Sy gewone dagtaak, wanneer die Lefèvres daar is: Hy stof af en vee skoon, pak en hang gereedskap presies soos Lefèvre daarvan hou, en hy herstapel planke en meubels, bekyk voorraad, vul aan en maak ’n lys van bestellings. Om nege-uur kom Madame, dan beraadslaag hulle, hy merk die verkoopte goed en dra dit na die diensingang waar die afleweringsvragmotor dit net voor tien sal kom haal. Dan eet hy sy croissants saam met tee, en wanneer le génie aankom, werk hulle volgens Lefèvre se bevele tot Madame middagete na agter bring. Wat hulle in afsondering eet, elkeen op sy eie houtkrat aan weerskante van die werkswinkel.
En hy steel met sy oë, alles wat Henry Lefèvre met die hout en die meubels doen.
Iewers ná drie kom wink Madame hom stil-stil weg en hy skuif vir haar goed in die winkel rond, doen kleiner aflewerings of help met die aanry van stukke met die paneelwa. Hy werk soms aan sy eie projek, wanneer die skedule dit toelaat. Ná vyf gaan hy huis toe, sonder om vir Monsieur te groet, want teen daardie tyd is die meubelmaker reeds diep in sy eie wêreld verlore.
Dit is ’n lang dag se werk, fisiek uitdagend, want hy is feitlik heeltyd op sy voete, en hy moet swaar items optel en aandra, skuif en aflewer, meestal alleen. Juis daarom dat hy daarvan hou. Dit hou hom fiks en maak hom moeg, sodat hy soms saans nie die energie het om te verlang of te treur of te onthou nie.
* * *
Saans ná werk kyk hy televisie. Sokker. Ou flieks. Nuus. Of hy lees op sy tweedehandse tablet oor die gebeure in sy geboorteland.
Saterdae maak hy die woonstel van hoek tot kant skoon. Dan gaan hy mark toe vir sy weeklikse aankope van kaas en ham, skywe terrien of patee, saucisson en vrugte, asook Wackett se vis, en vir ’n glas wyn en gesels met Mamadou Ali, die man wat vir die bloemiste werk en algemeen bekendstaan as Ali du Mali. Ali van Mali.
Hy het nie werklik ander vriende nie, mense weet nie veel van hom nie.
Sondae sal hy sy motorfiets gaan was in die klein motorhuis wat hy huur in die Rue Permentade, en dan gaan ry hy met die BMW, alleen. Saint-Émilion toe vir middagete. Of Arcachon, of Bayonne, of nou en dan so ver as San Sebastián oorkant die Spaanse grens, of die kronkelpaaie en landskapsvreugdes van die Périgord. Hy kom voor sononder terug, bêre die motorfiets, gaan huis toe. Want Maandagoggend werk hy weer.
Dit was min of meer sy lewe, voor die vrou en die geweld in die nag.
* * *
Meer as ’n week nadat sy hom by sy voordeur gesien het, op die Dinsdagmiddag, staan sy vir hom dáár en wag. Die girafe-vrou. Langs die groot boompot voor die ingang van sy ou drieverdieping-woonstelgebou.
8
Augustus. Bennie Griessel. Drie Susters.
“Net hier,” sê speurder-sersant Aubrey Verwey en wys met sy vinger na ’n droë donga tussen ’n klos Karoobossies links van die spoor. “Net hier het hulle hom gekry. Met die breins so buitekant, én toe lê hy al agt dae lank. You can imagine. Not a pretty sight.”
“Jy bedoel die railway worker?” vra Cupido met ongeduld wat deurslaan. Want hy is al van vroegoggend af beneuk, toe hulle sesuur uit Bellville weg is.
Griessel het op pad Beaufort-Wes toe – om vir Verwey op te laai – vir Cupido vertel van sy deursoeking van die Johnson-meenthuis. Maar hy kon sien sy kollega se kop is elders. Aanvanklik het hy gedink dit was dalk net die vroeë uur.
