hul met die Recces se werksetiek en lewenstyl vereenselwig. Op pad terug basis toe het die twee mekaar heelpad aangepor om by die Recce-eenheid aan te sluit.
Intussen het albei visarende vinnig grootgeword. Die een in Fort Doppies se uiteinde was egter minder gelukkig. Hy het in ’n groot hok gebly, maar tydens die brand by Ou Doppies het hy doodgebrand.
Ná ’n paar maande in die Caprivi het Charl-hulle met hul visarend na Bloemfontein teruggekeer. Hy was nou al mooi groot en is in Charl se uitrusting versteek. So het hy ongemerk in 1 Valskermbataljon beland, wat jare lank sy tuiste was. ’n Jaar of twee later het hy tot sy kleurryke wasdom ontwikkel en het sy kenmerkende Afrika-roep oor die valskermbataljon weergalm.
Die stadium het juis nou aangebreek waarin 1 VK sy volgende lede moes werf. Maj Jakes Swart van 1 Valskermbataljon was in hierdie tyd ook in die Caprivi as bevelvoerder van A-kompanie (waarin Charl en Frans gedien het). Swart, wat die Vrystaatse rugbyspan in 1974 teen die besoekende Britse Leeus aangevoer het, het egter al vroeër na Bloemfontein vertrek.
Dit was