Nou staan hulle langs die treinspoor in die wydheid van die Groot Karoo, nege kilometer anderkant die Drie Susters-vulstasie. Hulle moes van die gekettingde hek by die N1 af twintig minute lank met die stowwerige dienspad langs stap, want die man van Transnet het nie opgedaag met die hekslot se sleutel nie. En ondanks die bloue hemel is die Augustus-windjie bitter koud. Nie Cupido of Griessel het warm klere saamgebring nie. “Dis ’n semi-desert, for crying out loud, jy expect a bietjie hitte,” het Cupido verontwaardig vir Griessel gesê toe hulle uit die kar klim.
“Ja, die Transnet-trajekbestuurder,” sê Verwey nou. Hy is jonk. Sy moderne haarstyl is ingewikkeld, vol kepe en kerwe en vlakke.
“Dieselfde een wat die sleutel vir ons moes bring?” vra Griessel.
“That’s correct.” Asof hy onder kruisondervraging in ’n hof is.
Cupido skud sy kop stadig, sug hardop en sê: “Okay, let’s take it from the top.”
“Kaptein?”
“Vertel vir ons die hele storie, sergeant. How did this all unfold for the SAPS in Beaufort West?”
“Daai is alles in die docket …”
“Ek weet dis in die docket, ma’ die docket is nie exactly ’n masterpiece of detail and eloquence nie, to put it mildly.”
“My docket is professional,” sê Verwey gekwets. “Strictly by the book.”
Griessel tree tussen hulle in voor Cupido kan reageer. Die dossier is inderdaad nie ’n toonbeeld van omvattende doeltreffendheid nie, maar hy kan sien dit is nie nou die regte tyd om dit op te haal nie. “Jy weet hoe dit is,” sê hy aan Verwey. “’n Docket is ’n opsomming. Ons soek die groter prentjie.”
Verwey vermoed dat hy gepaai word. Hy trek sy skouers effens terug, gee Cupido ’n verontwaardigde kyk en sê: “My docket is professional.”
Griessel knik. Cupido bly genadiglik stil.
Verwey staar oor die vlaktes: “Die Transnet-ou … Chungu, dis sy naam, hy het hom hier kom kry.”
Griessel knik weer, ter aanmoediging.
“Chungu inspect die train tracks tussen Beaufort en Hutchinson, dis sy territory. Toe ry hy hier met die dienspad langs, en toe ruik hy, ma’ iets ruik vrot, en hy sê, dis nou nie só uncommon nie, want party kere slaan die treine ’n koedoe of ’n ding, even ’n dronkie from time to time. So, toe kyk hy uit en hy sien niks, want Johnson lê toe so half in die sloot. Toe stop Chungu waar dit die meeste stink, en toe klim hy uit sy railway-bakkie en hy gaan tot omtrent daarso, toe sien hy vir Johnson lê. Hy’t die wit van die hemp gesien, eintlik, eerste. En toe die vlieë en die maggots en die gebryseling, en die stink is toe baie kwaai, en hy kan dit nie hou nie. Toe klim hy in en hy ry so ’n entjie aan, en toe bel hy vir Beaufort-stasie.”
“Gebryseling?” vra Cupido.
“That’s correct. Dit meen kwaai stukkend. Johnson Johnson se kop. Heeltemal gebrysel.”
“I see,” sê Cupido. “Dié Chungu, het hy ’n routine met sy inspections?”
“Hoe meen jy?”
“Hy’t die body gekry op ’n Maandag, right?”
“Right.”
“Nou, doen hy elke Maandag dié stuk spoor hier?”
“O. Okay, I see what you mean …”
“Well?”
“Ek sal hom moet vra.”
“Toe bel hy die Beaufort-Wes-stasie en toe stuur hulle die twee konstabels,” moedig Griessel hom aan.
“Daai is standard practice,” sê sersant Verwey.
“Vir twee konstabels om op die crime scene te kom kots?” vra Cupido. “Vir die hele Karoo se blougatte om alles te kom vertrap?”
“Die crime scene was op die trein. Hulle het net vir Johnson hier uitgegooi,” sê Verwey. “This is not rocky science.”
“Rocky science?” vra Cupido.
“That’s correct. Rocky science. Daai meen dis nie só complicated nie.”
“I can see clearly now,”